Ek het tien jaar gelede voor die betowering van klapper en sjokolade geswig. Dis toe dat Romany Creams my lewe oorgeneem het. En ek moet seker nie te verbaas wees dat dit juis die soet van kakao, klapper en gesmelte sjokolade was wat my nou weer deur die kokon van donker en onsekerheid laat breek het nie.
My Romany Creams-reis het vroeg in Maart van 2013 begin. Ek is genooi om ’n praatjie by die eerste Proe Mosselbaai-fees te lewer en het toe sommer ’n paar dae by my ma gaan oorbly. Sy het destyds nog in die aftreehuis op Dwarswegstrand gebly en dit was ’n lekker verskoning vir ’n kuiertjie.
My ma, toe nog ongeskonde en sonder enige teken van demensie, was lui vir kook, maar het graag bederf. Sy neem my toe een middag vir ete na ’n gesellige eetplek in Grootbrakrivier.
Toe ons by die toonbank staan en wag om te betaal, sien ek die pakkie Romany Creams raak en koop dit as ’n spesiale bederfie vir my ma. Waarom, weet ek tot vandag toe nie, want nie een van ons twee was daardie tyd vreeslik lief vir soet nie.
Met die proeslag het ek onmiddellik geweet: Ek gaan nie rus voordat ek hierdie resep my eie gemaak en vervolmaak het nie. Dit was nie maklik nie. Daardie Grootbrak Romany Creams was ’n belewenis. Na etlike probeerslae het ek toe eindelik geweet ek het ’n wenner. Dit was die begin van die einde.
Baie oggende het ek vieruur reeds voor die stoof gestaan en bak. Dikwels is ek laataand nog besig om die molshopies in sjokolade te doop. Die liewe Zuki het kind-op-die-rug, skaars terug van kraamverlof, fluks gehelp met die bak. En vir Maswazi, my aanneemkind-van-die-straat af, het Romany Creams bak al soos asemhaal geword.
Ons het dié Romany Creams aan ’n hele paar winkels gelewer, ook vir kleiner bestellings gebak. En dan was daar destyds natuurlik die mark by The Palms in Woodstock ...
Dit was lekker om te weet dis die een produk wat elke keer by my marktafel uitverkoop het. Maar wat my die meeste tevredenheid gegee het, was om te sien hoe grootmense en kinders die koekie daar voor my proe, daardie skielike mengsel van skok en verrukking op hul gesigte.
.....
Met die proeslag het ek onmiddellik geweet: Ek gaan nie rus voordat ek hierdie resep my eie gemaak en vervolmaak het nie. Dit was nie maklik nie. Daardie Grootbrak Romany Creams was ‘n belewenis. Na etlike probeerslae het ek toe eindelik geweet ek het ‘n wenner. Dit was die begin van die einde.
.....
Ek het gretig geluister na stories van mense wat weer en weer terugkom en ander saambring om in die genot te deel. Daar was die later reeds bekende gesigte wat tot uit Durbanville en Stellenbosch agter my Romany Creams aan gery het.
“Dis jou skuld,” het die een vrou gemaak-dreigend voor my kom staan.
“Hoe dan nou?” wou ek laggend weet.
“Ek kan nou nie eens meer na ’n ander Romany Cream kýk nie! Nie ná ek joune geproe het nie.”
Ek het eenkeer vir my haarkapper ’n pakkie van dié Romany Creams saamgeneem as geskenk. Sy het een van haar gereelde klante laat proe. “It’s better than what I had on Tuesday,” het die ghrênd Engelse vrou laat hoor.
En toe wou die hele salon vol vroue natuurlik weet wat sy dié Dinsdag gehad het wat net ’n kortkoppie agter die Romany Creams trek. “Sex!,” sê sy toe sonder om te blik of te bloos.
Die hele verskynsel het my laat glimlag, ja, maar ook ietwat verwonderd gelaat. Hier in my Toorkombuis glo ek aan daardie geheime bestanddeel: die betowering geskep uit die liefde en passie waarmee elke koekie gemaak word.
Die een Saterdag by die mark kom staan daar ’n man en sy vrou voor my tafel, kyk net so na die groot silwer bak vol Romany Creams. Ek nooi hulle om te proe, maar hulle skud net kop. Eers gaan ontbyt eet, sê hulle, dan kom hulle terug om te koop. Hulle geniet net eers die wonderlike sjokoladegeur.
En toe kyk die man my vas in die oë en vra: “Glo jy dat jy dit wat jy voel oordra in jou produk wanneer jy bak?” Ek het hom so half ongelowig aangekyk en verduidelik dis waaroor Toorkombuis juis gaan – dis my lewensfilosofie, dis hoe ek my kombuis bedryf.
Hy kom toe met hierdie lang verduideliking, heel wetenskaplik, van water wat ’n geheue het en 85% van die mens se liggaam is water. “Kwantumfisika,” verduidelik hy.
“Ek noem dit sommer betowering,” lag ek.
.....
En toe kyk die man my vas in die oë en vra: “Glo jy dat jy dit wat jy voel oordra in jou produk wanneer jy bak?” Ek het hom so half ongelowig aangekyk en verduidelik dis waaroor Toorkombuis juis gaan – dis my lewensfilosofie, dis hoe ek my kombuis bedryf.
.....
Hulle het toe later teruggekom om Romany Creams te koop. Ek en sy vrou het ook lank en lekker gesels, resepte uitgeruil, maar dis sy woorde wat by my bly spook het. Miskien omdat hulle oor my pad gekom het in ’n tyd toe ek net weer intens bewus geword het van die onverklaarbare en die ongelooflike rol wat dit in my lewe speel.
Die volgende Saterdag was dit maar ’n stillerige mark en een van die gereelde markmanne het daar by my tafel kom staan en gesels. Hy beduie toe so na die stapeltjie Romany Creams en sê so ewe ongeërg en half terloops: “I’m sure they used to bake it here.”
Ek het gevoel hoe rol die ysblokkies langs my ruggraat af en daardie aand gaan google ek die geskiedenis van The Palms. Nog koue rillings ... Dit ís toe so – hulle hét Romany Creams daar gebak.
Ene William Baumann het vroeg in die vorige eeu die gebou hier ingerig as een van Kaapstad se eerste groot bakkerye. Aan die een kant het hy Baumann’s Biscuits gehuisves (en waarskynlik hier begin Romany Creams bak) en aan die ander kant Duens-brood. Ná die Tweede Wêreldoorlog is die naam na Baker’s Biscuits verander om te oorleef in ’n tyd van sterk anti-Duitse gevoelens.
Dit het toe vir my baie dinge verklaar. Die ongewone, byna bonatuurlike belangstelling in my Romany Creams. En ook die ongelooflike, byna religieuse ervaring wanneer ek elke Saterdag daar by my tafel gestaan en opkyk het na die koepels van lig en die hoekie van Tafelberg daar in die dakvensters.
Toe my ma by my kom bly het en ek haar versorg het, was Maswazi die een wat die bak van die Romany Creams (en ander koekies) by my oorgeneem het. Trouens, hy het dit so perfek gedoen dat ek opsy gestaan het. Die paar keer wat ek weer probeer het, het hy net sy kop geskud en sy tong geklik en ek het die laaste bietjie vertroue in my eie vermoëns verloor.
Ná al die hartseer en verlies van die afgelope paar maande het ek besef as ek wil oorleef, sal ek my vrese moet oorwin. Ek kon maar net hoop ek vind weer die betowering in my Toorkombuis, want hartseer en stres het my ’n bietjie afgestomp laat raak.
’n Vriendin wat destyds by die mark een van die handelaars was en nou haar eie winkel het, het dringend gevra vir Romany Creams. Haar gereelde klante dryf haar tot raserny oor die koekies wat net nie meer op die rakke is nie.
Ek het nie ’n keuse gehad nie. Karen, het ek myself gemaan, dis jou resep, jou koekie. En toe sleep ek daardie mengbakke nader ...
Met dié skuif ek my menger na ’n ander hoekie in die kombuis, ’n byna niksbeduidende verandering, maar skielik is die vloei beter. Terwyl ek die deeg aanmaak, voel ek hoe my hart lig word. En met die soet van kakao, klapper en gesmelte sjokolade wat soos ’n wolkie oor my kombuis hang, weet ek: Die betowering is terug.
Karen se Romany Creams
Lewer 36 dubbelkoekies
375 g sagte botter
1¾ koppies strooisuiker
1 koppie kakao
¼ koppie kookwater
2¼ koppies koekmeelblom
2 teelepels bakpoeier
½ teelepel sout
1 teelepel vanielje-ekstrak
2¾ koppies klapper
Vir die vulsel
2 x 100 g-blokke donker sjokolade in stukkies gebreek
100 g botter
Klits die botter en strooisuiker saam tot lig en romerig. Voeg die kakaopoeier en kookwater versigtig by en meng goed. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout in ’n afsonderlike bak saam en voeg by die kakao-botter-suiker-mengsel. Voeg die vanielje-ekstrak by en roer saam met die klapper by. Meng goed. Gebruik ’n teelepel en skep in hopies ’n paar sentimeter van mekaar af op ’n bakplaat. Bak vir 13 minute in ’n voorverhitte oond van 180 ºC. Laat die koekies 5 minute lank op die bakplaat staan en afkoel voordat jy dit op ’n draadrak uitpak om heeltemal af te koel. Smelt die botter en sjokolade in ’n dubbelkastrol of in ’n hittebestande glasbak oor ’n kastrol met pruttende water. Laat die mengsel effens afkoel voordat jy dit aan die onderkant van ’n koekie smeer en ’n toebroodjie maak met die onderkant van nog ’n koekie. Herhaal tot jy al die koekies met die sjokolademengsel getoebroodjie het. Laat staan sodat die sjokolade kan set.
Wenk: Ek gebruik ’n spesiale deeglepel, wat soos ’n roomyslepel werk, om molshopies op die bakplaat te skep. Dis effe groter en jy gaan ’n bietjie minder koekies kry, maar dis wat my Romany’s hul kenmerkende ronde vorm gee. Molshopies van genot en suiwer betowering!
- Fokusprent:
Sonia Nadales en Andrew Ridley, Unsplash
Kommentaar
Mooi storie!
Net soos die smaaklike koekie, moes ek net elke woord indrink en deur my wese rondrol. Pragtige, gevoelvolle en meesleurende storie, dankie.
Ek het groot aanklank gevind by jou verhaal. Ek bak ook en stem saam dat die hart waarmee jy kos maak bydra tot die sukses. Dankie dat jy jou resep met ons deel.
Thank you, Karen, for the way you expressed your thoughts on the love of baking and creating. The chocolate and coconut story is amazing and I will certainly make the Romany creams now.
Thank you.
Sjoe, na hierdie baie mooie verhaal van die ontstaan van jou Romany's en die regtes, voel ek skoon begeesterd om ook te probeer. Groetnis
Baie dankie vir die resep!