
Foto-erkenning: https://pixabay.com/photos/oranges-citrus-fruits-fruits-1995056/
- Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.
Die moeilikste ding op hierdie ou aarde is om te leer om jouself te vergewe. Ek sukkel elke dag daarmee. En wanneer die vergryp so erg voel dat jy vergeefs probeer om ’n einde te maak aan die selfkastyding, dan sleep jy maar die potte nader en kook die wonderlikste trooskos. ’n Lemoenerige beesstertpot – net vir jou.
Ek het hierdie jaar my ma se sterfdag vergeet. Die datum. Nie die dag self nie. Dié kan ek in die fynste besonderhede onthou. Maar op ’n vreemde manier het dit gevoel ek het haar in die steek gelaat, ’n onreg teenoor haar gepleeg.
Dit was ’n vreemde dag. Maar ek het my nie daaraan gesteur nie. Ek was immers ’n week lank die slagoffer van die blou maan. Ek het nooit kon droom dat die kleinste maan van die jaar, die mikromaan, soveel opskudding kan veroorsaak nie. Maar dis ’n storie vir annerdag.
En op die dag self, het ek geweet, het Venus en Jupiter mekaar, ten aanskoue van Mercurius, in die naghemel ontmoet. Enige vreemde gebeurtenis het ek summier daaraan toegeskryf.
Dis nie asof elke elektriese apparaat in my kombuis rebelse streke begin uithaal het soos met die bloumaan nie. Ek was so ’n bietjie lomper as gewoonlik en het oor die deurstop voor my kombuisdeur geval. Maar ek het darem nie die helfte van my vingers onder die mes verloor nie.
Maar toe my laaste klant sy bestelling kom afhaal, het hy my vertel hoe sy gestorwe geliefde hom in ’n droom gevra het waarom hy nie hul Griekse lensiesop kook nie. Toe hy wakker word en die resep gaan soek, het hy afgekom op boodskappe en liefdesblyke wat hulle vir mekaar gestuur het. Die volgende dag, vertel hy, was juis die herdenking van die dag waarop hulle mekaar ontmoet het.
Die mense sal dink dis blote toeval en maar net ’n droom, sê hy, maar hy glo dis sy geliefde wat met hom praat. Niks is toevallig nie, beaam ek toe, en ek vertel hom hoe ek die oggend toe ek die nuus van my ma se dood gekry het, buite op die stoep gaan staan het en gesê het: “Jy is nou vry, Frances. Vlieg hoog.” Op daardie oomblik het ’n wit voëlveertjie van nêrens af op my hand geval. Toeval? Nee, my ma se naam beteken nie verniet “vry soos ’n voël” nie. En sy was nou vry, nie meer vasgevang in die kloue van die wrede demensie nie.
Ek het die veertjie in ’n mooi klein blikkie gebêre. En dis maar een van die dinge wat my elke dag aan haar laat dink. Geeneen daarvan so aardskuddend soos die veertjie nie, nee, doodgewone dinge.
Elke oggend wanneer ek tandeborsel, onthou ek hoe sy daarop aangedring het dat die kraan eers loop tot die water warm loop voordat sy haar mond uitgespoel het. Hoe ouer ek word en hoe kouer die winter, hoe meer verstaan ek dit.
Maar toe vergeet ek op die dag en datum om haar sterfdag te onthou. Toe ek die aand ná die lang kookdag die boodskappe op my selfoon nagaan en een van ’n vriendin kry waarin sy my sê sy het vandag aan my gedink, kon ek vir ’n oomblik nie dink waarom nie. En toe tref dit my soos ’n vuishou in die maag.
Ek het ’n week of twee vantevore gedink dit moet iewers in Junie wees en toe nie weer aandag daaraan gegee nie. En dit terwyl ek voor my siel geweet het my ma het gesorg dat die sirkel voltooi is – sy is op die negende dag van die maand gebore en op die negende dag het sy gesterf. Weliswaar nie in die dieselfde maand nie, maar darem.
Toe wonder ek – seker maar om my te verontskuldig – of dit so belangrik is om ’n sterfdatum te onthou. Maar toe moet ek toegee, ek onthou my pa se sterfdatum asof dit in my geheue gegraveer is. In ons familie is ek die een met die geheue – ek onthou in die fynste besonderheid vanaf my tweede lewensjaar – en almal maak staat op my herinneringe.
Maar my ma se sterfdag het ek vanjaar vergeet . . .
Destyds, toe ek begin afskaal het en moes besluit watter van my boeke ek saam met my na my kleiner blyplek sou neem, het ek afgekom op ’n inskripsie wat my oupa in sy Nederlandse Bybel gemaak het. Die datum was vir my vreemd en het nie heeltemal sin gemaak nie – totdat ek die volle boodskap gelees het: “Die Bijbel is ’n geskenk van my dierbare moeder gestorwe den 15de November 1935. 9nm. Frans de Wit Prince Albert 19.11.1935.”
Ek het altyd gedink, so ’n bietjie bang ook, dat ek sou by wees as my ma die dag sterwe. Sy en haar demensie was vyf jaar in my sorg, totdat sy die dag geval en weer ’n heup gebreek het. Hierdie keer was die operasie bloot ’n noodmaatreël en sy kon nie meer op haar eie beweeg nie.
Ek kon nie langer vir haar sorg nie en sy is in ’n inrigting opgeneem. Die dag voor haar dood was ek by haar en ek kon afskeid neem sonder dat ek toe geweet het dit sou die laaste keer wees. Ek onthou hoe ek by die deur vir oulaas omgedraai het en gesien het hoe sy in haar wit truitjie by die eetkamertafel aangesit het. Dit het my op daardie oomblik onbeskryflik hartseer gemaak.
Die volgende dag, op die negende dag van Junie, is sy weg. En ek het vergeet. Nou kook ek maar hierdie troospot en hoop die wonderlike geure van vars tiemie, lemoen en sjerrie bring vryskelding en vergifnis.
Karen se lemoenerige beesstertpot
Genoeg vir 4
1,5 kg opgesnyde beesstert
¼ koppie koekmeel
1 eetlepel droë tiemie
sout en varsgemaalde swartpeper
3 eetlepels olie
3 uie, grofweg gekap
3 mollige knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 blik (400 g) geskilde en gekapte tamaties
1 koppie beesvleisaftreksel
1 koppie water
4 takkies vars tiemie of 1 eetlepel droë tiemie
7 lourierblare
gerasperde skil van 1 lemoen
Vir die gremolata
¼ koppie fyngekapte pietersielie
1 eetlepel gerasperde lemoenskil
1 mollige knoffeltoontjie, gekneus en fyngekap
Geur die meel met die droë tiemie en sout en varsgemaalde peper en rol elke stukkie beesstert daarin totdat dit alkant bedek is. Verhit die olie in ’n swaarboompot, wat ook in die oond kan gaan, oor matige tot hoë hitte, en braai die meelbedekte beesstertstukke daarin. Skep die vleisstukke uit en hou eenkant. Braai die uie en knoffel in dieselfde kastrol totdat die uie sag en deurskynend is. Sit die vleis weer terug in die pot en giet die sjerrie, tamaties met sous en al, en aftreksel oor. Voeg die water, kruie en lemoenskil by. Bedek die pot en plaas dit in ’n voorverhitte oond van 180 ºC vir ongeveer 3 uur of totdat die vleis sag is. Met die koste van elektrisiteit en die alewige gejaag teen tyd, kies ek kortpad en giet die hele inhoud van die pot in my drukkoker (of kitspot, soos dit deesdae bemark word) en kook onder hoë druk vir ’n uur voordat ek seker maak dit brand nie aan nie. Daarna nog ’n halfuur voordat ek dit terug in die swaarboompot skep, bedek en vir ongeveer ’n uur in die voorverhitte oond van 180 ºC plaas. Die laaste 20 minute van die baktyd haal ek die deksel af en laat dit so oop in die oond verder bak. Bedien dit met lekker kapokaartappels, rys of lekker tuisgemaakte tagliatelle, soos wat die Italianers dit doen. Meng die bestanddele vir die gremolata en sprinkel dit bo-oor.
Dis nou vergifnis in ’n pot.
Wenk: Wanneer jy die beesstert in die drukpot gaarmaak, kan jy die koppie water weglaat, anders gaan jy te veel vloeistof hê. Ek giet ook die helfte van die vloeistof af voordat ek dit verder in die oond gaarmaak.
Lees ook:

