
Foto: Alleksana (Pexels)
Die winter het my stilletjies bekruip – tot in my gebeente in. In die vyf jaar wat ek na my ma omgesien het en elke dag die aftakeling van die eens passievolle sigeunervrou moes aanskou, het ek ’n wintermens geword.
Ek het my toegespin in ’n knusse kokon. Veilig, ja, maar in liggaam en siel het ek oud geword. En met geen ander geselskap as die ouderdom en demensie nie, is dit die patroon waarin jy verval.
Hierdie deel ek nie om simpatie te soek nie. Nee, ek probeer net verduidelik hoe maklik dit is om in ’n groef te beland. Selfs na my ma se dood het ek agtergekom hoe maklik dit was om my ma as verskoning te gebruik om nie uit te reik na vriende en die lewe daar buite nie.
Ek het happie vir happie begin proe aan die spogmaal wat die lewe my aangebied het, maar ek het baie effentjies geskep van die feestelike buffet. Dit was makliker om met ’n Marmite-broodjie en ’n gebakte eier weer onder die komberse in te duik en saam met Bliksem, my gemmerkat, te snoesel.
Selfs in die kombuis het ek op dieselfde trant voortgeploeter – by ou gunstelinge en staatmakerresepte gehou. So af en toe het ek iets nuuts en opwindends probeer, maar dan gou weer teruggeval in my ou groef.
........
Dit was makliker om met ’n Marmite-broodjie en ’n gebakte eier weer onder die komberse in te duik en saam met Bliksem, my gemmerkat, te snoesel.
........
(Ek verstom my telkens hoe maklik dit is om in ’n kookgroef te beland, selfs met die bakkery. En dít terwyl die lewe te kort is om al die nuwe en opwindende dinge te probeer!)
Ek het 30 jaar oud geword voordat ek my eerste oester geproe het. Kleintyd het my ma ons altyd vertel hoe sy gegril het vir my oupa se oester-etery – die slymerige goedjies wat hier aan sy snor bly kleef het. Ek het nooit eens probeer nie.
Dit was eers met Annette Hartman se troue dat ek my eerste oesters ervaar het. Sy was toe een van die bekendste gesigte in TV-reekse en Huisgenoot se gunstelingvoorbladmeisie. Ek was daar om die troue eksklusief vir die tydskrif te dek.
Dit het so ’n bietjie katastrofies begin toe ek en Algria Ferreira, die wonderlikste grimeerkunstenaar, besef die haarstileerder het nooit opgedaag nie. Na vele oproepe vind ons toe uit hy lê nog sy dwelmroes en afslaap en daar is geen manier hoe hy betyds (en nugter genoeg) gaan opdaag om Annette se hare te doen nie.
Annette het doodkalm gebly en ek en Algria het ingespring om ’n troukapsel te probeer prakseer. Sy het in elk geval so mooi gelyk dat die hare bysaak was en niemand sou eens agtergekom het haar hare is nie professioneel gedoen nie.
Toe ons by die kerk aankom, kon ons byna nie by die klein kerkie in die middel van nêrens uitkom nie. Die stofpad was voos gery. Al wat ’n koerantman en fotograaf was, het die bruid ingewag. Ek was byna histeries, want my baas was baie gesteld op eksklusiwiteit en my voorbladstorie het hiervan afgehang.
Eers ná die tyd, by die onthaal, kon ek begin ontspan. En toe ek die bak oesters op die buffettafel sien, het ek in ’n oomblik van roekeloosheid besluit: Hoekom nie? Dit was ’n smaaksensasie wat ek nooit sal vergeet nie. Ek het die see geproe – soos ek hom nog nooit vantevore ervaar het nie.
Maar my storie gaan nie oor oesters nie – ek lol nie met ’n oester nie. Ek het nie ’n opwindende nuwe resep vir oesters nie. Tot vandag toe kies ek my oesters net so – sonder ’n druppel Tabasco, selfs sonder suurlemoen. Vars, met net die smaak van die blou en die wit skuim van die branders.
Ek het ook nie vars koljander geken nie. Ek het geweet van koljandersaad, ja. Hoe kan jy nou in die Karoo grootword en nie die koljandersmaak van biltong ken nie? Maar die vars koljanderblare het ek eers baie laat in my lewe ontdek.
Ek weet daar is baie mense wat die smaak nie kan hanteer nie – hul smaakbekertjies is anders geprogrammeer en vir hulle smaak dit soos seep. Die bekende Julia Child was een van hulle. Sy het in ’n onderhoud met Larry King gesê as sy vars koljander in kos sien, vis sy dit uit en smyt dit op die vloer.
Vir my was dit anders. Met die eerste proe daarvan – dit was in ’n somerse pannekoekie gevul met roomkaas, vars groente en vars koljander – het my smaakbekertjies ’n rieldans uitgevoer.
Nou maak ek nooit kerrie daarsonder nie. Maar uit respek vir my vriende en familie met die seepbekke strooi ek dit agterna bo-oor. Dié wat wil hê, kan in oordaad kry en die res kan hul kerrie net so geniet.
My storie gaan ook nie oor vars koljander nie ...
Ek het rock en pop heeltemal oorgeslaan – opera en klassieke musiek was alles waarvoor hart en siel gevra het. Selfs in my tienerjare. Wanneer ek kalmte of opwinding soek, kry ek dit in mý musiek.
Nou die Sondagaand luister ek, soos my gewoonte maar is, na Fine Music Radio. Rodney Trudgeon is toe besig om ’n onderhoud met ’n skrywer te voer. Ek het so byna-byna ander musiek gaan soek, want ek was nie in die luim vir ’n pratery nie. Maar iets hou my toe by die radio ...
Rodney se gas was Alistair McAlpine, skrywer van die boek Prescription: Ice cream: a doctor’s journey to discover what matters. Dit was ’n fassinerende onderhoud, ja, maar dit is nie wat my veilige ou wêreldjie laat kantel het nie.
Gewoonlik, tydens sy onderhoude, speel Rodney sy gas se musiekkeuse. Hierdie dokter kies toe heavy metal – sekerlik die eerste keer dat FMR sulke musiek uitsaai. Ek het myself vir die aanslag gestaal. En daar swig ek – soos met die oesters en die koljander – dit was musiek wat my tot in my fondamente skud en hart en siel nie onaangeraak laat nie.
Ek kan nie onthou wie al die kunstenaars was van wie hy musiek gespeel het nie, maar my jongste nefie, wat hom nou verkneuter in die feit dat ek ook ’n “metal head” is, het aangebied om my gebrekkige kennis aan te vul.
Ek dink die heelal het ’n baie verwronge sin vir humor. Dit was ook in hierdie tyd – ironies genoeg met die winter op sy ergste – dat ’n ou liefde van jare en jare gelede soos ’n tornado my veilige klein winterkokon kom oopruk het.
.........
En net daar, met my eie handgemaakte lasagnevelle laag op laag gepak met die geurige vleissous tussenin, het ek nog ’n keer my hart verloor.
........
Niks is meer veilig nie. Maar ek weet nie of ek weer onder die komberse wil induik nie. Natuurlik soek ek nog bredies en soppe teen die winterkou. Maar ek wil ook die yswind buite trotseer terwyl ek roomys eet.
En my eie pasta maak ...
Ek kon nog nooit eintlik mense se beheptheid met lasagne verstaan nie. Dis lekker, ja, en ek ís lief vir pasta. En ek het dit gereeld op bestelling vir kliënte en kosartikels gemaak. Maar ek kon nog nooit eintlik regtig opgewonde daaroor raak nie.
Met die nuwe opwinding in my lewe het ’n avontuurlustigheid my beetgepak en het ek my pastamasjien uit die kas gaan haal en my eie pasta gemaak. En net daar, met my eie handgemaakte lasagnevelle laag op laag gepak met die geurige vleissous tussenin, het ek nog ’n keer my hart verloor.
My winter het nou ekstra byt – maar dis een wat ek beslis nie met komberse gaan toegooi nie. Miskien onder pastavelle ... en hope waagmoed om nuwe avonture aan te pak.
Karen se lasagne

Foto: Micheile Olivier-Strauss (Pexels)
Vir die pasta
4½ koppies koekmeel
6 eiers
1 teelepel sout
6 eetlepels water (by kamertemperatuur)
Vir die vleissous
2 eetlepels olyfolie
1 groot ui, fyngekap
1 lekker groot selderystingel, met blare en al fyngekap
800 g beesmaalvleis (of helfte bees en helfte vark vir ’n ryker weergawe)
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
¼ koppie tamatiepasta
2 blikke (440 g) geskilde, gekapte tamaties
1 groot wortel, geskraap en fyngerasper
1 teelepel droë origanum
1½ koppies beesvleisaftreksel
sout en varsgemaalde peper na smaak
’n hand vol varsgekapte pietersielie
Vir die witsous
125 g botter
¾ koppie koekmeel
5 koppies warm melk
sout en varsgemaalde witpeper na smaak
Vir die samestelling
1 koppie gerasperde parmesaan
2 koppies vars broodkrummels
Maak eers die pasta: Gebruik jou menger of voedselverwerker en meng al die bestanddele saam. Voeg die water heel laaste by, bietjie vir bietjie. Jy sal waarskynlik nie al die water gebruik nie. Voeg dit net by en knie totdat jy met gemak die deeg in ’n bal kan vorm. (Ek gebruik die deeghaak aan my menger – nog makliker. Maar jy kan dit met die hand knie – dis glad nie so erg nie.) Bedek die deeg met kleefplastiek en laat dit vir 30 minute in die yskas rus. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak uit totdat dit lekker dun, byna deurskynend is en jy jou hand daardeur kan sien. Die beste is om dit in stukke te verdeel en nie alles op een slag te probeer doen nie. As jy ’n pastamasjien het, kan jy die stukke een vir een deur die verskillende dikteverstellings stuur. Sprinkel ’n bietjie meel oor en plaas dit op ’n groot skinkbord wat met bak- of waspapier bedek is. Laat dit lê totdat jy gereed is om met die samestelling van jou lasagne te begin. (Jy kan die velle in ’n mooi vorm sny sodat dit makliker is om in lae te pak, maar ek hou myne net so en knip dit om in die bak te pas.)
Die vleissous
Verhit die olie in ’n swaarboomkastrol oor matige hitte. Braai die uie en seldery daarin totdat die groente begin sag word. Voeg die maalvleis by en roer met ’n vurk om te keer dat die vleis klonte vorm. Braai totdat die vleis verbruin. Voeg die knoffel en tamatiepasta by en meng goed. Braai vir nog ’n minuut of twee voordat jy die tamaties, wortel en origanum byvoeg. Giet die aftreksel by en geur met sout en peper. Verlaag die hitte en laat so onbedek prut vir 20 minute of totdat die sous begin verdik. Roer die pietersielie by.
Die witsous
Smelt die botter in ’n kastrol oor matige hitte. Voeg die koekmeel by en roer totdat die mengsel ’n gladde pasta vorm. Gebruik ’n ballonklitser en roer die melk geleidelik by terwyl jy heeltyd klits. Bring die pot tot kookpunt terwyl jy heeltyd klits of roer totdat die sous lekker dik word.
Die samestelling
Skep ’n bietjie witsous en ’n bietjie vleissous op die bodem van ’n gesmeerde oondbak 25 x 35 cm groot – net genoeg om oor die bodem te smeer. Bedek die bodem met pastavelle. Moenie dat die velle oor mekaar lê nie, net langs mekaar. Meng die broodkrummels en parmesaan en sprinkel ’n bietjie daarvan bo-oor. Skep die helfte van die vleissous bo-oor en bedruip met ’n bietjie van die witsous. Pak nog ’n laag pastavelle bo-oor en sprinkel weer van die krummelmengsel bo-oor. Skep die res van die vleismengsel bo-op en bedruip met ’n bietjie witsous. Pak nog ’n laag pastavelle bo-oor en skep die res van die witsous bo-oor om die velle heeltemal te bedek. Sprinkel die res van die krummelmengsel bo-oor. Bak in ’n voorverhitte oond van 200°C vir 40 minute of totdat die krummelmengsel mooi goudbruin is.
Wenk
Dis baie makliker as wat jy dink – dit neem ’n paar minute om die deeg voor te berei. Na die rustyd van 30 minute in die yskas, neem dit skaars 10 minute om die deeg met die pastamasjien uit te rol. Maar as jy nie die tyd of energie het om jou eie te maak nie, kan jy maar gerus die winkel s’n gebruik. Dis ook nie te versmaai nie.
Kommentaar
Resepte is vir my nommer een. Dankie by voorbaat. Thank you.
Heerlike kosresepte. Sal graag meer resepte wil ontvang.