Lotsgebondenheid ... Ek weet nie of daar so ’n woord bestaan nie, maar dis iets wat my nog altyd gefassineer het. Miskien was dit die romans van Gabriel García Márquez, veral sy One hundred years of solitude en Chronicle of a death foretold, wat die saadjie geplant het.
En dis miskien hierdie Latynse invloed wat my ook laat glo dat my Karibiese swartboonsop die oplossing vir alle probleme is. En my sielsgelukkig maak as ek vir ’n ieder en ’n elk ’n kommetjie sop kan skep.
My lotsgebondenheid, glo ek, is om mens en dier te voer. Ek is soos ’n wafferse Italiaanse mama, gedurig besig om te kook en mense om my tafel te versamel. Selfs noudat ek op my eie woon, is ek op my gelukkigste as ek vir ander kook.
Eers het ek net op bestelling gebak en die wonderlikste emosies ervaar wanneer ek deel geword het van ander mense se feesvieringe. Maar ek wou kook ook en het toe stadigaan begin om op bestelling te kook – dit was die wonderlikste gevoel om op so ’n manier deel te word van mense se daaglikse bestaan en intieme gesinslewe.
Bestanddele is duur en my winsgrense klein. Ek het lankal vrede gemaak met die feit dat ek nooit ryk sal word uit my passie vir kook en bak nie. Maar ek voel skatryk wanneer ’n jong ma vir my ’n video stuur van hoe haar driejarige seuntjie happie vir happie weglê aan die gereg wat ek vir hul gesin gemaak het. Elke boodskap van tevredenheid en genot is die rand en sent van die bankstate van my hart.
........
My lotsgebondenheid, glo ek, is om mens en dier te voer. Ek is soos ’n wafferse Italiaanse mama, gedurig besig om te kook en mense om my tafel te versamel. Selfs noudat ek op my eie woon, is ek op my gelukkigste as ek vir ander kook.
........
En dan is daar natuurlik my nie-betalende kliënte ... Ek het ’n hele basaar op my voorstoep met die mossies, vinke, glasogies, suikerbekkies en tiptolle wat elke dag by my tafel kom aansit. Hulle kan vreeslik skinder, veral die mossietjies, en ek kan eintlik voel hoe my ore tuit wanneer die kosbakke te leeg word na hulle sin.
Dan is daar die pikswart byvretertjie met sy gesplete meerminstert wat ewe sarkasties op die takkie by die leë suikerwaterbottel sit en “Asseblief-tog! Asseblief-tog”.
Die tarentale raak skoon ongeskik, maar ek giggel elke keer vir hul potsierlike maniertjies. Petrus en Petronella, die kolgans-paartjie, kom stoep toe en staan by my skuifdeur en raas totdat ek kos kom gee. Dan soek hulle ’n holtetjie in die braakland voor my huis waar hulle ewe romanties langs mekaar lê. Dis so mooi om te sien met hoeveel liefde en sorg die mannetjie almal verjaag om sy bruid in vrede te laat eet.
Die eekhorinkies, agt van hulle, staan soggens op hul agterpootjies met bedelhandjies wanneer ek ’n bietjie later as gewoonlik slaap en hulle hul kos soek. Ons ken mekaar al so goed – ek het hulle name gegee.
Laurel en Hardy is die tweetjies wat mekaar die heeltyd jaag en so vol manewales is. Van Gogh het sy een oor verloor. Sigmund (soos in Freud) is die een wat tot in my siel kyk terwyl hy sit en eet. Nadia Comãneci spring van dak tot tak om by die kos uit te kom – pure gimnas! Skarminkeltjie is die voor op die wa enetjie wat my sommer in die huis kom haal wanneer sy kos laat is. En dan is daar Springbokkie, die skaam enetjie met die mooi swart strepe langs sy sye, nes sy naamgenoot s’n.
Toe die huisbaas van die bome hier op die braakland laat afsaag het – hy beplan om nog eenhede hier te bou – was ek vreeslik bekommerd oor hoe die diere sou reageer. Ek het sommer die pad gevat en het hart vasgehou oor dit wat op my sou wag by die huis.
Maar toe ek hier kom, huppel die eekhorinkies tussen die gevalle boomstompe deur asof niks verander het nie. En die tarentale se brandwag het al klaar een van die stompe as uitkyktoring vir hom toegeëien.
![](https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2024/08/eekhoring_1_600x.png)
Een van vele besoekers (Foto: verskaf)
Dit was eintlik net ek en Bliksem wat ontsteld was oor dié omwenteling. Maar toe ek teen skemer uitkyk en ’n vreemde gloed gewaar, het ek besef ek kan nou vir die eerste keer die son agter Constantiaberg sien sak. Praat van ’n goue randjie ... Nou moet ek nog net vir Bliksem oortuig.
Bliksem het nou al geleer om sy vreemde tafelgenote gelate te aanvaar, selfs die groot veldmuis wat hier op my stoep kom kos soek. Die enigste voorwaarde is dat ek sy kos eerste gee en sorg dat hy genoeg het om aan te peusel deur die dag.
Dis net partykeer dat die gewoel en die grootvreet op die stoep vir hom te veel word. Dan dring hy daarop aan dat ek die agterdeur (wat ook my voordeur is) vir hom oopmaak sodat hy daar kan sit en die rus en vrede geniet. En bewaar die eekhorinkie wat dit sou waag om hier te kom oortree!
Bliksem is ook op sy gelukkigste wanneer hy daar in die deur kuiergaste kan verwelkom. En in hierdie vreeslike koue winter sorg ek dat daar altyd ten minste ’n pot sop aan die prut is. Hoendersop, regte Joodse penisillien vir dié wat aan die herstel is van hierdie ou nare griep wat hier rondhang. Regte outydse ertjiesop. Of my Karibiese swartboonsop vir ’n ekstra bederf.
Karen se Karibiese swartboonsop
![](https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2024/08/sop_280-rotated.jpg)
Swartboonsop vir die samesyn (Foto: verskaf)
Genoeg vir 8
3 koppies swartbone
8 koppies water
3 lourierblare
1 varkskenkel of gerookte Eisbein
3 eetlepels olyfolie
3 groterige uie, fyngekap
3 selderystingels, in stukkies gesny
3 wortels, geskraap en in blokkies gesny
5 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 teelepel droë oreganum
’n knippie fyn naeltjies
½ teelepel fyn kaneel
1 teelepel fyn komyn
2–3 eetlepels vars lemmetjiesap (of 2 eetlepels suurlemoen- en 1 eetlepel lemoensap)
1 teelepel Tabasco-sous
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
Spoel die bone goed af onder koue lopende water, dreineer en plaas in ’n kastrol met genoeg water om die bone te bedek. Bring dit vinnig tot kookpunt oor hoë hitte. Laat 2 minute kook. Haal die kastrol van die stoofplaat af, bedek en laat eenkant vir ’n uur lank staan. Spoel die bone goed af, dreineer en plaas in ’n groot swaarboomkastrol. Voeg 8 koppies water, lourierblare en varkskenkel by. Bring tot kookpunt oor hoë hitte, verlaag die hitte, bedek gedeeltelik en laat prut. Verhit die olie intussen in ’n groot swaarboompan en braai die uie, seldery en wortelblokkies daarin totdat die groente begin sag word. Voeg die knoffel, oreganum, naeltjies, kaneel en komyn by en braai vir nog ’n paar minute saam. Skep die uiemengsel by die bonepot en laat prut vir ongeveer 1–1½ uur saam of totdat die bone lekker sag is. Haal die hamskenkel en lourierblare uit en verpulp die helfte van die sop in ’n voedselverwerker of met ’n staafmenger. Skep terug in die pot en geur met die lemmetjiesap, Tabasco en sout en peper na smaak. Maak deurwarm.
WENK: As die sop te dik is, kan jy dit verdun met 1–2 koppies water.
Lees ook: