George Weideman, een van my gunstelingdigters, is ook ’n passievolle kosskrywer. In sy Verskombuis (Protea Boekhuis, 2006) skryf hy die wonderlikste gedigte oor kos en gee sy resepte. Een van sy gedigte wat die afgelope tyd hard met my gepraat het, is sy “Patatta”.
Hy skryf oor ’n ou patat, “Opgeneuk. Heeltemal opgefoeter / is sy, dié knoetserige ou boggelrug”; en die deel waarmee ek my die meeste kon vereenselwig: “Sy dra die letsels en diepgekeepte moete / en moenies van haar worstelinge [...] / met haarself, met die klipsteenaarde / self.”
En dan vertel hy van hoe die tuinvurk en graaf haar enigste hoop is om haar die lig te laat sien. Die droom ...
Die binneste wit van haar bitterheid
word sag-sag weggestoom
in ’n doepa, ’n helende moes
van bruinsuiker en kaneel.
gepamperlang met aromas en selfs
’n bietjie botter vir haar wonde,
mag sy haar verbeel, selfs glo
sy’s een van die uitverkorenes van Salomo.”
– George Weideman, Verskombuis, Protea Boekhuis (2006)
Hierdie knoetserige ou knol kan haar nogal goed met George se patatta vereenselwig. Vir baie maande van hierdie jaar is ek lamgelê deur worstelinge met die onbewuste onthou van swaarkrytye. Vir my het dit gevoel asof ek nooit weer die lig, wat nog te sê die droom, sou sien nie.
Hulle noem dit “trauma muscle memory” – ek het al voorheen daarvan vertel. Maar as ek my moet oorgee aan hierdie lamheid wat my oorval het, dink ek toe by myself, sal ek meer maande van die jaar in die donkerte worstel. Dit alles het ek besef, maar dit was asof ek net nie die swaar van my kon afskil nie.
Dit was een van hierdie belaglike internetadvertensies waarmee Facebook so oorlaai word wat my eindelik uit die donker aarde uitgespit en na die lig gebring het. Ek was redelik desperaat toe ek dit raakgelees en ewe hoopvol oopgemaak het. Ja, teen ’n paar Amerikaanse sent (per dag!) kan jy jou lewe weer op dreef kry, beweer hulle.
En net daar vererg ek my so bloedig. Reken net – om te moet betaal vir iets wat jou eie gesonde verstand vir jou kan voorskryf. Dit was die keerpunt. Hierdie patatta laat haar nie onderkry nie.
Ek het elke dag met mening (en ’n selfuitgedinkte plan) aangepak en dit was asof die heelal ook hierdie nuwe energie van my raakgesien het – want ek is oorval met bestellings vir kook en bak. Koeke, kleinkoekies, malvalekkers, lasagne, sop, botterhoender en kerrie ...
En waar ek die afgelope maande moes sukkel om myself aan die gang te kry om my brood en botter te verdien, het ek nou alles met hernude energie en passie aangepak. Saans het ek doodmoeg maar baie tevrede onder die komberse ingekruip.
Ek het ook geleer om nie onrealistiese eise aan myself te stel en te voel ek misluk omdat ek dit onmoontlik kon bybring nie. Alles met gesonde verstand en wilskrag gebore uit woede oor ’n simpel advertensie!
Maar om terug te keer na George se patat en daardie binneste wit ...
Hierdie patat skitter nou oral. Jy kan die allerheerlikste slaai daarvan maak. Van gaar of rou patat. Ek onthou die een of ander gesondheidspa het destyds opslae gemaak met hul roupatatslaai. Myne kies ek gaar – lekker in die oond gerooster met feta, sumak en heuning en dan, goed afgekoel, opgedollie met jogurt, rissie, gaar beet, rooiuiringe en olywe.
Dis heerlik in soppe en bredies. Ek gebruik gereeld patat in my hoenderkerries om die sous so lekker dik te maak. En natuurlik vir die smaak. Jy kan selfs brood daarvan bak. Broodrolletjies. Of ’n koek en ’n tert.
En wat van Leipoldt se patatpoeding. In sy Kos vir die kenner sê hy: “Maak ’n puree van gekookte patats en meng dit met suiker, suurlemoenskil, botter, room en geklitste eierdooier; rosyntjies en versuikerde vrugteskil kan, indien verkies, bygevoeg word: bak in die oond, of stoom. Bedien met ’n vrugtesous.”
........
Die lekkerste lekker vir my is die patat so in sy skil in die oond gebak. Ek eet hom net so uit die skil uit – daardie aardse lekkerte het niks nodig nie, net ’n bietjie geduld met die afkoelslag.
........
Kook en geniet se resep gee ’n bietjie meer leiding wat die hoeveelhede aanbetref en tannie Ina sit so ’n bietjie gemmer, heuning, en okkerneute vir ekstra lekkerte ook by.
Een of ander spysenier het jare gelede op die kosblaaie van ’n koerant gespog met sy nuwigheid wat die lekkerbekke gaande gehad het: diepgebraaide patatskyfies. Ek het lekker gelag vir dié grootdoenerigheid – want daardie resep het ek al lankal in ’n ou Amerikaanse kookboek van 1950 ontdek!
Die lekkerste lekker vir my is die patat so in sy skil in die oond gebak. Ek eet hom net so uit die skil uit – daardie aardse lekkerte het niks nodig nie, net ’n bietjie geduld met die afkoelslag.
En nou moet die antisuikerbrigade maar opsy staan vir my Sondag se soetpatats saam met skaapboud of geroosterde hoender ... My mond water by die blote gedagte daaraan. Die ghrênder naam is glanspatats, seker ook maar om die suikerpolisie so ’n bietjie van die spoor af te bring.
Jy skil die patats, sny in skywe. Dan braai jy 2 eetlepels botter en ’n halwe koppie suiker suiker saam in ’n swaarboomkastrol, so effens bruin. Dan voeg jy die patatskywe saam met ’n bietjie sout, 2 eetlepels suurlemoensap en repies nartjie- of suurlemoenskil by die bruin botter-en-suiker-sous. Los ’n halwe teelepeltjie koeksoda in ’n koppie water op (dit help met die verbruining) en voeg by. Sit die deksel op en wag geduldig totdat die patats gaar en onder bruin word. Draai die patats om sodat die ander kant ook bruin kan word. Dan skep jy dit op in ’n mooi skottel en giet die bruin stropie wat onder in die pot gevorm het, bo-oor. Hemels!
Maar die kroon op al daardie patatprestasies is hierdie sop, my patat-en-tiemie-sop, met net genoeg gemmer en rissie om die soet van die patat te balanseer. En, natuurlik, vars tiemie uit my tuin ...
Karen se patat-en-tiemie-sop
Genoeg vir 6
3 eetlepels botter
3 eetlepels olyfolie
1 groot ui, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 x 3 cm-stuk vars gemmer, fyngekap
1 rooi brandrissie, saadjies verwyder en fyngekap
1 kg patat, geskil en in blokkies gesny
3 takkies tiemie
gerasperde skil van 1 lemoen (opsioneel)
6 koppies hoender- of groente-aftreksel
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.
Verhit die botter en olie saam in ’n swaarboompot oor matige hitte. Braai die ui daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, rissie en gemmer by en braai nog ’n minuut of twee. Voeg die patatblokkies by en roer goed deurmekaar. Plaas die tiemietakkies bo-op, roer die lemoenskil by en geur met sout en peper na smaak. Verlaag die hitte, bedek die pot en laat liggies prut vir ongeveer 10 minute. As jy bang is vir vasbrand, kan jy ’n skeutjie aftreksel byvoeg. Haal die deksel af en voeg die res van die aftreksel by. Verhoog die hitte effens, bring tot kookpunt en laat vir nog 15 minute prut. Verwyder die tiemietakkies. Gebruik ’n handmenger of voedselverwerker om die sop te verpulp. Maak deurwarm en skep op.
Gaan sit om die tafel saam met jou mense, vat hande en sê dankie vir die lig. En die droom.
Lees ook: