Toorkombuis: Wanneer ’n koek die kroon dra

  • 0
........
Kraakvars groen appels, dadels en okkerneute ... Dis ’n wenkombinasie. Ek het al baie koeke in my lewe gebak, sommige ’n bietjie meer suksesvol as ander.
........

Kraakvars groen appels, dadels en okkerneute ... Dis ’n wenkombinasie. Ek het al baie koeke in my lewe gebak, sommige ’n bietjie meer suksesvol as ander. En dié wat ’n algehele ramp was, het nie lank genoeg geleef om die storie oor te vertel nie. Reguit asblik toe.

My sjokoladekoek is ’n droom en is gewoonlik die een wat die eerste aandag trek. En ek kry soveel bestellings vir my wortelkoek, die koninklike rooifluweelwonder, die fyntjiese koffie-okkerneutkoek  ... noem maar op. Maar hierdie een is ’n regte aandagvraat. Ek kan hóéveel ander lekkernye op my teetafel hê, maar dit sal altyd hierdie meneer wees wat die middelpunt van die aandag word. Met die eerste oogopslag lyk hy maar doodgewoon en almal wonder altyd oor die onopgesmukte koek. Maar na die eerste happie praat niemand oor enigiets anders nie.

Ek noem dit ook my towerkoek. Terwyl ek besig was om die resep te ontwikkel, het daar nog met elke oefenlopie onverwags kuiermense opgedaag en dit het in ’n spontane teepartytjie ontaard. Ek het nooit nodig gehad om te wonder wat ek so op my eie met ’n hele koek gaan maak nie.

Die koek is gebore uit die oorblyfsels van een van die kosfotosessies wat ek vir die tydskrif Kuier gedoen het. Ek was meer as 11 jaar lank kosredakteur van die tydskrif. Dit was tegelyk ’n droom en ’n nagmerrie. Ek kon my passie uitleef, ja, maar ek was ook doodbenoud dat alles kon skeefloop en ek nie die agt resepte vir die fotosessie sou klaar kry nie. Baie slapelose nagte, en wanneer ek wel ingesluimer het, het ek gedroom van resepte en kook en paniekerig in ’n koue sweet wakker geskrik.

Ek sal nooit my eerste fotosessie vergeet nie. Vir die eerste uitgawe van die nuwe tydskrif moes ek wraps maak (wat ek nooit vantevore probeer het nie) en boonop stap vir stap verduidelik hoe. En dan nog die vier verskillende soorte vulsels – hoender, vis, vegetaries en vleis. Volgende op die lys was die kolwyntjies, ook met vier verskillende soorte versiersels. Die versoeking was groot om op die vlug te slaan en nooit weer voor ’n stoof te staan nie.

Ek het ’n dag verlof ingesit, want ek het toe nog ’n ander voltydse werk gehad en het hierdie werk op ’n vryskutbasis gedoen.

Die dag voor die tyd het ek die oggend voor werk gou my inkopies gaan doen. (Ek het die vorige aand reeds die hele ding diagram vir diagram beplan en my inkopielys opgestel. En nee, ek is nie van nature een van daardie raakvattervroue wat so goed georganiseerd is nie – dit was pure paniek wat my daartoe gedwing het.)

Daardie aand het ek steierend ná ’n lang dag by die huis gekom en met die voorbereidings begin. Eerste op die lysie was die rys-en-lensie-slaai-vulsel, want dié moes oornag staan sodat die heerlike knoffel-en-kruie-slaaisous behoorlik kon lyf gee aan die dis. (Ja, ek weet, ’n mens kan nie ’n foto proe nie, maar dis hoe ek is.) Toe het ek kolwyntjies gebak en versier. Twaalf van hulle – drie het gewone glansversiersel gekry, drie ’n botterversiersel, drie ’n sjokoladeversiersel en die laaste drie karamel. Maar tipies ekke het ek nog elkeen verskillend opgedollie met blinkertjies, kraletjies, hartjies en sterretjies. Elkeen van die twaalf het anders gelyk.

Dit was elfuur toe ek eindelik kon gaan sit, maar toe was dit met die rekenaar op my skoot om gou-gou nog ’n spertyd te haal. Dis nie maklik om sommerso ’n dag af te vat nie – die werk staan nie stil nie. Teen eenuur was ek eindelik in die bed. Gelukkig was ek te moeg om my aan paniek oor te gee, Maar dit het gevoel asof ek net weggeraak het toe die wekker vyfuur lui.

Ek het die deeg vir die wraps aangemaak en afgeknie, in sirkels uitgerol, hulle met lagies plastiek van mekaar geskei en met ’n klam doek bedek vir later se gaarmaak. Toe het ek gou die maalvleis-en-bone-vulsel met die effense byt gemaak, smoorsnoek en ’n ligte hoenderkerrie met droë appelkosies.

Net na nege was ek nog besig met die hoenderkerrie toe die kunsredakteur van die tydskrif daar opdaag. Sy sou die stilering doen. Toe begin ’n rondhardlopery van ’n ander aard – ’n geskarrel vir tafeldoeke, servette en allerhande goetertjies wat mooi sal lyk in die foto’s.

Met die volgende klop aan die deur was die fotograaf en sy assistent daar. Ons het meubels rondgeskuif om plek te maak vir die ligte en goeters. Ek het toe nog ’n swart kat met die naam Cleo gehad. Sy het die storie net een keer so gekyk en haar uit die voete gemaak. En Percy, die pou wat ek bloubessies en sade gevoer het, het nuuskierig by die voordeur rondgedrentel, baie gebelg dat iemand van iets anders as van hom wil foto’s neem.

En so tussendeur het ek rondgehol om koffie en tee aan te dra, wraps te rol en ’n bonte verskeidenheid van groente te kap en souse te maak om alles gereed te kry vir die kamera. Ja, ek weet – dit klink asof ek my midde-in ’n nagmerrie bevind het. Maar terwyl ek so ’n oomblikkie gaan staan het om asem te skep, het ek skielik besef: Ek LEWE! Ek leef om dié soort ding te doen. Dit was een van die moeilikste dinge wat ek aangepak het, maar ek het elke oomblik in ekstase beleef.

Hier teen middagete se kant het ons so ’n blaaskansie geneem en die span het van die kos begin proe. My buurvrou het ook kom loer wat aangaan en hier en daar gepeusel. En dis toe dat ek besef: Dis vir daardie soort oomblikke dat ek leef. Dit was asof daar ’n heilige stilte oor die vertrek neergedaal het. En toe ek durf vra watter vulsel die lekkerste is, het die spulletjie my aangekyk asof ek ’n doodsonde gepleeg het. Die moegheid het soos ’n skouerkombersie van my afgeval. Ek was gelukkig en tevrede.

Dit het min of meer die patroon geword van elke fotosessie vir die volgende 11 jaar. Ek het later voltyds vir die tydskrif begin kook en het nie ander spertye gehad wat my aandag geverg het nie. Dit het die lewe so ’n bietjie makliker gemaak.

Die koek is uit een so ’n fotosessie gebore. Vir die soetigheid op die spyskaart het ek appels gevul met dadels en okkerneute, in die oond gebak. Dit was die laaste foto van die dag en almal was al opgeproe. Boonop het hierdie nagereg hopeloos te gesond gelyk. Toe almal weg is, het ek die spul gevulde appels so staan en kyk en besef ek sal ’n plan moet maak.

En die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

Karen se appel-dadel-en-okkerneut-koek

Genoeg vir 15–20

Vir die koek
3 eiers
1½ koppies olie
2 koppies suiker
2 teelepels vanielje-ekstrak
3 koppies koekmeelblom
1 teelepel sout
1 teelepel koeksoda
1 teelepel kaneel
2 koppies appelstukkies (dis ongeveer 3–4 middelslag-appels, geskil, stronk verwyder en gekap)
1 koppie dadels, fyngekap
1½ koppie okkerneute, grofweg gekap

Vir die sous
2 koppies klewerige bruinsuiker
½ koppie melk
225 g botter

Klits die eiers, olie, suiker en vanielje goed saam. Sif die koekmeelblom, sout, koeksoda en kaneel saam en voeg by. Meng goed en roer die appels, dadels en neute by. Giet die mengsel in ’n gesmeerde ringkoekpan (die Bundt-tipe, nie die platte nie) en bak 1½ uur lank in ’n voorverhitte oond van 180 ⁰C. Maak die sous so 10 minute voor die einde van die gaarmaaktyd: Plaas die bestanddele vir die sous saam in ’n kastrolletjie en verhit oor matige hitte tot kookpunt. Kook vir 3 minute. Giet die helfte van die sous oor die koek sodra dit uit die oond kom. Steek gaatjies met ’n vurk sodat die sous in die koek kan intrek, maar wees versigtig om die koek nie stukkend te steek nie. Gebruik ’n plat mes om die koek effens van die kante en van die metaalgedeelte in die middel te lig sodat die sous ook daar kan inloop. Laat die koek in die pan staan sodat die sous behoorlik kan intrek, maar keer die koek op ’n draadrak uit voordat dit heeltemal afgekoel het. Giet die res van die sous bo-oor.

Wenk: Jy kan ook ’n mengsel van pekan- en okkerneute gebruik as jy wil.

Lees ook:

Toorkombuis: Hoe rooier ... die dieprooi van pruimpoeding

Toorkombuis: Deel in die betowering ... met pynappel, rissie en lemmetjie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top