Israel en Palestina: Draadsit raak nou ’n luukse

  • 21

Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries)

In 1999 het ek, my ma, my antie en twee vriendinne op ’n pelgrimstoer deur Israel en Egipte gegaan.

Dit was wonderlik. Ons het die Via Dolorosa geloop. Op die Tempelberg het ons in ons mou gegiggel vir die mans in kortbroeke wat geforseer is om ’n vormlose groen romp aan te trek om hul bene te bedek. In Betlehem het ons ons verstom oor die klein deurtjies van die herdershutte. In Galilea en in die tuin van Getsemane het ons elkeen op ’n rots gaan sit en iewers trane gestort. Op die heuwel, waar daar tradisioneel geglo word Jesus sy Bergrede gelewer het, kon ons die akoestiek toets.

Ons het lag gekry vir die berge en see wat ons eintlik maar heuwels en mere sou noem.

In 2000 sou die meeste van daai plekke vir ’n ruk toegemaak word vir toeriste, want dis geleë in die Wesbank, wat Palestynse gebied is, terwyl toegang tot die area onder Israel se beheer was. Om die geld wat deur toerisme na Palestina toe sou gaan, te smoor, is seker een manier om seker te maak vooruitgang gebeur nie.

My ma is in 2005 terug soontoe. Hierdie slag het sy bietjie vrywilligerwerk gedoen onder Jode wat Christene geword het. Sy het vertel van swaargewapende soldate by verskeie punte. Waar ons voorheen vryelik Betlehem kon binnegaan, was toeriste nou aan intense kruisverhoor blootgestel om seker te maak hulle is nie ’n veiligheidsrisiko nie. Die terugkom was selfs meer intens, met sakke wat deursoek word, snuffelhonde wat die bus deurgaan en meer.

Met my besoek was ek beïndruk met die feit dat vroue ook verpligte diensplig deurmaak. In die ou stad het ons gereeld verby jong vroue geloop wat tussen die stalletjies ronddrentel, geweer oor die skouer geslinger met dieselfde gemak waarmee ek my handsak sou dra. Natuurlik was hulle aan diens, natuurlik was ons die heeltyd gemonitor.

........

Dit was opvallend hoeveel meer armoedig die mense aan die Wesbank en die ooste van Jerusalem was as in die res van die land. Daar is nie baie werk in die Palestynse gebiede nie, en werk in Jerusalem word baiekeer gereserveer vir Jode.

..........

Dit was opvallend hoeveel meer armoedig die mense aan die Wesbank en die ooste van Jerusalem was as in die res van die land. Daar is nie baie werk in die Palestynse gebiede nie, en werk in Jerusalem word baiekeer gereserveer vir Jode.

’n Kennis van my, ’n Anglikaanse priester, het betrokke geraak by die Nasionale Koalisie vir Palestina. Dis ’n Christelike organisasie wat hulle beywer vir geregtigheid in die Palestynse gebiede. Hy vertel verhale van intimidasie deur Israeli-soldate, van Palestyne in nood wat toegang tot hospitale en mediese dienste in Jerusalem geweier word, van uitsettings soortgelyk aan die Distrik Ses-uitsettings in ons eie land.

.........

Die situasie in Palestina word inderdaad baiekeer apartheid genoem. Met die onlangse grootskaalse inenting teen Covid in Israel, was Palestyne spesifiek uitgesluit van die proses.

.........

Die situasie in Palestina word inderdaad baiekeer apartheid genoem. Met die onlangse grootskaalse inenting teen Covid in Israel, was Palestyne spesifiek uitgesluit van die proses.

Die Franse film Inch’Allah is ’n goeie populêre uitbeelding van die spanning in die area. Die Palestynse filmmaker Omar Rammal het ook ’n uitstekende kortfilm, The place, gemaak wat lesers gerus kan gaan kyk om ’n beter idee te kry van wat tans in die Wesbank en Oos-Jerusalem aan die gang is.

Dit bring ons by die huidige situasie in die land. ’n Aantal Palestynse gesinne in die Jerusalemse woonbuurt Sheikh Jarrah word na ’n uitgerekte hofgeding geforseer om hul huise te verlaat en plek te maak vir Joodse setlaars. Hou in gedagte dat hulle nie alternatiewe behuising aangebied is nie, en ook nie enige toestemming gekry het om aan te bly nie. Vir alle praktiese doeleindes word hulle nou geforseer om die land te verlaat, aangesien hulle verblyf onwettig is. Die Palestyne protesteer, die Israeli-weermag onderdruk die protes met geweld, en Hamas tree toe tot die toneel. Hamas word gereeld deur Israel en sy bondgenoot, die VSA, as ’n terroriste-organisasie beskryf.

Die VSA het net enkele weke gelede finansiële militêre bystand van $39 miljard oor die volgende 10 jaar aan Israel belowe, en groot dele van daardie geld sal waarskynlik, soos in die verlede, gebruik word om die Palestyne te onderdruk.

Hier moet ons stilstaan, want klink die hele verhaal nie baie bekend nie?

Ons kan Sheikh Jarrah met gemak vervang met Distrik Ses. Kom ons maak die Palestyne Suid-Afrikaanse swart en bruin mense, die Israelis die NP-regering, en Hamas die ANC. Is die prentjie nou duideliker? Een persoon se terroris is ’n ander een se vryheidsvegter, afhangend van jou perspektief.

.......

Ons kan Sheikh Jarrah met gemak vervang met Distrik Ses. Kom ons maak die Palestyne Suid-Afrikaanse swart en bruin mense, die Israelis die NP-regering, en Hamas die ANC. Is die prentjie nou duideliker? Een persoon se terroris is ’n ander een se vryheidsvegter, afhangend van jou perspektief.

..........

Hamas skiet honderde missiele na Jerusalem en omstreke. Bitter min daarvan tref enige teikens, want die Amerikaanse dollars het onder andere die sg Iron Dome-verdedigingstelsel gekoop, wat die missiele skadeloos stel voor hulle enigiets kan tref.

Die Israeli-weermag, aan die ander kant, teiken woongebiede in hul aanvalle. Skole word getref en woonstelblokke word beskadig of vernietig. Vroue en kinders, siviele persone wat nie deel van die konflik is nie, word in weerwil met internasionale reg vermoor.

Die naweek gaan Israel egter verder. Een van die mees gerespekteerde nuusagentskappe in die wêreld, Associated Press, lewer berig wat nie gloeiend pro-Israel is nie. Die volgende dag kry hulle een uur kennis om hul gebou te ontruim, en die Israeli-weermag teiken die gebou in ’n aanval waarvoor nog steeds geen verklaring gegee is nie. In dieselfde gebou is ook regsfirmas wat Palestyne verteenwoordig in hofgedinge. AP se toerusting is als vernietig, en daarmee saam hulle vermoë om oor die konflik te berig. Die regsfirmas kan nie meer kliënte verteenwoordig nie.

Dieselfde naweek berig MSF, Médecins Sans Frontières of Dokters Sonder Grense, dat hul kliniek in Gaza, waar hulle trauma en brandwonde behandel, geteiken en beskadig is in ’n aanval van die Israeli-weermag. Gedurende die nag van Maandag 17 Mei is die enigste laboratorium in Gaza wat Covid-toetse doen, in puin gelê in nog 'n Israeliese missiel-aanval

Enigeen wat hulp aan die Palestyne verleen of simpatiek oorkom, is blykbaar nou ’n teiken. Skole, klinieke, joernaliste, prokureurs. Wat is volgende?

.......

Die tyd toe ons kon agteroorsit en die konflik in die Wesbank afmaak as godsdienstige geskille, of ’n probleem van die Midde-Ooste wat niks met ons te doen het, is verby. Die tyd toe ons kon oë toemaak is verby.

.........

Die tyd toe ons kon agteroorsit en die konflik in die Wesbank afmaak as godsdienstige geskille, of ’n probleem van die Midde-Ooste wat niks met ons te doen het, is verby. Die tyd toe ons kon oë toemaak is verby. Om op die draad te bly sit, is ’n luukse wat ons lankal nie meer kan bekostig nie.

Waar sou ons wees as die res van die wêreld oë toegemaak en kop weggedraai het toe presies dieselfde goed in Suid-Afrika gebeur het? Hoeveel te meer moet ons, wat eerstehands weet wat onderdrukking is, iets doen wanneer ons onderdrukking elders sien gebeur?

Die tyd vir draadsit is verby.

Ek staan by Palestina.

  • 21

Kommentaar

  • Bettina Wyngaard het duidelik haar skoling aan die hand van Palestynse handboeke en ANC-propaganda ontvang. Sy maak aannames betreffende Amerikaanse militêre hulp en vergeet gerieflikheidshalwe dat Israel die grootste werkverskaffer aan die Palestyne uit Gaza en die Wesbank is. Wanneer mense dus deursoek word is dit doodeenvoudig omdat mense die mees algemene manier is om plofstof en wapens in te dra. Oor haar bewering dat die missiele wat oor die grens afgevuur is (as ek haar reg verstaan, bloot as welwillendheidsgebaar) na ongedefinieerde teikens deur Amerikaans-vervaardigde 'Iron Dome'-sisteme gestuit is, het ek nuus vir haar. Die 'Iron Dome' is 'n Israelies-ontwikkelde verdedigingstelsel, uitsluitlik ontwikkel om hierdie soort van lafhartige aanvalle te probeer stuit. Dit is lafhartige aanvalle want dit word van agter vrouens en kinders (as skilde) gedoen en, as Israel reageer (soos wat enige regdenkende land teen terreuraanvalle behoort te reageer), dan word die linkse en liberale media met foto's geteiken wat verminkte en bebloede liggaampies bevat - baiekeer (soos al talle male bewys is), geposeerde foto's. Ja, Bettina, die tyd vir draadsit is verby.

    Ek staan by Israel.

  • Gustaf Claassens

    Mense se menings en standpunte oor die Israel-Palestyne-debat word meesal nie deur feite bepaal nie. Dit gaan oor voorkeure, emosioneel godsdienstige oortuigings, ras en ander oorweegredes. Die media, veral televisienetwerke soos CNN, SKY, BBC en ander dra boodskappe en standpunte van hul regerings oor wat erg polities is en grootliks ook ons denke hier ter plaatse beïnvloed. Vir Amerika en van sy Westerse bondgenote gaan hulle betrokkenheid oor niks anders as (EIE)belange nie. In hierdie opsig is Israel 'n belangrike bondgenoot. Israel weet hulle kan doen net wat hulle wil sonder enige negatiewe gevolge. En daarom DOEN hulle dit ...

    Meer as die helfte Israeli's is glad nie gelowig nie. Vir hulle (Zioniste) gaan dit oor die STAAT Israel, wat niks te doen het met die Jodedom per sé nie. Om die waarheid te sê, die regte Jode is geensins of noodwendig aan die kant van die Israeliese regering nie. Israel beset Palestynse grondgebied onwettig vir baie dekades. Hulle weet Westerse lande is aan hulle kant en daarom word die Palestyne op alle vlakke onderdruk. Hulle het geen regte nie. Om die waarheid te sê, Israel se regering tree in talle opsigte op soos Hitler teen Jode opgetree het tydens die Tweede Wêreldoorlog ... gaskamers uitgesluit. Daar is duisende Jode wat hiervan kan getuig.

    Natuurlik is die Palestyne nie onskuldig wat betref die huidige konfliksituasie nie. Hulle weet immers hoe Israel sal optree as vuurpyle op hulle afgevuur word. Die probleem is net dat hulle magteloos is om op 'n ander manier die wêreld se aandag op hulle probleme te vestig. En elke keer misbruik Israel die situasie en oorreageer op 'n ongekende skaal ... soos om 'n muggie met 10-pondhamers dood te slaan.

    Ek stem dus grootliks met Bettina saam. Die geskiedenis bewys haar ook 100% reg. Waarmee ek nie saamstem nie, is om 'n parallel te probeer trek met die ou Nasionale Party. Die Nasionale Party van destyds wou volle wasdom vir elke etniese groep in SA gee ... 'n eie regering vir elke groep in sy eie staat. Iets wat Israel die Palestyne van meet af geweier het. Toe die NP egter 'petty apartheidsmaatreëls' ingestel het, het hulle hul saak befoeter. Dit was en is net nie moontlik om die menswaardigheid van individue op so 'n manier aan te tas nie. In daardie opsig het hulle gefaal, net soos Israel ook reeds vir dekades faal in hulle optrede teen die Palestyne.

    Die oplossing kan net een wees – om die Palestyne hulle eie staat en 'n eie regering met volwaardige regte te gee, en wel volgens die 1967-grense vóór Israel groot dele van Palestynse grondgebied onwettig geokkupeer het. Óf alternatiewelik, een staat met volle regte aan die Palestyne, net soos elke Israeliese burger tans geniet. Israel wil egter nie een van die twee doen nie. Hulle wil alles van en oor die Palestyne beheer. Mense wat hulle soos honde behandel. Daar's meer as genoeg visuele materiaal, getuienisse en dokumentasie wat hierdie situasie bevestig.

    Daar is doodeenvoudig geen geregtigheid teenoor die Palestyne nie. Wanneer die Palestyne hieroor protesteer word hulle as terroriste afgemaak, wat uiteraard eensydige en valse propaganda is. Ons eie volkie is tans besig om, soos die Palestyne, dieselfde te ervaar. Meer en meer van ons regte word aan- en afgevat en daar is al hoe meer diskriminerende maatreëls teen wit mense en die bruin gemeenskap. Die ANC-regering se optrede teen Afrikaanses raak al hoe meer dieselfde soos dié van Israel teenoor die Palestyne. Die vraag is of ons dit kan en sal laat aangaan, en wat gaan gebeur as ons ons verset?

    Dis om hierdie rede (ook) dat ons objektief na alle kante moet kyk.

  • Bettina, watter rol/invloed het die Houtis/Sirië.
    Dan moet jy beslis kyk na Irak, Iran, Qatar, Turkye en Rusland se betrokkenheid.
    Jy skryf met 'n bril wat toegewasem is.

  • Sherrilyn Lloyd

    Bettina, jy vergelyk Suid-Afrika met Israel... Mense eien hul grond terug; grond wat aan hul behoort, maar deur ander beset is... Nou soek Israel sy grond terug; sonder sukses... Hier was dit andersom; ons het ons grond terug geëis, maar dis nooit toegelaat nie. Hul doen die agbare ding: eis hul grond terug... Nou huil ons.

  • Van den Vos Reynaerde

    Ag nee wat, Bettina. As Suid-Afrika enigsins 'n betekenisvolle bedrae tot die oplossing van hierdie slepende konflik wil lewer, kan dit slegs deur as neutrale tussenganger en vredemaker ("draadsitter") op te treë. In plaas daarvan gebruik president "Paddakoker" Ramaphosa soortgelyke vergelykings met apartheid (sien https://www.politicsweb.co.za/opinion/israel--palestine-lessons-from-sa).
    As hy werklik ten gunste van 'n twee-staat oplossing in daardie gebied is, moet hy bereid wees om 'n twee-staat oplossing vir Suid-Afrika ook te beding, as die mense wat 'n onafhanklike staat in die Wes-Kaap begeer genoeg steun kry. Is die ANC-regime te vinde vir 'n nuwe soort tuislandbeleid?

    Jy het egter gelyk deur Hamas en die ANC as geesgenote te beskou: Albei organisasies is bereid om onskuldiges as kanonvoer te gebruik ten einde hul doele te bereik. Vandag sit ons met die gebakte pere: 'n Demokraties-verkose terroristeregering.
    (sien: https://www.politicsweb.co.za/opinion/gaza-sharpeville-is-actually-the-wrong-analogy)

    Netanyahu se regering verdien wel baie kritiek, waarvan 'n groot deel van Israeli's self kom. Israel met al sy foute is immers ten minste 'n demokrasie, en baie van sy burgers is nie-Jode/Arabiere met dieselfe regte as enige ander burger.

    Die duisende Jode wat gedwing was om uit Arabiese lande na Israel te vlug het vandag geen vlugtelingstatus by die VN nie, maar Palestyne, selfs in die tweede of derde geslag, word permanente vlugtelingstatus toegeken. Die VN se kanse om as neutrale vredemaker beskou te word, is 'n ronde nul.

    'n Ander perspektief word deur 'n Vlaamse Jood gebied: https://doorbraak.be/free-palestine-fake-news/

    Dis maar slegs een van duisende teenstrydige perspektiewe van Israelse en Palestynse kant. Dis 'n ingewikkelde besigheid, en ons moet liewers ons neuse uit hierdie saak hou. Ek stem vir draadsit.

  • Johann Basson

    My beskeie gedagtes:

    1) Die hele ou stad van Jerusalem moet onafhanklik verklaar word onder die beheer van die VVO (soos die Pousdom in Italië) sodat enige Moslem / Christen / Jood-gelowige die Tempelterrein en ou stad van Jerusalem mag besoek of en aldaar te gaan aanbid. Geen persoon word toegelaat om in die ou stad van Jerusalem te woon nie.

    2) Die grense tussen Israel en Palestina moet die 1967 vasgestelde grens wees.

    3) Alle Palestynse Israelies moet in die staat Palestina hervestig word tensy getroud met 'n Israeli. Die Israelies in die staat Palestina moet in Israel hervestig word, tensy getroud met 'n Palestyn. Israelies moet 'n Palestynse visum hê om Palestina te besoek en omgekeerd. Elke staat kan besluit hoe hy permanente visums en burgerskap wil hanteer.

    Vrede gaan opofferings van beide kante verg. Enige beter voorstelle, uitgesluit verwyte?

  • Volgens die Balfour-verklaring sou Israel in twee gedeel word. Een vir die Jode en een vir die Arabiere. Toe Israel op 17 November 1947 deur die VVO goedgekeur word as 'n staat, het 7 Arabiese lande oorlog verklaar en op 14 Mei 1948 oorlog begin maak teenoor die Jode en Israel, toe dit as 'n land verklaar is deur Ben Gurion. Israel het 23 % gekry en Jordanie 77%. 700 000 Jode is met hulle klere aan hulle lyf uit die Arabiese lande verdryf. Duisende Jode het hulle lewens verloor in die volgende oorloë teen die Arabiere.
    Die Arabiese lande het 'n verklaring uitgereik in die 50-er jare dat geen Arabier uit Israel of die gebied by hulle toegelaat sal word nie. Tot vandag toe is die "Palestyne" in kampe in Jordanië en Lebanon. Egipte het 'n muur gebou en weier om hulle toe te laat.
    In 1967, toe Israel die Wesbank verower, begin Yassar Arafat wat 'n Egiptenaar was (hy is gebore in Kaïro), om homself en die Arabiere in Israel Palestyne te noem.
    Israel het 'n woestyn geneem en dit die roos van Sharon gemaak. Elke keer het hulle grond opgegee vir vrede, maar elke keer was dit verniet. Die Arabiese terroriste het hulself nou Palestyne genoem en die Jode regoor die wêreld begin aanval.
    Golda Meir het gesê, die dag as die Arabiere hulle kinders meer liefhet as oorlog, sal daar vrede wees. Die VSA en VVO en baie lande skenk geld aan die "Palestyne", maar Hamas gebruik dit om wapens te koop. Hamas weier dat verkiesings gehou word en hou die Palestyne in 'n staat van oorlog waar hulle vuurpyle stuur.
    Maar nou ja, die "Palestyne" koop wêreldwyd die mense met emosie en sweep hulle op.
    Die mense moet bietjie wyer lees en ondersoek instel.
    As jy aan mekaar vuurpyle stuur op skole en huise en woonstelblokke dan gaan die Israelse weermag jou hard terugslaan.
    En die nuuslesers en die koerante en TV-stasies weet wat verkoop.

  • My hart krimp ineen oor wat daar aan die gebeur is, met veral simpatie oor die Palestyne wat so magteloos is teenoor die Israelse aggressie.

  • Stefaans Seepkis

    Dis interessant hoe 'n toeris (Bettina) mef sogenaamde insig ontaard in 'n politieke ontleder oor die Israelse/Palestynse konflik - met 'n gebrekkige insig! Die beste stuurman(vrou) staan aan wal, nè? Of: Skoenmaker, hou by jou lees (dus kennis, insig en onpartydigheid!). Anders staan die keiser sonder sy klere ...

  • Theodorus du Plessis

    Ai tog, nog iemand wat val vir die hele slagoffer-propaganda. Eintlik te veel verdraaiings en gebrek aan perspektiewe om in besonderhede te reageer. Gelukkig het ander dit reeds hierbo gedoen. Kleinigheidjie: die wonings wat die Joodse gesinne wil terughê het aan hulle voorouers behoort, hoor. So probeer tog maar die perspektief te behou op 'n uiters ingewikkelde situasie en delf tog maar 'n bietjie in die geskiedenis van Jerusalem oor die eeue heen ‒ dit is vanuit verskillende hoeke goed gedokumenteer. En poog tog maar om nie ook 'n slagoffer van eensydige slagoffer-diskoerse te word nie. Ons het genoeg daarvan op eie bodem.

  • Indien Hamas nie sy "soldate " en vuurpylrigters tussen die inwoners se huise geposisioneer het nie, sou Israel nie nodig gehad het om hul aanvalle op bewoonde gebiede te loots nie. Onthou, Hamas is 'n terroriste-organisasie en het geen reg as 'n erkende staat nie. Dit is baie duidelik dat Hamas juis wou hê dat mense moes sterf en beseer word om die wéreld se simpatie te kry. Palestina sou sonder Hamas lankal 'n beter toekoms gehad het.

  • Ek kan verstaan dat Bettina emosioneel betrokke voel tot die Palestyne.

    Net soos in die tyd voor 1994 in Suid Afrika, maak die Israeli's baie foute. Hul polisie lyk veral lomp as dit kom by interne oproer.

    Die feit is egter dat die Palestyne die Israeli's uit die land wil dryf en glo dit is hulle land. Die vraag is egter: Indien jy 'n moskee bo-op 'n Israeli tempel bou, wie was eerste in die land? Aan wie se voorouers het die land behoort? Die Israeliete het die grond beset ongeveer 3 000 jaar gelede. Die Moslem-geloof het eers 1 500 jaar later tot stand gekom.

  • Ek glo daaraan, indien jy nie 'n Israeliet is nie, kan jy nie as een praat nie. As jy nie 'n Palestyn is nie, kan jy ook nie. Onkundige en emosionele besluite kan jou duur te staan kom. Almal kan doen wat hulle wil; daardie konflik gaan nie in ons tyd opgelos word nie. Niemand behalwe die twee partye kan of gaan dit ook oplos nie.

  • Wyngaard het destyds, met haar kommentaar oor die Covingtonvoorval, al getoon dat sy nie aarsel om feite te verdraai of te verswyg nie, solank sy net haar eensydige sienswyse kan oordra. Haar kommentaar oor Israel en Palestina is nog 'n voorbeeld.
    Sy skryf: “Met die onlangse grootskaalse inenting teen Covid in Israel, was Palestyne spesifiek uitgesluit van die proses.” Lees: https://www.bbc.com/news/55800921, dan sal mens sien dat die situasie glad nie so eenvoudig is nie.
    Ons word voorts vertel: “Die Israeli-weermag, aan die ander kant, teiken woongebiede in hul aanvalle. Skole word getref en woonstelblokke word beskadig of vernietig. Vroue en kinders, siviele persone wat nie deel van die konflik is nie, word in weerwil met internasionale reg vermoor.”
    So asof Hamas nie Israeliese burgerlikes teiken nie? Verder: Hamas het hul basisse in burgerlike gebiede opgerig, wel wetende dat dit onvermydelik is dat teenaanvalle sommige van daardie burgerlikes sal dood of beseer. Hierdie is baie, baie algemene kennis en dat Wyngaard daaroor swyg is na my mening werklik skandalig.
    Oor die aanval op die Associated Press-gebou skryf sy: “Die volgende dag kry hulle een uur kennis om hul gebou te ontruim, en die Israeli-weermag teiken die gebou in ’n aanval waarvoor nog steeds geen verklaring gegee is nie.”
    Gee Hamas vooraf kennis dat hulle 'n sekere teiken gaan aanval? Waarom swyg Wyngaard daaroor? Dit kan net met opset wees. Daar is inderdaad 'n verklaring daaroor gegee: https://nypost.com/2021/05/16/israel-gave-us-evidence-of-hamas-operating-out-of-building/
    Onderstaande skakel het te doen met 'n brief aan Trevor Noah, wat klaarblyklik ewe onkundig en bevooroordeeld is as Wyngaard, maar ek plaas die skakel omdat dit hopelik darem bietjie meer ewewig aan die gesprek sal gee: https://blogs.timesofisrael.com/an-open-letter-to-trevor-noah/?fbclid=IwAR1fOuEw0P7vTb9Q-iJSU45T7VqrkfsFaUt1YXs4eajpyqfIiJcVO_vDpHA
    Israel is nie heeltemal onskuldig nie, maar dat iemand sulke skeefgetrekte “feite” verkondig is na my mening onaanvaarbaar.

  • Daar is 'n Engelse spreekwoord: "All is fair in love and war". Die Palestyne se Hamas laat my dink aan 'n kleingeboude irriterende skoollaaitie wat 'n groter maatjie het. Die kleintjie soek met almal moeilikheid en wanneer hy nader getrek word, skree hy blou moord en sy groot maatjie kom help. Die Palestyne karring aan Israel en sodra Israel optree, skree hulle blou moord en die "wêreld" tree teen Israel op. Niemand gaan die situasie oplos nie. Mnr. Noag is ook op geleende tyd daar in die VS van A. Hy gaan eendag net te vêr gaan en op die verkeerde toon trap. Iemand gaan hom so hard klap dat hy vir sewe dae migraine gaan hê, sy goedjies pak en druipstert terugkom.

  • Gelukkig weet die meeste lesers seker darem al om Bettina se skrywes met 'n knip sout te neem. Sy lewe ook maar in haar eie wêreldjie ...

  • Johannes Dippenaar

    Al die geredekawel oor wie reg en wie verkeerd is, wie se grondgebied dit is en hoe die probleem opgelos kan word, is vrugteloos. Gaan terug na die Bybel. Lees daar oor die spesifieke grondgebied wat God vir Isreal gee. Lees oor die voorwaarde daarvan en hoe Isreal dit nie nagekom het nie en wat die gevolge daarvan sal wees. Hoe dit sal lei tot vyandighede tussen die nageslagte van Ismael/Esau en Jakob en die uiteinde daarvan. Dit staan alles in die Bybel. Mense gaan nie die probleem oplos nie.

  • Marthie Momberg

    Baie dankie vir 'n uitstekende artikel Bettina.

    Die probleem is nie 'n bakleiery tussen twee gelyke partye nie. Dis 'n grootskaalse en algehele onderdrukking.

    Human Rights Watch en ook die Israeliese organisasie B'Tselem het vroeg vanjaar elk bevind Israel is skuldig aan apartheid in beide Israel en in Palestina.

    Die wiel is aan die draai. Die tyd vir draadsit en leuens is verby.

    Om op die draad te sit beteken dat 'n mens geleentheid skep vir verdere ongeregtighede.

  • Daar steek baie meer in as net die Palistyne se griewe. Die groot opstoker agter dit alles is Iran wat Israel graag met die grond wil gelykmaak. Hulle verskaf dan ook tekeninge en dokumentasie vir die bou van die M-75 vuurpyle aan Hamas wat dit dan in plaaslike werkswinkels vervaardig.

    Dit gee Iran dan ook insae van hoe goed die vuurpyle werk sonder om self een af te vuur, jy laat ander die toetse doen ongeag die lewensverlies wat dit kan veroorsaak.

    Op 20 Mei 2021 berig die Los Angeles Times soos volg.
    MAY 20, 2021 5:56 AM PT
    "DUBAI, United Arab Emirates — In the fourth war between Israel and Gaza’s Hamas rulers, the Islamic militant group has fired more than 4,000 rockets at Israel, some hitting deeper inside Israeli territory and with greater accuracy than ever before.
    The unprecedented barrages reaching as far north as the seaside metropolis of Tel Aviv, coupled with drone launches and even an attempted submarine attack, have put on vivid display a homegrown arsenal that has only expanded despite the chokehold of a 14-year Israeli-Egyptian blockade.

    “The magnitude of [Hamas’] bombing is much bigger and the precision is much better in this conflict,” said Mkhaimar Abusada, a professor of political science at Al Azhar University in Gaza City.

    “It’s shocking what they’ve been able to do under siege."

  • Die onlangse konflik tussen Israel en Palestina vorm deel van God se plan om die weg te baan na die vervulling van een van die Bybelse profesieë, naamlik die totstandkoming van 'n "Nuwe Jerusalem", en is onstuitbaar. Ek is nie 'n Skrifgeleerde nie, maar die aanloop na die eindtyd het weliswaar aangebreek. Ten spyte van alles moet ons mekaar onvoorwaardelik liefhê en verdra en bly hoop, glo, bid en waak. Ek rig bloot 'n pleidooi, ter wille van Jesus Christus se groter plan. Soms is al die pyn en lyding van mense wat aan oorlog blootgestel word, moeilik om te begryp en dit raak al te maklik om te oordeel aan wie se kant ons nou eintlik is. Miskien is 'n oomblik van stilte nodig. Die wêreld is my woning nie, aldus Totius ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top