Herfsvye bring vreugde

  • 1

Herfsvye. Foto: verskaf

........
[H]ierdie herfs het ek my met ’n oordaad van vye omring. Ek het vyekoeke gebak, die onderstebo vyekoek met ’n dekadente karamellaag en nog een, nog meer dekadent, met karamel en mascarpone. Ek het vyekonfyt gemaak met dieppers Mediterreense vytjies en vanieljepeule.
........

Maartmaand is mý maand. My verjaardagmaand. Eintlik is dit so ’n bietjie hartseer dat ek dit nou vir myself kan toe-eien. Tot nou toe het ek en my ma hierdie maand gedeel. Sy het my destyds twee dae te vroeg vir haar 21ste verjaardag gekry en tot verlede jaar, net voor haar dood, het ons altyd saam gevier.

Ek het gedink die eerste verjaardag sonder haar sou groot hartseer bring, maar ek het die wonderlikste vrede in my hart ervaar. ’n Klein bietjie hartseer, ja, en baie onthou. Maar, ai, die vrede ...

Van hierdie somer kan ek min onthou. Sedert November verlede jaar tot byna middel-Februarie is ek deur ’n vagevuur van verterende emosies. Dis asof die vier maande van hel van die vorige jaar homself in my hart en in my lyf kom herhaal het.

Daardie vier maande, aan die einde van 2022 en die begin van 2023 was die tyd toe ons my ma in die inrigting moes laat opneem het. Dis ook toe dat ek aan myself moes erken het hoe ver die demensie haar al lankal van my af weggeneem het.

Dit was ook die tyd toe ek byna alles verloor het en gedwing is om van voor af te begin.

En ek het. Ek het hard gewerk en baie geleer – van myself, van vriendskap, van klein wonderwerkies wat my deur elke dag gedra het. Dan besef ’n mens ook waaroor die lewe werklik gaan en wat regtig belangrik is.

Deernis. ’n Onbaatsugtige uitreik na ander. Nie met materiële dinge nie, want dié het ek nie gehad om uit te deel nie. Maar die gee van ’n stukkie van jouself hier uit die dieptes van jou binneste – met ’n reguit kyk in die oë en ’n glimlag wat hier uit jou hart uit kom.

Maar toe kom trek November se onthou ’n swart kombers oor my. Eers was dit die depressie wat my feitlik verlam het. Ek het myself soggens uit die bed gesleep en met moeite gesorg dat ek aan die gang kom sodat ek die bestellings wat ek gehad het, kon afhandel. My brood en botter ...

........
Die geleerdes praat van trauma muscle memory – die onthou van die swaarkry is nie net in jou kop nie, maar ook in jou lyf.
........

Net ná Kersfees het die swart kombers gelig en is ek verswelg deur ’n vlammesee van woede. Ek was kwaad oor alles wat met my gebeur het. ’n Byna verterende woede. Dis hoe my dag begin het en saans was dit my bedmaat.

Natuurlik was ek skaam en skuldig omdat ek so ten hemele gevloek het oor alles wat met my gebeur het. Maar dit was asof alle rede my verlaat het. Ek was skaars bewus van die somerhitte daar buite. Dit was niks teen die vlamme in my binneste nie.

Toe vind ek uit hierdie vreemde emosies waarmee ek worstel, het ’n naam en dat ek eintlik nie so ’n slegte mens is omdat ek toegelaat het dat dit my oorweldig nie. Die geleerdes praat van trauma muscle memory – die onthou van die swaarkry is nie net in jou kop nie, maar ook in jou lyf.

En dis vreemd hoeveel makliker ’n mens dinge kan hanteer wanneer jy weet wat met jou gebeur. Ek verstaan ook dat die vier maande elke jaar vir my voorlê, maar dat dit elke keer makliker sal gaan. Ten minste weet ek nou.

Hier teen die einde van Februarie besluit ek om die pad Groenpunt toe aan te durf om Italiaanse wors by die deli daar te gaan koop. Vir my is dit byna ’n dagreis te perd van hier waar ek nou bly.

Maar terwyl ek in die Uber sit en my verstom aan die boomryke pad in stad toe en die ongelooflike mooi van die berg, word ek skielik bewus van ’n diepe vrede. En ek weet: Die somerhitte skroei nie meer nie. Dis ’n sagter herfs, ook nou in my hart.

Herfstyd was nog altyd die seisoen waarvoor ek die liefste is. My ma ook. En dis vyetyd. By die einste deli koop ek toe my Italiaanse worsies en die mooiste dieppers vye.

Hulle sê mos vye is die oudste van al die vrugte wat ons ken. Nog lank voor die mens koring op die lande begin verbou het, was vye al daar. Trouens, baie mense glo ’n vy was die verbode vrug waarmee Eva vir Adam verlei het en dit verklaar waarom die vyeblare byderhand was om hul skaamte te bedek.

........
Vir my is die mooiste van die vy dat dit nie regtig ’n vrug in die ware sin van die woord is nie. Dis eintlik ’n blom, sê hulle, wat na binnetoe groei. En as jy ’n vy oopsny, kan jy sien hoe waar dit is.
........

Ek kon nog nooit eintlik vat kry aan die idee van ’n appel as verbode vrug nie. Vir my maak vye baie meer sin. Hulle vertel ook vye was Cleopatra se gunstelingvrug en haar bewonderaars het mandjiesvol van die vrugte vir haar aangedra.

Volgens oorlewering is Romulus en Remus, die tweeling wat vir die stigting van Rome verantwoordelik was, onder ’n vyeboom gevind en deur die wolf grootgemaak. Boeddha het glo onder ’n vyeboom gesit toe hy sy groot openbaring gehad het.

En deur die eeue heen het die vye ook simbool geword van seksualiteit en vrugbaarheid – die rondings van die vrug en die binneste is ’n spieëlbeeld van die vroulike geslagsoorgaan.

Daar is ook mense wat beweer dat die vrug ’n liefdesdoepa is, dat selfs die reuk van die vrug jou liefdesdrang verhoog. Dis ook Venus, die liefdesgodin, se vrug. Vir die Romeine was die vyeboom ook die simbool wat hulle met Rumina, die godin van borsvoeding, geassosieer het. Dis glo oor die melk wat die vyestingel afgee wanneer dit gepluk word.

Vir my is die mooiste van die vy dat dit nie regtig ’n vrug in die ware sin van die woord is nie. Dis eintlik ’n blom, sê hulle, wat na binnetoe groei. En as jy ’n vy oopsny, kan jy sien hoe waar dit is.

Maar aan al hierdie dinge het ek en my ma ons min gesteur. Sommer reg aan die begin van die herfs het ek gesorg dat ek vir ons vye kry. Wanneer ons daardie eerste happie vy proe, het ons al ons verjaardae en die herfs begin vier.

Dit het ons ook ver teruggevoer na ons kinderdae op Prince Albert, na die vyebome in my oupa se agterplaas. Maar haar onthou was baie anders as myne. Ek het ’n ma gehad wat my oorlaai het met liefde, met dieselfde oordaad as wat die vyeboom vrugte gedra het. Sy het nooit daardie soort liefde geken nie.

........
En dan is daar hierdie tert – so tussen soet en effe sout. ’n Wellustige verleiding, maar terselfdertyd ’n ode aan die herfs en die nuutgevonde vrede in my hart.

........

Die dood het vir haar vrede gebring. Vry van demensie en vry van die verlammende onthou van mishandeling as kind. Vir my het die herfs vrede gebring en wonderlike vollyf vye van onthou.

En hierdie herfs het ek my met ’n oordaad van vye omring. Ek het vyekoeke gebak, die onderstebo vyekoek met ’n dekadente karamellaag en nog een, nog meer dekadent, met karamel en mascarpone. Ek het vyekonfyt gemaak met dieppers Mediterreense vytjies en vanieljepeule.

My feestafel was getooi met ’n groot plat glasbak vyeslaai as indrukwekkende middelpunt – vars vye op roketblare, met parmaham tussenin gerangskik, stukkies feta bo-oor gestrooi en ’n heerlike vinaigrette met balsemiek, olyfolie, ’n titseltjie mosterd en heuning.

En dan is daar hierdie tert – so tussen soet en effe sout. ’n Wellustige verleiding, maar terselfdertyd ’n ode aan die herfs en die nuutgevonde vrede in my hart.

Karen se feestelike vyetert

Karen Hart se vyetert. Foto: verskaf

Genoeg vir 4 (eintlik is dit die ideale liefdestert vir twee om te deel)

1 rol bevrore blaardeeg, ontdooi
1 eier, geklits
½ koppie groenvyekonfyt, versnipper (of enige ander goeie vyekonfyt van jou keuse)
120 g bokmelkkaas
1 teelepel fyngekapte vars roosmaryn
5 ryp vye, in wiggies gesny
1 eetlepel heuning

Rol die deeg uit op ’n meelbestrooide oppervlak totdat jy ’n mooi reghoek het. Plaas die deeg op ’n bakplaat wat met bakpapier gevoer is. Verf die geklitste eier oor die oppervlak van die deeg en prik met ’n vurk. Bak vir 10 minute in ’n voorverhitte oond van 180 ºC. Haal dit uit die oond en plaas ’n ander bakplaat bo-op. Plaas dit terug in die oond en bak vir nog 10 minute. Haal dit uit die oond en laat effens afkoel. Versprei die konfyt oor die oppervlak van die kors. Krummel die kaas bo-oor en besprinkel met die roosmaryn. Rangskik die vye bo-op. Verhit die oondrooster en plaas vir 2–3 minute onder die vuurwarm rooster of totdat die kaas begin verkleur. Hou mooi dop. Haal uit die oond en bedruip met heuning. Bedien met ’n lekker vars groen slaai.

Lees ook:

Bekbrandrissiepot vir Valentynsdag

Ode aan die ui – Franse uiequiche

’n Kerssprokie ... met bobotie en geelrys

Die betowering van sjokolade en klapper

  • 1

Kommentaar

  • Monica Hammes

    Dankie vir die lekker vyestorie.

    As mens in Pretoria bly, sal jy nie sommer aan vye as jou verjaardagvrug dink nie, want hulle is skaarserig en peperduur. Maar hier gaan ek beslis so maak, want ek het net laas Saterdag 'n hele boks vye op die Wild Oats mark in Sedgefield gekoop. Die eerste helfte het ons eenvoudig verslind en die res word in die yskas vertroetel vir my verjaardagpoeding, yskoue vye met mascarpone.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top