Toorkombuis: Brood vir Bottergat

  • 0

  • Karen Hart skryf gereelde kosrubrieke vir LitNet.

Tyd was nog nooit deel van my natuurlike ingesteldheid nie. Ek kan die sekondes, minute en selfs ure om droom. Dit gebeur gereeld dat ek so besig raak in die kombuis en myself heeltemal oorgee aan die wonderwêreld van geur en kleur, dat ek heeltemal vergeet om die tyd dop te hou.

My pa het altyd gesê: “Sussie, jy het geen idee van tyd nie!” En wanneer dinge ’n bietjie warm geraak het in die kombuis en ons gejaag het om betyds ’n bestelling klaar te maak, het Maswazi altyd vermanend laat hoor: “Karen, time is not our friend.”

Wanneer ek so meegesleur raak, is my reddingsboei my oondklokkie – ’n dringende waarskuwing dat die gereg wat ek dink ek skaars ’n paar minute gelede in die oond gesit het, nou gereed is na 30 minute of selfs ’n uur.

Ek het so ingestel geraak op die geluid van daardie klokkie dat ek alles los en, gewapen met oondhandskoene en vol afwagting, daardie oonddeur oopmaak ...

Toe vriendin Leona vir my en Bliksem blyplek gegee het met dié dat ’n onverantwoordelike eiendomsagent se versuim ons dakloos gelaat het, het sy my onvoorwaardelik toegang tot haar kombuis gegee.

........
Op ’n dag, terwyl ek besig was om pruimtertjies te bak, hoor ek die een spesifieke voël sommer baie naby en ek loop verwonderd om te soek. Dit het geklink asof die voël sommer hier by my in die huis is. Toe ek uiteindelik besef dis nie ’n voël nie, maar die geluid van die oondklokkie wat my waarsku dat die tertjies gereed is, was dit ampertjies te laat!
........

In dié tyd het ek ook nuwe voëlgeluide leer ken, voëls wat elke dag in haar tuin kom rondhang het. Op ’n dag, terwyl ek besig was om pruimtertjies te bak, hoor ek die een spesifieke voël sommer baie naby en ek loop verwonderd om te soek. Dit het geklink asof die voël sommer hier by my in die huis is.

Toe ek uiteindelik besef dis nie ’n voël nie, maar die geluid van die oondklokkie wat my waarsku dat die tertjies gereed is, was dit ampertjies te laat!

Ek het vir Leona die storie vertel en gehoop sy kom my sê watter voël dit is wat soos ’n oondklokkie klink. Sy wou haar dood lag vir my verwarring, maar kon my nie sê nie. Daardie dag doop ek toe sommer daardie ontwykende voëltjie Oondklokkie.

Toe ek eindelik my eie blyplek kry, kon ek my geluk nie glo toe ek sien die oond is presies dieselfde as Leona s’n nie. Dit het beteken ek het nie nodig gehad om van voor af aan ’n nuwe oond gewoond te raak nie.

Ek het net een proeflopie gedoen om te sien hoe die oond bak en die heerlikste skons vir ontbyt gehad. Selfs die oondklokkie het dieselfde geklink! En tussen al die voëlgeluide deur in die veld voor my huis het Oondklokkie ook sy stem laat hoor.

Van toe af het dit byna ’n obsessie by my geword om uit te vind watter voëltjie sing só. Ek het ’n baie oulike toepassing wat voëlgeluide identifiseer, op my foon afgelaai. En elke keer wanneer ek Oondklokkie hoor, het ek eers holderstebolder foon gesoek en buite toe gestorm.

Ek was óf net-net te laat óf die mossies het so gekwetter dat die toepassing my probeer wysmaak het dis mossies wat ek hoor. Elke keer.

Hierdie geveerde ventjie, het ek besef, is besig om my vir die gek te hou. Hy wag net tot ek op my besigste is in die kombuis, met deeghande of hande diep gegrawe in ’n maalvleismengsel besig om frikkadelle te rol. Dan moet ek eers hande was, foon soek en uitstorm – en dan met net ’n dawerende stilte begroet word.

Die paar keer wat ek wel daarin geslaag het om die toepassing aan die gang te kry voordat Oondklokkie weer in die niet verdwyn, is die antwoord telkens net mossies.

Een nag, net voor ek aan die slaap raak, kom dié gedagte by my op: Sê nou net ... Ek is toe wawyd wakker en gryp my foon om Google aan te tree. Ek soek toe vir voëls wat geluide naboots. En daar staan dit toe: Spreeus en mossies boots dikwels alledaagse geluide, byvoorbeeld selfone, na.

Ek weet toe dis nie spreeus nie, want ek is bygelowig wanneer dit by spreeus kom. Die paar keer wat ek hulle naby my sien sit het, het taamlike omwentelinge in my lewe gebring. Veral as hulle drie bymekaar is – maar dis ’n storie vir annerdag.

Dit moet die mossies wees, besluit ek toe, en ek vertel vir almal wat die soektog met my meegemaak het, ek het eindelik die antwoord gekry. Maar hier diep binne-in my het die onsekerheid bly knaag.

........
Ek soek toe sy foto op Google – dis ’n donkerbruin tiptol. En ek lag toe sommer kliphard toe ek sien in algemene omgangstaal word hy ’n bottergat genoem dit lyk kompleet asof hy met sy spreekwoordelike gat in die botter geval het!
........

Maande later sit ek eendag op die stoep en koffie drink. En toe hoor ek Oondklokkie hard en duidelik, sommer baie naby. Die volgende oomblik kom sit hy ewe doodluiters en drink aan die suikerwaterbottel wat ek vir sy verematers aan die boom gehang het.

Hy het sulke wit kringetjies om sy ogies, maar hy is groter as die glasogies wat gewoonlik kom suikerwater soek. Die kop en lyfie is donkerbruin, maar hier reg aan die onderkant, aan sy gatkant, is hy heldergeel.

Ek soek toe sy foto op Google – dis ’n donkerbruin tiptol. En ek lag toe sommer kliphard toe ek sien in algemene omgangstaal word hy ’n bottergat genoem – dit lyk kompleet asof hy met sy spreekwoordelike gat in die botter geval het!

Met Oondklokkie wat nou Bottergat geword het, kan ek met ’n geruste hart my brood in die oond sit en weet: Bottergat is buite en Oondklokkie is nou mý oondklokkie.

Met hierdie maklike broodresep het ek al tientalle siele tot brood bak bekeer. Geen voer van ’n morsige suurdeegplantjie nie. Geen geknie. Roer net, laat staan en bak.

Bly stil, Bottergat!

Karen se brood

Lewer 2 standaardgrootte brode

5 koppies steengemaalde witbroodmeel
2 koppies steengemaalde koekmeelblom
1 eetlepel sout
1 sakkie (10 g) kitssuurdeeg
850 ml warm water (net so ’n rapsie hittiger as louwarm)
2 eetlepels olyfolie (en ’n bietjie ekstra vir die panne se smeer)

Smeer 2 standaardgrootte broodpanne met olyfolie. Meng die mele, sout en suurdeeg in ’n groterige bak en maak ’n holte in die middel met ’n lepel. Gooi die water en die twee eetlepels olyfolie in die holte en meng met die meelmengsel.

Die deeg is soos ’n baie dik pap. Verdeel die mengsel tussen die twee pannetjies. Bedek met gesmeerde kleefplastiek en laat dit vir 30 minute op ’n warm plek staan totdat dit dubbel die grootte gerys het. Dit rys natuurlik vinniger in die somermaande, en jy kan na 20 minute loer of dit genoeg gerys het. Verhit die oond tot 200 ˚C. Bak die brood vir 45 minute of tot goudbruin en mooi uitgerys.

Haal die brode uit die pannetjies en plaas net so op die oondrak en bak vir nog ’n verdere 5–7 minute om die korsie lekker bros en krakerig te maak. Laat die brood behoorlik afkoel voordat jy dit sny. (Selfbeheersing, suster!)

Die brood hou maklik twee tot drie dae – as dit nie onmiddellik opgeëet word nie! En ’n maand lank in die vrieskas. Ek het ook al volkoringmeel in plaas van die witbroodmeel gebruik – net so lekker!

Wenk: Jy hoef nie steengemaalde meel te gebruik nie, maar dit smaak beslis beter.

Lees ook:

Sluk daai ertjies (saam met pasta, spek en room)

Swartboonsop vir die samesyn

Winterkokon en pastavelle: avonture met lasagne

Die lekker lewe – koffie en lamsboud

Koningskos uit ’n knoetserige ou knol – patat-en-tiemie-sop

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top