- Karen Hart skryf gereelde kosrubrieke vir LitNet.
Dié tyd van die jaar is altyd vir my baie vreemd. In die aanloop tot die feestyd begin ek my al staal teen die aanslag op my hart. Oor minder as ’n maand dra die Kersboom swaar aan blinkers en versierings, maar nog swaarder aan verlange en die groot gemis – hartsmense wat nie meer saam met ons kan vier nie.
Dis ook hier in November dat ons al ’n voorsmakie kry van die saamkuier en partytjies van die gety wat voorlê. Maar nou weet ons almal mos dis ook die tyd dat die Kaapse wind hom min aan feestelike reëlings en dinge steur.
Ons ou Suidooster raak skoon geniepsig wanneer hy met markiestente en sambrele begin speel. En jy is gelukkig as jy met die buitelug-etes en pieknieks wat hierdie tyd van die jaar so hoogmode is, ’n bord kos kan klaar eet sonder dat jy ’n paar haarslierte deur jou mond getrek kry.
Maar so tussen die gekla en gekners van tande borrel die lag in my binneste – daar is ook die lekkerte van onthou ...
Dit het alles begin as ’n grappie. Heel moontlik het die uitreiking van die nuwe weergawe (nou al weer stokoud) van die rolprent Sabrina my pa weer laat onthou. Hy was dol oor die nog ouer weergawe met Audrey Hepburn, maar het gou voor Julia Ormond geswig.
Die aanhaling wat hy opgeroep het, het egter niks met die twee skoonhede te make gehad nie. “It never rained on the night of the Larrabee party. The Larrabees wouldn’t have stood for it,” het hy graag aangehaal en spottenderwys na my verwys as ou miesies Larrabee.
Daardie tyd was ek met my derde man getroud en het op die groen gordel in Constantia gewoon. Ek was toe al lief vir kook en het gereeld tafel gedek onder die bome. En vreemd genoeg, op die dae wat ek my etes gehou het, het die weer soos ’n gehoorsame skoothondjie saamgespeel.
........
Die stormwinde sou om die hoeke van die huis huil en die reën teen die glasdeure en -vensters neersliert. Maar ’n uur of twee voor die kos uitgedra moet word, het die hemele oopgetrek en die dag was volmaak.
........
Die stormwinde sou om die hoeke van die huis huil en die reën teen die glasdeure en -vensters neersliert. Maar ’n uur of twee voor die kos uitgedra moet word, het die hemele oopgetrek en die dag was volmaak.
Dit was alles natuurlik blote toeval, maar dit het so gereeld gebeur dat my pa later sy eie grappie geglo het. En die dag toe ek die laaste keer vir hom gekook het voor sy dood, was die volmaakste. Die kos, die weer, die samesyn ... en dit was juis hierdie tyd van die jaar.
Ek kon nie anders as om nou die dag weer in my binneste te giggel en aan my pa se grappie te dink nie. En hoeveel keer dit nou al presies só gebeur het soos hy gesê het ... Ek dink ek het dié storie juis onthou omdat ek nou al moet begin dink aan die kostafels hier oor die feestyd, en my goud-in-die-mond-roomys het al ’n moet op die spyskaart geword.
Daar was die keer, ’n jaar jaar gelede, toe ek nog kosredakteur van Kuier was. Die destydse kunsredakteur van die tydskrif het elke kosfotosessie saam met die fotograaf bygewoon om te sorg dat die foto’s vir die uitleg werk.
........
... [Ek het] ewe gedwee die bros goud van die “heuningkoek” gemaak, fyngekap en room en kondensmelk geklits om dié roomys te maak. Ek het die oggend nog, toe ek winkel toe is, bibberend my ou velbaadjie aangetrek en selfs ek het gewonder oor roomys op só ’n dag.
........
Hy was dol oor my goud-in-die-mond-roomys, en toe hy destyds, net voor ’n fotosessie, sy groot vas breek, het hy half in ’n grap gewens vir ’n bakkie daarvan. “Dis winter,” het ek laggend geprotesteer, want ek weet mense dink ek is mal omdat ek van roomys in die winter hou – die sensasie van die koue daar buite en die ekstra koue wat hier by jou keel afglip ...
Maar toe die dag van die fotosessie, die eerste een ná sy groot vas, aanbreek, het ek ewe gedwee die bros goud van die “heuningkoek” gemaak, fyngekap en room en kondensmelk geklits om dié roomys te maak. Ek het die oggend nog, toe ek winkel toe is, bibberend my ou velbaadjie aangetrek en selfs ek het gewonder oor roomys op só ’n dag.
Toe hy en die fotograaf twee-uur die middag inklok vir die fotosessie, het die winterson in al sy glorie deurgebreek en die dag was sonnig en warm. En ek het my pa se hand warm hier op my skouer gevoel en sy glimlag tot diep in my hart voel reik. “Ou miesies Larrabee ...”
En hierdie ou miesies Larrabee se wens is dat die wind en die weer sagkens sal werk met die vieringe waar ou vriende en familie die wonder van samesyn herontdek. Pure goud.

Karen Hart se goud-in-die-mond-roomys (Foto: verskaf)
My goud-in-die-mond-roomys
Genoeg vir 8–10 porsies
Vir die heuningkoek
1 koppie strooisuiker
4 eetlepels goue stroop
2 teelepels koeksoda
Vir die roomys
1 x 397 g-blikkie kondensmelk
5 koppies room
2 teelepels vanielje-ekstrak
Verhit die strooisuiker en stroop in ’n kastrol oor lae hitte totdat die suiker ook smelt en stroop word. Laat die mengsel kook totdat dit ’n diep goue karamel word. Klits die koeksoda by en gooi die skuimbolle onmiddellik uit op ’n gesmeerde bakplaat. Laat dit heeltemal afkoel en kap dit dan in stukkies (nie te fyn nie). Plaas die kondensmelk, room en vanielje saam in ’n groot mengbak en klits totdat dit sagte punte vorm. Vou die stukkies goue “heuningkoek” deur die roommengsel. Skep dit in ’n plastiekbak met ’n deksel uit, bedek en vries. Dit neem ongeveer 4–5 uur voordat die mengsel soliede roomys word.
Maar wees gewaarsku: Dis verslawend. Dis die soort roomys waarvan jy selfs diep in die winter bly droom.