Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die Afrikaner Verklaring

  • 1
Noudat die stof oor die Afrikaner Verklaring van 22 April 2024 ’n bietjie gaan lê, en van die sterk emosies wat dit ontlok het, ook bedaar het, bestaan die geleentheid hopelik om die saak rustiger in oënskou te neem.

1. Afrikaners en ras ná 1994

In sy geskiedenis van die Afrikaners dui Hermann Giliomee aan dat die begrip Afrikaner tot aan die einde van die 19de eeu hoofsaaklik verwys het na mense van Europese afkoms wat die Christendom, eers Nederlands en later Afrikaans, asook geletterdheid belangrik geag het. Volgens Giliomee het die begrip eers vanaf die vroeë 20ste eeu ook ’n assosiasie met ras verkry, waarvolgens Afrikaners dan daardie groep sou wees wat wit, Afrikaans en Christelik is.

Soos enige kollektiewe identiteit en die terme wat daarna verwys, sal wat met die begrip bedoel word, ook nog verander – en dit het sekerlik ook al sedert 1994 met hierdie begrip gebeur.

Die dilemma waarmee mense wat as Afrikaners in die jaar 2024 identifiseer te kampe het, kan soos volg verwoord word: Ofskoon sulke mense nie noodwendig sterk voel oor die rasinhoud wat die term in die vorige politieke bedeling verkry het nie, en baie – miskien selfs die meeste – van daardie rasinhoud wil wegkom, is daar twee kragte wat dit verhoed.

Eerstens: Vir Afrikaners is die ooglopende roete om van ’n rasinhoud weg te kom om nuwe bondgenootskappe te sluit met diegene wat anders as hulle lyk, maar vir wie die Afrikaanse taal ook belangrik is. Baie wesenlike en uitstekende werk is al in hierdie verband verrig, waarvan die vestiging en uitbouing van die Afrikaanse Taalraad ’n goeie voorbeeld is, maar terselfdertyd het dit ook geblyk dat sake soos onverwerkte wonde oor die verlede, uiteenlopende geskiedenisse en uiteenlopende geloofstradisies in die Afrikaanse taal hierdie roete dikwels bemoeilik.

Die tweede krag wat Afrikaners verhoed om weg te kom van die rasinhoud van die begrip, is dit waarna Van Zyl Slabbert met betrekking tot sy Afrikaneridentiteit verwys het as ’n sosiale geboortevlek: Hoe ek ook al my eie identiteit sien, kan ek nie wegkom van hoe ander dit sien nie. En as dit kom by Suid-Afrikaners wat as swart identifiseer en die res van die wêreld, wil dit voorkom asof Afrikaners vanuit hierdie kollektiewe gesigspunt steeds gesien word as mense wat wit is en Afrikaans as eerste taal het – let wel, so gesien word in ’n deskriptiewe pleks van ’n preskriptiewe sin; ’n belangrike onderskeid, om die minste te sê.

Oor die algemeen is dit nie noodwendig ’n slegte ding nie, want namate Afrikaners sedert hulle een van die min minderheidsgroepe in die geskiedenis geword het om vrywillig van politieke mag afstand te doen op talle terreine nasionaal en wêreldwyd en ’n konstruktiewe verskil maak en brûe bou, wil dit voorkom asof hulle toenemend daarin kon slaag om die raskonnotasie van die begrip Afrikaner van sy rassistiese konnotasie te begin stroop. (En dankie tog daarvoor, hoewel die pad nog steil is.)

........
Hierdie sondebokpolitiek is stellig deur oudpresident Thabo Mbeki ingelui toe hy in sy berugte tweenasiestoespraak van 1998 aangevoer het Suid-Afrika is nie een nasie nie, maar twee, waarvan die een ryk en wit, en die ander swart en arm sou wees.
........

Hierby moet egter ook na iets anders verwys word wat meer negatief van aard is – om allerlei verstaanbare, dog nie noodwendig aanvaarbare redes nie, en namate nierassigheid uit die ANC verdwyn het en die party as regering al hoe meer misluk het, is dit ook so dat die ANC-regering dit verkies om vas te klou aan die definisie van Afrikaners as wit, Afrikaanstaliges ten einde ’n gerieflike sondebok vir sy mislukkings te hê. Hierdie sondebokpolitiek is stellig deur oudpresident Thabo Mbeki ingelui toe hy in sy berugte tweenasiestoespraak van 1998 aangevoer het Suid-Afrika is nie een nasie nie, maar twee, waarvan die een ryk en wit, en die ander swart en arm sou wees. Hierdie verhardende houding jeens Afrikaners uit ANC-geledere, en hoe dit die afgelope 20 jaar en meer beslag gekry het in wetgewing wat Afrikaners as vyandig beleef; die kriminalisering van Afrikaners se geskiedenis en identiteit; en druk op instellings wat vir Afrikaners belangrik is, soos skole, universiteite en sportliggame, het gehelp om ’n ietwat bisarre, tragiese gevolg mee te bring: Die einste mense wat deur die regering as wit, Afrikaans en sondebok getipeer word, reageer vanuit daardie identiteitsmerkers.

Dit is teen hierdie agtergrond dat die Afrikaner Verklaring verstaan moet word as ’n poging om brûe met die regering te bou, veral, natuurlik, die regering wat ná 29 Mei aan bewind sal kom.

2. Emmanuel Todd en die Afrikaners

Dit is teen hierdie tyd welbekend dat daar uit Afrikanergeledere twee reaksies op die verklaring was – oorwegend negatief, en oorwegend positief, en dit om allerlei redes.

Om van hierdie twee uiteenlopende reaksies sin te maak, mag dit help om in gedagte te hou wat die Franse sosioloog, antropoloog, demograaf en geskiedkundige Emmanuel Todd te sê het.

Voor ons by Todd se sieninge kom, is dit ook goed om te onthou dat terwyl dit tot 1994 feitlik vanselfsprekend was om na Afrikaners as ’n “volk” te verwys, en dit sedertdien feitlik nooit gebeur nie, dit nie beteken dat ten minste sommige – en miskien selfs die meeste – Afrikaners wat sterk oor hulle identiteit voel, hulleself nie nog min of meer as ’n volk in die sosiologiese/antropologiese sin van die woord sien nie.

Aan die ander kant is dit onteenseglik so dat daardie Afrikaners wat verkies om hulle identiteit as Afrikaners te ontken of te onderspeel, dit ook doen juis omdat die woord volk so ernstig misbruik is in die vorige politieke bedeling. Ons kan sê dat daardie Afrikaners vir wie hulle identiteit vandag belangrik genoeg is om ’n verklaring uit te reik, dit wat volgens hulle in die huidige bedeling skeefgeloop het, hulle nóg meer met die begrip Afrikaner laat assosieer, en hulle steeds baie soos ’n volk laat optree (weliswaar sonder ’n “eie” staat), terwyl dit wat in die vorige bedeling skeefgeloop het, vir sommige Afrikaners so sleg was dat hulle eenvoudig van die begrip wil wegstaan of dit onderspeel. Albei reaksies is heeltemal te verstane, en die kans dat die een groep die ander tot ander insigte oor die saak sal bring, is gering.

Hiermee kan ons nou na Todd se sienings kyk. Emmanuel Todd (1951–) het naam gemaak toe hy in die ouderdom van 25 in 1976 in sy eerste boek die val van die Sowjetunie voorspel het – iets wat nagenoeg 15 jaar later gebeur het, maar wat in 1976 vir die meeste mense uiters onwaarskynlik gelyk het.

Vanaf die vroeë 1980’s het Todd baanbrekerswerk gedoen om aan te dui wat die verband tussen etniese en kultuurgroepe se tradisionele gesinstruktuur en hul voorkeur vir hierdie of daardie politieke stelsel is. Hierdie betreklik unieke antropologiese hoek op die staatkunde het hy ook aangevul met meer konvensionele insigte in die rol wat ’n klassestruktuur, verstedeliking, geletterdheid en onderwyspeil in die moderne staatkunde en geopolitiek die afgelope twee eeue en meer speel.

In sy jongste boek, La défaite de lOccident (Die ontbinding van die Weste) (Parys: Gallimard, 2024), skryf Todd oor die voorwaardes vir die ontstaan van ’n nasiestaat: Vir ’n nasiestaat om gebore te word, is ’n kultuur en, normaalweg, ’n gemeenskaplike taal nodig; ’n kleinboerklas of ’n werkersklas is onvoldoende, terwyl die konsentrasie van ’n middelklas in stede onontbeerlik is. Die stedelike netwerk en die middelklas wat dit bevolk, vorm die menslike raamwerk van ’n staat, sy fisiologiese stelsel, omdat die staat nie bloot ’n begrip, ’n idee of selfs ’n organogram is nie. Dit is inderdaad al hierdie dinge, maar dit is ook ’n werklike geheel van individue toegerus met vaardighede, waarvan diegene wat die beste georganiseerd is, in die stede woon en daardie deel van die middelklas uitmaak wat ’n sekere graad van ’n kollektiewe bewussyn aanwakker (bl 84, my vertaling).

Elders in dieselfde boek voer Todd in navolging van een van sy intellektuele helde, Max Weber, aan dat die opkoms van Westerse hegemonie sedert ongeveer die 16de eeu te danke was aan die opkoms van die Protestantisme: Omdat die Protestantisme die lees van die Bybel deur almal sentraal stel, wil dit hê dat almal geletterd en so goed moontlik geskool moet wees, wat ’n kulturele dryfveer skep wat die Weste tot hoë hoogtes gevoer het.

Todd maak ’n ander interessante punt oor rassisme: Omdat die Protestantisme, veral daardie vertakking met ’n Calvinistiese inslag, afwyk van die tradisionele Katolieke en Ortodokse siening dat almal as beeld van God gelyk aan mekaar is, en die sogenaamde uitverkiesingsleer omarm (waarvolgens die uitverkorenes van ’n hoër status as die res is), kom die vertaling van die sogenaamde uitverkiesingsleer in die politiek dikwels op rassisme neer – hiervan is die Protestantse VSA se eertydse rassisme jeens hul swart landgenote tot met die Burgerregtebeweging van die 1960’s, en die grootliks Protestantse Duitsland se rassisme tot met die Tweede Wêreldoorlog teenoor die Jode, vir hom die beste voorbeelde.

Todd sou met gemak die prestasies op die gebiede van die wetenskap, die tegniek en die ekonomie van die Afrikaners, en die rassisme waarmee die Afrikaners in die 20ste eeu mense wat anders as hulle gelyk het, hanteer het, as nog ’n voorbeeld van sy teorie kon noem.

Todd wys laastens ook op ’n ander ironiese verwikkeling van Protestantse samelewings of groepe: Namate die projek van massageletterdheid vorder en ’n kritieke massa van mense met naskoolse opleiding gevestig word, beleef die Protestantisme in hierdie lande ’n afgang met minstens die volgende gevolge:

– Die voormalige rassisme word grootliks agtergelaat.

– Die interne samehang en dryfkrag van die samelewing of groep om te presteer gaan verlore.

– Die eertydse geloof in uitverkorenheid en ’n besondere historiese bestemming van die samelewing of groep gaan verlore.

– Die samelewing of groep kan ondanks die bogenoemde nog teer op die materiële voordele wat verwerf is danksy die vroeëre kulturele dryfkrag van die Protestantisme.

Todd onderskei dan ook drie fases vir so ’n samelewing of groep: die een waarin die Protestantisme sy hoogbloei beleef; die een waarin die samelewing of groep nie meer werklik daarin glo nie, maar nog die kulturele etos daarvan deel; en die een waarin dit morsdood is en die samelewing of groep eenvoudig begin disintegreer en agteruitgaan en vereensaming in die samelewing of groep toeneem.

Toegepas op die Afrikaners kan ons die volgende sê:

– Vanaf die middel-1970’s bereik Afrikaners ongekende vlakke van naskoolse opleiding; begin die ernstige bevraagtekening van die apartheidsprojek en dié se rassisme; en begin uiteindelik die Protestantisme onder Afrikaners ook gedeeltelik sy drakrag verloor – gedeeltelik, maar beslis nie volledig nie, waarna hier onder teruggekeer word.

– Omdat segmente van die Afrikaners hulle vandag in een van dié drie fases bevind, sien ons dat die interne kohesie van die groep nie meer is wat dit was nie (soos gedemonstreer deur beduidende emigrasie na Engelstalige lande en vrywillige verengelsing, selfs ook onder Afrikaners wat nie emigreer nie); dat ’n minderheid Afrikaners hulle etniese identiteit ontken of onderspeel; en dat ’n meerderheid Afrikaners binne Suid-Afrika hierdie identiteit vandag steeds omarm en verder probeer ontwikkel (dit is byvoorbeeld welbekend dat die leierskap van die Solidariteit-beweging sterk verbintenisse met veral die Gereformeerde Kerk het, en in mindere mate met die NG Kerk).

Ons kan dan ook sien hoe verskille tussen dié twee segmente van die Afrikaners uitgespeel het in ’n negatiewe of positiewe reaksie op die Afrikaner Verklaring: Diegene wat nog sterk tot die Protestantse tradisie verbind is (oënskynlik die meerderheid Afrikaners binnelands, gegewe dat die organisasies wat dit onderteken het, twee miljoen mense verteenwoordig), staan positief teenoor die verklaring; diegene wat hulle in openbare standpunte negatief daaroor uitgespreek het, se verhouding met die Protestantisme is oënskynlik in die tweede of derde fases wat Todd beskryf.

3. Ander kwessies in die debat

In die res van hierdie artikel word stilgestaan by ’n klompie ander kwessies wat tot dusver in die openbare debat oor die Afrikaner Verklaring ter sprake gekom het. Dit word behandel teen die agtergrond van die volgende redes waarom ek self positief oor die verklaring is.

3.1 JM Coetzee, die Afrikaners en om die laer via die Franse te verlaat

Terwyl ek ten tye van my aanstelling in die ouderdom van 24 op 1 Desember 1994 as enigste Suid-Afrikaner onder die res van my Franse kollegas aan die Franse Instituut van Suid-Afrika teen die agtergrond van, noem dit maar, my eie politieke ontwaking besonder negatief oor my Afrikaner-identiteit, louwarm oor die Afrikaanse taal, en opgewonde oor Nelson Mandela se idees van nasiebou was, het ek binne twee jaar van werk saam met mense wat nie juis Engels kon praat nie, en die een enkele vraag wat ek die meeste deur hulle gevra is (“So hoekom het julle Afrikaners apartheid ingestel?”) die volgende besef:

– My Afrikaner-identiteit is inderdaad die sosiale geboortevlek wat Van Zyl Slabbert dit later sou noem.

– Ek kon nie hierdie identiteit aflê nie, maar kon hoogstens probeer om dit nuwe etiese en verbeeldingryke inhoud te gee.

– Ons ontmoet die wêreld inderdaad nie net deur taal nie, maar daardie ontmoeting geskied in die eerste plek deur ons moedertaal.

Ek het in die vroeë 2000’s tot die slotsom gekom dat om hierdie identiteit te ontken of te onderspeel, óók sou neerkom op die ontduiking van die historiese verantwoordelikheid wat ek het om te handel met die historiese vergrype wat in die naam van my etniese identiteit en my taal gepleeg is. Nêrens het ek dit beter verwoord gevind as in ’n “fiktiewe” gesprek geskryf deur een van daardie Afrikaners na wie ek tot vandag opkyk vir die etiese herverbeelding van die begrip Afrikaner, naamlik JM Coetzee. Die volgende aanhaling uit daardie gesprek is tussen Coetzee se “biograaf” en ’n eertydse “kollega” van hom aan die Universiteit Kaapstad, die Frans-dosent mme Sophie Denoël:

He [Coetzee] did translations from Afrikaans, didn’t he? I mean, translated Afrikaans writers?

Yes. He knew Afrikaans well, I would say, though in much the same fashion as he knew French, that is, better on the page than spoken. I was not competent to judge his Afrikaans, of course, but that was the impression I got.

So we have the case of a man who spoke the language only imperfectly, who stood outside the state religion, whose outlook was cosmopolitan, whose politics was – what shall we say? – dissident, yet who was ready to embrace an Afrikaner identity. Why do you think that was so?

My opinion is that under the gaze of history he felt there was no way he could separate himself off from the Afrikaners while retaining his self-respect, even if that meant being associated with all that the Afrikaners were responsible for, politically. (JM Coetzee, Summertime, North Sydney: Knopf, 238)

Net hierna vra die “biograaf” aan mme Denoël of daar niks was “that drew him positively to embrace an Afrikaner identity”, en sy antwoord onseker (“Perhaps there was, I can’t say”), maar wys terselfdertyd daarop dat hy vanweë sy natuurlike versigtigheid waarskynlik sy afstand gehou het omdat “[h]e had been rebuffed by the Afrikaners too often, rebuffed and humiliated – you only have to read his book of childhood memories to see that. He was not going to take the risk of being rejected again.”

En net hiérna lê Coetzee die skrywer nog ’n baie interessante insig in die mond van mme Denoël, wat ook van regstreekse relevansie vir hierdie opstel is:

What distinguished [Coetzee’s] family, I would say, is that they were cultural Afrikaners but not political Afrikaners. What do I mean? Reflect on Europe in the nineteenth century. All over the continent you see ethnic or cultural identities being transformed into political identities. The process starts in Greece and spreads through the Balkans and central Europe. Soon that same wave hit the Cape Colony. Dutch-speaking Creoles began to reinvent themselves as the Afrikaner nation and to agitate for national independence.

Well, somehow or other that wave of nationalist enthusiasm passed John’s family by. Or else they decided not to swim with it. (Summertime, 239)

Hoewel daar geredeneer kan word in watter mate Afrikaners in die laat 19de eeu hulself “heruitvind”, en in watter mate hulle meer bewustelik politieke uitdrukking gee aan ’n identiteit wat meer organies ontwikkel het as wat dit “verbeel” is, bly die feit dat Coetzee hiermee in mme Denoël se mond nie net ’n baie raak beskrywing van die opkoms van nasionalisme onder die Afrikaners gee nie – en van die feit dat daardie nasionalisme in die Afrikaners se geval kultuur as basis neem – maar dat hy ook ’n ander waardevolle punt maak: Nie net was daar selfs tydens die opkoms en hoogbloei van Afrikaner-nasionalisme onder Afrikaners wisselende grade van verbintenis tot dié projek nie, maar selfs al kom jy uit ’n familie wat nie daardie sterk verbintenis gehad het nie, kan jy nie net eenvoudig van daardie identiteit wegstap nie – minstens, sou ek raai, omdat soveel van die voorregte wat jy ontvang het, op dubbelsinnige etiese basis verwerf is (waarmee ons nie die hipermoralistiese selfhatende, eiegeregtige weg hoef te kies en te sê dis álles oneties verwerf nie).

........
Nie net was daar selfs tydens die opkoms en hoogbloei van Afrikaner-nasionalisme onder Afrikaners wisselende grade van verbintenis tot dié projek nie, maar selfs al kom jy uit ’n familie wat nie daardie sterk verbintenis gehad het nie, kan jy nie net eenvoudig van daardie identiteit wegstap nie.
........

Daar kan lank gesels word oor wat dit sou beteken vir ’n Afrikaner van my geslag om dié identiteit nuwe etiese en verbeeldingryke inhoud te probeer gee – byvoorbeeld deur inspirasie te put uit die voorbeelde van daardie etiese, lokaal verbonde klein groepie dwarstrekkers wat ook – en miskien veral – die Afrikaners se geskiedenis geskryf het (Hendrik Biebouw, die kleurvolle argetipe; Susanna Smit; president Steyn; Petronella van Heerden; MER; Marthinus Versfeld; Johan Degenaar; Coetzee self; en ook Breyten en Slabbert en Karel Schoeman). Waarvan ek wel baie seker is – en te oordeel aan die sentimente van die Afrikaner Verklaring is dit ook iets waarmee die opstellers en ondersteuners van die verklaring saamstem – is dat die etiese herverbeelding van dié identiteit nié kan plaasvind sonder ’n etiese verhouding van samewerking met die res van die etniese gemeenskappe in die land nie. Vermoedelik is die beklemtoning van hierdie sentiment dan ook ’n vername rede waarom die verklaring oorwegend positief ontvang is in swart geledere, waaronder oudpresident Mbeki.

Dit bring ons dan by die los slotopmerkings.

3.2 Die kulturele en die materiële

Een van die punte van kritiek wat die meeste op die verklaring geopper is, lui min of meer soos volg: Hoe kan die ondertekenaars van die verklaring kla oor hulle kulturele regte terwyl soveel mense in die land materieel nog so min het?

Dié kritiek berus op minstens twee implisiete aannames: dat die kulturele en die materiële los van mekaar staan, en dat die materiële altyd belangriker as die kulturele is. Laasgenoemde is uiteraard nie heeltemal verkeerd nie, want as jou basiese materiële behoeftes nie vervul is nie, is dit moeilik om aan enigiets anders aandag te gee. Dog die aanname dat die kulturele en die materiële van mekaar los te make is, is bedenklik. Hier bo is reeds verwys na hoe die materiële opgang van die Weste asook die Afrikaners toegeskryf kan word aan die opkoms van ’n Protestantse kultuur en dié se werksetiek.

........
Hoe kan die ondertekenaars van die verklaring kla oor hulle kulturele regte terwyl soveel mense in die land materieel nog so min het?
........

Nog ’n bewys van die intieme band tussen die twee word reeds in 1981 gegee deur een van die wêreld se belangrikste postkoloniale denkers, Ngũgĩ wa Thiong’o, in sy seminale Decolonising the mind, waarin hy aantoon dat die volgehoue postkoloniale materiële verknegting van Afrikane te wyte is aan die geestelike verknegting en vernedering van inheemse kulture in Afrika deur Westerse imperialisme. Waarskynlik is die vernaamste rede vir materiële behoeftigheid onder veral Suid-Afrikaners wat as swart identifiseer 30 jaar ná 1994 die sentrale kulturele opvatting van die ANC, naamlik dat die staat gebruik moet word om die idee van (selfstandige) etniese gemeenskappe agter te laat ter wille van die skepping van ’n staatsbemiddelde “nasie”. So ’n nasie, of liewer so ’n gemenebes, sal kan ontstaan slegs (indien enigsins) deur samewerking tussen etniese, kulturele en taalgemeenskappe en deur die herstel van hulle selfstandigheid na te streef – terwyl die ANC oor die afgelope 30 jaar ’n kultuur van afhanklikheid geskep het, wat die armes op maatskaplike toelae, die middelklas in diens van die staat en semistaatsondernemings, en die nouveau riche-tenderpreneurs álmal in ’n toestand van koloniale kulturele sowel as materiële afhanklikheid hou. Diegene wat die Afrikaner Verklaring kritiseer op grond van ’n valse dichotomie tussen kultuur en materie kan gerus oorweeg watter ander opsies daar vandag vir die opheffing van almal in hierdie land bestaan as deur die samewerking wat die verklaring bepleit.

3.3 Nasionalisme en verlies

Reeds in The City of God in die jaar 426 skryf die Heilige Augustinus: “A people is the association of a multitude of rational beings united by a common agreement on the objects of their love” (Boek XIX, hoofstuk 24).

Natuurlik kan en moet hierdie basiese definisie van ’n volk uitgebrei word. Natuurlik sal nie al die lede van ’n volk in hierdie sin van die woord dieselfde dinge lief hê nie, en sal die dinge wat wel lief gehê word, ook nie deur almal ewe lief gehê word nie. Miskien kan die Afrikaner Verklaring vertolk word as ’n basiese indeks van daardie dinge wat daardie mense wat sterk voel oor hulle Afrikaneridentiteit, lief het – en word dieselfde liefde nie gedeel deur daardie minderheid Afrikaners wat negatief oor die verklaring is nie.

........
Ofskoon ek my grootliks skaar by die sentimente van die verklaring, aanvaar ek om redes hier bo uiteengesit dat die feit dat daar Afrikaners is wat negatief teenoor die verklaring staan, ’n teken is daarvan dat Afrikaneridentiteit vandag gewoon deur die soveelste herdefiniëring gaan, wat ook nie die laaste herdefiniëring sal wees nie.
........

Ofskoon ek my grootliks skaar by die sentimente van die verklaring, aanvaar ek om redes hier bo uiteengesit dat die feit dat daar Afrikaners is wat negatief teenoor die verklaring staan, ’n teken is daarvan dat Afrikaneridentiteit vandag gewoon deur die soveelste herdefiniëring gaan, wat ook nie die laaste herdefiniëring sal wees nie. Sulke Afrikaners sal waarskynlik verskil met my standpunt dat die miskenning of onderspeling van jou Afrikaneridentiteit neerkom op ’n versaking van ’n etiese, historiese verantwoordelikheid deur te redeneer dat júis deur van die identiteit af te stap, daardie verantwoordelikheid nagekom word. Hieroor sal die twee kante mekaar tans waarskynlik moeilik vind, en kan ons mekaar gerus die ruimte bied om met mekaar te verskil.

Daar is nog ’n implikasie van Augustinus se omskrywing van ’n volk, naamlik dat indien ’n volk van daardie dinge verloor wat dit lief het, sodanige verlies die volk se groepsentiment weer kan opwarm, hulle in beweging kan bring en tot aksie kan laat oorgaan om daardie geliefde goedere te probeer beskerm. Vir Afrikaners wat die bedeling van 1994 in (miskien naïewe) goeder trou tegemoet gegaan het, en baie beslis nie rekening gehou het met hoe diep die koloniale wonde is van Suid-Afrikaners wat as swart identifiseer nie, sou die volgende kulturele verliese beslissend wees:

– die verdwyning van Afrikaans uit openbare instellings

– die groeiende verengelsing van histories Afrikaanse universiteite

– die toenemende druk waaronder Afrikaanse skole verkeer

– die mate waartoe allerlei rasteikens van die regering Afrikaners en hulle kinders van die geleentheid ontneem om aan die ekonomie en sport deel te neem

– die kriminalisering van Afrikaners se geskiedenis en die tot sondebok making van Afrikaners deur die ANC-regering vir wat onder hulle bewind verkeerd loop

– en, les bes, miskien die grootste en pynlikste kulturele verlies: die emigrasie van jonger Afrikaners as gevolg van een of meer van bogenoemde faktore (afgesien natuurlik ook weens misdaad en geweld), welke emigrasie Afrikaner-gesinne en -families uitmekaarskeur en dompel in deurlopende verlange na mekaar en na die komvandaan wat jou nooit laat staan nie.

Teen hierdie agtergrond kan ons tot die slotsom kom dat soos wat die Afrikaner-nasionalistiese bewind se diskriminasie teen swart Suid-Afrikaners ná 1948 Afrika-nasionalisme enorme stukrag verleen het, so het die tragedie van die koloniale wonde ná 1994 veroorsaak dat die Afrika-nasionalistiese bewind teen die Afrikaners diskrimineer het, en Afrikaners se ou kulturele nasionalisme nuwe stukrag gegee het.

........
Ten minste het ons 1994 as ’n vertrekpunt en ’n voorbeeld, ongeag hoe gebrekkig dit ook al was. Ons leef immers in ’n gebroke wêreld.
........

Ek (en sekerlik vele ander Afrikaners en Suid-Afrikaners) sou dit anders wou hê, maar so het dit gekom, en hiermee moet gewerk word om die volgehoue toediening van wonde tot ’n einde te probeer bring. Gegewe die historiese aandeel aan en invloed op die Suid-Afrikaanse geskiedenis van Afrikaners sowel as swart Suid-Afrikaners val dit te betwyfel of ons ooit anderkant die verwonding sal tree as ons nie ’n beter verhouding met mekaar kan vind as die een wat in 1994 geskep is nie. Ten minste het ons 1994 as ’n vertrekpunt en ’n voorbeeld, ongeag hoe gebrekkig dit ook al was. Ons leef immers in ’n gebroke wêreld.

3.4 Noord en suid

Daar is ook reeds op gewys dat afgesien van die Bolandse wynboer Schalk Burger, daar geen ander ondertekenaar van die verklaring uit die suide van die land is nie. Minstens twee moontlike redes hiervoor lê voor die hand: Vir Afrikaners in die Wes-Kaap mag dit so wees dat die herbou van verhoudinge met bruin Afrikaanstaliges so swaar weeg dat hulle hul gewig eerder daarby sal ingooi as by ’n verklaring wat ’n enger kulturele fokus as die breër een van ’n gedeelde taalwêreld het. Miskien bolwerk die enorme materiële voordele wat Afrikaner-nasionalisme vir Wes-Kaapse Afrikaners meegebring het, hulle steeds in so ’n mate teen die druk wat noordelike Afrikaners ervaar dat noord en suid mekaar gewoon nie behoorlik hoor nie. Maar ook in hierdie opsig kan ons leef en laat leef, want in noord en suid doen almal op hulle manier grotendeels hulle deel (afgesien van diegene wat inwaarts emigreer en hulle aan aktiewe burgerskap onttrek).

3.5 Bruin kritiek op die verklaring

Dit is teen hierdie tyd duidelik dat daar ook uit bruin geledere sterk kritiek op die verklaring was, waarvan die algemene strekking daarop neerkom dat sulke kritici die verklaring as kwetsend en verdelend ervaar, veral in die lig van die moeisame werk wat die afgelope sowat 20 jaar gedoen is om verhoudings in die Afrikaanse wêreld te herbou. Daardie kritiek is verstaanbaar, maar dit lyk raadsaam om die volgende in gedagte te hou:

– Gegewe die uiteenlopende kulturele identiteite, geskiedenisse en geloofstradisies in die breër Afrikaanse wêreld (en natuurlik ook klasverskille), lyk dit nie realisties om te dink almal in die Afrikaanse wêreld gaan oor alle sake saamstem of ewe sterk voel nie.

– Dit lyk ewe noodsaaklik om mekaar in die Afrikaanse wêreld in beginsel altyd te betrek by gesprekke oor aksies of standpunte wat oorweeg word, maar terselfdertyd sal die moeisame herbouing van verhoudinge met mekaar ook daarop berus dat ons mekaar ruimte vir ons verskille laat en mekaar nie gyselaar hou as ons aksies en standpunte nie altyd ooreenstem nie. Net soos wat Afrikaners ná die einde van die vorige bedeling van vooraf moes leer om demokratiese met mekaar om te gaan en nie almal onder een kombers te gooi nie, net so, en miskien nog meer, is dit vir die breër Afrikaanse wêreld nodig. ’n Rubriek van Alida Kok bied ’n nuttige oorsig van hoe hierdie soort onderlinge demokrasie in die breër Afrikaanse wêreld wel ook in aanloop tot die uitreik van die verklaring beoefen is.

3.6 Tydsberekening en haalbaarheid van die verklaring

Kritici van die verklaring het ook aangevoer dat dit om dit so kort voor die algemene verkiesing uit te reik van swak tydsberekening getuig omdat dit ’n sein sou uitstuur dat Afrikaners eintlik maar net oor hulle seksionele belange besorg is. Skynbaar is hierdie kritiek ondervang deur die oorwegend positiewe swart reaksie op die verklaring, en die feit dat sowel oudpresident Mbeki as president Ramaphosa na aanleiding van die verklaring saamgestem het dat ’n nasionale dialoog ná die verkiesing nodig is – hoewel ons sal moet sien of die twee here ná die verkiesing steeds so sterk oor die dialoog voel.

Betrokkenes by die verklaring het op hul beurt te kenne gegee dat hulle besluit het om dit so kort voor die verkiesing uit te reik juis om ’n sein van hoop na hulle sowat twee miljoen geaffilieerde Afrikaners uit te stuur.

.......
Hoe dit ook al sy: Dat dinge in die land nie so kan aangaan nie, is iets waaroor omtrent almal in die land saamstem. Dat dialoog en onderhandeling vir ’n nuwe basis van samewerking nodig is, is ook gemene saak.
.......

Hoe dit ook al sy: Dat dinge in die land nie so kan aangaan nie, is iets waaroor omtrent almal in die land saamstem. Dat dialoog en onderhandeling vir ’n nuwe basis van samewerking nodig is, is ook gemene saak. Dat Afrikaners en swart mense se vind van mekaar wesenlik vir so ’n proses is, het ek hier bo probeer aantoon. En so iets gebeur nie sonder dat die partye in aanloop tot die gesprek wat moet kom, hulle vertrekpunte en wense verklaar nie – wat die ondertekenaars van die verklaring gedoen het namens die twee miljoen Afrikaners wat hulle verteenwoordig.

Ons het nie minder nie, maar veel meer sulke verklarings nodig. Die koloniale bedeling waaronder ons almal in hierdie land nog leef, skaaf immers op verskillende maniere aan ons seerplekke. Hoe gouer dit deur alle partye verklaar en op die tafel geplaas word, hoe beter is die kans dat ons mekaar sal vind ter wille van die verwesenliking van die toekoms wat ons almal so knaend in hierdie land bly ontwyk.  

Lees ook:

René Girard, Michel Houellebecq, mimetiese wedywering in die liberale verbruikersamelewing, en die metafisiese toekoms van die Afrikaners

Die Derde Afrikaner – ’n reaksie op die "Afrikaner Verklaring"

Africanis albus herbesoek: reaksie op die Afrikaner Verklaring

Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"

Afrikaner, wie is jy?

Die Afrikaner Verklaring: Saambou of laertrek?

Persverklaring: Die Afrikaner Verklaring

 

 

  • 1

Kommentaar

  • "Hoe gouer dit deur alle partye verklaar en op die tafel geplaas word, hoe beter is die kans dat ons mekaar sal vind".
    Sal hulle ons die geleentheid gun om ons basis van "dialoog en onderhandeling" op die tafel te plaas en ons uit te luister of sal hulle aandring daarop soos Ramaphosa in die laat negentigs gesê het "we shall assist them in the transformation"?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top