Bekbrandrissiepot vir Valentynsdag

  • 0

Grafika: Canva

Rooi ... As ek aan Valentynsdag dink, sien ek rooi. Nie die rooi van die hartjies en goetertjies wat kort ná Kersfees al op die winkelrakke begin propaganda maak vir die liefdesfees in Februarie nie. Nee, daai soort rooi wat die bul kop omlaag laat stof trap en storm.

Moenie my verkeerd verstaan nie – ek het niks teen romanse nie. Trouens, ek leef die meeste van die tyd met my kop daar doer tussen die wolke. Maar vir my is daar niks romanties aan die mollige ou mannetjie met sy kamtige vlerkies en pyl en boog nie. Daai koppie ken net één ding -- die geklingel van kasregisters.

Die een keer wat ek geswig het en teen my beterwete saam met ’n geliefde op Valentynsdag na een van ons gunstelingrestaurante is, was ’n volslae fiasko. ’n Peperduur een.

Ons het gereeld daar gekom; die bestuurder en elkeen van die kelners op die naam geken. Maar dié aand sit ons ingedruk by ’n tafeltjie iewers tussen die nooduitgang, die swaaideure van die kombuis en die stegie badkamer toe.

Die diens was iets afgrysliks – onpersoonlik en afgerammel. Hulle kon nie wag om gou genoeg van ons ontslae te raak sodat die volgende slagoffers daar aan die gatkant ingedruk kon word nie. En die kos – ek kon glad nie onthou waarom ek so baie van die restaurant gehou het nie

Valentynsdag is nou die één dag wat jy nie met blomme by my moet kom sukkel nie. Ek is baie lief vir blomme, kan nooit genoeg kry daarvan nie. My pa het my eerste ruiker vir my gestuur, nogal toe ek die eerste keer as jong tiener begin menstrueer het. En my eerste botteltjie parfuum vir my gekoop. Net om my spesiaal te laat voel.

Maar die blomme wat Valentynsdag in massas teen hemelhoë pryse aangebied word, laat my heeltemal koud. Ek sweer die pryse van parfuum en sjokolade verdubbel ook sommer oornag. Net ’n rooi lintjie en ’n hartjie om die lyf en jy betaal dat jy hop.

Natuurlik weet ek daar word munt geslaan uit al die groot dae – Kersfees, Paasfees, Moedersdag, Vadersdag. Maar die liefde maak ’n mens so weerloos, en die verskynsel self is so onverklaarbaar en broos. Hierdie skrille trompetgeskal maak dit goedkoop en van alle betekenis gestroop.

Wanneer ek aan Valentynsdag dink, gaan my gedagtes onwillekeurig na een van die aflewerings van The Ellen DeGeneres Show. In dié spesifieke episode het ’n jong man uit die gehoor, met al die kameras op hom, voor sy meisie gekniel en haar gevra om met hom te trou.

Die gehoor het ge-oe en ge-aa en met ingehoue asems gewag. Sy meisie het haar hand uitgesteek, hom opgehelp en baie ferm “Nee” gesê. Die kameras het onmiddellik weggeswaai en Ellen het die volgende segment aangekondig. Asof niks gebeur het nie.

En ek het by myself gedink: Goed so. Dit het baie moed geverg om jou, teen almal se verwagtinge in, nie te laat indwing in ’n besluit waaroor jy later baie spyt gaan hê nie. Enigeen wat so ’n spektakel van die liefde maak, is in elk geval nie goeie troumateriaal nie.

........
Die liefde lê in die klein en alledaagse dingetjies, nie in iets waarmee jy op sosiale media kan gaan spog nie.
........

My pa het altyd gesê ons moenie Moedersdag en Vadersdag vier nie. As jy nie elke dag jou ma en pa waardeer nie, beteken dit niks om op een dag van die jaar ’n ophef te maak en kaartjies en geskenkies aan te dra nie. Oor Valentynsdag het hy hom nie eens verwerdig om ’n uitspraak te gee nie.

Maak nie saak hoe jy daarna kyk nie – dit stel altyd teleur. Soveel verwagtinge word geskep dat dit op die ou einde op ’n bakleiery uitloop. Die liefde lê in die klein en alledaagse dingetjies, nie in iets waarmee jy op sosiale media kan gaan spog nie.

Dis die bakkie sop wat jou maat vir jou aandra wanneer jy siek is en maar oes lyk. Of vir jou ’n kortverhaal voorlees wanneer jy te ontsteld is om aan die slaap te raak en sy stem jou tot kalmte sus. Iemand by wie jy veilig voel om jouself te wees.

Maar jy hoef ook nou nie so ernstig teen Valentynsdag standpunt in te neem dat jy al die pret misloop nie. Dis lekker om die kinderlike opgewondenheid te sien wanneer seuntjies en dogtertjies vir mekaar kaartjies maak en kamtig in die geheim laat “aflewer”.

Ek het nou nog ’n briefie waarin ’n seuntjie my vra of hy my tas vir my mag dra. Ek dink ek was toe skaars 11. Dis deel van die lekkerte van onthou.

En dit skep seker ’n mate van spangees wanneer almal op kantoor besluit om Valentynsdag rooi, wit en pienk aan te trek en die dag met so ’n soet bederfie oor teetyd te vier.

Natuurlik is dit ’n lekker verskoning vir ’n partytjie. Jy kan ’n harte-opskop hou, sommer net vir die lekker. Of jy kan maak soos ’n hele paar van my vriende wat elke jaar groot genot put uit hul anti-Valentynsdag-partytjies. Hier kan jy jou verbeelding werklik vrye teuels gee.

Vir my, wat baie beter in kleiner groepies vaar, is die lekkerte om ’n handjievol van jou loslopervriende vir ete te nooi. Jy vra vir elkeen om iets saam te bring – wyn, slaai, ’n Franse brood of nagereg.

Dan maak jy ’n groot skottel waaruit almal kan saam eet. Los maar die paellas en daai soort disse – garnale en daai goete wat as liefdeskosse beskou word, is skielik peperduur. Maak sommer ’n lekker rooi rissiepot – lipleklekker met ’n effense branderigheid. Nes die liefde.

Karen se chili con carne, oftewel rissiemaalvleispot

Genoeg vir 6

3 eetlepels olie
2 middelslaguie, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1–2 teelepels droë rissievlokkies (afhangende van hoe sterk jy jou rissiepot wil hê)
1 teelepel fyn koljander
1 teelepel fyn komyn
3 kardemompeule, gestamp
1 rooi soetrissie, wit gedeeltes en pitte verwyder, en in repies gesny
750 g maalvleis
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 x 400 g-blikke geskilde en gekapte tamaties
4 eetlepels tamatiesous
4 eetlepels tamatiepasta
1 x 400 g-blik rooi nierboontjies
1 eetlepel kakao

Vir die samestelling

½ koppie suurroom
1 koppie gerasperde cheddarkaas
1 groot pak tortilla- of mielieskyfies

Verhit die olie in ’n swaarboompot en braai die uie tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel by en braai nog ’n bietjie. Voeg die rissievlokkies, koljander, komyn en kardemom by en meng goed. Voeg die soetrissie by en roer die maalvleis met ’n vurk by om te keer dat klonte vorm. Geur met sout en peper en braai totdat die vleis begin verkleur. Voeg die tamaties, tamatiesous, tamatiepasta en boontjies by en sprinkel die kakao bo-oor. Meng goed en bring tot kookpunt. Bedek die pot gedeeltelik, verlaag die hitte en laat vir 1½ uur oor lae hitte prut. Haal die deksel heeltemal af tydens die laaste 20 minute sodat die meeste van die oortollige vloeistof kan wegkook.

Wenk: Bedien met suurroom, guacamole, gerasperde cheddarkaas, ’n lekker salsa, mielie- of tortillaskyfies en lekker vars brood. Hier kan jy jou gaste aansê wie sorg vir wat. En na gelang van die aantal gaste om jou tafel, kan jy die resep met groot gemak verdubbel.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top