Debat is goed vir boekverkope! Dink aan Dan Brown se The Da Vinci code en Erla Diedericks se eerste Stoom-publikasie, Die kontrak.
Dit is ook nodig vir groei, om by mekaar te leer. In die tronk was Beeld en Rapport se weeklikse resensies my enigste skryfskool, en ná my vrylating het Arina Doyle dit vir my uitgeskeur en gebêre totdat ek dit met ’n besoek kon optel.
Jonathan Amid skryf tereg in sy Facebook-plasing oor Jaco Strydom se boek, Daka: Dit is goed dat ons mag verskil. Uiteraard gaan dit oor meer as boekverkope, dit gaan ook oor die groei van skrywers. Lees Wegkruiper en kyk net hoe het Christelle van Rooyen-Wessels gegroei ná haar negatiewe resensie in Rapport ’n paar jaar gelde.
Dit is vir my goed om te sien hoe ’n manuskripontwikkelaar (Amid) opstaan vir ’n boek ná ’n resensie – dit bewys dat hy in sy handewerk glo. Ek salueer hom daarvoor, veral die manier hoe hy homself verwoord het om sy standpunt te stel. Hy het nêrens die persoon (vir my) aangevat nie. Verder het hy ruimte gelaat om te verskil. En let’s face it, ons almal kan by hom leer. (Ons verskil het ongelukkig ongesiens verby gegaan, die uitgewers kon nie kapitaliseer nie.)
Dit is nie lekker om te sien dat Crito my 4/10 vir Wegkruiper gee nie. Nog minder die vorige kere waar ek oor die vingers getik is nie. Máár ék leer uit Crito se kritiek. Sien dit as opbouend. Nie net uit myne nie, maar ook uit ander resensente s’n. En ja, ek voel Crito moes oor my ander resensies, soos Sidney Gilroy en Pieter Stoffberg se boeke, ook kritiek gelewer het. Goed of sleg. Dit is juis omdat ek steeds wil groei (want hoe beter ek word, hoe beter kan ek skrywers se boeke bemark) dat ek nie totaal ophou resensies skryf nie. Solank jy wil groei, is Crito nodig.
Ek is ongelukkig eerste ’n bemarker van boeke/skrywers, dan ’n skrywer en resensent. My grootste liefde lê in die bemarking van boeke wat ek geniet. Dus hoop ek dat ek met “Kortliks met Stefaans” êrens iemand aan nuwe skrywers kan voorstel. Afrikaans kan help groei, of lees bevorder. Gesels saam.
Skrywer: Deon Meyer
Titel: Koors
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798173858
Ek sien op Maroela Media dat nog ’n Deon Meyer-boek in ’n TV-reeks omskep word. Met Koors, wat in 2016 deur NB-Uitgewers uitgegee is, het die skrywer gewaag om van sy gewilde Bennie Griessel-karakter weg te breek. Die boek het lank op my boekrak gestaan en stof opgaar. Ek het die nuusblaaie se resensies oorgeslaan (want dit sal ’n resensent se doodskoot wees as hy/sy iets negatiefs teen die kroon van die Afrikaanse krimi-arsenaal skryf) en gaan kyk hoe lesers op Lekkerleesboekrak voel. Sommige was gaande daaroor, ander nie.
Gaan ek dit lees? Of gaan dit ’n mors van tyd wees?
Ek wou dit nie lees nie, want die duiwel se advokaat in my het my aan John Grisham se A painted house (2001) herinner. Grisham het sy hofdramas hiermee afgewissel; ek kon om die dood nie die boek voltooi nie. Dit was boring. Regtig boring. Ná ’n paar nie-hofdramas (Bleachers, 2003 en Playing for pizza, 2007) het ek sy naam van my leeslys geskraap.
Ek was ewe knorrig toe Michael Connelly in 2005 besluit het om Harry Bosch met The Lincoln lawyer af te wissel. Die boek het nie aan Grisham of Mark Gimenez se standaard voldoen nie; dit is ook nie hoekom ek sy boeke koop nie. Maar te danke aan sy The fifth witness (2011) het hy op my leeslys gebly. Tot, soos ek laas genoem het, ek besluit het om my leeslys tot die been te sny.
Terug by Meyer. Sy post-apokaliptiese verhaal het my verras. Dit het ook die deur oopgemaak dat ek minder eiewys optree en ander skrywers (soos Madelein Rust se Moederland) ’n regverdige kans gee as hulle van ’n genre of geliefde karakter wegbreek. Moederland het my ook verbaas en sal – terloops – ook ’n goeie TV-reeks maak.
Hierdie skrywe is ’n aanmoediging vir almal wat soos ek eers skepties was oor Koors. Gaan haal die boek uit jou boekrak en lees dit. Dalk gaan jy ná die tyd soos ek voel: Dit is een van Meyer se beste boeke nog!
Skrywer: Micki Pistorius
Titel: Catch me a killer
Uitgewer: Penguin
ISBN: 9781776391455
My vrou vra my nou die dag waarom Marie Lotz en Christelle van Rooyen-Wessels se boeke nie in films of TV-reekse omskep word nie. Ek weet eerlikwaar nie. Lotz se debuut, Roofdier, byvoorbeeld, bevat al die elemente vir ’n Donkerbos op steroïede. So ook Plaasmoord (Karin Brynard), Middernag (Sidney Gilroy) en ander krimi’s!
Ons kyk tans Die byl. Die Showmax-reeks is losweg op die lewe van die legendariese polisie-ikoon, Brigadier Piet Byleveld, gebaseer, maar nie op Hanlie Retief se boek, Byleveld, nie. Die reeks, Catch me a killer, daarenteen, is op die polisie-forensiese sielkundige Micki Pistorius se boek, met dieselfde titel, gegrond. Ek het baie van die boek gehou en sou dit losweg ’n vyfster gegee het. Die reeks is regtig goed en verdien beslis ’n vyfster-toekenning. My probleem is, die reeks is vir my beter as die boek. Hoe kan albei dan ’n vyfster kry?
Wat Catch me a killer vir my illustreer, is dat Suid-Afrika ryk aan talent is. As jy die TV-reeks geniet, probeer gerus haar boek. Die ander ook. Dit is nodig dat beeld en klank mense lok om te lees. Nodig is dalk die verkeerde woord ... noodsaaklik, eerder? Beeld moet vir boeke doen wat Tobie Cronjé se RSG-vervolgverhaal vir Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor gedoen het.
NOTA: Hopelik is Gérard Labuschagne se Profiler dairies binnekort ook op TV. Asook van die krimi’s wat jaarliks op die kykNET-Rapport-prys se filmkategorie verskyn.
Skrywer: Malene Breytenbach
Titel: Aan die oorwinnaars die buit
Uitgewer: VivA Uitgewers
ISBN: 178-0-7961-4191-0
Ek verkies om boeke te ruik en lees selde boeke aanlyn. Meestal net wanneer ek reis of gedurende beurtkrag. Of op my NetGalley-rekening, waar ek sekere boeke maande voor die tyd by uitgewers kan lees, met die oog op ’n resensie. Ek koop ook uiteraard boeke wat ek sukkel om te bekom, aanlyn. Maar 90% van die tyd verkies ek papier.
My gedagtes oor Malene Breytenbach se japtrapboek, Aan die oorwinnaars die buit, gaan dus meer oor die praktiese aspek van VivA se toep as die boek self.
Is R156 te duur vir ’n novelle of ’n handvol kortverhale wat jy nie in jou boekrak kan druk nie? Neem in ag dat jy ’n gedrukte boek met 100 000 tot 120 000 woorde vir R320 kan koop.
Nee.
Eerstens het Aan die oorwinnaars die buit ’n luisteropsie. Ek het gaan kyk, nie alle VivA-boeke het die opsie nie. Nog nie? Ek het met een van die dele in Aan die oorwinnaars die buit die luisteropsie getoets, en moes myself keer om nie hierdie opsie vir die res van Breytenbach se novelle te gebruik nie. Die stemkunstenaar is hoogs professioneel. Dit was lekker om te bestuur en te luister.
Tweedens bied VivA die voordeel dat ek die boek op enige plek kan lees. Wanneer ek in die bakkie vir my vrou wag terwyl sy gou by Spar indraf. In ’n wagkamer, by die lughawe, op die toilet, noem dit ... My selfoon is immers altyd by my.
Derdens, my boekrak is te klein vir al my boeke. Met VivA kan ek boeke aanlyn stoor en enige tyd weer lees. En ja, die toep is e-boek-diefstal-vriendelik.
Die bladsye op my selfoon het te vinnig geblaai. Sal ’n tablet beter hiervoor werk? As jy soos ek sukkel om sonder ’n bril te lees, kan jy jou skrif groter verstel. Ek sou graag die agtergrond in ’n ander kleur wou kies. Dalk kan mens, maar ek weet nie waar en hoe nie. Ek sou ook wou toets of ek die boek op my selfoon en op my Kindle of rekenaar kan lees. Ek het Breytenbach se penvrug egter te veel geniet om dit te toets. Maar ek doen dit sonder twyfel met ’n volgende boek.
Die boek se leesformaat het plek-plek nie die gedrukte standaard gehandhaaf nie. Op baie plekke het die paragrawe teen die kantlyn begin en nie met die gebruiklike indent voortborduur nie. Dit was die enigste klippie in die skoen.
Ek voel sterk dat ’n aanlyn uitgewer soos VivA nodig is vir Afrikaans. Ek het al verskeie gedagtes op LitNet geskryf rondom kortverhale/novelles as bemarkingsmiddel en ek is vas oortuig dat VivA hier ’n oplossing aan skrywers en uitgewers bied. Dat VivA ’n groot rol in die bemarking van skrywers kan speel, veral in samewerking met groot uitgewers soos NB-Uitgewers, Penguin Random House, Protea en Naledi. Ek het nog ’n paar idees wat skrywers hier kan inspan om hulself daar buite te kry.
Oor Breytenbach se japtrapboek gaan ek ’n indruk skryf, vir nou was my fokus op die gebruik van die toep. Gebruik dit! Want VivA is hier om te bly. Aan my mede-skrywers, ondersoek die moontlikheid! As jy twyfel hoe, gesels met my: https://viva-uitgewers.org/teken-aan/.