
Foto’s: Canva
Die maan en musiek – dis die twee dinge wat my lewe beheer. Drie dae voor volmaan is ek soos ’n wilde dier op hok. Donkermaan raak ek net so ongedurig. En jy kan maar weet, volmaan en donkermaan is die ruite in my kombuisie toegestoom – ek kook en bak soos ’n besetene. En die musiek dra my deur dit alles.
In die huisie waar ek nou bly, sukkel ek om die maan te sien. Partykeer kom maak Bliksem, my gemmerkat, my betyds wakker sodat ek die maan sien voordat hy agter die bloekombos verdwyn. En soms, as ek gelukkig is, kry ek hom net nadat hy opgekom het in my agterplaas. Ook net vir ’n rukkie, want daar is te veel dakke, mure en bome wat my pad na hom toe versper.
In Maartmaand, my verjaardagmaand, het die maan my spesiaal geseën en ’n hele paar keer kom gesig wys. Ek weet te min van die stand van die planete en dinge om te kon sê hoekom dit so was – ek het dit maar net as ’n spesiale verjaardaggeskenk aanvaar.
En was dit nie iets ongeloofliks nie! Die mooiste maanoomblik in Maart was een oggend toe ek vroeg moes opstaan om vir ’n bestelling te bak. Terwyl ek wag vir die baksel in die oond, het ek met my koppie koffie buite op my stoel op die stoep gaan sit. Dit was nog donker en effens bewolk.
En toe sien ek hom – my Rachmaninoff-maan ...
My pa het ’n versameling langspeelplate gehad waarna ek heeldag kon sit en luister. My gunsteling was ’n opname van Rachmaninoff se Klavierkonsert nr 2 met die St Louis Simfonie-orkes, gedirigeer deur Vladimir Golschmann en met Leonard Pennario op klavier. Op die omslag was ’n foto van die volmaan wat die wolke om hom met ’n pers ligkring belig.
En dis die maan wat ek op daardie spesiale oggend gesien het. In my verjaardagmaand. Net vir my.
Terwyl ek op Stellenbosch gestudeer het, het ek gereeld klasse gebank om in die konserwatorium se biblioteek te gaan sit en musiek luister. Die onvergeetlikste was Rachmaninoff wat self sy klavierkonsert gespeel het.
Ek kon self nog nooit ’n instrument bespeel nie. My oupa het ewe hoopvol sy klavier oor die Swartbergpas gestuur toe ek besluit ek wil leer speel en musieklesse geneem het. My pa het vir my die musiekstuk van Dvořák se Humoresque gekoop met beloftes van ’n groot present as ek dit kon baasraak.
........
My liefde vir musiek het te make met die emosie wat dit in my wakker maak, die belewing daarvan. Vir die uitvoering daarvan is ek nie in die wieg gelê nie.
........
Die liefde was daar, ja, maar die talent het jammerlik ontbreek. My liefde vir musiek het te make met die emosie wat dit in my wakker maak, die belewing daarvan. Vir die uitvoering daarvan is ek nie in die wieg gelê nie.
Ek het nie ’n oor vir musiek nie. G’n sin vir ritme nie. Ek kan ook nie sing nie. Op die dansvloer is ek heeltemal ontuis. Dit lyk kompleet asof ek te veel arms en bene het en per ongeluk van ’n ander planeet af daar neergestort het.
My oupa, my ma se pa, het die Engelse konsertina gespeel. Hy en sy broers het saam ’n orkes gehad. My ma het haar hele skoolloopbaan lank musiek geneem, maar het agterna nooit weer ’n noot op die klavier gespeel nie.
My pa het ’n ongelooflike oor vir musiek gehad – hy kon akkoorde tussen ander akkoorde hoor. Hy het op sy dag trompet in die Vrystaatse Jeugorkes gespeel. En toe hy nog onderwyser was, het die skoolseuns van die kadetorkes stom gesit en luister wanneer hy hulle laat hoor hoe ’n trompet éintlik moet klink.

Rachmaninoff se maan (Foto: verskaf)
My broer was die enigste landdros met ’n jazzkitaar in sy kantoor, en hy het elke denkbare oomblik tot sy beskikking benut om sy musiek te oefen. Vandag nog meet hy die kwaliteit van sy lewe aan die hoeveelheid tyd wat hy het om sy musiek te beoefen.
Sy oudste seun was skaars vier toe hy na die klavier toe loop en die temawysie van LA Law, destyds een van die gewildste TV-reekse hier by ons, op die klavier tokkel. Hy het die een musiekbeurs na die ander gekry.
Vandag is Francois en sy vrou, Yohan, albei konsertpianiste. In hulle woonstel is talle meer musiekinstrumente en, soos my broer laggend terg, stry hulle nie oor die proppie op die tandepastabuisie nie, maar oor akkoorde. Hulle hoef net na ’n instrument te kyk, dan kan hulle dit speel.
Wanneer ek my nefie sien met die ou basviool wat hy vir hom gekoop het, voel ek soos ’n voyeur. Die liefde vir daardie instrument straal uit hom uit. En die klanke wat hy daaruit optower ...
Ek loop nie een konsert van my nefie en sy vrou mis nie. En een van die onvergeetlikste oomblikke vir my was toe ’n ouerige man, ná een van hul optredes in die Baxter, na hulle toe aangestap kom, Yohan se hande in syne neem en verwonderd daarna kyk: “Soveel talent in sulke klein handjies.”
En toe bedank hy Francois en Yohan vir die wonderlike musiek. Agterna vind ons uit dis niemand anders as die hartsjirurg Chris Barnard se eie dokter nie.
........
Met my hande kan ek nie musiek maak nie, maar ek kan die wonderlikste geure en geregte optower. En in my kombuis is dit nie net die prut van die potte nie – daar is altyd musiek.
........
Met my hande kan ek nie musiek maak nie, maar ek kan die wonderlikste geure en geregte optower. En in my kombuis is dit nie net die prut van die potte nie – daar is altyd musiek.
En, nee, ek speel nie opera wanneer ek pizza of pasta maak nie. Dis nie so eenvoudig nie. Ek speel die musiek waarna my hart op daardie oomblik vra. Sommige dae irriteer die musiek wat ek net die vorige dag met soveel oorgawe waardeer het.
Meestal is dit wel opera waarna ek luister. Maar sedert ek Chris Karsten se Koms van die motman gelees het, het ek saam met sy antiheld die musiek van Bach herontdek. Dit maak my ongelooflik kalm – soms byna te kalm en dan vergeet ek van die tyd!
Dis met hierdie musiek en harmonie in my kop en hart dat ek geur en kleur in my potte kombineer en met die wonderlikste smake vorendag kom. Die musiek gee balans aan alles. En met die maan wat, selfs wanneer ek hom nie sien nie, oor my waak, hoe kan ek anders as om lepelsvol van daardie betowering in my kospotte in te roer.
Een van my gereelde klante het spesiaal vir my kom sê die botterhoender wat ek vir hom gemaak het, is die beste wat hy nog geproe het. Dis ’n gereg wat vra vir perfekte balans, volmaakte harmonie. Hoe dan ook anders? Met die maan en musiek ...
Karen se botterhoender

Karen se botterhoender (Foto: verskaf)
Genoeg vir 4
½ koppie gewone jogurt
1 eetlepel suurlemoensap
1 teelepel borrie
2 teelepels garam masala
1 teelepel rissiepoeier
1 teelepel fyn komyn
1 x 3 cm knoets vars gemmer, fyngekap
2 knoffeltoontjies, fyngekap
1 kg hoenderborsies, in kleiner stukkies gesny
1 koppie kasjoeneute, gerooster
4 eetlepels botter
1 eetlepel sonneblom- of canola-olie
1 ui, fyngekap
1 teelepel fyn kardamom
1 kaneelstokkie
1 lourierblaar
2 teelepels paprika
1 x 410 g-blik tamatiepuree
½ koppie hoenderaftreksel
1 koppie room
vars koljanderblare vir garnering.
Meng die jogurt, suurlemoensap, borrie, garam masala, rissiepoeier, gemmer en knoffel saam in ’n groterige bak. Voeg die hoender by en meng goed sodat elke stukkie hoender met die marinade bedek is. Bedek die bak en laat oornag in die yskas marineer. Hou die helfte van die kasjoeneute vir later en maak die ander helfte in die voedselverwerker fyn. Verhit die botter en olie in ’n swaarboompot oor matige hitte. Braai die ui, kardamom, kaneel en lourierblaar saam totdat die ui begin sag word. Verlaag die hitte en voeg die hoender en marinade by. Voeg die paprika, tamatiepuree, fyngemaakte kasjoeneute en aftreksel by. Laat vir 15 minute prut. Roer die room by en kook vir nog 10 minute. Skep uit in ’n mooi opdienbak, garneer met die res van die kasjoeneute en koljanderblare en bedien met ’n lekker basmatirys.
Lees ook:
Kommentaar
Die stories is te lank maar
e-pos dit vir pragtige gedagtes. Ek moet dit stukkie vir stukkie lees. Pragtig geskryf.