Toorkombuis: Krismis met die radio en gemmerbroodmannetjies

  • 0

  • Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.

Ek het grootgeword met boeke, die radio en Kersfees met gemmerbroodmannetjies. Boeke en die radio het my op verbeeldingsvlugte geneem – een daarvan na ’n wêreld waar die sneeu teen Kerstyd dik gelê het by die voordeur, die tafels gekreun het onder geroosterde kalkoene en skottels vol stomende genot.

En dan was daar die gemmerbroodmannetjies ...

Die gemmerbroodmannetjies wat ek kleintyd leer ken het, het uit ’n winkel of ’n tuisnywerheid gekom en was meestal geskenke wat kuiergaste aangedra het. My ma was nie juis ’n bakker nie. Sy kon seker as sy wou, maar sy het haar nooit aan resepte gesteur nie, en bak het te veel reëls na haar sin neergelê.

Buitendien was Kerstyd ook vakansietyd by die see, en ons was almal op ons gelukkigste in die branders of op die warm sand. Ons het lê en luister hoe ons bure by die strandoord hul gesamentlike Kersetes daar onder die sambrele sit en beplan. En so ’n uur of wat voor etenstyd kon jy die optogte met die skottels oor die straat sien loop.

Kersdag het vir my begin met ’n vroegoggendswem saam met my pa. Daarna is ons almal saam na die Kersdiens by die sandkerkie in Glentana. Ons kon nie wag om by die huis te kom, swemklere aan te trek en strand toe te gaan nie.

Etenstyd het ons sommer gebraai, en net so in ons swemklere by die tafel aangesit. En dit het nie vir my vreemd gevoel nie. Daar op Dwarsweg het die kinderboekskrywer Helena JF Lochner se Vader Krismis in sy oranje safaripak baie meer sin gemaak as die een wat die sneeu moes trotseer.

Al wat ek gemis het, was die gemmerbroodmannetjies ...

My ouma het gemmerbroodmannetjies gebak. Maar hare het ek nooit geproe nie. Kerstyd was sy by haar houthuisie by De Bakke, waar die bakgeriewe nou nie juis gemmerbroodmannetjiestandaard was nie. Buitendien is sy oorlede toe ek agt jaar oud was – ook tydens ’n Kersvakansie by die see.

Al hoe ek geweet het sy het dit gebak, is die gemmerbroodmannetjietemplaat wat sy sommer uit koerantpapier geknip het. Dié het ek lank ná haar dood in een van haar resepteboeke ontdek.

En, natuurlik, die radioresep ...

.......
Wanneer my ouma by ons kom kuier het, moes ek smiddae halfvier saam met haar regskuif en stelling inneem by die radio vir Esmé en Jan se resepte in So maak mens. Dan moes ek fyn luister en vir haar die resep neerskryf.
.......

Wanneer my ouma by ons kom kuier het, moes ek smiddae halfvier saam met haar regskuif en stelling inneem by die radio vir Esmé en Jan se resepte in So maak mens. Dan moes ek fyn luister en vir haar die resep neerskryf.

Toe ek jare later by Huisgenoot begin werk het, het ek uitgevind van Esmé Euvrard se wonderlike liefdesverhaal. Dié het my verbeelding aangegryp. En daar het ek ook bevriend geraak met Jan Cronjé se dogter, wat vir een van die rolprentmaatskappye gewerk het. .

Dis waarskynlik ook daar saam met my ouma voor die radio waar sy haar liefde vir kook en bak aan my oorgedra het. En ek het nooit kon droom dat ek ook eendag my resepte op die radio sou deel nie – ek doen dit nou al vir die afgelope twaalf jaar Donderdagmiddae om twee op Radio Kaapse Kansel.

Die radio loop van kleintyd al soos ’n goue draad deur my lewe. Soggens het ek en my broer Siembamba geluister. Smiddae was dit storietyd met Die geheim van Nantes, Die wit sluier en Ongewenste vreemdeling. Boonop was dit warm in die Karoo en jy kon dit nie voor vier in die middag buite waag nie.

Jare later het ek bevriend geraak met die legendariese rolprentmaker Dirk de Villiers, wat baie van die radioverhale, ook Die wit sluier en Die geheim van Nantes, in rolprente omskep het.

Sy roemryke loopbaan het ook by die radio begin. Hy moes oorneem by ’n bekende radioverhaalskrywer wat gereeld verdwyn het om alleen iewers by die bottel vertroosting te soek.

Die probleem was net dat dié skrywer die held in ’n vreeslike penarie agtergelaat het – in die laaste tonele wat hy geskryf het, het dié in ’n put beland. En niemand, nie eens Dirk nie, het geweet hoe die skrywer hom daar sou uitkry nie.

Die groot soektog het begin en toe hulle hom eindelik in ’n agterkamertjie van ’n motel opspoor, het hy net die een oog oopgemaak en geprewel: “Met een reuse sprong!”

Deesdae luister ek nie meer radioverhale nie – dis die musiek wat my op verbeeldingstogte neem en geselskap hou wanneer ek daar in my kombuisie werskaf. ’n Vriendin het vir my ’n radio present gegee wat selfs deur die kragkapingstye kon musiek maak, en dié was pal ingeskakel op Fine Music Radio.

.......
Dis die musiek wat my kalm hou wanneer dinge begin rof raak in die kombuis en ek jaag om bestellings betyds te lewer. Dis ook hierdie musiek wat my deur moeilike tye dra.
.......

Dis die musiek wat my kalm hou wanneer dinge begin rof raak in die kombuis en ek jaag om bestellings betyds te lewer. Dis ook hierdie musiek wat my deur moeilike tye dra. En op verbeeldingsvlugte neem – nou die aand het ek na ’n program geluister waar al die klokke en orrels van die Notre-Dame-katedraal in ’n klankbeeld vasgelê is.

Een van my gereelde klante het nou die middag, toe hy die maaltyd wat hy bestel het, by my kom afhaal, so half terloops opgemerk dat ek graag na Fine Music Radio luister. Toe kom dit uit dat hy een van die aanbieders van een van my gunstelingprogramme was.

Sondagmiddae is net nie meer vir my dieselfde sedert Musical memories van die lug afgehaal is nie. Soos die naam aandui, was dit ’n nostalgiese musiekversoekprogram. En hier kook ek sowaar vir Dave Wood, wat al die jare saam met Rick Everett dié program aangebied het! Dave was ook die ou wat verantwoordelik was vir die insetsels van die ou Springbokradioprogramme wat hulle op die program uitgesaai het.

En op daardie nostalgiese noot ... my resep vir gemmerbroodmannetjies. Deesdae bak ek my eie – terwyl ek radio luister.

Foto: verskaf

Gemmerbroodmannetjies

Lewer ongeveer 36 gemmerbroodmannetjies (afhangende van die vorm en grootte)

2⅓ koppies koekmeel
1 teelepel koeksoda
1½ eetlepels gemmer
¾ koppie donker bruinsuiker
125 g sagte botter
1 eier
⅓ koppie gouestroop.

Plaas die koekmeel, koeksoda, gemmer, bruinsuiker en botter saam in ’n menger en meng totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die eier en stroop by en meng tot dit net-net ’n deeg vorm. Verdeel die deeg in twee helftes, bedek met kleefplastiek en plaas in die yskas vir ongeveer 1 uur. Plaas die een helfte deeg tussen twee velle bakpapier en rol uit. Gebruik ’n gemmermannetjievorm en druk die koekies uit. Plaas die koekies ’n entjie van mekaar af op bakplate wat met bakpapier gevoer is. Bak vir 12–15 minute in ’n voorverhitte oond van 180 ºC of tot goudbruin. Laat staan vir 10 minute op die bakplaat voordat jy die mannetjies op ’n draadrak uitpak om verder af te koel.

Wenk: Jy kan versiersuiker aanmaak om die mannetjies te versier as jy wil. Volg die aanwysings op die pakkie, maar sorg dat die tekstuur daarvan dié van tandepasta is. Dis ook ’n lekker aktiwiteit om die kinders of kleinkinders besig te hou – hou bakkies met blinkers en versiersels byderhand en gee almal vrye teuels om hulle mannetjies te versier soos hulle wil.

Lees ook:

Botterhoender met maan en musiek

’n Kerssprokie ... met bobotie en geelrys

Toorkombuis: Goud-in-die-mond – roomys vir die feestyd-blues

Toorkombuis: Brood vir Bottergat

Sluk daai ertjies (saam met pasta, spek en room)

Swartboonsop vir die samesyn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top