Solank as die lepel in die pappot staan

  • 0

Karen se krummelpap (Foto: verskaf)

Ek is nie eintlik ’n ontbytmens nie. Gee vir my ’n paar lekker koppies koffie en ek is doodgelukkig. Eers hier teen elfuur, twaalfuur begin my lyf vra na meer. As ek kon kies, sou ek veel eerder vir ’n lekker lang middagete aansit. Ek is lief vir spek en eiers, ja, vir ’n ligte aandete of, as dit dan moet, ’n laatontbyt (of noenbyt, soos die ghrênd tannies sê).

Maar dan sal ek skielik op ’n Sondagmôre wakker word met die vreemde verlange in my en die pappot nader trek ...

........
Wanneer ek praat van pap, is daar maar net één: mieliepap.
........

Wanneer ek praat van pap, is daar maar net één: mieliepap. Een van die grootste geskenke wat ek al gekry het, was die sakkie growwe mieliemeel uit Leeudoringstad se wêreld. Ek maak ’n potjie krummelpap en eet hom net so, sonder melk, met net ’n dik laag donkerbruin suiker wat onder my tande knars.

En dan dink ek onwillekeurig aan die woorde van daardie ou, byna vergete volksliedjie: “Solank as die lepel in die pappot staan, Blommetjie gedenk aan my ...”

My gedagtes neem my ver terug, na Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas wat my ma kleintyd vir ons voorgelees het. “Met haar lepel skep Alie ’n mooi klontjie pap uit die pot, rol dit tussen haar handjies in ’n bolletjie, steek dit vinnig in die bakkie vleissous wat langs die pappot staan en lig haar kop op voordat sy die bolletjie in haar kies steek, net soos Ou-Melitie maak.”

Maar Ou-Melitie en Alie se pap was stywepap, oftewel phutu-pap. Dis so ’n bietjie anders as die krummelpap van my eie onthou.

Ek onthou vir oupa Ben, die man wat in een kort vakansie hartsoupa geword het. Hy was die pa van my oom se tweede vrou, glad nie eens bloedfamilie nie, en ek het nooit regtig kans gekry om hom beter te leer ken nie.

........
Saans het hy ’n groot swartpot vol pap by die braaivleisvuur gemaak en soggens het ons die aanbrandsel saam met melk opgekook vir ontbyt gekry.
........

Ek was elf jaar oud toe ons saam met die nuwe aangetroude familie op Laaggenoeg, oupa Ben se Bosveldplasie, gaan vakansie hou het. Saans het hy ’n groot swartpot vol pap by die braaivleisvuur gemaak en soggens het ons die aanbrandsel saam met melk opgekook vir ontbyt gekry. Hy het dit “skoko” genoem. Die lekkerste lekker wat jy jou kan indink. So met die wakker word kon jy al die koffie en pap ruik.

Vir Maswazi, my “optelkind”, het ek gereeld krummelpap gemaak. Wanneer die skoon eenvoud van die mieliepapgeur my kombuis gevul het, moes ek my lus bedwing. Hy het suinig daaraan geëet, saam met amasi. Elke dag het hy sy pap uit die houer in die yskas geskep en gemeng met die gefermenteerde melk wat ek net vir hom aangehou het. Sy “African salad”.

My kosbaarste krummelpapherinneringe is aan die Sondagoggende wat die legendariese rolprentmaker Dirk de Villiers, nou lank reeds oorlede, vir my die Sondagkoerant gebring het en ons saam oor ’n koppie koffie en ’n bordjie krummelpap aan die nuus sit en herkou het.

Op só ’n oggend wou ek nie eintlik van die harde werklikheid weet nie. Maar die samesyn en die eenvoud van die maal het die wêreld daar buite sagter en die nuus baie meer verteerbaar gemaak.

So ’n paar jaar gelede het die Belge, vir wie ek deur Dirk leer ken het, by my kom kuier. Hulle het by Dirk leer pap eet, vertel hulle toe. En daardie Sondagoggend trek ek my ysterpotjie nader en kook vir hulle mieliepap. Terwyl ons so rondom die potjie sit en ontbyt eet, hou ons nabetragting en deel kosbare herinneringe.

Dirk en Gerrit op Pringlebaai (Foto: verskaf)

Gerrit Paepe en Hilde Coppens het vir Dirk op Pringlebaai leer ken. Dit was net voordat hy sy huis daar verkoop het. (Hy het in die destydse bloeityd van die plaaslike rolprentbedryf te veel belê in ’n wispelturige bedryf wat kort daarna, midde-in al die politieke veranderinge, neus in die grond geduik het.) Terwyl hy besig was om op te pak, het hulle hom geselskap gehou. Met dié gee hy toe vir Hilde die klip wat hy op die oewer van die Oranjerivier opgetel het toe hy destyds tonele uit sy bekroonde Arende-reeks daar geskiet het.

“Toen we in ons dorpje aankwamen was Dirk druk bezig met het leeg maken van zijn huis. We hielpen hem zoveel we konden, al bij al was dit een wat zielig afscheid van een bijzonder leven in een bijzondere omgeving. De laatste dag, toen Dirk weer naar Kaapstad ging vertrekken, drukte hij Hilde een steen in de hand. Een steen die hij twaalf jaar voordien opgeraapt had aan de oevers van de Oranjerivier.

“We besloten om die mooie steen, tevens een unieke herinnering aan onze snaakse vriend, in een zilver houder te laten zetten en er een hanger van te laten maken. Jaco, een vriend uit Gordon's Bay die zilversmid is, deed de job. Het zag er goed uit. Uniek. Hilde noemde haar steen naar het Afrikaans voor steen: ‘klip’.

“Twee jaar later verloor ik Hilde's klip: domweg vergeten op het vliegtuig. Hilde was er het hart van in. Hoe moest ik dit oplossen?”

Só vertel Gerrit self in die joernaal wat hy geskryf het toe hy en Hilde saam met Dirk vertrek het op ’n pelgrimstog op soek na ’n klip om die verlore een te vervang. Ek was daardie tyd vasgevang in ’n web van spertye en kon nie die tog meemaak nie. Net met die padkos wat ek vir hulle ingepak het, kon ek sorg dat ek ook deel van die hartsreis word.

Dirk en sy ouer broer, Niel, op Leeuberg (Foto: verskaf)

Hulle het die pad gevat in die rigting van Douglas, na die familieplaas Leeuberg waar Dirk gebore is en waar hy jare later van die indrukwekkende trektonele vir Arende geskiet het. Daar, op die oewer van die kronkel in die Oranjerivier, waar ’n effense versnelling in die rivier die klippies mooi glad spoel, het Hilde haar nuwe klip gekry.

En van die mooiste herinneringe om in haar hart saam te dra. Dis aan daardie onthou wat ons jare later, lank ná Dirk se dood, saam oor die pot mieliepap sit en peusel het.

Karen se krummelpap

Die resep is genoeg vir 4–6 hongeriges.

4 koppies water
3 koppies mieliepap
sout na smaak
’n paar klontjies botter (opsioneel)

Gooi die water in ’n swaarboomkastrol of, nog beter, ysterpotjie. Voeg sout na smaak by (jy soek nie lawwe pap nie!) en bring tot kookpunt. Sodra die water borrelend kook, verlaag die hitte en strooi die mieliemeel bo-op. Moenie roer nie. Sit ’n deksel op die pot en laat staan net so op lae hitte vir 20 minute. Neem ’n vurk en roer die pap liggies deurmekaar. Dis hoe jy jou krummels kry. Plaas die deksel terug op die pot en laat nou ’n uur lank so staan op lae hitte. Moenie jou pot aanjaag nie. Dis vir rustig kook en langsaam uitswel. Roer ’n paar klontjies botter deur die pap, indien verkies, en laat vir nog 10 minute prut sodat die botter goed kan intrek. Bedien met melk en suiker. Of lekker dik, volroom Griekse jogurt. Of karringmelk.

Wenk: Dié pap is natuurlik net so lekker saam met braaivleis, ’n lekker gebraaide kaiingrige tjoppie of boerewors met ’n tamatie-en-uie-smoortjie.

Lees ook:

Marmite-koek vir die onthou

Die betowering van sjokolade en klapper

Ontdekkingsreis van geure in dié bleeksiel-lensieskottel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top