Dis die geneuk met rou. Dit bekruip jou en vel jou neer met ’n laagvat wanneer jy dit die minste verwag.
Ek wil op die stoep staan en my arms wyd oopgooi, die lewe omhels en my hart lig en jubelend saam met sonspatsels en spierwit vlinders oor die lang groen gras en fyn blommetjies in die stuk ongerepte veld voor my blyplek laat dans.
Ek wil uit my maag uit lag vir die tarentale wat op die heining sit en skel op Bliksem, my gemmerkat, wat hom in die middel van die veld tuisgemaak het, kamtig salig onbewus van die voëls en hul ontevredenheid dat hy hulle weiplek ingeneem het.
Maar jy weet nooit wanneer die donker mineurtone van nêrens af sy inval maak en skaduklanke vleg deur die jubelende hartmusiek nie. Ja, ek weet my ma is skaars drie maande dood, maar ek soek nie meer hierdie immer-herhalende klaaglied nie.
Bedags is dit makliker. My Toorkombuis is stadig weer besig om op dreef te kom en ek het ’n hele paar bestellings om my besig te hou. Wanneer ek eers aan die gang is en met die koekpanne begin werskaf, maak ek my los uit die wurggreep en die pyn van onthou en begin weer asemhaal.
In die aande is dit moeiliker. Ek lees baie, kyk ou flieks, maar soms is daar iets in die blaaie van ’n boek of op die flikkerende TV-skerm wat daardie swart ondier uit sy sluimerslaap wakkermaak en dan begin die gespartel om uit sy kloue los te kom.
My troospleister vir die seer is ’n koppie rooibostee en ’n witbroodtoebroodjie met lekker dik botter en ’n smeerseltjie Marmite. En die broodjie moet in driehoekies gesny wees. Moenie vir my vra hoekom nie, maar dit laat my beter voel.
.....
My troospleister vir die seer is ’n koppie rooibostee en ’n witbroodtoebroodjie met lekker dik botter en ’n smeerseltjie Marmite. En die broodjie moet in driehoekies gesny wees. Moenie vir my vra hoekom nie, maar dit laat my beter voel.
.....
Ek sê opnuut dankie dat die groot Marmite-skaarste met Covid en die maande daarna nou verby is. Ek is nie ’n groot broodeter nie en ’n potjie Marmite hou byna ’n jaar lank by my. (In hierdie routyd sal ek dalk gouer ’n nuwe voorraad nodig hê.)
Maar in daardie tyd van skaarste het die leë winkelrakke waar eens rye en rye van die Marmite-potjies gestaan het, vir my ’n simbool geword van al die groot verliese – vriende wat dood is, inkomste wat skielik opgedroog het en my ma wat in ’n grendeltyd van haar eie vir altyd en altyd opgesluit is.
Tot met haar dood.
Ek was agt jaar oud toe Oupa Frans dood is. My ma se pa. Hy was eintlik die enigste oupa wat ek geken het. Oupa Adam, my pa se pa, is begrawe toe ek nog in doeke was. Dit was die eerste keer dat ek ’n sterfte so na aan my ervaar het. Die skielike niks en die verskriklike seer.
Ek het in my wit rokkie langs die oop graf gestaan. Ek onthou nie veel van die kerkdiens nie, net die koor van die bruin gemeenskap wat langs die draadheining staan en sing het. Hulle is nie in die kerk toegelaat nie. My oupa, wat sy tyd ver vooruit was en geglo het velkleur bepaal nie jou menswaardigheid nie, sou nog voor sy kis in die aarde neergelaat is in sy graf rondgetol het van verontwaardiging.
Dit het vir my gevoel asof ek nooit weer sou ophou huil nie. Nie eens die nare vrou wat my in die rug gestamp en met ’n harde sisgeluid probeer stilmaak het, het die trane gekeer nie. Dis al wat ná al die jare my bygebly het.
En die Marmite-biltongblokkies by die begrafnistee na die tyd.
Die tafels het gekreun onder al die borde eetgoed wat Prince Albert se dorpstannies aangedra het. Maar al wat ek onthou, is die koddige klein broodvierkantjies, botter en Marmite in die middel, alkant aan die buitekant gesmeer met ’n botter-Marmite-mengsel en in fyn biltong gerol.
Trooskos.
My ma was nooit eintlik iemand wat ons vreeslik bederf het wanneer ons siek was nie. Ek dink sy het te veel gesukkel met ons kindersiektes – masels, waterpokkies, pampoentjies. Dié het ons, sommer almal tegelykertyd, gewoonlik net voor Kersfees gekry wanneer my pa weg is Kaap toe om te gaan vraestelle merk en sy alleen met die siek kinders by my ouma op Prince Albert moes bly.
Sy het ons dokter toe geneem wanneer ons siek genoeg was en agterna in die bed geprop met die medisyne wat hy voorgeskryf het, ’n boek om ons besig te hou en verder aan die genade oorgelaat.
Daar was net die een keer dat sy my byna heeldag vertroetel en versorg het. Ek was al op universiteit en het huis toe gekom met die allerverskriklikste griep wat my 10 dae lank platgetrek het.
Ek het geen erg aan kos gehad nie en my ma het vir my sagte witbroodtoebroodjies met botter, Marmite en fyn biltong gemaak. In driehoekies gesny. Met soveel sorg en soveel liefde.
Nou die dag, toe ek deur ’n gerf ou resepte blaai, kom ek af op ’n resep vir Marmite-koek. Daar was nou wel nie biltong in die resep nie, maar toe ek lees van die botter en Marmite en die effense soet, het dit my weer laat onthou van die troosbroodjies met die groot griep.
En my ma.
Ek kon nie vir haar die troosbroodjies maak nie – die fyn biltong het haar laat stik. Toe maak ek maar die Marmite-koek. Sommer vir ontbyt, maar dis eintlik vir die teetafel bedoel. Ietsie sout so by die soet. Die lekkerste lekker.
Karen se troostert – Marmite-koek
Genoeg vir 6
Vir die koek
5 eetlepels botter
⅔ koppie suiker
1 eier
1⅔ koppies koekmeelblom
2 teelepels bakpoeier
½ teelepel sout
1 koppie melk
Vir die bolaag
115 g botter
2 teelepels Marmite
½ koppie gerasperde cheddarkaas
Klits die botter en suiker saam tot lig en romerig. Voeg die eier by en klits tot gemeng. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam en voeg die meelmengsel afwisselend met die melk by die bottermengsel. Giet die mengsel in ’n gesmeerde oondbak en bak vir ongeveer 25–30 minute in ’n voorverhitte oond van 190°C. Smelt die botter en Marmite saam en giet oor die warm tert sodra dit uit die oond kom. Prik die tert eers met ’n vurk voordat jy die bottermengsel oorgooi. Sprinkel die kaas oor en bedien onmiddellik.
WENK: Jy kan hierdie ongewone koektert as ontbyt voorsit. ’n Bietjie ongewoon, ja, maar wat ’n wonderlike manier om die dag te begin.
Kommentaar
Vingerlek-lekker.🥴🥴🥴
KOSBAAR! VERTOOSTEND. BAIE DANKIE.
Ek is net so mal oor my Marmite-samies, waarvan ek self die brood gebak het.