’n Kerssprokie ... met bobotie en geelrys

  • 0

 

Foto: Unsplash

Lank, lank gelede ... op ’n sprokiesmooi Saterdagoggend ... het my ma my kom oplaai om iewers in Kampsbaai, waar ons die see kon sien, middagete te gaan eet. Dit was vroegsomer en die mooiste, mooiste dag.

Sommer met die intrapslag wou sy weet waarom ek gehuil het. Want, sien, ek, my ma en my sussie is nie so geseënd soos die sepiesterre wat ’n elegante traantjie wegpink nie – ons lyk soos brulpaddas ná ’n behoorlike huilsessie.

Ek het die vorige aand ’n ou fliek op een van die TV-kanale gekyk – The glass slipper met Leslie Caron en Michael Wilding, een van Elizabeth Taylor se ekse, in die hoofrolle. Dis ’n verwerking van die Aspoestertjie-verhaal, en teen die wonderlike romantiese einde het ek, pas deur nóg ’n liefdesteleurstelling, bitterlik jammer vir myself gevoel en die traankrane behoorlik oopgedraai.

“Nee wat, dis sommer niks nie,” het ek op my ma se vraag geantwoord. “Ek het net besef die lewe is nie gemaak vir mense wat in sprokies glo nie.”

My ma het my só gekyk en haar kop geskud. “Jy is verkeerd,” het sy beslis gesê. “Die lewe is juis gemaak vir dié wat in sprokies glo.”

Ek glo nie ek het destyds heeltemal verstaan wat sy bedoel het nie. Maar haar woorde het my bygebly. En hoe ouer ek geword het, hoe meer het ek besef hoe belangrik dit is om in moeilike tye op die betowerende bevryding van klein wonderwerkies te fokus.

Hierdie jaar was ’n baie moeilike jaar. Ek wil nie waag om te sê dit was die slegste tyd van my lewe nie, want ek tart nie graag die noodlot nie. En ek weet ook, al swaai jy hoeveel towerstaffies, die jaar wat voorlê, gaan nie veel makliker wees nie.

Maar ek weet ook – en dis die een goeie ding wat ek in hierdie tye geleer het – dat ek heelhuids anderkant sal uitkom. Want die vlam hier diep binne-in my brand helderder as die vagevuur daar buite.

........
Ek wag nie meer vir daardie groot wonderwerk om te gebeur nie – ek sê dankie vir die klein wonderwerkies wat my deur elke dag dra.
........

En daardie vlam hou ek aan die brand deur ’n sprokieswêreld te skep en die betowering rondom my raak te sien. Ek wag nie meer vir daardie groot wonderwerk om te gebeur nie – ek sê dankie vir die klein wonderwerkies wat my deur elke dag dra.

Ek het nou ’n heelwat kleiner blyplek, maar my breë voorstoep kyk uit op ’n stuk grond wat eens ’n groot tuin was en nou toegegroei onder die onkruid lê. Die eienaar gaan dit later in ’n paar wooneenhede ontwikkel, maar ek en Bliksem geniet nou maar die oop ruimte terwyl ons kan.

Toe ek in Meimaand hier ingetrek het, het ek net die onkruid raakgesien. Maar ek het ook gou besef onkruid is onkruid net as jy so daarna kyk.

Ek het gou lief geraak vir die wilde veldblomme en hulle selfs begin oes vir die kombuis – die jong perdeblomblare vir slaai, die oueres vir ’n lekker sop of bredie. Van die wortels het ek selfs koffie gemaak en koekies van die blommetjies.

........
En wanneer ek buite op die stoep uitloop, sorg die voëltjies dat ek nie anders kan as om hulle raak te sien nie. Die lemoenduifies se gekoer word my temalied.
........

My nuwe bure was aanvanklik skugter, maar het mettertyd kom kennis maak – die eekhorinkies, die tarentale, selfs die groot ou mol met sy pragtige silwergrys pels. En wanneer ek buite op die stoep uitloop, sorg die voëltjies dat ek nie anders kan as om hulle raak te sien nie. Die lemoenduifies se gekoer word my temalied.

Die witborskraaie en die kaalwangvalke (African harrier-hawks) is ’n ander storie. Wanneer hulle daar in die hoë bloekombome kom sit, raak die voëltjies tjoepstil en soek skuilplek. En die skellende eekhorinkies het skielik niks te sê nie. Eers wanneer die valke weer elders gaan prooi soek, begin die hele plek weer asemhaal en lewe kry.

Ek kan ure so staan en kyk hoe tientalle spierwit vlinders van blom tot blom dartel. Ek verwonder my aan die betowerende spel van lig deur die blare van die bome, die wisselende vorms van die spierwit wolke teen die blou lug met Constantiaberg doer in die verte. En ek kan nooit besluit watter tyd van die dag – vroegoggend of laatmiddag – vir my die meeste betowering inhou nie.

........
Ek kan ure so staan en kyk hoe tientalle spierwit vlinders van blom tot blom dartel.
........

Wanneer ek in die kombuis werskaf (en uit die aard van my werk en my obsessiewe liefde vir kook en bak is dit feitlik heeldag), luister ek altyd musiek. Dis so deel van my sprokieswêreld soos my towerkat, Bliksem, met die spierwit weerligstraaltjie op sy neus.

Ek het gou agtergekom die voëltjies luister saam. Soms kom sit die duiwe agter my oor en dan terg ek hulle met die stemtoertjies van koloratuursoprane – Callas, Sutherland, onse Mimi. En die lag borrel in my binneste terwyl ek luister hoe hard hulle probeer om die note vas te vang en na te boots.

Ek is nou soos Sneeuwitjie wat bedags in die kombuis werskaf terwyl die dwergies uit is om te gaan werk, alleen in die huisie in die bos met al die diertjies om my geselskap te hou. So het ek gedink terwyl ek grondboontjiebotterkoekies uit die oond haal. Die eekhorinkies het agter die reuk aan gekom en my vanuit die ou boom digby die voorstoep al geselsend sit en dophou.

........
Maar hierdie tyd van die jaar, met Kerstyd en die nuwe jaar wat om die hoekie lê en loer, is nie die sprokiestyd waarop jy as kind gehoop het nie. Dis die tyd wanneer jy intens bewus is van die swart rou in jou hart, die intense verlange na geliefdes wat nie meer daar is nie.
........

Nee, Karen, lag ek toe vir myself, nie soos Sneeuwitjie nie. In jou drome, miskien. Maar op jou ouderdom is jy eerder die ou vrou in die huisie in die bos, daardie een wat die kindertjies nader lok met die geur van tuisgebakte koekies.

Maar hierdie tyd van die jaar, met Kerstyd en die nuwe jaar wat om die hoekie lê en loer, is nie die sprokiestyd waarop jy as kind gehoop het nie. Dis die tyd wanneer jy intens bewus is van die swart rou in jou hart, die intense verlange na geliefdes wat nie meer daar is nie. En laat hulle nou maar sê wat hulle wil, dit word nooit beter nie.

........
Dis juis nou dat jy daardie sprokie moet soek om die betowering weer terug te sit in die Kerstyd.
........

Dis juis nou dat jy daardie sprokie moet soek om die betowering weer terug te sit in die Kerstyd. Skep jou eie sprokie. Dit hoef jou nie geld te kos nie – die dae van kreunende feestafels en die gemeste kalf is verby. Dis moeilike tye.

Los die geroosterde kalkoen vir die lotjie daar ver anderkant die water waar dit sneeu en hulle die koue met swaargelaaide tafels moet verdryf. Hier by ons is dit hoogsomer en ek verlustig my in Helena JF Lochner se wonderlike Kersvader wat sy rooi pak met die wit pels hier verruil vir ’n oranje safaripak en ’n hoed. Die takbokke word uitgespan en die flinke springbokkies neem hul plek in.

Op my Kerstafel skep ek ’n nuwe kossprokie – ’n lekker tradisionele feesmaal wat my sak pas en my nie gaan laat bloed sweet tot einde Januarie nie. Bobotie met geelrys en stoweperskes, omring deur bakkies met klapper, blatjang en sambal, miskien nog ’n lekker vars slaai – vir die koeligheid en die mooi. En vir nagereg sal ek dalk ’n toegewing maak en koekstruif bedien. Maar lekker roomys en vars vrugte is ook taamlik hoog op my lysie.

Die geregte op jou feestafel is egter eintlik bysaak – dis in die samesyn waar die betowering lê. Geniet die mense wat nog steeds deel is van jou sprokie. En deel dié mooi herinneringe aan die afwesiges met ’n “Eendag, lank, lank gelede was daar ...”

Die onthou en die verlies is deel van jou sprokie.

Karen se Krismisbobotie

Genoeg vir 4

Vir die vleislaag

2 dik snye ou witbrood
½ koppie beesvleisaftreksel
1 eetlepel olie
2 eetlepels botter
2 groot uie, fyngekap
500 g maalvleis
3 knoffeltoontjies, gekneus en gekap
1 eetlepel matige kerriepoeier
1 teelepel borrie
2 teelepels fyn komyn
2 teelepels fyn koljander
3 naeltjies
7 swartpeperkorrels
5 wonderpeperkorrels
½ koppie sultanas
¼ koppie amandelvlokkies
1 teelepel gedroogde gemengde kruie
2 eetlepels blatjang
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.

Vir die bolaag

¼ koppie room
¼ koppie volroom, natuurlike jogurt
2 eiers
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 teelepel gerasperde suurlemoenskil
6 suurlemoen- of lourierblare.

Week die brood in die aftreksel. Verhit die botter en olie in ’n pan en braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Plaas die vleis, knoffel, kerriepoeier, borrie, komyn, koljander, naeltjies, swartpeperkorrels, sultanas, amandelvlokkies, gemengde kruie en blatjang saam in ’n groot mengbak. Geur met sout en peper. Gebruik jou hande om alles goed te meng. Voeg die gebraaide uie by. Druk die oortollige aftreksel uit die geweekte brood en voeg ook by; meng goed met jou hande en druk die mengsel in ’n gesmeerde oondvaste bak en maak die oppervlak mooi glad. Rol die suurlemoenblare soos pypies op en druk in die maalvleismengsel. Spasieer dit goed. Bak vir 20 minute in ’n voorverhitte oond van180 ⁰C. Klits die room, jogurt en eiers saam en geur met die sout en peper en suurlemoenskil en giet die vlamengsel bo-oor die vleis. Bak vir nog 20 minute of totdat die bolaag mooi gestol het. Bedien met geelrys en stoweperskes.

Geelrys

Genoeg vir 4

3 eetlepels botter
2 koppies rys
1 teelepel borrie
1 teelepel sout
4 koppies kookwater
1 kaneelstokkie
1 eetlepel klewerige bruinsuiker
½ teelepel kaneel.

Verhit die botter in ’n kastrol en giet die rys daarin. Meng goed sodat elke ryskorrel met boter bedek is. Braai vir ’n paar minute. Voeg die borrie en sout by en giet die kookwater by. Plaas die kaneelstokkie in die kastrol. Bring tot kookpunt, verlaag die hitte en bedek die kastrol. Laat 20 minute prut totdat die rys sag is en die vloeistof weggekook het. Meng die suiker met die kaneel en sprinkel bo-oor.

Stoweperskes

Genoeg vir 4

20 gedroogde perskes
2 koppies water
1 koppie suiker
6 heel naeltjies
6 wonderpeperkorrels
2 kaneelstokkies
gerasperde skil van 1 lemoen
gerasperde skil van 1 suurlemoen.

Plaas die perskes saam met die water in ’n kastrolletjie en laat oornag week. Plaas die katrolletjie net so op die stoofplaat, behou die weekwater en voeg die res van die bestanddele by. Laat liggies prut totdat die perskes sag is en die vloeistof stroperig begin word. Bedien warm of verkoel heeltemal.

Lees ook:

Trek vir daai blik tuna ’n feesrokkie aan

Solank as die lepel in die pappot staan

Die betowering van sjokolade en klapper

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top