Ode aan die ui – Franse uiequiche

  • 3

Kleintyd kon ek die smaak van ’n ui nie verdra nie – nie rou óf gaar nie. Maar daardie jare is fiemies met kos nie geduld nie en jy het geëet wat op jou bord is of jy het honger gebly. Of erger nog, jy moes aan tafel bly sit tot jy elke laaste krummeltjie ingewurg het.

In soppe en bredies kon dit nog gaan. Met braaibroodjies kon ek die uie versigtig afhaal en met die bietjie uiegeur wat aan die kaas en tamatie bly klou het, kon ek saamleef. In slaaie kon ek die rou ui versigtig uithaal en eenkant toe stoot.

Aartappelslaai met die stukkies fyngekapte ui was ’n probleem. En my ma het haar maalvleisgeregte gerek met uie en nogmaals uie. Sy het dit ook nie lank genoeg gebraai voordat sy die vleis en blikkies groente bygevoeg het nie. Ek het swaar gesluk en toe sommer ook besluit ek hou nie van maalvleis nie. Nog minder van blikkies groente.

Dit was eers toe ek self begin kook het dat my weerstand begin verkrummel en my liefdesverhouding met uie begin het. Van die een uiterste  ... Soos ’n wafferse Neruda besing ek ook nou die lof van die ui.

Onion,
luminous flask,
your beauty formed
petal by petal,
crystal scales expanded you
and in the secrecy of the dark earth
your belly grew round with dew.
Under the earth
the miracle
happened
and when your clumsy
green stem appeared,
and your leaves were born
like swords
in the garden,
the earth heaped up her power
showing your naked transparency,
and as the remote sea
in lifting the breasts of Aphrodite
duplicating the magnolia,
so did the earth
make you,
onion
clear as a planet
and destined
to shine,
constant constellation,
round rose of water,
upon
the table
of the poor.

You make us cry without hurting us.
I have praised everything that exists,
but to me, onion, you are
more beautiful than a bird
of dazzling feathers,
heavenly globe, platinum goblet,
unmoving dance
of the snowy anemone

and the fragrance of the earth lives
in your crystalline nature.

– Pablo Neruda, “Ode to the onion”

Dit pla my lankal nie meer as die trane oor my wange stroom wanneer ek uie skil en kap nie. Eintlik voel dit vir my asof ek deesdae immuun is daarteen. Dis net so af en toe dat ’n klein skarmunkeltjie met ekstra byt my ’n traan laat stort.

Wanneer ek soppe en bredies kook, moet ek myself beteuel sodat die uie nie alles oordonder nie. Ek begin altyd met ’n lagie uie, goud en deurskynend in olie gebraai voordat ek verder aan my geurprofiel begin bou – knoffel, gemmer, brandrissie ... en dan volg die res.

Slaphakskeentjies is my achilleshiel. Om nie eens te praat van uiemarmelade op ’n kaasbord nie. En in my yskas is daar altyd ’n flessie piekeluie – gereed vir middernagtelike vergrype.

........
Ek begin altyd met ’n lagie uie, goud en deurskynend in olie gebraai voordat ek verder aan my geurprofiel begin bou – knoffel, gemmer, brandrissie ... en dan volg die res.
........

Ek is dol oor uiesmoor en ek sal my siel verkoop vir lekker steakhouse-uieringe. Maar my groot gunsteling is ’n goudbruin uielelie. As jy êerig is en heeldag oor gesondheidskosse sanik, moet jy ver wegbly – dis soos KFC hierdie, ’n vegetariese KFC. ’n Sondige en diepgebraaide heerlikheid.

Die heel ui word só gesny dat dit net aan die onderkant geheg is en die “blare” oopmaak in ’n “lelie”. Dit word oraloor met speserygegeurde koekmeel besprinkel, in ’n eier-en-melk-mengsel gedoop, weer met die meelmengsel besprinkel en dan vinnig in warm olie gebraai. Jy eet hom met die hande, blaar vir blaar, met ’n lekker doopsousie byderhand.

Ek wens ek kon sê ek het hierdie ene uitgedink, maar dis die eienaar van ’n steakrestaurant in Springfield, Missouri (Bart Simpson se wêreld), wat beweer hy het die “bloomin onion” in die sewentigerjare geskep. Dis egter eers heelwat later dat die reeks Outback-steakrestaurante, ’n Australiese kettinggroep wat in Amerika kom nesskop het, hierdie verleidelike lelie op hul spyskaarte ingesluit en dit beroemd gemaak het.

En dan is daar wildeklawer se soetuie ... Hoe nader dit aan die einde van die jaar kom, soek my oë op die winkelrakke na hierdie heerlikheid. Die seisoen is bitter kort en ek kan nooit genoeg kry van hierdie wonderlike ui nie. As jy nou ’n braaibroodjie met houding wil hê ...

Oor die gesondheidsaspekte van die ui kan ek my nie uitlaat nie – ek is nie ’n dieetkundige nie. Ek kook en eet bloot agter die lekker aan. Maar hulle beweer uie is propvol antioksidante en is kankerwerend en antibakteries. Dis glo ook goed vir jou hart, beendere, en spysvertering- en asemhalingstelsel. Na bewering kan dit ’n rol speel om jou suikervlakke en gewig te beheer.

........
Uit eie ondervinding kan ek wel getuig dat uie ’n baie goeie raat teen hitte-uitputting is.
.......

Uit eie ondervinding kan ek wel getuig dat uie ’n baie goeie raat teen hitte-uitputting is. In die dae toe my ma nog gesond en by haar volle verstand was, het sy hier oor die Kerstyd by my kom kuier.

Ons was by ’n restaurant in die ou Cape Quarter toe sy begin sleg voel het. Maar eintlik het sy al begin steier toe ons nog op pad was. Soos die toeval dit wou hê, het die vrou by die tafel langs ons s’n met haar kop op haar hande gelê. “Hitte-uitputting,” het haar man aan ons verduidelik.

Ek vra toe uit na die simptome en my ma knik instemmend. Goed, ek het my ma ook teen dié tyd al goed genoeg geken om te weet wanneer sy dramakwien is en aandag soek en wanneer sy regtig siek voel.

Toe ons by die huis kom, het ek geskrik toe ek sien hoe ver heen my ma eintlik is. Ek het onmiddellik begin google, op soek na rate – enigiets om nie daai tyd van die jaar by Ongevalle te hoef te gaan sit en wag nie.

Mango’s, vind ek toe uit, is baie goed. Dit maak eintlik sin, synde ’n tropiese vrug, dink ek toe by myselwers, en ek sny onmiddellik een op. Yskoue, vars lemoensap. Ook dié het ek uitgedruk en aangedra. (Eers die lemoene ’n rukkie in die vrieskas laat lê.)

Maar die raat wat die eintlike deurslag gegee het, was die gebraaide uie met komyn. My ma was besonder lief vir uie en het sonder teëstribbeling geëet, al het sy gesê sy is nie honger nie.

........
Uie, soos Neruda ook sê, is bestem vir die arm man se tafel. En in die baie lang en behoeftige Januariemaand was dit ’n uitkoms. Maar met hierdie eg Franse quiche word die ui tot koningskos verhef.
........

Vanjaar, die eerste Kersfees sonder my ma, het iets vreemds gebeur. Eers het ek, nadat ek my Kersboom versier het, ’n klein koper-Kersboompie bygedam en met oorringe en juwele versier. Dis nie ek nie, het ek skielik met ’n skok besef, dis iets was my ma sou gedoen het. Nie ek nie.

En toe pak die uielus my beet. Nie vir gaar uie nie, maar so rou soos kan kom. Tot nou toe het ek af en toe rou uie in ’n slaai geëet. Voor ek behoorlik tot verhaal kon kom, eet ek toebroodjies met blaarslaai, ’n dik laag rou uieskywe en mayonnaise. En ek kan nie genoeg kry nie.

Dis my ma, weet ek onmiddellik. “Freak dit jou nie uit nie?,” wil ’n vriendin weet toe ek haar daarvan vertel. Nee, sê ek, dis maar net my ma wat wil seker maak dat ek haar nooit sal vergeet nie. En dis ’n vreemd gerusstellende gevoel, byna koesterend.

Uie, soos Neruda ook sê, is bestem vir die arm man se tafel. En in die baie lang en behoeftige Januariemaand was dit ’n uitkoms. Maar met hierdie eg Franse quiche word die ui tot koningskos verhef.

Karen se Franse uiequiche

Genoeg vir 6

Vir die kors (paté brisée)
2 koppies koekmeel
150 g botter, in klein blokkies gesny
1 teelepel sout
’n knippie strooisuiker
1 eier
1 eetlepel koue melk

Vir die vulsel
2 eetlepels botter
1 eetlepel olie
3 groot uie, in dun skywe
sout en varsgemaalde sout en peper
1 teelepel droë tiemie
1 eetlepel koekmeel
3 eetlepels parmesaan
2 eiers
4 eiergele
½ koppie room
½ koppie volroommelk
½ koppie suurroom of volroomjogurt
1 koppie gerasperde cheddarkaas

Maak eers die kors: Sif die koekmeel, sout en strooisuiker saam. Vryf die botter met jou vingerpunte in die meelmengsel in totdat dit soos growwe mieliemeel lyk. Voeg die eier by en melk by en meng goed totdat jy ’n sagte hanteerbare deeg het. Gebruik die palm van jou hand en bewerk die deeg deur dit 4 of 5 keer weg van jou af te stoot. Rol die deeg in ’n bal, bedek met kleefplastiek en laat vir minstens 20 minute in die yskas rus. Rol dit uit op ’n meelbestrooide oppervlak en voer die bodem en kante van ’n gesmeerde losboomkoekpan (van ongeveer 20 of 23 cm – sien wenk) met die deeg. Gebruik ’n vurk om die deeg op die bodem en die kante oraloor te prik. Plaas dit vir 20 minute in die vrieskas. Voer met bakpapier en vul met keramiekbone of gewone bone of rys en bak blind ? reg? in ’n voorverhitte oond van 200 ºC vir 10 minute. Verwyder die bakpapier en bone en bak vir 5 minute oop.

Maak die vulsel: Verhit die botter en die olie in ’n groot swaarboompan en braai die uie daarin oor lae hitte tot sag (ongeveer 30–40 minute). Geur met sout en peper en die tiemie. Sprinkel die koekmeel bo-oor en roer goed deur. Kook nog vir ’n minuut of twee. Sprinkel die parmesaan oor die klaar voorbereide kors voordat jy die uiemengsel bo-op skep en mooi eweredig versprei. Klits die eiers, eiergele, room, melk en suurroom of jogurt saam tot goed gemeng. Geur met sout en peper Sprinkel die cheddarkaas bo-oor die uiemengsel voordat jy die eiermengsel bo-oor giet. Bak in ’n voorverhitte oond van 180 ºC vir ongeveer 30–40 minute.

Wenk: Jy kan ’n quichebord ook gebruik, maar ek hou daarvan dat die vulsel lekker diep lê en daarvoor ís ’n koekpan ideaal. Ek voer die bodem met bakpapier voordat ek die kors vorm – dis dan net soveel makliker om die quiche uit die pan te kry. Ek hou ook daarvan om klein koekpannetjies te gebruik om individuele porsies te bak.

Lees ook:

’n Kerssprokie ... met bobotie en geelrys

Die betowering van sjokolade en klapper

Murgbene: ’n laaste maal

 

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top