Crito het sy eerste termyn op 26 November 2008 begin. Die inleidende paragrawe was:
Wie resenseer die resensente? Niemand, maar ook almal. Skrywers en ander betrokkenes mor onderling, met nou en dan ’n uitbarsting, soos nou tussen Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé. Dan weer maande waarin mense hul wel vervies, maar afkoel as hulle praat met mense wat beter weet.
Basta!
Hierdie blog word met liefde opgedra aan resensente en die redakteurs van boekeblaaie.
Die aanloop daarvoor was lank – vanaf die laat sewentigs, in die dae toe André Brink in sy pos as Rapport se enigste boekeresensent die Afrikaanse resensiesfeer oorheers het. Ek het Brink bewonder, maar algaande besef dit is nie ’n goeie idee as net een mens alle Afrikaanse boeke vir ’n belangrike publikasie resenseer nie.
’n Vernietigende resensie deur Brink oor o.a. Debóra, die debuutbundel van Rika Cilliers, ’n vriendin uit my universiteitsdae, het dié insig bevestig. Ek was ’n verslaggewer in Die Burger se kunsredaksie en kon vasstel ’n vete het ontwikkel tussen Brink en Merwe Scholtz, wat die bundel by Tafelberg gepromoveer het. (Agtergrond vir dié bitter vete: Scholtz was voorsitter van die Publikasieraadkomitee wat Kennis van die aand verbied het.)
Ná die dood van Schalk Pienaar het ek as redakteur van Die Burger se boekeblad oorgeneem. Ek het ’n wye paneel jong resensente ’n publikasiekans gegee, en ook meer gevestigde skrywers. André Brink het een van Jan Rabie se romans vir Die Burger geresenseer – maar ek is daarna vriendelik versoek om Brink nie weer te gebruik nie.
In 1989, toe ek by Human & Rousseau begin, kom ek gou agter een van die belangrikste take van ’n uitgewer is dié van trooster. As ’n skrywer ’n negatiewe resensie ontvang, of gekrenk is as ’n resensent hulle nie hoër geprys het nie, is jy die een wat hulle bystaan en motiveer om nie tou op te gooi nie. Ek het van Koos Human en Ampie van Straten geleer hoe mens dit doen.
Oor jare by Human & Rousseau en NB-Uitgewers was dit ’n plig om te weet watter kampe onder skrywers en akademici gevorm het, watter persone mekaar aktief haat, wie mekaar kon verdra en wie sterk onder mekaar se invloed was. Dit was belangrik om te weet onder meer omdat daardie onderliggende gevoelens in boekresensies sou uitspoel.
In my spesifieke geval, as skrywer, het dit my gehelp toe ek in 1993 in De Kat op my debuutroman, Glimlag, ’n besonder negatiewe resensie van Eduan Swanepoel kry. My eer was gekrenk en my egolibrium vernietig.
Vandag weet ek Swanepoel was reg. Ek moes André le Roux se raad gevolg het en die manuskrip in ’n laai gebêre het. In 2023 het ek Swanepoel gaan bedank waar hy in Swellendam ’n pragtige boekwinkel het. Sy resensie, die beste ding wat met my as skrywer kon gebeur, het my van die demoon van hubris verlos. Ek het begryp ’n mens moet oud genoeg wees om skrywer te word – die kuns is om te weet wanneer jy en jou skryfwerk ryp is. Tussen 1993 en 2011 het ek geen fiksie geskryf nie.
Tussen 2001 en 2003 het ek onsmaaklike onderonsies met John Kannemeyer beleef, sommige werkverwant, maar in een spesifieke geval bitter persoonlik. Ek het Joan Hambidge se resensies in ’n gesprek teenoor hom verdedig en hom gemaan teen voorgenome litigasie teen haar. Ons verhouding het daarna nooit herstel nie.
Ek was danksy sulke ervarings akuut bewus van maniere waarop resensies ervaar word, en newegesprekke wat daarmee saamgaan. As joernalis wat toneelopvoerings, rolprente, musiek op die verhoog en op plaat resenseer, was ek net skraps daarvan bewus. Maar in my jare as uitgewer het dit ’n bron van frustrasie geword. Wanneer ’n resensent ’n boek afskryf, tref dit nie net die skrywer nie. Ook die uitgewer, die redakteur wat die boek ter perse begelei het en mense wat die manuskrip moes keur, se werk was onder verdenking. Uitgewers, redakteurs en keurders oordeel soms verkeerd. Maar dit pla tog dat daar soms nie meer menings en dus meer balans in die stel is nie.
Kort voor my aftrede as uitgewer het ek Etienne van Heerden genader om ’n blog oor resensies op LitNet te begin. Hy het kans gesien en ek het in die studeerkamer proeflopies gedoen vóór die blog waarmee ek – Kerneels Breytenbach – as Crito in November 2008 weggetrek het. Ek is al persoon wat ooit onder die naam Crito geskryf het. En ek is nog steeds hy.
Vooraf het ek Die koleperas van Kees Konyn en LI Bertyn se Lekkerkunde gaan herlees. Ook HL Mencken se Chrestomathy, Gerrit Komrij se Het boze oog en Kenneth Tynan se The sound of two hands clapping. Tynan het my jare vantevore met my toneelresensies beïnvloed. Veral sy opvatting dat mens nie ruimte moet mors met die afkraak van randfigure nie. Dit is voldoende as jy hul deelname aan die opvoering verswyg.
Ek wou ’n spesifieke semi-satiriese aanslag hê, maar dit het nie altyd gedeug nie. Ek is geneties geneig om humor, die groteske en openbarende ontluistering in situasies raak te sien. Dodelike erns is die vader van verveling; jou turf sit wanneer jy resensies resenseer en vergeet joernalistiek is die paradigma.
Ek het nie al die versperrings en probleme in dié nuwe veld voorsien nie. Soms ken jy die resensent en die geresenseerde beter as wat nodig of gesond is. Soms het ek die boek onder bespreking al gelees. Dit skep ’n sonderlinge probleem. As ek met die resensent saamstem, ervaar ek dat ek goedkeurend skryf al weet ek die resensie self gaan mank aan leemtes en foute. Die teenoorgestelde het ook gebeur – ek stem nie met die resensent saam nie en ek vind fout, al was dit duidelik ’n weldeurdagte, goedgeskrewe resensie.
Dít is hoekom ek, waar ek kon, boeke eers wou lees nádat die resensies verskyn het. Crito het oor die joernalistieke gehalte van die resensie geskryf, nie oor die gehalte van die boek of die persoon wat dit geskryf het nie. Ek kan die Afrikaanse resensentekorps nie genoeg bedank vir die geld wat hulle my help spaar het nie.
In Crito se 16 jaar het ek soms ook met minder belangstelling gewerk. Ek het uit die staanspoor aangedring om sonder vergoeding te skryf. Die afwesigheid van ’n finansiële teiken plaas druk op mens se selfdissipline. Soms het weke verbygegaan sonder dat iets my genoegsaam prikkel. Etienne van Heerden is nobody’s fool en het op sy rustige manier my telkens gekry om die blog te verander en te vernuwe. Ek het verskeie stilistiese verskuiwings en verstellings gemaak.
“No good deed goes unpunished,” lui die spreekwoord. Vir sy geduld en diskresie is Etienne telkens beloon met beskuldigings dat hy Crito is. Ek het ook gehoor van mense wat oortuig is dit is Joan Hambidge, Deborah Steinmair, Diane de Beer, Jonathan Amid, Melt Myburgh, Dineke Volschenk, Francois Smith of Danie Marais. Omdat die aanpak verskeie male verander het, was daar onder die Crito-speurders ’n teorie dat die blog deur verskeie mense behartig word. Ek het niks gedoen om dié siening te weerlê nie en bied my simpatie aan vir die mense hierbo genoem. Ek weet hoe dit voel.
Crito het foute gemaak. Soms kon ek dit regstel, maar een geval, Francois Verster, het my bloots gery. Ek kon eindelik met ’n omweg my gewete sus – hy had ’n manuskrip wat geskaaf moes word en ek het gehelp. Meermale. Sonder om te verklap hoekom ek soveel ure insit sonder om te kla. Dis hoe dit gaan.
Wil ek voortgaan met die Crito-blog? Natuurlik! Ek sal ’n ander aanslag moet soek. Dit sal nou moeiliker wees. Baie sal ook afhang van die soorte publikasies wat nog resensies oor Afrikaanse boeke plaas.
Die ruimte en dinamiek van boekeblaaie het verskraal, maar dit beteken nie dit is ’n onafwendbare neiging wat nie kan verander nie. Dit is steeds ’n boeiende, blywende wêreld.

