
Foto: Pexels
- Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.
Hierdie tyd van die jaar is die hele Hollywood aan’t woel met die groot aanloop na die Oscars. En hier waar ek in my klein kombuisie aan die werskaf is, is ek nie onaangeraak nie.
Dit is eintlik my ma se skuld dat ek so ’n ding ontwikkel het oor kos in ’n fliek of ’n episode van ’n TV-reeks. Sy het eendag so terloops opgemerk hoe dit haar ontstel wanneer die karakters op die skerm aansit by ’n lieflik gedekte tafel wat kreun onder die allerlekkerste disse en dan gebeur daar iets wat almal laat opspring en skoon van die kos laat vergeet.
Dit was juis in dié tyd dat The devil wears Prada uitgereik is. Ek het die prent geniet, veral omdat ek self jare lank in die tydskrifbedryf gewerk het. En ek het baie eienskappe van baie mense met wie ek oor die jare heen te doen gekry het, in die mislike Miranda Priestley (Meryl Streep) herken. Maar genadiglik nog nooit die volle toetie in één persoon nie.
Dat so iemand wel bestaan ... daaraan twyfel ek nie. En die gerugte het sterk geloop dat dié fliekkarakter gegrond is op ’n werklike persoon.
Vir baie van die gemene dinge wat Mislike Miranda in die fliek aangevang het, kon ek nog so half en half ’n verskoning vind en haar vergewe. Maar net nie dít nie: toe sy daardie wonderlike stuk steak in die asblik laat beland ...
(Toe ek nou die dag die fliek weer ’n keer kyk, het ek sommer van voor af kwaad geword.)
Die arme naïewe Andy Sachs (Anne Hathaway) moes behoorlik bokspring deur die strate van Manhattan agter dié katterige kwien se grille en giere aan – die perfekte koppie koffie gereed op Haar Deurlugtige Hoogheid se lessenaar, dan gou hol om serpies en handsakke by die ontwerpers te gaan haal, ’n vinnige draai by die droogskoonmakers voordat sy sorg dat die perfekte steakmaal op daai einste lessenaar gedek staan. En dit alles vóór tienuur in die oggend ...
Ek wou bitter graag weet waar jy só ’n steak kry wanneer die reuk van spek en eiers nog swaar in die lug hang. Maar ná maande onder die tirannie van die superfeeks het die jonge Andy geweet van die plek – Smith & Wollensky op die hoek van Derde Laan en 49ste Straat.
Die lekkerte was om agterna uit te vind dit was glad nie kamma-kamma nie. Die fliektonele is werklik in dié bekende steakrestaurant in New York geskiet. Die tienuursteak was ook nie ’n liegstorie nie – volgende keer as jy daar kuier, kan jy maar vroegoggend daai steak gaan soek en jy sal hom kry.
........
Ek kon kwalik aan iets anders dink toe die sjef daardie wonderlike stuk vleis daar uit die hittige oond haal. Dis in die oond gebraai, kon jy sien, en nie oor die oop vuur van steakrestaurante nie. En dit het gedrup van die botter.
........
Ek kon kwalik aan iets anders dink toe die sjef daardie wonderlike stuk vleis daar uit die hittige oond haal. Dis in die oond gebraai, kon jy sien, en nie oor die oop vuur van steakrestaurante nie. En dit het gedrup van die botter.
Daardie hemelse stuk vleis land toe in die asblik ... danksy Mislike Miranda.
’n Ander fliektoneel wat my byna net so ontstel het, was die een in Spanglish, waar die perfekte toebroodjie ’n paar sekondes voor die eerste hap wreed opsy geskuif word. Adam Sandler speel John Clasky, die pa van die huis, en hy is ’n sjef van naam. Die één aand wat hy weg van die restaurant by die huis ontspan en homself bederf met die allerheerlikste toebroodjie, word hy wreed onderbreek deur sy Mexikaanse huishulp, Flor (Paz Vega), wat daarop aandring om hom onder vier oë te spreek.
Net voor hy daardie eerste happie kon neem ...
En wat dit die ergste maak, is dat daardie einste broodjie die verbeelding so aangegryp het dat dit agterna die titel verwerf het as “World’s Best Sandwich”. Die bestanddele is eenvoudig: twee snye suurdeegbrood liggies gerooster, kraakvars blaarslaai, sonryp tamaties, brosgebraaide spek, ’n titseltjie mayonnaise, ’n snytjie cheddarkaas en ’n sagte, gebakte eier waarvan die geel nog loperig is.
Die man wat agter die skerms gewerk het om Daardie Toebroodjie en die res van die flieksjef se disse so aanloklik te laat lyk, was niemand anders nie as die wêreldbekende en bekroonde meestersjef Thomas Keller van The French Laundry-faam.
Hy het ook die kosse gemaak vir die toneel waar John vir Flor kook, een van die mees romantiese en sensuele oomblikke. Maar dis daai toebroodjie wat my en die res van die fliekkykers se verbeelding aangegryp het.
Ek het met opgehoue asem gekyk hoe hy die broodjie deursny, hoe die eiergeel teen die kant afdrup en hy dit stadig na sy mond toe bring. Maar voor hy kon hap, was Flor daar om sy aandag op te eis. En toe word die Wêreld se Beste eenkant toe geskuif ...
’n Ander fliektoneel wat my nog altyd gepla het, was die een in Last holiday, waar Queen Latifah se karakter, Georgia Byrd, alles op die spyskaart bestel. Toe sy hoor sy is sterwend, blaas die vrou, wat nog altyd oorversigtig geleef het, al haar geld op ’n reis na die hotel waar sjef Didier (Gerard Depardieu) se restaurant is.
Daardie eerste aand hoor sy by die kelner dat die sjef nooit sy geregte herhaal nie – toe bestel sy sommer alles op die spyskaart: geroosterde kwartel, gestop met chorizo en brioche, Barolo-risotto met geroosterde groente en speseryerige lamskenkels met ’n bloedlemoensuurtjie.
Die lewe is kort, ja, dié verstaan ek. Maar waar pak ’n mens al daardie kos in? Het sy net hier en daar ’n happie geproe of haar borde skoon geëet? Sy was nie rietskraal nie, nee, maar sóveel kos is te veel vir een mens. Die fliek wys nie wat van al daai borde geword het nie en, hoewel Last holiday in 2006 uitgereik is, pla dit my na al die jare nog steeds.

Foto: Pexels
(Ek moet beken ek kyk die fliek minstens een of twee keer ’n jaar – net vir daardie voluit leef en, ai, al daardie kos ...)
En nou is ons weer terug by Mislike Miranda se bleddie lekker steak ...
Ná baie probeerslae het ek eindelik daarin geslaag om dit amper te vervolmaak. Ek sê amper, want as my oondrooster so hittig soos Smith & Wollensky s’n was, was myne net so perfek. En hulle is natuurlik daarvoor bekend dat hulle self hul vleis in die perfekte snitte sny en verouder soos hulle dit wil hê.
Hier is my weergawe. Onthou net, alle oonde is nie dieselfde nie. My oondrooster sukkel maar om ’n hellevuur na te boots. En jou braaityd sal deur die dikte van jou stukkie vleis bepaal word. Boonop verkies ek myne medium, nog effens pienkerig sonder dat die bloed loop. Pas maar die braaityd volgens jou oond se grille en giere aan.
Karen se bleddie lekker steak (nie vir mislike Miranda nie)
Genoeg vir 1 (pas maar self aan volgens die getalle aan jou tafel)
1 steaksnit van jou keuse
2 eetlepels sagte botter
Varsgemaalde swartpeper en Maldon-soutvlokkies
Fyngekapte vars pietersielie
Verhit jou oondrooster tot die maksimum en gee dit kans om goed warm te word. Plaas jou oondpan met sy braairooster in die oond sodat dit ook goed warm kan word . Die steak moet sis wanneer dit op die rooster neergesit word. Moenie enigiets op die steak sit voordat jy dit in die oond plaas nie, nie eens ’n bietjie olie nie. Wanneer die rooster gereed is, plaas jy die steak op die rooster in jou oondpan en braai dit so ongeveer 20 cm onder die element vir 5 minute. Draai dit om en doen dieselfde aan die anderkant. Skep die helfte van die botter op dié kant en besprinkel rojaal met sout en peper voordat jy dit vir 1 minuut ongeveer 10 cm onder die rooiwarm element instoot. Herhaal met die ander kant. Haal vinnig uit en laat 1 minuut lank onder ’n stuk foelie rus voordat jy dit opdien en die pietersielie bo-oor sprinkel.
Wenk: Jou steak moenie te dun of te buitensporig dik wees nie. Ek kies ’n T-been van so ongeveer 2–3 cm dik – ek hou van die ekstra geur wat die been gee en kies ’n vetlagie van ongeveer 1,5 cm om die res te omsoom.
Lees ook:
Toorkombuis: Goud-in-die-mond – roomys vir die feestyd-blues