Trek vir daai blik tuna ’n feesrokkie aan

  • 0
November is maklik die moeilikste tyd van die jaar vir my. Vuisvoos ná 11 maande van water trap en amperse-verdrinking in die stryd om oorlewing.

En dis ook die maand waarin my pa weg is. Op 13 November, skaars ’n maand na sy 65ste verjaardag, het hy – blakend gesond en fiks – ná ’n middagslapie gaan hardloop en langs die pad inmekaargesak.

Om te sê dat sy dood ’n skok was, is sagkens gestel. Selfs nou, 24 jaar later, herleef ek daardie verskriklike skemeraand toe my broer met die nuus gebel het.

Toe iemand my nou die dag vra waarom ek nooit oor my pa skryf nie, het ek baie kwaad geword. So kwaad dat ek eintlik geskok was oor die byna oorreaksie. Natuurlik skryf ek oor my pa, het ek hier in my binneste getier. Dink die vroumens sy het ál my stories gelees?

Maar die saadjie van twyfel was geplant en ek het moed bymekaar geskraap en ’n bietjie teruggeblaai. Die waarheid is: Ek hét tot nou toe nog bitter min oor my pa geskryf. En dit terwyl ek nou nog, na al die jare, byna elke dag met hom praat.

Ek kan nie eens my ma as verskoning gebruik nie, want ek het haar maar eers die laaste vyf jaar versorg. Ek moes diep gaan delf en eindelik aan myself erken dit voel asof my hart uit my binneste geruk word wanneer ek oor my pa probeer skryf.

Ek kan nie glo dat dit my byna twee en ’n halwe dekades geneem het om dit te besef nie – dis net eenvoudig te pynlik en te moeilik.

Ek weet nie waar om te begin en waar om op te hou nie. Want as ek eers al die herinneringe aan my pa begin neerpen, sal dit ’n baie dikke boek wees. Hy was ’n man uit een stuk, baie, baie spesiaal.

........
Die waarheid is: Ek hét tot nou toe nog bitter min oor my pa geskryf. En dit terwyl ek nou nog, na al die jare, byna elke dag met hom praat.
........

Natuurlik het hy ook foute gehad – niemand is volmaak nie. Maar my pa is waarskynlik ook die rede waarom nie een van my huwelike gewerk het nie. Nie een van die drie was ’n man soos my pa nie.

En daar gaan selde ’n dag verby dat Johan Botha nié in my gedagtes is nie, dat ek nie iewers in die verloop van die 24 uur ’n gesprek met hom aanknoop nie. Gewoonlik wanneer ek een van ons gunstelingmusieksnitte oor die radio hoor. Of iets lees wat my laat dink aan ’n grappie wat ons gedeel het.

Doodgewone alledaagse gesprekke.

Ek en my pa het mekaar baie keer oor die middaguur by ’n eetplek ontmoet. Dan loop ek van Media24 doer onder aan die Waterkant en hy van sy kantoor in die Groote Kerk-gebou. Ons drink saam koffie, eet ietsie ligs en praat lang stories.

Eers het my pa gedink dis ’n lekker bederf as hy my na die Here XVII-klub neem. Maar ek het begin protesteer nadat ek een middagete vir ’n tunaslaai gevra het en toe die bord by my aankom, lyk dit kompleet asof iemand net eenvoudig ’n blikkie tuna op ’n stapeltjie blare omgekeer het. Ook net so smaakloos.

Ons gunstelingkuierplek was Beulah se Scotch Coffee House. Lekker gesellig, sonder aanstellerigheid, en lekker kos. Beulah het jare daarna vir my gesê sy het haar altyd verwonder aan ons twee wat so gelag en gesels het. (Sy is ook nou al ’n hele paar jaar gelede oorlede.)

Ek en my pa hét baie gehad om oor te praat. En my pa het graag gelag. Hy het die wonderlikste sin vir humor gehad. Hy was lief vir mense en hulle vir hom.

En sy hart was jonk. Wanneer die ouer manne vakansietye by die see op strandstoele onder die sambreel sit en lees het, het my pa plat op sy maag op die seesand gelê en die jong manne het met hom kom gesels oor halfmarathons en hardloopskoene.

Wanneer een van die ouer brigade hom probeer voorkeer het om oor onderwyssake te praat, het hy met sy swemplank die branders in gehardloop. “Sussie,” het hy baie keer vir my gesê, “wanneer die branders jou so teen die grond smyt, leer jy weer van nederig wees. Dit stroop jou van al jou pretensies.”

Ek en my pa het winter en somer geswem. Vroegoggend is ons twee strand toe vir die eerste swem van die dag. Net ons twee op die strand en in die branders. Wanneer ek vakansietye daar aangekom het, het ek skaars my tas neergesit of ons twee is al op pad vir ons eerste swem saam.

Toe ek nog vir Huisgenoot gewerk het en te midde van die spertye net ’n paar dae oor die feestyd kon wegkom, het ek George toe gevlieg waar my pa my en my twee katte op die lughawe ingewag het. Hy het my altyd gespot en gesê hy wil hom elke keer doodlag as hy sien met watter uitrusting ek van die vliegtuig afklim.

Ek wou my eers half vererg. Ek weet my kleresmaak grens seker aan die eksentrieke, maar dis darem nie só snaaks nie. Toe besluit ek om my pa ’n poets te bak ...

Die volgende Desember het dit my byna ’n dag geneem om my uitrusting sorgvuldig te kies en vir die okkasie aan te trek. Ek het so ’n noupassende rooi aandrok, nie blink nie, maar net bokant die knie, aangetrek. Donker sykouse en swart hoëhakskoene, waarop ek nou seker nie eens sou kon balanseer nie. My skouers was kaal, maar my arms was tot my elmboë bedek met ’n paar lang swart handskoene.

........
Hierdie jaar, het ek besluit, trek ek vir November ’n feesrokkie aan. Ek neem ’n eenvoudige blikkie tuna en maak daarvan ’n feestelike dis wat selfs op die Kerstafel nie sal afsteek nie. En ek lag saam met my pa al die vrese weg vir die hartseertyd wat voorlê – ’n 24ste Kersfees sonder hom en ’n eerste sonder my ma.
........

Niemand op die vlug het eens gedink dis vreemd nie, want dis mos feestyd en ek is seker op pad na die een of ander partytjie. Maar my pa ...

George se lughawe was toe nog baie kleiner as nou. Toe ek in die vliegtuig se deur staan, kon ek hom sien. Ek sal nooit sy gesig vergeet nie. En die volgende oomblik het hy byna dubbeld gevou soos hy lag.

Hierdie jaar, het ek besluit, trek ek vir November ’n feesrokkie aan. Ek neem ’n eenvoudige blikkie tuna en maak daarvan ’n feestelike dis wat selfs op die Kerstafel nie sal afsteek nie. En ek lag saam met my pa al die vrese weg vir die hartseertyd wat voorlê – ’n 24ste Kersfees sonder hom en ’n eerste sonder my ma.

Karen se feesrokkietuna

Genoeg vir 6

Vir die roomkaasdeeg
2 koppies koekmeel
’n knippie sout
250 g botter
1 x 250 g-houer roomkaas

Vir die vulsel
1 blikkie tuna in water, gedreineer en gevlok
2 hardgekookte eiers, grof gerasper
1 rooi-ui, fyngekap
1 van elk rooi, groen en geel soetrissie, wit gedeeltes en pitjies verwyder en in klein blokkies gesny
1 selderystingel, in blokkies gekap
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
1 eetlepel varsgekapte pietersielie
¼ koppie mayonnaise, of  selfs ’n bietjie meer – genoeg om alles te bind

Sif die koekmeel en sout saam. Sny die botter in blokkies en vryf dit met jou vingerpunte in die meelmengsel totdat dit soos growwe mieliemeel lyk. Voeg genoeg roomkaas by om ’n stywe deeg te vorm. Bedek die deeg met kleefplastiek en laat ’n uur lank in die yskas rus. Rol dit uit op ’n meelbestrooide oppervlak in ’n reghoek van ongeveer 40 x 30 cm. Meng al die bestanddele vir die vulsel en smeer dit mooi egalig oor die oppervlak van die reghoek, maar laat ’n deegrand van ongeveer 2 cm reg rondom oop. Rol dit toe en seël die randjies alkant goed. Plaas die rol op ’n bakplaat en maak met ’n skerp mes op die bokant ’n paar kepe eweredig uit mekaar. Bak vir 30–40 minute in ’n voorverhitte oond van 180 ºC tot gaar en goudbruin.

Wenk: Klink ’n glasie op dié wat nie meer saam met ons om die feestafel kan sit nie. Lag oor ou vergete grappies en snaakse insidente en vergeet, al is dit net vir ’n oomblik, van die pyn en verskriklike verlies.

Lees ook:

Die betowering van sjokolade en klapper

Marmite-koek vir die onthou

Murgbene: ’n laaste maal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top