
Foto’s: Canva en Pixabay (regs onder)
........
Hierdie is die heerlikste, geurigste manier om lamsboud gaar te maak. Jy proe nie die koffie nie – dit bring net die beste in die lam na vore en breek die vet ’n bietjie af.
........
Dit het alles begin met een van daardie simpel speletjies op Facebook – jy kry so ’n lysie waaruit jy net drie dinge waarsonder jy nie kan leef nie, moet kies. A, dis maklik, het ek gedink.
Katte kom boaan my lysie. Ek kan my nie die lewe sonder Bliksem en al sy voorgangers voorstel nie. My eerste kat was Kattie. Ek was nog klein en sy moes eindelose geduld gehad het met die klein snip wat vir haar poprokke probeer aantrek het.
Cartouche was ’n prinses uit België wat net ’n kort rukkie aan my geleen is. Thomas was my eerste gemmerkat. Hy het 19 jaar oud geword. Klawertjie het homself van die straat af ingenooi en hom by my en Thomas kom tuismaak.
Die pikswarte klein Cleo was ’n regte klein diva wat ek van ’n boslewe gered het. Sagrys was ’n regte klein sjef wat net nie uit die kombuis kon bly nie. Alles omtrent my kokery en bakkery het hom gefassineer.
En toe kom Bliksem, ’n regte gangster van die strate van Woodstock. Hy het my gekies en daar was niks wat ek daaraan kon doen nie. Eintlik, as ek nou mooi daaraan dink, hou hy my nou al ses jaar lank gevange en werk ek soos ’n slaaf vir hom.
Nommer twee is natuurlik koffie.
Toe begin die gelol. Boeke en musiek – hoe kan ek tussen die twee kies? Dit het nooit eens by my opgekom dat ek al twee kan behou as ek my koffie opoffer nie. Hoe lief ek ook al vir boeke en musiek is ... ’n lewe sonder koffie is net nie vir my ’n lewe nie.
Die hele koffieritueel elke oggend is nou al so deel van my lewe soos asemhaal. Ek maal elke oggend my bone, lekker donker gerooster, en meet twee koppies water af in my moka voordat ek die staalsif met die geurige gemaalde koffie opvul.
Wanneer die weer dit toelaat, gaan sit ek op my “troon” op die stoep en kyk hoe dit dag word. As dit nog koud en donker is, wikkel ek my toe in ’n warm baadjie wat met skaapvel gevoer is. Dis net die reën wat my binne sal hou.
Ek mag nie my selfoon by my hê nie. Net my gedagtes en die salige, salige koffie. Eers ná die laaste slukkie van my tweede koppie kan ek gou kyk wat die sterre vir my vir hierdie dag voorspel, boodskappe beantwoord en ’n paar verjaardagwense uitstuur.
........
My liefde vir koffie het op Volmoed begin. Ek was agt jaar oud en het deur die opening in die plankheining geklim om by tant Martjie langsaan te gaan kuier. Veral wanneer sy koffiebone op die oop vuur in ’n groot ou ysterpot gerooster het.
........
My liefde vir koffie het op Volmoed begin. Ek was agt jaar oud en het deur die opening in die plankheining geklim om by tant Martjie langsaan te gaan kuier. Veral wanneer sy koffiebone op die oop vuur in ’n groot ou ysterpot gerooster het. Sy het die bone in ’n handmeul gemaal en in ’n handgemaakte koffiesak in ’n ketel water getrek.
Die lekkerste lekker ... Vandag sal daar seker mense wees wat haar veroordeel omdat sy so ’n jong kind kafeïen gevoer het. Maar ek het heelhuids anderkant uitgekom – behalwe dat ek nou nie bereid is om my koffie vir boeke of musiek op te offer nie.
Ja, daar is kitskoffie in my kas. Van die beste soort. Maar dié gebruik ek net vir kook en bak.
My koffie-en-okkerneut-koek is altyd ’n treffer. My sjokoladekoek kry ’n goeie skeut koffie in die koekbeslag en in die versiersel. En dis die geheime bestanddeel in my pampoenkoekies.
Vir my ma het ek altyd piekelgrootte uitjies in ’n mengsel van koffie, aftreksel, knoffel, brandrissie en ’n skeppie bruinsuiker in die oond gebak. Dit was een van haar gunstelinggeregte.
En dan is daar my lamsboud . . .
Ja, ja, ek weet – daar is die puriste wat sê jy moet so min moontlik met lamsvleis lol – “daardie bossiesmaak van Karoolam”. Maar nou wil ek net weet: Hoe kan jy met sekerheid sê jou lammetjie het in die oop veld in die Karoo gewei?
Hierdie is die heerlikste, geurigste manier om lamsboud gaar te maak. Jy proe nie die koffie nie – dit bring net die beste in die lam na vore en breek die vet ’n bietjie af.
Karen se potgebraaide lamsboud met koffie en bosbessies
Genoeg vir 4
3 eetlepels olyfolie
1 groterige lamsboud
3 groterige knoffelhuisies, geskil, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, in stukkies gekap, pitte en al
’n Gemmerknol van ongeveer 3 cm, geskil en in stukkies gekap
Gerasperde skil van 1 lemoen
13 geskilde klein uitjies (piekeluie) of 3–4 groterige uie, in kwarte gesny
1 koppie swart koffie
1 eetlepel room
1 eetlepel bruinsuiker
½ koppie gedroogde bosbessies (cranberries)
Sout en varsgemaalde swartpeper
Verhit die olyfolie in ’n swaarboompot en braai die lamsboud alkant bruin. Voeg nou die knoffel, rissie, gemmer, lemoenskil en uie by en braai so ’n rukkie. Maak die koffie met die room en suiker aan. Gooi die koppie roomkoffie by die boud en voeg die bosbessies by. Geur met sout en peper. Bedek die pot met ’n styfpassende deksel en sit in ’n voorverhitte oond van 180 °C vir ongeveer 1½–2 uur totdat die boud gaar is. (Jy bereken die gaarmaaktyd gewoonlik op 30 minute per 500 gram vleis en voeg dan 20 minute by. Dit behoort nie te lank te neem nie – met vandag se vleispryse kan jy skaars ’n klein boudjie bekostig!)
Wenk: Terwyl jy wag dat die lamsboud gaar word, maak vir jou ’n lekker koppie koffie, sit lekker agteroor en besin oor die lewe. Dit kan nie te sleg wees as jy nog koffiebone én lamsvleis kan bekostig nie.
Lees ook:
Kommentaar
Hierdie is ń ver terug verlang, huis storie. My moeder het ook die skaapboud op die houtstoof gaar gemaak. Wie ken ook n strykkombuis? My pa het een gebou, met ń spieël gladde sementblad stryktafel. Die bondel natgespatte wasgoed, is dan op n Dinsdag met strykysters wat op die houtstoof warm gemaak is. Die Hererovroue het die strykkuns, tot perfeksie verfyn. Dan die hoogtepunt. Rou koffiebone wat uit Angola gekom het, is in die strykkombuis, op die swart houtstoof, in n platboom ysterpot, wat met n slinger stadig gedraai was, met botter en suiker gebrand. Die suiker en botter moes ook net op die regte stadium bygevoeg word. Die hele plaas het na gebrande koffiepitte geruik. Dan word die regte hoeveelheid moer in n koffiesak wat my ma self gemaak het gegooi. Koningskoffie!