
...
Ek voel soos ’n wafferse alchemis met my kruie en speserye en die wonderlikste vars bestanddele.
...
In my klein kombuisie ervaar ek elke dag die betowering van die wonderlikste geure wat saamsmelt en die smaaklikste disse oplewer. Ek voel soos ’n wafferse alchemis met my kruie en speserye en die wonderlikste vars bestanddele. En hier in die hoogsomer is my jongste skepping roosterhoender met pynappel, lemmetjie en rissie – kleurvol en ’n rieldans vir die smaakbekertjies. Absolute betowering!
In hierdie klein towerkokon van my skuil ek teen ’n vreemde wêreld daarbuite – beskans teen hartseer, ellende en politiek. Natuurlik is dit onmoontlik om jouself heeltemal af te sonder. Maar dan is dit ook waar dat wanneer jy jou oopstel vir die betowering van die kombuis, jy dit ook elke oomblik van die dag, weg van jou stoof af, ervaar. Jy dra dit in jou hart saam en dis asof jou oë oopgaan vir die klein wonderwerkies wat om jou gebeur.
’n Vriendin het vir Bliksem, my gemmerkat, ’n katkruiplantjie present gegee. Gewoonlik karnuffel katte so ’n plantjie totdat niks daarvan oorbly nie. Nie Bliksem nie. Hy het die plantjie met die grootste teerheid sit en beruik. En dit het nou al ritueel geword dat ek elke oggend vir hom ’n blaartjie afpluk en oor sy gesiggie vryf. Hy kom haal my ook wanneer hy meen dis tyd om water te gee. En toe die plantjie te groot vir sy houer word en oorgeplant moet word, was dit Bliksem wat my aandag daarop gevestig het.
Die plantjie is nou al groot en het sy saad oral versprei, tussen die gleufies van die sementblokke op die stoep. Ek het die grotes gelos om verder te groei en van die kleintjies in potte uitgeplant. Bliksem het nou ’n hele katkruiboerdery hier aan die gang. Maar hy kies steeds om elke oggend by sy present-plantjie te gaan sit en die blare te snuif. En een oggend, toe sy katkruiplantasie in blom staan, het hy voor sy plantjie gaan sit, sy voorpootjie versigtig uitgesteek, om een van die blommetjies gekrul en dit na sy gesiggie toe gebring.
Hy was onbewus daarvan dat ek hom dopgehou het en hierdie oomblik van betowering met hom gedeel het. Dit sal een van my kosbaarste herinneringe bly. Toe ek agterna vir vriende daarvan vertel, was hul eerste reaksie dat ek dit op kamera moes vasgelê het. Maar geen kamera op aarde sou reg kon laat geskied aan daardie oomblik nie.
Nou die oggend sit ek in my bed, besig om my kookdag te beplan en aanlyn inkopies te doen – soos ek elke oggend doen. Die skuifdeure was oop en die voëls, tarentale en duiwe doenig op die stoep. Die volgende oomblik vlieg ’n duif by die oop deur die kamer in. Hy was so ’n bietjie verwilderd en het teen die plafon gefladder. Ek het met hom begin praat en gepaai. Toe kom sit hy op die voetenent van die bed, skaars ’n meter van my af en kantel sy koppie, oë vasgenael op die radio.
Die mooiste musiekstuk het gespeel. Dit was “Sicilienne” van Ernest Chausson, ’n konsert vir klavier, viool en strykkwartet, ’n stuk musiek wat ek voor daardie oomblik nie geken het nie. Ek het agterna uitgevind van die vreemde fratsongeluk waarin die komponis dood is – hy het op 44 met sy trapfiets in ’n betonmuur vasgery en is op slag dood. Maar die vreemde dood het nie ’n skadu gewerp op die toweroomblik wat ek en die duif gedeel het nie.
En skielik het ek onthou ... Ek het, toe my ma nog geleef het, elke oggend vir haar koffie geneem en saam met haar sit en drink, terwyl ek ’n mooi aanhaling uitgesoek het om met haar te deel en saam met die dag en datum op haar witbord teen die muur te skryf. Dan het ek ’n mooi musiekstuk op my rekenaar of foon uitgesoek waarna ons saam geluister het. So met die onthou, kyk ek na die duif wat so skewekoppie sit en luister, en ek sê: “Hallo, Frances.”
Toe die laaste note van die musiekstuk wegsterf, het die duif weer teen die ruit begin fladder en ek het my hande saggies om sy lyfie gevou en hom by die skuifdeur uitgehelp. Die duif het weggevlieg, maar daardie oomblik het in my hart nesgemaak. Vir altyd.
En dis met hierdie betowering in hart en siel dat ek hierdie resep geskep het – heerlike roosterhoender met pynappel, rissie en lemmetjie. Jy kan dit as trooskos op ’n sagte kussing van kapokaartappels eet. Of jy kan ’n kleurespel skep en saam met ’n guitige mengelslaai bedien. Op rys is dit ook ’n wenner. As jy dit eers geproe het, sal jy ook swig voor die betowering.
Karen se roosterhoender met pynappel, rissie en lemmetjie
Genoeg vir 4
Vir die marinade
3 eetlepels olyfolie (sonneblom- of kanola-olie werk ook goed)
1 eetlepel heuning
sap en skil van 3 lemmetjies
1 rooi brandrissie
1 teelepel Cajun-speserymengsel (resep in die wenk)
1 pynappel
Vir die samestelling
3 eetlepels olie
3 uie
1 rooi brandrissie
1 teelepel Cajun-speserymengsel
8 hoenderstukke
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Maak die marinade: Giet die olyfolie en die heuning, ook die sap en gerasperde skil van die lemmetjies, die brandrissie en die speserymengsel in die beker van jou voedselverwerker. (As jy nie die speserymengsel wil gebruik nie, kan jy dit vervang met ’n ½ teelepel rooipeper.) Sny die pynappel met skil en al in ringe. Gebruik ’n skerp mes om die skil versigtig af te sny sonder om die ringe te breek. Sny die binneste harde kern versigtig uit. Hou die ringe eenkant en gooi die kerns wat jy uitgesny het, by die ander bestanddele in die beker. Verpulp totdat jy ’n lekker vloeibare marinade het. As jy dink die vloeistof is te min, kan jy nog olie byvoeg.
En nou vir die samestelling: Giet die olie in ’n oondroosterpan. Sny die uie in dun ringe en bedek die bodem daarmee. Sny die brandrissie in stukkies en sprinkel bo-oor. Pak die pynappelringe bo-op. Geur met sout en peper en sprinkel die speserymengsel liggies bo-oor. Pak die hoenderstukke bo-op en gebruik ’n kwas om die stukke met die marinade te verf. Draai die stukke om en verf ook aan die onderkant. Draai die stukke weer om sodat die velkant bo is. Giet ’n klein bietjie water in die beker en skakel jou voedselverwerker aan sodat al die geure wat in die beker agtergebly het, deur die water van die kante afgespoel word. Giet dié onderin die oondpan. Bedek die pan met foelie en plaas vir ’n uur in die yskas. Voorverhit die oond tot 200 ºC. Haal solank die oondpan uit die yskas. Verwyder die foelie en geur met sout en peper. Sodra die oond warm genoeg is, plaas die onbedekte oondpan daarin vir ongeveer 50–60 minute. My oond is geneig om in die een agterste hoek te skroei, so ek draai die pan halfpad deur die gaarmaaktyd om.
Wenk: Maak jou eie Cajun-speserymengsel. Lewer ongeveer 4 eetlepels. Gebruik soos nodig en bêre die res in ’n glasflessie met ’n skroefdeksel. Meng 1 eetlepel swartpeperkorrels, 2 teelepels paprika, 2 teelepels sout, 1 teelepel droë tiemie, 1 teelepel droë oreganum, 1 teelepel mosterdpoeier, ’n ½ teelepel rooipeper en maak saam fyn in ’n speserymeultjie of met ’n stamper en vysel.
Lees ook:
Toorkombuis: Brand dit skoon – gnocchi met geskroeide botter en salie


Kommentaar
Dankie vir die deel van Bliksem en die duif.
Jy beskryf dit pragtig.