
Foto-erkenning: https://unsplash.com/photos/round-orange-pot-vhumDnhVdrQ
- Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.
Ek is mos heeltemal brediebedinges. Winter en somer. Dis my trooskos. Elke keer wanneer die wêreld skeeloog na my kant toe kyk, sleep ek my groen ysterpot nader en skep ’n bredie wat die hart weer laat sing. Die Joodse mammas kan maar hul hoendersoppies hou – my bredies is ’n penisillien wat hart en lyf heel.
........
’n Bredie word met sorg gekook, laag op laag gebou. Dit word nie gemaak, soos baie mense glo, deur al jou oorskietkos van die week in ’n pot bymekaar te moer nie. Jy kan nie maar net na jou yskas toe loop en alles waarop jy jou hand kan lê, in een pot dwing nie. Nee, jy moet mooi dink – dis byna soos om ’n tafelplan by ’n onthaal uit te werk. Jy sit mense saam wat saam hoort en foeter nie ’n skoorsoeker net vir die grap by nie. My bredie prut eers baie lank in my kop voordat ek eindelik die harmonie van geure in my pot byeenbring.
.........
’n Bredie word met sorg gekook, laag op laag gebou. Dit word nie gemaak, soos baie mense glo, deur al jou oorskietkos van die week in ’n pot bymekaar te moer nie. Jy kan nie maar net na jou yskas toe loop en alles waarop jy jou hand kan lê, in een pot dwing nie. Nee, jy moet mooi dink – dis byna soos om ’n tafelplan by ’n onthaal uit te werk. Jy sit mense saam wat saam hoort en foeter nie ’n skoorsoeker net vir die grap by nie. My bredie prut eers baie lank in my kop voordat ek eindelik die harmonie van geure in my pot byeenbring.
Leipoldt sê onomwonde in sy Polfyntjies vir die proe: “My bredie is die kunswerk wat die kok berei, as hy ‘n goeie kok is, of bederf, as hy ‘n slegte kok is.”
Ek glo ook nie jy moet jou bredies laat oorstaan vir die winter nie. Selfs op ’n dag wat vra na koue vleise, slaai en alles wat afkoel en verkwik, hunker ek na ’n lamsvleis-en-groente-bredie in ’n dik en donker sous. Ek wil voel hoe die bredie my toevou in sy omhelsing, my koester soos ’n ou vriendskap …
Een van my pa se beste vriende bel nou nog – jare ná my pa se dood – op sy verjaardag. Net om te sê hy dink nog aan ons. En hoeveel hy my pa mis.
Hulle was vier maats – my pa, Tokkels, Frikkie en John. Hulle was agt jaar oud toe hulle saam in ’n junior klas by Oranje Meisieskool in Bloemfontein beland het. Van die jonger klasse het seuntjies ook opgeneem omdat Grey-kollege destyds nie toegerus was om seuns op so ’n jong ouderdom te akkommodeer nie.
Hulle het uit verskillende wêrelde gekom. Tokkels en John was van die Bloemfontein-adel. Die Versters en Krauses was gerekende mense. Frikkie het later ‘n miljoenêr geword. My oupa Adam en ouma Drienie was huisouers by ’n ouetehuis en dis waar my pa grootgeword het. Maar daar in die destydse standerd 1-klas, waar hulle die meisietjies geterroriseer het, is ’n lewenslange vriendskap gesmee.
My herinneringe aan my kinderdae sou soveel armer gewees het sonder hierdie vriende van my pa. Ek onthou nog wanneer John op Volmoed kom kuier het wanneer hy in daardie geweste aan ‘n navorsingsprojek gewerk het. Dan moes my ma plek maak in die ou paraffienyskas vir die flesse volstruisbloed wat hy versamel het. Dit het ‘n onuitwisbare indruk op my as jong kind gelaat.
Tokkels se kinders was min of meer ons portuur, en veral later jare moes my pa altyd uitkyk vir ‘n vakansiehuis so naby moontlik aan ons s’n sodat die Versters saam met ons die see kon geniet. Ek het nou nog die briefies en tekeninge wat die jongste vir my gemaak het. My pa het haar Antjie die Rooibruinhen genoem. Ek kan nie mooi onthou nie, maar ek dink dit was na aanleiding van ‘n karakter in ‘n storieboek.
Toe ek die eerste keer in Graaff-Reinet se Grootkerk gaan trou het, het Frikkie aangebied om met sy Rolls Royce uit Bloemfontein te kom om die troukar te ry. Ongelukkig het my troudag saamgeval met die Durban July, en hy het ‘n perd gehad wat in die hoofwedren deelgeneem het. Nie eens die Rolls sou die katastrofiese huwelik kon gered het nie, maar net die gedagte het vir my soveel beteken
Frikkie was die eerste een wat ons verlaat het. Ek onthou nog my pa se verskriklike hartseer, veral omdat hy die aand voor Frikkie se selfdood nog met hom probeer praat het. Dit was die eerste keer in my lewe dat ek vir my pa ’n bos rose gaan koop het – ek het nie die woorde gehad om hom te troos nie. Baie jare later, op my pa se begrafnis, het ek nie rose of woorde gehad vir oom Tokkels en oom John nie. Ek was te toegevou in my eie hartseer.
Vir my was die ongelooflikste van my pa se vriende dat hulle my kleintyd al soos ’n grootmens behandel het, met my gesels het asof ek op hulle vlak was. Wanneer hulle kom kuier het, het hulle met my gepraat oor die boeke wat ek lees, my met diep filosofiese gesprekke gedwing om te dink oor die lewe en wat ek daarvan verwag. Ek dink dis een van die redes waarom ek as volwassene nog altyd tot ouer mans aangetrokke gevoel het.
En waarskynlik is dit ook die rede waarom ek langer aan vriendskappe klou as wat ek moet. Soms moet ’n mens eerlik met jouself wees en besef al jou pogings om ’n vriendskap kunsmatig aan die lewe te hou, het misluk. Nie alle vriendskappe is soos dié van my pa nie.
Dis dan wanneer ek die groen ysterpot nadertrek …
Karen se spesiale lamsbredie
Wanneer jy die dag lus kry vir iets baie spesiaals, vul jy jou pot met Mediterreense geure en bedien dit met knoffelgebraaide pitabrood en ‘n anderste feta-tzatsiki.
Genoeg vir 4
Vir die bredie
3 eetlepels olie
3 middelslag uie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 kg lamstowevleis
1 groot eiervrug, in blokkies gesny
1 van elk rooi, geel en groen soetrissie, wit gedeeltes en pitte verwyder en in repe gesny
3 groterige murgpampoentjies, in muntstukkies gesny
1 koppie beesvleisaftreksel
1 eetlepel vars origanum, fyngekap
1 eetlepel vars tiemie, blaartjies van takkies gestroop
1 eetlepel roosmarynblaartjies, fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Vir die gebraaide pita
2 eetlepels botter
2 eetlepels olie
3 knoffeltoontjies, gekneus
2 pitabrode in kwarte gesny
Vir die feta-tzatsiki
½ Engelse komkommer, met skil en al gerasper
1 koppie dubbelroomjogurt
½ koppie fetakaas, verkrummel
3 eetlepels gekapte vars dille
3 eetlepels gekapte vars pietersielie
sap van ½ suurlemoen
Maak eers die bredie: Verhit die olie in ‘n swaarboompot en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel by en die vleis by en braai totdat die vleis alkant verbruin het en so ‘n lekker vleissousie begin afgee. Voeg die eiervrug, soetrissie en murgpampoentjies by en braai vir so ‘n minuut of twee voordat jy die aftreksel en kruie byvoeg en met sout en peper geur. Verlaag die hitte, bedek die pot en laat vir 1–1½ uur liggies prut totdat die vleis murgsag is en van die bene afval. Verhoog die hitte en laat die pot vir 20 minute onbedek staan en kook sodat die vloeistof kan verminder. Hou net dop vir aanbrand. Bedien met die gebraaide pita en die feta-tzatsiki.
Maak die pitabrood: Verhit die botter en olie saam in ‘n pan oor matige tot hoë hitte. Voeg die knoffel by en braai die knoffel daarin tot goudbruin. Skep die knoffel uit en braai die pitakwarte in die knoffelgegeurde olie-en-botter-mengsel tot alkant goudbruin. Dreineer op handdoekpapier.
En nou die tzatsiki: Plaas al die bestanddele saam in ‘n voedselverwerker en meng goed. Skep in ‘n klein opdienbakkie.
Wenk: Jy kan die vars kruie in die bredie vervang met 1 teelepel droë kruie van elke soort of 3 teelepels gemengde droë kruie. By die tzatsiki kan jy die vars dille net eenvoudig weglaat as jy dit nie in die hande kan kry nie. En niks keer jou om die lamsvleis met stowebeesvlies te vervang as die lamsvleispryse jou oë laat traan nie.
Lees ook:

