Sluk daai ertjies (saam met pasta, spek en room)

  • 0

Ertjies ... ergenis op ’n bord. Tot so ’n paar jaar gelede was dit hoe ek gevoel het oor die klein groen albastertjies wat jy met moeite met jou vurk tot by jou mond gekry het. Dis nou nadat jy die glibberige kalante eers so ’n paar rondtes op jou bord rondgejaag het.

En elke keer wanneer ek só sit en kyk het na my bord Sondagkos – roosterhoender (of lamsboud as jy gelukkig was), rys, braaiaartappels, wortels en ertjies, het hierdie langverlore fliektoneel by my opgekom: Dit was uit een van die woordelose komedies. Ek kan nie onthou of dit ’n fliek met Laurel & Hardy, Groucho Marx of Charlie Chaplin was nie. Die toneel het afgespeel tydens ’n deftige dinee. Al die gaste was in formele aanddrag.

Die een vrou het so ’n Griekse tuniekerige aandrok aangehad en wat gelyk het na ’n Romeinse helm op haar kop. Sy het ’n verdwaalde kersie met ’n lepel op haar poedingbord rondgejaag. En elke keer wanneer dit net-net wil lyk asof sy die kersie in ’n hoek gedryf het, val die oogskerm van die helm oor haar oë.

.........
Maar soos dit nou maar met alle vooroordele gaan, word jy mettertyd gedwing om jou woorde te sluk en met nuwe oë te kyk – sonder oogklappe.
.........

Ek was ’n vreeslik aanmatigende tiener en het nie gehuiwer om my opinie te lug oor dinge waarvan ek eintlik niks geweet het nie. Ek het gedink ek weet alles, omdat ek op my jonge ouderdom al vreeslik volwasse boeke gelees en ’n bietjie in die filosofie begin delf het.

Van die regte lewe het ek eintlik maar bitter min geweet, maar moenie dink dit het my gekeer nie. “Jy mag nie skei nie” was een van my seepkisoomblikke. As jy eers ’n belofte afgelê het, moet jy daarby hou. Ek het hierdie uitsprake gemaak sonder om eens te dink hoe seer dit van my vriendinne uit gebroke huise moes maak.

Toe slaat die lewe my waar dit die seerste maak. My eerste “sprokieshuwelik” het gou in ’n nagmerrie van emosionele en fisieke mishandeling ontaard. En toe ek daar buite die skeihof sit, het my tienerbravade by my kom spook.

Die tweede en derde egskeidings was minder dramaties, maar elke keer het daardie pedantiese tienerstem in my kop bly draai: “Jy mag nie skei nie ...”

’n Mens sou dink dat jy uit jou foute leer en teen dié tyd nou al besef het sulke uitsprake het die gewoonte om skielik om te draai en jou aan die boud te hap. Maar nee ... en dié wat nie wil hoor nie, moet voel ...

Tot baie onlangs toe nog het ek dit as die heilige evangelie verkondig dat jy nooit ’n verhouding hervat wat die eerste keer nie gewerk het nie. En toe tref hierdie ou liefde my soos ’n tornado en bevind ek my soos ’n wafferse Dorothy in ’n towerland van amperse tienerliefde, glad nie so onskuldig soos Oz nie.

........
Nes jy dink jy is nou deksels goed, stap jy asblik toe met ’n poging waaroor daar liefs nie gepraat moet word nie. Of jy word gedwing om weer te kyk na ’n bestanddeel wat jy tot nou nog toe versmaai het. Soos die ertjies waarmee ek my storie begin het ...
........

Boonop leef en werk ek in my kombuis, ’n kosmos in die kleine, waar jy elke dag op jou knieë gedwing en lesse in nederigheid geleer word. Nes jy dink jy is nou deksels goed, stap jy asblik toe met ’n poging waaroor daar liefs nie gepraat moet word nie.

Of jy word gedwing om weer te kyk na ’n bestanddeel wat jy tot nou nog toe versmaai het. Soos die ertjies waarmee ek my storie begin het ...

Ek het saam gegiggel toe die een of ander nydige sjef na Nigella Lawson verwys het as The Queen of the Frozen Pea. En dít terwyl ek soveel respek vir dié vrou se manier van kook en skryf het.

Natuurlik is ek lief vir ’n regte outydse ertjiesop, so ’n lekker dik ene met gerookte varkskenkel gemaak. Maar dié, het ek myself wysgemaak, word met droë-ertjies gemaak, baie beter as die nuttelose ou groen goedjies.

Toe vertel my groenteman my van die wonderlike wortel-en-ertjie-bredie wat sy skoonsuster vir hom gemaak het. Ek gaan blaai toe deur my kookboeke oor die ryke Maleise koskultuur en kry die resep. My huismense het hul skoon vergryp toe ek dit die eerste keer vir middagete maak.

My volgende ontdekking was ’n lente-groenertjiesop, baie anders as die outydse een waarvoor ek so lief is. Hierdie een is vinnig om te maak en die kombinasie van groenertjies en kruie is absoluut hemels.

En toe ek mense vir ete nooi en ’n groen rysslaai met ertjies en vars kruie op die tafel sit, het die ander kosse eintlik vaal gelyk teen die oorweldigende groen en wonderlike smaaksimfonie.

Maar noudat ek my woorde gesluk het – en daarmee saam ’n hele vurkvrag groen albastertjies – bly my gunsteling-ertjiemaal hierdie eenvoudige pastagereg. Jy kan natuurlik jou eie pasta maak, wat die gereg nóg lekkerder maak – maar as die tyd min is ...

Karen se pasta met ertjies, spek en room

Genoeg vir 4

1 x 500 g pak fettuccine of tagliatelle
1 x 300 g bevrore ertjies, ontdooi
4 eetlepels botter
1 klein ui, fyngekap
1 x 225 g pak swoerdlose strepiespek, in stukkies gesny
sout en varsgemaalde swartpeper
1 koppie room
½ koppie gerasperde parmesaan.

Kook die pasta volgens die aanwysings op die pakkie. Terwyl jy wag vir die pastawater om te kook, kan jy solank begin om die sous te maak: Smelt die botter in ’n groot swaarboompan oor matige hitte. Braai die ui daarin tot goud en deurskynend. Voeg die spek by en braai totdat die stukkies heeltemal verkleur het. Voeg die ertjies by en geur met sout en peper. Onthou net wanneer jy die sout byvoeg, dat die spek reeds souterig is. Kook vir ’n paar minute saam en voeg die room by. Kook die room af terwyl jy heeltyd roer. Wanneer die room omtrent tot die helfte weggekook het, is jou sous gereed. Hou eenkant terwyl jy die pasta gereed kry. Dreineer die pasta en roer by die sous. Voeg die parmesaan by en bedien onmiddellik.

Wenk: Jy kan ook vars ertjies gebruik. Kook die ertjies in soutwater tot sag en gaar voordat jy met die pasta en sous begin.

Lees ook:

Swartboonsop vir die samesyn

Koningskos uit ’n knoetserige ou knol – patat-en-tiemie-sop

Bekbrandrissiepot vir Valentynsdag

Ode aan die ui – Franse uiequiche

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top