Karen Hart

’n Maandagskind gebore onder die sterreteken Vis – tegelyk ’n straf én ’n seën. Want dit beteken dat ek na ’n leeftyd van eweveel vreugdes en ontnugterings steeds in sprokies glo. Dis hierdie geloof in feëverhale en die onmoontlike wat gemaak het dat die lewe vreemde ompaaie met my geloop en dat baie van my drome op die vreemdste denkbare maniere waar geword het.

Ek het oorkant Sir Anthony Hopkins aan ’n tafel gesit en ’n onderhoud met hom gevoer toe ek op daardie oomblik ’n terugflits kry van ’n foto’tjie wat destyds, op my tiende verjaardag, van my saam met die destydse blink glanssterre van ons eie land, Min Shaw, Lance James, Fanus Rautenbach en die klavierspeler Len Brauer, geneem is.

Ek was veertien jaar oud toe ek vir my maats gesê het ek gaan eendag ’n tydskrif begin. Ek kan nog presies onthou in watter klaskamer ek gesit en die skakerings van lig wat deur die venster geval het toe ek die aankondiging gemaak het. Presies 25 jaar later het ek daar by die drukkers met die eerste uitgawe van tvplus! In my hand gestaan. Dié het ek begin terwyl ek as vermaakredakteur vir Huisgenoot en You gewerk het.

’n Loopbaankrisis en die daaropvolgende verveling in ’n sieldodende werk het my eindelik tot introspeksie gedwing en ek het besef wat my eintlike twee liefdes is: skryf en kook. Die liefde vir kook, as ek nou terugkyk oor my lewe, was ’n fyn goue draad wat van die begin af vervleg met my hele wese – van kleintyd al.

Maar dit was eers toe ek met my eerste man getroud was en skielik oor die wintermaande gekonfronteer is met ’n vrieskas vol wildsvleis van die plaas af dat ek ingespring het om myself behoorlik te leer kook. Ek het afgesit na die enigste boekwinkel op Graaff-Reinet en Kook en Geniet het my bybel geword. Die belangstelling het ’n passie, wat baiekeer grens aan obsessie, geword.

Met alles wat in my lewe gebeur het en die loopbaan as vermaakjoernalis, het dié ou potjie begeerte iewers op ’n stoofplaat staan en prut. En toe ek nou skielik sit met ’n werk wat passieloos die ure vul, was ek gereed vir die groot droom. Ek het so half per ongeluk begin lees aan Julie Powell se Julie & Julia, lank voor Hollywood nog gedagte aan die fliek gekry het. Op daardie oomblik het ek besef dis hoe ek my twee groot liefdes kan kombineer. Dis hoe my kosblog Toorkombuis gebore is.

Die naam Toorkombuis het so half vanself gekom – die alchemie van die kospotte het daarvoor gesorg. Dink net – jy verhit ’n bietjie olyfolie in ’n pot, voeg ’n gekneusde knoffeltoontjie, sonryp tamaties en ’n paar basiliekruidblaartjies daarby en jy skep die mees ongelooflike pastasous. Suiwer betowering!

Van my grootbase het die blog raakgesien en my gevra om te vryskut as kosredakteur vir die tydskrif Kuier. Ek het ook betrokke geraak by Isabella Niehaus se Market at the Palms, ’n spesialis-kosmark, waar ek Saterdag na Saterdag agter my tafel gestaan en my soetgebak verkoop het. Ek bak nou nog vir ’n handjievol lojale ondersteuners en ’n paar winkels. Elke Donderdagmiddag, skuins na twee, gesels ek met die luisteraars van Radio Kaapse Kansel oor my liefde vir kook.

Ek het reeds twee boeke, Toor met Hoender en Maalvleis, in opdrag van die uitgewer Human & Rousseau, gepubliseer. Nou werk ek aan my gróót, gróót droom – ’n resepteboek met stories en smulgeregte uit my Toorkombuis.

Toorkombuis: Wanneer ’n koek die kroon dra

Karen Hart Kos en wyn 2026-03-13

"Ek noem dit ook my towerkoek." Karen Hart skryf oor haar appel-dadel-en-okkerneut-koek.

Toorkombuis: Deel in die betowering ... met pynappel, rissie en lemmetjie

Karen Hart Kos en wyn 2026-02-12

"Jy kan dit as trooskos op ’n sagte kussing van kapokaartappels eet. Of jy kan ’n kleurespel skep en saam met ’n guitige mengelslaai bedien. Op rys is dit ook ’n wenner."

Toorkombuis: Hoe rooier ... die dieprooi van pruimpoeding

Karen Hart Kos en wyn 2026-01-13

"Dis dan wanneer ek my skotteltjie nadersleep en pruimpoeding bak. Ja, ja, ek weet – gebakte poeding is nou nie juis gemaak vir die somerhitte nie. Maar moenie vir my kom vertel jy eet net koue kos in die somermaande nie."

Toorkombuis: ’n traaifel vir vrede

Karen Hart Kos en wyn 2025-12-09

"Kersfees is om die draai. En hierdie jaar, het ek besluit, preek ek nie teen die oordaad van kreunende feestafels nie. My bydrae is ’n lekker dekadente koekstruif, soos die grênd mense sal sê. Maar in die volksmond bly ’n traaifel ’n traaifel."

Toorkombuis: Brand dit skoon – gnocchi met geskroeide botter en salie

Karen Hart Kos en wyn 2025-11-14

"Die krui self het soveel gesondheidsvoordele en jy kan so ’n ekstra paar jaar by jou leeftyd voeg deur dit mildelik in jou kos te gebruik. Een van my gunstelingmaniere om salie te 'brand' is in geskroeide botter oor sagte gnocchi-kussinkies."

Toorkombuis: Murgpampoentjies, o murgpampoentjies ...

Karen Hart Kos en wyn 2025-10-15

"Ek het nie net ’n heilige respek vir die bestanddele waarmee ek werk nie, maar ook vir die welstand en behoeftes van die mense vir wie ek kook. En murgpampoentjies is goed vir liggaam en siel." Karen Hart deel haar resep vir romerige pasta met murgpampoentjie en basiliekruid.

Toorkombuis: My kosbare erfenis – basaarkerrie

Karen Hart Kos en wyn 2025-09-17

"In hierdie Erfenismaand het my onthou ’n ander kospad geloop, ver terug oor die Karookoppies na die kerksaaltjie op die bult. Dit was een van die grootste gebeurtenisse in die kalenderjaar – die kerkbasaar."

Toorkombuis: Augustus vra vir sieletroos – my balsemiekhoenderpotjie

Karen Hart Kos en wyn 2025-08-13

"Balsem vir die siel ... soos hierdie trooskos om die res van hierdie lang, uitmergelende maand te oorleef."

Toorkombuis: ’n Kerrie-warm tuiskoms

Karen Hart Kos en wyn 2025-07-21

"Wanneer my klante smiddae vyfuur hul kosbestellings kom afhaal, raak ek skaam vir die chaos in my klein kombuisie na die dag se kokery. Maar al waaroor hulle kan praat, is die wonderlike geure wat in my huisie hang. En op dié Sondagaand is dit, saam met die kerrie, die onthou wat warm om my hart kom lê."

Toorkombuis: ’n onderhoud met Karen Hart

Naomi Meyer, Karen Hart Kos en wyn 2025-06-23

"Maar wanneer ek nou terugdink, het kook en bak my baie vroeg al gefassineer. Ek kan baie ver terug onthou – van my eerste herinneringe strek so ver terug as toe ek as tweejarige in Shannon op ’n plot buite Bloemfontein gebly het."

Toorkombuis: Ek onthou vir Mamma – en haar peppermint crisp-tert

Karen Hart Kos en wyn 2025-06-12

"My ma kon nie bak om haar lewe te red nie. ... Deel van haar pligte as skoolhoof se vrou was om reg te staan met koeke en terte vir funksies en verjaardae in die personeelkamer. Ek weet nie hoe nie, maar op die een of ander manier het sy oorleef. ... Een van haar reddingsboeie was daardie peppermint crisp-tert wat nou nog by my spook."

Toorkombuis: Afrikaans is my kombuistaal

Karen Hart Kos en wyn 2025-05-09

"Ek droom en dink en skryf Afrikaans. Ek leef Afrikaans. Ek kook Afrikaans ... die taal sing in my kombuis. Ystervarkies en repelsteeltjies, murgpampoentjies en soetrissie, borriepatat, spruitkool, boerpampoen en pampoenkoekies, wonderpeper en fenegriek ..."

Toorkombuis: My wingerd word herfs in rosyne

Karen Hart Kos en wyn 2025-04-15

"Luigi’s se brood was byna oordadig uitgerys en die sagte wit van die brood deurspek met blinkvet rosyne, uitgeswel in die warm deeg, wat stroopsoet in jou mond ontplof het."

Toorkombuis: Oor sprokies en pampoenbredie

Karen Hart Kos en wyn 2025-03-13

"[I]n my toorkombuis word hierdie nederige groente nie ’n luukse ryding nie. Nee, dit word omtower in pampoenkoekies met ’n kaneelsuikerlaag wat onder jou tande kraak. Of, nog lekkerder –  in ’n bredie waarvan die smaak genoeg is om jou sommer weer van voor af in sprokies te laat glo."

Toorkombuis: Karen se bleddie lekker steak

Karen Hart Kos en wyn 2025-02-13

"Ek kon kwalik aan iets anders dink toe die sjef daardie wonderlike stuk vleis daar uit die hittige oond haal. Dis in die oond gebraai, kon jy sien, en nie oor die oop vuur van steakrestaurante nie. En dit het gedrup van die botter. Daardie hemelse stuk vleis land toe in die asblik ... danksy Mislike Miranda."

Top