Toorkombuis: Coq au vin skaterlag in ’n skottel

  • 0

Foto deur Lukas van Pixabay

Coq au vin – om my tafel kla die mense hulle kan nie die naam uitspreek nie, maar dis ’n ongelooflike lekker dis.

Natuurlik kan jy maar sê: hoender in wyn. Dis nou baie basies en oorvereenvoudig, moeilik om die wonderlike samesmelting van geure in ’n naam vas te vang.

Vir my is deel van die lekker die wonderlike storie wat daarmee saamkom ...

Hierdie is ’n baie ou dis wat, soos die legende dit wil hê, geskep is deur Julius Caesar. ’n Groep Galliërs word in tipiese Asterix-styl deur een van Caesar se regimente vasgekeer.

Om aan die Romeine te wys dat hulle genoeg voorrade het om hulle deur die beleg te dra, stuur die Galliërs toe ’n ou hoenderhaan aan die vyand met dié boodskap: “Bon appétit!”

Caesar het toe onmiddellik die leiers van die Galliërs vir ete genooi en die hoenderhaan, wat in wyn en seldsame kruie gekook is, aan hulle voorgesit met die belofte dat hy hulle die resep sou laat kry indien hulle oorgee.

Hy het hulle ook die versekering gegee dat hulle en hul nasate vir die res van hul lewens goed sou eet en leef. Het hulle hom geglo? Die legende sê nie ...

As jy nie rooivleis kan eet nie, is hierdie hoenderdis seker die mees bevredigendste. Dit het al die troos en robuuste smaak van ’n boertige bredie. En dis so aanskoulik om te maak.

Wees net versigtig dat jy nie glas in die hand met die hoender meeding met die hoeveelheid sopies nie. Ek het byna my hele kuif, wenkbroue en ooghare afgeskroei toe dit by die vlam van die brandewyn kom.

Dis wonderlik hoe ’n sin vir humor en ’n lekker uit-die-maag-uit lag alles soveel makliker maak.

In ’n onlangse onderhoud met Anne Hathaway (ek dink dit was op Drew Barrymore se kletsprogram) het sy vertel hoe sy en haar man besluit het om altyd te probeer om die snaakse in elke situasie raak te sien en daaroor te lag.

Nou sal die siniese mense onmiddellik sê dis maklik wanneer jy ’n superster is in Hollywood en die wêreld aan jou voete het, skatryk en beeldskoon.

Maar ek is seker daar is dae dat selfs die lieflike Anne wens sy kan net iewers gou by ’n klein straatkafeetjie op die sypaadjie onder ’n sambreel saam met haar man sit en koffie drink, sonder dat die kameras om haar flits en elke gedokumenteerde beweging die volgende dag op sosiale media en in skinderblaaie vir almal is om te sien.

En Hollywood is nie vir sissies nie. Elke puisie en elke plooi word onder die vergrootglas dopgehou. Om nie eens te praat van daardie gram of twee wat aan jou heupe kom sit wanneer soetgoed jou laat swig nie.

Dis goed om nou al te leer lag, want Hollywood duld nie oudword nie. Veral nie as jy ’n vrou is nie. Dis soos Goldie Hawn se karakter in die rolprent First Wives Club sê: “There are only three ages for women in Hollywood – Babe, District Attorney, and Driving Miss Daisy.”

Vir ons gewone mense is daar die stres van elke dag, die stryd om oorlewing. Teen winter en ontnugtering – die titel van IL de Villiers se groot trefferboek van jare gelede som dit so mooi op.

My pa het altyd vertel hoe ek as klein dogtertjie met ’n geel truitjie en my spierwit haartjies in bokstertjies by die hek gestaan het en elkeen wat verbygeloop het, met ’n groot glimlag en ’n “Dumela” gegroet het.

Dan kry hy altyd so ’n veraf uitdrukking in sy oë en sê: “Ek mis daai dogtertjie. Ek wonder wat van haar geword het.”

Ek het nou die dag opnuut aan my pa se woorde gedink toe ek myself bederf het en die mooiste bottergeel somerrok gekoop het.

Ja, die lewe het ’n manier om jou in te sluk en jy vergeet maklik om te lag, selfs te glimlag. Selfs om net te lewe.

Ek luister baiekeer wanneer mense vertel van terapiesessies wat help om die lewe meer hanteerbaar te maak. Selfondersoek. Selfontdekking. En dan dink ek by myself, ja, dis nou alles goed en wel, maar wanneer lééf jy?

Natuurlik glo ek dat ’n mens alle hulp wat tot jou beskikking is, moet gebruik om die lewe makliker te maak. My sielkundige het my geleer om ’n innerlike noodhulpkissie op te bou en daarmee oorleef ek elke dag. Sommige dae makliker as ander ...

Maar die gouste wat my donker dag weer lig word, is wanneer ek spontaan uitbars van die lag oor die manewales van die diere hier in die veldjie voor my stoep.

Die kolganspaartjie, Dawid en Batseba, het gesien hoe skrop die tarentale en probeer hulle dit nadoen. Maar dis moeilik met gewebde voete en nou lyk hul “geskrop” eerder na ’n rieldans.

Dis heerlik om te sien hoe Batseba haar bad geniet in die silwer blikskottel wat ek vir hulle vol water gemaak het. Dis hoe die twee hul Bybelse name gekry het, want hierdie Dawid staan ook en toekyk hoe sy skoonheid bad.

Van die eekhorinkies praat ek nie eens nie. Ek lag vir die klein hansworse wat onderstebo in die boom hang terwyl hulle eet. My dag word pure sonskyn wanneer ek sien hoe hulle oor die veld aangehardloop kom wanneer hulle my in die deur sien staan.

En vergeet maar van die tjello’s en altviole – die mooiste geluid op aarde, het ek besluit, is my gemmerkat Bliksem se gesnork wanneer hy langs my lê en slaap.

Dan is daar my kombuis ... My gemoed kan hoe swaar wees as ek in die oggend opstaan, maar wanneer ek die potte nader trek, sweef ek soos ’n witte wolkie in ’n blou, blou hemel.

Iewers daar, tussen my diere en kleure en geure van my kombuis, loer die dogtertjie in die geel truitjie vir my. En sy lag oor ’n lawwe ou storie wat gesorg het vir hierdie grênd Franse gereg met die moeilike naam.

Karen se Coq au vin

(Oftewel – ’n baie dronk hoender; dis dalk waar die uitdrukking “hoenderkop” vandaan kom.)

Genoeg vir 4–6

10 hoenderstukke
sout en varsgemaalde swartpeper
½ koppie koekmeelblom
3 eetlepels botter
2 eetlepels olie
25 piekel-grootte uitjies, geskil
6 repies swoerdlose repiespek, in stukkies gesny
25 wit knopiesampioene
3 eetlepels brandewyn
3 koppies goeie rooiwyn
1 lourierblaar
1 eetlepel vars, gekapte tiemie
1 eetlepel vars, gekapte roosmaryn
’n handvol vars gekapte pietersielie
½ teelepel varsgerasperde neutmuskaat
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 eetlepel bruinsuiker
1–2 eetlepels botter
1–2 eetlepels koekmeelblom

Geur die hoenderstukke met sout en peper. Giet die koekmeelblom op ’n plat bord uit en rol die hoenderstukke daarin. Skud die oortollige meel af. Verhit die botter en olie in ’n swaarboompot en braai die hoenderstukke in sarsies daarin. Skep uit met ’n gaatjieslepel en hou eenkant. Braai die spek, uie en sampioene in dieselfde pot. Jy kan nog ’n bietjie botter en olie byvoeg, indien nodig. Braai totdat die uie en sampioene begin verkleur en plaas die hoenderstukke terug in die pot. Braai vir ongeveer 15 minute saam. Sprinkel die brandewyn oor en steek aan die brand. Wanneer die vlammetjies uitgebrand het, giet die rooiwyn oor en voeg die kruie, neutmuskaat en knoffel by. Geur met sout en peper en roer die suiker by. Verlaag die hitte, bedek die pot en laat vir 1 uur liggies prut. Indien die sous te dun na jou smaak is, meng 1 eetlepel botter en 1 eetlepel koekmeelblom tot ’n pasta en roer deur. Laat ’n paar minute kook totdat die sous begin dik word. Indien dit nog nie dik genoeg is nie, kan jy die proses herhaal. Proe en voeg nog sout en peper by, indien nodig.

Lees ook:

Toorkombuis: ’n Lemoenerige beesstert vir die onthou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top