Murgbene: ’n laaste maal

  • 9

My ma is dood.

Ja, ek is hartseer. Ek weet nie of die groot gat in my hart ooit weer heel sal word nie. Maar dis beter as die dolksteke elke keer wanneer ek haar vasgekerker in daardie stoel sien sit het, omring deur kreunende siele, vasgeketting in ’n hel waaruit hulle nie kan ontsnap nie.

Demensie is ’n nimmereindigende marteldood, ’n sterwende siel opgesluit in ’n liggaam wat verseg om te laat los.

Nou is my ma vry.

Sy is weer die vrou met die hart van ’n sigeuner, soos my broer haar altyd sal onthou. Sy was ’n impulsiewe mens wat haar glad nie aan konvensies gesteur nie. En sy het ’n byna bonatuurlike lewenswysheid in haar saamgedra, so byna asof sy jou lewe in die kaarte kon lees.

Vir my sussie was sy die seenimf en sy loop weer saam met haar op die wye oop strand tussen Dwarsweg, Glentana en Grootbrakrivier. Dis ook daar waar sy haar as wil gaan strooi sodat sy vry kan vlieg oor die wilde branders en die ewig krimpende sand.

En ek?

............
[T]rou aan mý aard gaan my gedagtes natuurlik dadelik terug na my toorkombuis. Wat sou ek vir my ma vir ’n laaste maal wou kook?
............

’n Paar uur ná haar dood staan ek in ’n sonkolletjie op die stoep en luister na die voëls in die veld voor my huis. En ek onthou haar naam, Frances, beteken “vry soos ‘n voël”. Die volgende oomblik dartel ’n fyn wit veertjie van nêrens af voor my voete neer en dit word stil in my hart. Ek tel die veertjie op en bêre dit versigtig in ’n mooi ou blikkie in my toonkas. Wanneer die hartseer en verlange te veel word, sal daardie veertjie my laat onthou van die vrou wat altyd vry wou wees.

Maar trou aan mý aard gaan my gedagtes natuurlik dadelik terug na my toorkombuis. Wat sou ek vir my ma vir ’n laaste maal wou kook?

Ons het baie hieroor gepraat, in ’n ligte trant, natuurlik. Ons was albei Karookinders en die enigstes in die familie wat nog nie kon afstand doen van ons liefde vir rooivleis nie. ’n Lekker lamsboud, miskien, of lamskenkels. Tamatiebredie. ’n Lekker pot kerriekos.

Maar elke keer het ons al die liplekker kosdrome eenkant geskuif en besluit: Vir ’n laaste maal kies ons murgbene. Lekker ryk en dekadent. Niks kom daarby nie, nie eens kreef, waarvoor ons ook baie lief was, nie.

Ek en my ma kon seker ’n baie meer gesofistikeerde dis gekies het, miskien die bloedlemoensorbet wat ons eenkeer by Luke Dale Roberts geëet het ...

Maar, ai, murgbene ...

Ek het eenkeer saam met baie belangrike kliënte vir wie ek resepontwikkeling gedoen het, by ‘n baie duur restaurant gaan eet. (Ek was gelukkig nie die een wat die rekening moes betaal nie!)

............
My tafelgenote bestel toe as voorgereg uitsoek-Franse geregte – slakke in knoffelbotter en ’n ryk seekosroomsop. Toe my oog die murgbene vang, was daar geen keer aan my nie – oondgeroosterde murgbeen, in die lengte gesny, en bedruip met ’n mengsel van olyfolie, suurlemoen, brandrissie, roosmaryn en tiemie.
............

My tafelgenote bestel toe as voorgereg uitsoek-Franse geregte – slakke in knoffelbotter en ’n ryk seekosroomsop. Toe my oog die murgbene vang, was daar geen keer aan my nie – oondgeroosterde murgbeen, in die lengte gesny, en bedruip met ’n mengsel van olyfolie, suurlemoen, brandrissie, roosmaryn en tiemie.

Hemels!

My tafelgenote het hul hande genoeglik saamgeslaan toe hul borde voor hul neergesit word, maar toe my murgbene by die tafel aankom, was hulle skielik tjoepstil. Ek moes myself behoorlik inhou en hard probeer om my tafelmaniere te onthou. Agterna erken die twee toe hul geregte was alles wat hulle gehoop het dit sou wees, selfs meer, maar, ai, daardie murgbene van my ...

Daardie laaste maal wat ek en my ma so sonder huiwering gekies het.

Die dag net voor my ma se dood het ek, op pad terug huis toe ná my laaste kuiertjie by haar, by die slagter gestop en murgbene gekoop. Hierdie tyd van die jaar is murgbene nóg skaarser, want almal kook sop, en murgbene is darem lekkerder as doodgewone sopbene. Ek het net ’n kans gevat en was stom toe die slagter vir my die sakkie murgbene bring – die laaste wat hy gehad het.

............
Nou gaan ek alleen aansit met die murgbene voor my. Maar ek gaan dit met die grootste sorg gaarmaak, gestoom in vars kruie, knoffel en ’n bietjie aftreksel en wyn. 
............

 Natuurlik het ek geweet ek sou dit nooit weer met my ma kon deel nie. Daar was geen manier waarop ek dit warm en murgsag saam met snytjies roosterbrood vir haar daar by die versorgingsoord sou kon kry nie. En die volgende dag was dit vir altyd te laat.

Nou gaan ek alleen aansit met die murgbene voor my. Maar ek gaan dit met die grootste sorg gaarmaak, gestoom in vars kruie, knoffel en ’n bietjie aftreksel en wyn. Met elke happie gaan ek my ma se vryheid en lewe vier en my staal vir die gemis waarmee ek sal moet leer om saam te leef.

Karen en Frances se laaste maal

Genoeg vir 2

8 murgbene (vra jou slagter om dit vir jou mooi te sny – jy wil nie opgedolliede sopbene hê nie)
1 groterige ui, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
’n gerfie kruie van jou keuse
1 koppie goeie rooiwyn (of as jy wil hê jou murg moenie verkleur nie, kan jy witwyn gebruik)
1 koppie vleisaftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.

Verhit die olyfolie in ’n swaarboompot. Braai die ui liggies daarin tot sag en deurskynend. Plaas die murgbene versigtig op die bodem van die pot en voeg die res van die bestanddele by. Bedek die pot en stoom stadig oor lae hitte totdat die murg deurgaar is. Skep die bene versigtig uit die pot en hou daardie sous vir later se bredie of sop kook. Al daardie geure mag nie verlore gaan nie. Nou skep jy die murg versigtig uit die been en eet dit op ’n dun snytjie wit roosterbrood of saam met kapokaartappels.

Natuurlik kan jy die murgbene ook in die oond rooster en probeer om daardie duur restaurant na te boots. Miskien kan jy dit volgende keer as voorgereg opdien en met genoegdoening kyk hoe selfs jou neusoptrekkerigste vriende van hul tafelmaniere vergeet.

Oondgebakte murgbene met kruiebolaag

Genoeg vir 4

20 murgbene (bees)
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 eetlepel fyngekapte roosmarynblaartjies
1 eetlepel tiemieblaartjies
1 brandrissie, pitjies verwyder en fyngekap
gerasperde skil van 1 suurlemoen
3 eetlepels olyfolie
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.

Plaas die bene met die platter kant na onder op die draadrak van ’n oondroosterpan. Maak ’n pasta van die knoffel, kruie, brandrissie en suurlemoenskil en meng met die olie. Skep die mengsel op die bokant van die murgbene en geur met sout en peper. Bak vir 20 minute in ‘n voorverhitte oond van 230 ºC. Skakel die oond af en laat staan die murgbene daarin om heeltemal gaar te word. Wees versigtig om die murgbene nie te lank te bak nie – die murg gaan krimp en uit die been val. Bedien dit saam met geroosterde brooddriehoekies of lekker kapokaartappels.

Wenk: Een van die wonderlike nuwe kostendense in restaurante is om die murgbene in die lengte deur te sny. Vra jou slagter om dit vir jou so te sny. Dan het jy minder bene per persoon nodig en dit gee jou ook ’n groter oppervlak vir die kruiemengsel.

 

  • 9

Kommentaar

  • Sonnette Marais

    Die trane loop saggies, van onthou ...
    Die laaste saam met Oumie, heerlike sagte kerrie-afval.

  • Martha Poller

    Wil ek ook nou sommer tjank! My ma kon dit meesterlik gaar maak, hoewel sy self min daarvan kon eet.

  • Sonnette, ja, die gemis is erg. Gelukkig het ons die mooi herinneringe wanneer die verlange te erg word.

  • Trudy Pieterse

    So baie baie mooi. Ek sou dit ook vir my mamma wou maak. Sterkte met die verlange na jou mammie. Die lewe is leeg sonder myne.

  • Magda Laurens

    Pragtig geskryf! Demensie is aaklig! Maar jy verander die einde van jou Ma se siekte na mooi herinnerings.

  • Ai Karen, my hart is seer saam met jou. Maar die veertjie ... My skoolvriendin van laerskooldae het naby aan haar einde, toe ek stadig saam met haar geloop het, haar arms uitgestrek en gesê: "Soon I shall be free as a bird and when you see a feather, remember me"

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top