Laster en belediging: ’n oorsig oor tersaaklike regsbeginsels

  • 0

Daar word die afgelope tyd hewige debatte op LitNet en elders gevoer oor die grense van meningsuiting binne die literêr-kritiese sfeer en in die gesprek oor die kunste in die algemeen. Dit opper vrae oor wat binne 'n omgewing van robuuste kritiek as laster en belediging beskou kan word. Bernard Wessels het die saak onder oënskou geneem.

*

Dit gebeur dikwels dat die publikasie van ’n teks, die verspreiding van videomateriaal, of die teken van ’n spotprent (om maar enkele voorbeelde te noem) begroet word met literêre of ander kritiek, wat gepaard kan gaan met hewige debatvoering en robuuste openbare gesprekvoering, veral in die aanlyn omgewing. Die publikasie van lasterlike stellings of die verspreiding van beledigende kommentaar kan die kwaliteit van die debat ongelukkig ondermyn. Dit laat mens opnuut wonder oor die grense van uitdrukkingsvryheid, ’n fundamentele mensereg wat ook in die Grondwet verskans word, en die regsgevolge wat moontlik kan voortvloei wanneer een persoon beledigende uitsprake maak oor ’n ander (of sy/haar werk) in die openbare sfeer. In hierdie bydrae word sommige van die basiese regsbeginsels wat die beantwoording van hierdie vraag onderlê, uiteengesit.

Ter inleiding

Ter inleiding is dit goed om te beklemtoon dat elke individu (en in sommige gevalle ook regspersone) oor persoonlikheidsregte beskik. Die Suid-Afrikaanse reg erken vyf verskillende persoonlikheidsregte:

  • die reg op liggaamlike integriteit
  • die reg op die eergevoel
  • die reg op privaatheid
  • die reg op identiteit
  • die reg op die goeie naam (die reg op reputasie).

Wanneer beledigings in die openbaar gemaak word, is dit tipies die reg op die goeie naam asook die reg op eergevoel wat geraak word. Daarom fokus dié bydrae veral op hierdie twee regte.

Laster en die reg op reputasie of die goeie naam

Soos ook hier uiteengesit, kan laster uit ’n regsperspektief beskryf word as die opsetlike, onregmatige publikasie van lasterlike bewerings wat na die eiser (die persoon wat belaster word) verwys. Die reg op reputasie het te make met die agting of aansien wat die eiser in die gemeenskap geniet. Indien die eiser van mening is dat hierdie reg aangetas is, sou hy/sy dit kon oorweeg om die skrywer van die lasterlike materiaal vir skadevergoeding te dagvaar (soms word daar eerder hierna verwys as “genoegdoening”). In so ’n geval sou die eiser bo ’n oorwig van waarskynlikheid moet bewys dat die skrywer (a) lasterlike bewerings (b) gepubliseer het (c) wat na die eiser verwys. Dit is gewoonlik nie moeilik vir eisers om (b) of (c) te bewys nie, en die groot vraag is eerder: Wanneer is ’n bewering lasterlik?

Om daardie vraag te beantwoord, volg howe die volgende tweestap-benadering:

Eerstens word gevra: Wat is die gewone betekenis van die relevante woord of stelling? Hier fokus die hof nie op die subjektiewe bedoeling van die verweerder nie. As ’n mens dink aan die publikasie van ’n teks as voorbeeld, beteken dit dat die hof nie werklik geïnteresseerd is daarin om te bepaal of die skrywer van die gewraakte teks die woorde as lasterlik bedoel of beskou het nie. Die hof sal ook nie veel waarde heg aan die interpretasie van die spesifieke kommentaar deur derde partye wat byvoorbeeld die publikasie gelees het nie (ongeag of hulle geglo het of dit waar is of nie, en of hulle minder van die eiser gedink het of nie). Die toets wat hier toegepas moet word, is klaarblyklik ’n objektiewe een en die relevante vraag wat howe identifiseer as regtens relevant, is daarom watter betekenis die sogenaamde redelike leser van gewone intelligensie aan die stelling sou toeskryf. By die toepassing van hierdie toets word aanvaar dat die redelike leser die stelling in konteks sal verstaan en dat hy/sy nie net wat spesifiek gestel word in ag sal neem nie, maar ook wat geïmpliseer word.

Die tweede stap van die benadering is om te bepaal of die gewone betekenis van die woord lasterlik is. Hier volg die howe ook ’n objektiewe benadering en word dit aanvaar dat ’n stelling lasterlik sou wees indien dit waarskynlik die aansien van die eiser in die oë van die redelike, gemiddelde persoon aan wie die publikasie voorgehou word, nadelig sou beïnvloed of verminder.

Om laasgenoemde te bepaal is getuienis oor die vraag of die werklike waarnemer wel minder van die eiser gedink het, nie toelaatbaar nie. Howe het al verwys na die volgende stellings as stellings wat normaalweg as lasterlik beskou kan word: stellings wat oneerlike, onsedelike of andersins oneerbare optrede aan die eiser toeskryf; stellings wat waarskynlik die eiser kan verneder of verklein of wat geneig is om hom/haar as dwaas, belaglik of absurd uit te maak; en stellings wat die eiser blootstel aan minagting of bespotting wat die respek wat ander teenoor die eiser sou hê, op ’n negatiewe wyse sou beïnvloed.

Selfs indien die eiser daarin geslaag het om te bewys dat die bewerings wat die skrywer gepubliseer het, na hom/haar verwys en volgens bogenoemde benadering as lasterlik bestempel kan word, beteken dit nie sonder meer dat die skrywer aanspreeklik is nie. Daar is immers nog twee vereistes vir aanspreeklikheid: skuld (oor die algemeen in die vorm van opset) en onregmatigheid. Anders as in ander gevalle, is die bewyslas egter nie op die eiser om hierdie vereistes te bewys in die konteks van laster nie. Trouens, daar word weerlegbaar vermoed dat die publikasie van lasterlike materiaal op opsetlike en onregmatige wyse plaasgevind het. Dit beteken dat die skrywer aanspreeklikheid kan ontduik deur te bewys dat die publikasie van die lasterlike bewerings nie opsetlik gemaak is nie, of dat dit nie onregmatig is nie.

Regstegnies bestaan opset uit wilsgerigtheid en onregmatigheidsbewussyn. Eersgenoemde het te make met die vraag of die skrywer subjektief sy/haar wil gerig het op die teweegbringing van ’n spesifieke gevolg of andersins voorsien het dat dit moontlik sou kon intree. Onregmatigheidsbewussyn, daarenteen, verwys breedweg na die vraag of die skrywer subjektief geweet het dat die publikasie van die bepaalde lasterlike bewering onregmatig is. By die vasstelling van opset fokus die hof dus op die gemoedstoestand van die skrywer. Die skrywer sou dus sekere verwere kon aanvoer ten einde te bewys dat hy/sy nie opsetlik lasterlike bewerings gepubliseer het nie. Daar kan byvoorbeeld geargumenteer word dat die skrywer ’n fout gemaak het in sover hy/sy werklik subjektief gedink het dat die publikasie regmatig geskied het. ’n Ander gewilde verweer wat opset kan uitsluit, is skerts. Hier sal ’n skrywer moontlik argumenteer dat sy/haar wil nie daarop gerig was om die eiser se reputasie aan te tas nie, maar eerder om die gek te skeer. Ander moontlike verwere wat ’n impak op wilsgerigtheid en/of onregmatigheidsbewussyn kan hê, sluit in geestesongesteldheid (emosionele stres), provokasie, jeugdigheid en dronkenskap.

Waar die verweerder nie ’n gewone lid van die publiek is nie, maar eerder ’n lid van die sogenaamde massamedia (dink byvoorbeeld hier aan groot uitgewers en mediahuise), is dit nie nodig om met opset alleen te werk nie. Hier kan die skuldvereiste vir siviele aanspreeklikheid bevredig word indien die hof bevind dat die massamedia-verweerder nalatig opgetree het. By nalatigheid gaan dit uiteindelik oor die vraag of die verweerder opgetree het soos wat die redelike persoon in dieselfde omstandighede sou optree. Die bewyslas sal op die massamedia-verweerder rus om aan te toon dat dit wel redelik opgetree het in die omstandighede.

Indien die skrywer se beroep op hierdie verwere egter onsuksesvol was, en dit dus vasstaan dat die publikasie van die lasterlike bewerings op skuldige wyse geskied het, is dit steeds moontlik om aanspreeklikheid te vermy. Dit kan die skrywer doen deur sekere verwere aan te voer wat daarop gemik is om aan te toon dat die publikasie nie onregmatig was nie. Die vier erkende verwere in hierdie verband word kortliks hier onder omskryf. Skrywers kan egter daarop let dat dit meer waarskynlik is dat die eerste twee verwere op hul konteks van toepassing is, terwyl die laaste twee verwere miskien minder relevant sou wees. Die laaste verweer veral is eintlik gefokus op massamedia-verweerders eerder as individuele skrywers.

Eerstens kan daar geargumenteer word dat die publikasie van die lasterlike materiaal die waarheid is en ook in die openbare belang was. Om suksesvol te wees, moet albei komponente van die verweer bewys word, en dit is dus onvoldoende om bloot aan te toon dat die bewerings waar is. ’n Tweede moontlike verweer is dié van billike kommentaar. Hier kan die skrywer argumenteer dat die bewerings (tipies kommentaar of opinie) gebaseer is op feite. In hierdie konteks dra die grondwetlike reg op vryheid van uitdrukking besondere gewig en is die howe bereid om kommentaar wat oordrewe of selfs bevooroordeeld is, te beskerm, solank dit billik en eerlik was. Kommentaar wat egter kwaadwillig of met onbehoorlike motief gepubliseer is, sal die verweer egter pootjie.

Derdens kan aangevoer word dat die stelling gemaak is in geprivilegeerde omstandighede. Hier kan tussen absolute en gekwalifiseerde privilegie onderskei word, elk met sy eie stel vereistes. Die kern van hierdie verweer is dat die reg sekere stellings – ten spyte daarvan dat dit lasterlik is – moet beskerm op grond van openbare beleidsredes.

’n Laaste verweer wat erken word en veral deur mediaverweerders aangewend word, is dié van redelike publikasie. Hierdie verweer is veral relevant vir massamedia-verweerders. Om suksesvol te wees moet bewys word dat die publikasie van lasterlike materiaal in die omstandighede redelik was. Ten einde die redelikheid van die publikasie vas te stel, word ag geslaan op: die belang van die algemene publiek om oor bepaalde kwessies deur die media ingelig te word; die wyse waarop gepubliseer is; die toon van die materiaal wat gepubliseer is; die betroubaarheid van die relevante bron op grond waarvan die materiaal gepubliseer is; die stappe wat doen is om die inligting voor publikasie te verifieer; en of die persoon wat belaster is, ’n geleentheid gegun is om kommentaar te lewer voor publikasie.

Sivielregtelike teenoor strafregtelike laster

Ter wille van volledigheid kan daarop gewys word dat laster tot betreklik onlangs tot deliktuele (dit wil sê sivielregtelike) of strafregtelike aanspreeklikheid kon lei. Laasgenoemde was moontlik omdat laster as ’n gemeenregtelike misdaad vervolg kon word.

In April vanjaar het president Cyril Ramaphosa die Wysigingswet op Geregtelike Aangeleenthede bekragtig, wat onder meer die afskaffing van die gemeenregtelike misdaad van crimen injuria in die Suid-Afrikaanse reg teweeg gebring het. Dit kom nadat verskeie internasionale en plaaslike belanghebbendes hul kommer uitgespreek het oor hoe dié gemeenregtelike misdaad misbruik kon word om pers- en uitdrukkingvryheid op onredelike basis te beperk.

Voordat die gemeenregtelike misdaad van laster herroep is, kon enige party, insluitend ’n maatskappy, ’n saak van crimen injuria by die polisie aanmeld, tipies deur ’n verklaring by ’n polisiekantoor te gaan aflê en ’n saaknommer te verkry. Die saak sou dan aan ’n speurder toegewys word en wanneer die speurder se ondersoek na bevrediging afgehandel is, beweeg het na die Nasionale Vervolgingsgesag om te besluit of die beweerde misdaad vervolg sou word. Indien wel, sou ’n regsproses volg wat, in die geval van ’n skuldigbevinding, kon uitloop op strawwe in die vorm van boetes of gevangenisstraf.

Sodanige skuldigbevindings was weliswaar baie skaars, maar die moontlikheid van strafregtelike vervolging vir beweerde lasterlike uitlatings was ’n meganisme waardeur individue se spraak en uitdrukking deur die staat gepolisieer en aan kriminele sanksies onderwerp kon word.

Menige kommentator ag die privaatreg ’n veel meer toepaslike voertuig om lastersake te hanteer en het die herroeping van crimen injuria as deel van ons reg verwelkom as ’n belangrike deurbraak vir pers- en uitdrukkingsvryheid in ons land.

In die geval van sivielregtelike laster is die remedie, soos reeds genoem, gewoonlik skadevergoeding. Indien die lasterlike inhoud nog nie versprei is nie, kan ’n interdik ook toegestaan word om sodanige verspreiding te verbied. Indien die lasterlike inhoud reeds gepubliseer is, kan die hof gelas dat daar ’n terugtrekking en/of verskoning gepubliseer word.

Belediging en die reg op eergevoel

Die reg op eergevoel (of waardigheid) word tipies aangetas waar een persoon ’n ander beledig en dié se gevoelens krenk. Dit gaan daaroor dat een persoon ’n ander se waardigheid, eergevoel of gevoelens van selfrespek en selfagting skend. Ten einde siviele aanspreeklikheid te vestig, moet daar (a) ’n inbreukmaking wees op die eiser se eergevoel of waardigheid wat op (b) onregmatige en (c) opsetlike wyse veroorsaak is.

Anders as by laster, waar dit veral handel oor hoe ander mense se opinie van die eiser negatief beïnvloed is, gaan dit by beledigings in die eerste instansie oor die eiser se eie, subjektiewe ervaring. Daarom is die toets om (a) vas te stel, subjektief van aard. Anders gestel, om die eerste vereiste suksesvol te bewys, moet eisers aantoon dat hulle subjektief gekrenk in hul eer voel. Dit beteken natuurlik ook dat waar ’n persoon nie subjektief voel dat hy/sy beledig is nie, daar geen sprake van eerskending kan wees nie. Verder is dit so dat, omdat die toets in hierdie opsig subjektief is en op gekrenkte gevoelens fokus, regspersone (byvoorbeeld maatskappye) nie daarop kan aanspraak maak dat hulle beledig word nie.

Bloot omdat die eiser subjektief in sy/haar eer gekrenk voel na aanleiding van die beledigende optrede of woorde, beteken dit nie dat daar siviele aanspreeklikheid sal wees nie. Die hof moet verder tevrede wees dat die belediging op onregmatige en opsetlike wyse plaasgevind het. Oor laasgenoemde is dieselfde beginsels wat hier bo by laster bespreek is, ook van toepassing. Dit is nie nodig om dit hier te herhaal nie, behalwe miskien om te noem dat wanneer die eiser bewys het dat hy/sy beledig is (vereiste (a)), daar ’n weerlegbare vermoede bestaan dat die belediging met die nodige opset gemaak is. Daarna val die bewyslas op die verweerder om aan te toon dat hy/sy nie die beledigende opmerking(s) opsetlik gemaak het nie.

Laastens het die eiser ook die bewyslas om aan te toon dat die belediging, en die gekrenkte eergevoel, ook onregmatig was. Die hof het dit in die onlangse verlede duidelik gemaak dat dit by onregmatigheid gaan oor die vraag of die hof, gegewe relevante openbare en regsbeleidsoorwegings (wat grondwetlike regte en waardes sal insluit, soos die reg op vryheid van uitdrukking), dit redelik ag om siviele aanspreeklikheid op te lê vir die skadeveroorsakende optrede. Dit is ’n objektiewe vraag. Benewens die grondwetlike reg op uitdrukking is daar verskeie ander relevante beleidsoorwegings.

Dit is miskien die moeite werd om wel hier uit te lig dat die hof al meermale beklemtoon het dat daar oor die algemeen van mense verwag word om ’n sekere weerstandigheid en verdraagsaamheid te openbaar teenoor aanstootlike gedrag. Daar word van mense verwag om ’n redelike bereidwilligheid te openbaar om kritiek te hanteer omdat dit in die openbare belang sou wees om debat te bevorder. Die hof sal nie aanspreeklikheid kan oplê vir elke onbenullige bewering of elke keer dat iemand iets hoor waarmee hulle nie saamstem nie. Dit druis in teen die gees van openbare debat wat broodnodig is in enige grondwetlike demokrasie waar vryheid van uitdrukking ’n rol het om mense se gedagtes en idees te vorm en uit te daag. Die vraag is natuurlik waar die grens lê tussen onbenullige bewering en gedingvatbare belediging. Dit sal telkens op grond van die feite van die betrokke saak bepaal word.

*

Bernard Wessels is departementele voorsitter en delikteregdosent in die Departement Privaatreg in die Universiteit Stellenbosch se Regsfakulteit. Hierdie skrywe is bloot vir inligtingsdoeleindes ’n uiteensetting van regsbeginsels en is nie as regsadvies bedoel nie.

Lees ook:

PEN Afrikaans: Wat elke skrywer moet weet: Laster en die skending van persoonlikheidsregte

Johann Rossouw: Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Crito

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top