
Palestynse vrouens in Gaza (2018). Foto: Hosny Salah (Pixabay)
Ses en veertig persent (46%) van die inwoners in die Gaza-strook is kinders. Laat dit insink. 46%. Dis nie ’n persentasie wat ek uit my duim suig nie; die VN het dit oor die naweek publiseer.
Wat van die oorblywende 54%? Is hulle almal gewapende Hamas-lede wat uitgewis moet word? Natuurlik nie. Daar sal bejaardes wees, vroue, mans wat nog nie betrokke is by die gewapende stryd nie, gewone mense wat maar net met hul lewens wil aangaan. Die oorgrote meerderheid van die mense wat nou in die Gaza-strook vasgevang is, is nie Hamas-lede nie. Daar is dokters, verpleegsters, onderwysers, joernaliste, vrugteverkopers, huisvroue. Gewone mense. Natuurlik is daar lede van Hamas ook, maar hoe skei mens in ’n stedelike gebied vegter van onskuldige burger? Niemand kan nie, en dit lyk ook nie asof die Israeli-weermag met hul Amerikaanse ondersteuners belangstel om dit te doen nie.
........
Hoe skei mens in ’n stedelike gebied vegter van onskuldige burger? Niemand kan nie, en dit lyk ook nie asof die Israeli-weermag met hul Amerikaanse ondersteuners belangstel om dit te doen nie.
........
’n Ander syfer wat die VN oor die naweek bekend gemaak het, is dat 45 Palestynse families heeltemal uitgewis is. Daar is geen oorlewendes van daardie families nie. Families, nie gesinne nie. Bloedlyne is uitgewis. Babas, kinders, bejaardes is voor die voet uitgewis.
’n Paar dae gelede het die Israeli-regering ’n verklaring uitgereik dat Hamas 40 babas onthoof het. Natuurlik het dit uit alle oorde woedende reaksie ontlok, en die beweringe is deur die Amerikaanse president herhaal. Dit het waarskynlik ’n groot rol gespeel in die besluit dat Amerika verdere militêre steun aan Israel moet toewys. Die enigste probleem is dat dit nie verifieerbaar is nie. Daar is geen bewyse dat dit inderdaad gebeur het nie, en die Israeli-regering moes dit erken. Maar die skade is alreeds gedoen.
As die Israeli-regering hieroor versinsels kan opdis, waaroor anders is hulle oneerlik?
Pro-Palestynse kommentators op sosiale media bevind al meer dat hulle plasings oor die oorlog geblokkeer word – selfs wanneer hulle vanuit Amerika en Europese lande plaas. In die Gaza-strook word joernaliste wat berig lewer oor situasies op die grond, deur die Israeli-weermag doodgeskiet. Dis nie ’n nuwe taktiek nie; selfs voor die konflik is die joernalis Shireen Abu Aqla deur ’n Israeliese skerpskutter doodgeskiet. Sy was in klere wat haar duidelik identifiseer as ’n joernalis, net soos die joernaliste wat hierdie week vermoor is.
Geen haan het daarna gekraai nie.
Die boodskap is duidelik: Jy is vir Israel of jy’s ’n teiken.
In Amerika is twee televisiejoernaliste wat Moslem is, van die lug afgehaal. Hulle het nie eens Pro-Palestynse sentimente uitgespreek nie; hulle is geteiken omdat hulle Moslem is.
Oor die naweek het beeldmateriaal verskyn wat wys hoedat Israeli-soldate waterbronne in Gaza met sement vul. Dis blykbaar al maande aan die gang. Is dit dalk hoekom Hamas-lede tot die aanval oorgegaan het?
........
Een miljoen inwoners van Gaza is 24 uur gegee om die gebied te ontruim. Toe brand die Israeli-weermag los op die mense wat probeer om dit te doen.
........
Een miljoen inwoners van Gaza is 24 uur gegee om die gebied te ontruim. Toe brand die Israeli-weermag los op die mense wat probeer om dit te doen.
Egipte het hulle grense gesluit. Israel weier om toe te stem dat humanitêre hulp aan die Palestyne gebied word. Hospitale en woonstelblokke word nou gebombardeer, en die volgende fase is dat Israeli-soldate tot stedelike gevegsvoering in die strook oorgaan.
Wat gebeur wanneer mense in ’n hoek gedryf word met geen uitkoms nie, en hulle word dan aangeval? Hulle keuses is beperk: Baklei terug of sterf. Baie Palestyne wat graag sou wou vlug, sal nou moet staan en baklei, of hulle bloedlyne word ook uitgewis.
........
Uiteindelik, vermoed ek, gaan Binyamin Netanyahu se grootste nalatenskap wees die mate waartoe hy die volgende generasie Hamas-lede geradikaliseer het.
........
Daar is nie ’n eenvoudige oplossing vir die konflik wat al dekades lank duur in die Wesbank en die Palestynse gebiede nie. Massamoord en uitwissing van ’n nasie is gewis nie ’n oplossing nie, eerder ’n aanhitsing tot verdere geweld en oorlogvoering. Uiteindelik, vermoed ek, gaan Binyamin Netanyahu se grootste nalatenskap wees die mate waartoe hy die volgende generasie Hamas-lede geradikaliseer het.
Vrede kom nooit aan die end van ’n geweerloop nie.
Lees ook:
Kritiese besinnings oor die Israelse eiendomsaansprake op Palestina
Israeliese en Suid-Afrikaanse burgers se redes vir toetrede tot die Palestynse stryd
Kommentaar
Daar is seker altyd hoop, maar myne is min. Israel is die westerse moondhede se projek. Voet in die deur in die omgewing daar. En die Amerikaners is gek oor 'n oorlog. Dit dien as afsetpunt van die wapens wat hulle produseer.
Ek kon nog nooit kant kies in hierdie onheilige oorlog nie. As Suid-Afrikaner wil ek met die uiterste nederigheid hieroor praat. Want om op 'n afstand te praat is net te maklik.
Ek moet egter noem dat ek tevergeefs soek dat die pro-Palestyne onder ons die Hamas-aanval veroordeel: die skietery op jong konsertgangers, die moorde op families in hul beddens in 'n kibbutz, die ontvoering van onskuldige gyselaars, die verkragting van vrouens, die afkapping van ledemate en ander duidelike tekens van marteling soos onlangs in forensiese ondersoeke na vore gekom het. Ja, die onthoofding van babas is verkeerdelik as 'n feit aanvaar op grond van 'n joernalis wat gerapporteer het wat Israelse soldate vir haar gesê het, maar mense (en baba's) is wel verbrand en gemutileer. Daar was ook 'n kind sonder 'n kop. Dié is intussen geverifieer. Reuters is vir my 'n geloofwaardige bron.
Terwyl ek treur oor die lot van die mense in Gaza, probeer ek dink wat sou 'n meer gepaste reaksie wees van Israel? Ek weet nie. Biden vra: “Don’t be consumed by rage”. Ek ondersteun dit. En natuurlik die protokolle van die Geneefse Konvensie. Ek verbly my ook in die Jode en Palestyne wat saamwerk in Israel om die slagting se nagevolge te versag soos onlangs in die Daily Maverick berig. Hulle is bure, en hulle tree soos bure op. Uiteindelik moet die hoop kom van gewone verdraagsame mense wat mekaar ag en lief het.
As ‘n addendum: ek wens die aanvalle op Gaza kan nou gestaak word. Die menselyding is te verskriklik. Die kindertjies … Daar kan niks goeds van kom nie. Daar stem ek saam net Bettina.