- Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.
Januarie is nie kinderspeletjies nie. Vóór Kersfees weet jy al jy gaan die eerste maand van die jaar les opsê ná al die feestelikheid. Want dis ’n smalle weg en ’n baie lang kronkelpaadjie voor jou beursie weer bult.
Maar dis nie net die min geld wat pla nie ... So aan die begin van die nuwe jaar, selfs al het jy geen nuwejaarsvoornemens nie, begin ’n mens tog byna onbewustelik kop (en hart) skoonmaak en besluite neem oor wat jy die nuwe jaar met jou gaan saamdra en wat jy gaan agterlaat.
En dis nie maklik nie ...
Moenie dat die geweeklaag jou onderkry nie. Januarie is ook ’n maand van nuwe uitdagings en alles in oorvloed – somerson, baie blou lug en die sappigste somervrugte in alle kleure en geure.
En – die beste van alles – dis appelkoostyd.
Appelkose laat my altyd aan my oupa en vakansies op Prins Albert dink. Ek glo nou nog nêrens kry jy mooier perskes en lekkerder appelkose as juis daar aan die voet van die Swartberge nie.
........
Moenie dat die geweeklaag jou onderkry nie. Januarie is ook ’n maand van nuwe uitdagings en alles in oorvloed – somerson, baie blou lug en die sappigste somervrugte in alle kleure en geure.
........
My oupa het op die dorp gebly. Hy was immers tien jaar lank burgemeester in die 22 jaar wat hy op die afdelingsraad gedien het. Die bloekoms langs die watersloot in die hoofstraat is nog wat hy laat aanplant het gedurende sy lang ampstermyn.
En hy het, ampsketting om die nek, die koninklike geselskap in 1947 op Prins Albertwegstasie ontmoet. My ouma het my ma nooit vergewe dat sy geweier het om gestrik en gerok ’n ruiker aan die koningin te oorhandig nie.
Die bekende Seven Arches het op ’n tyd aan hom behoort en hy het dit as losieshuis bedryf. En net in die straat agter dié plek was sy roltabakfabriek. Dié roltabak het hy uitgevoer na ver plekke soos Malta en ook die destydse Ceylon (vandag bekend as Sri Lanka).
In Die Afrikaner-Familienaamboek word Franciscus Fredricus Müller de Wit opgeteken as “tabakfabrikant” van 1913 tot 1951.Toe ek my verstand begin kry het, was my oupa al ’n “rustende sakeman” met ’n belangstelling in gholf, aldus dié familienaamboek.
Maar die fabriek het nog bestaan en ek en my boetie het baiekeer gaan kyk hoe die roltabak voorberei word. Dit was nie ’n fabriek met masjiene en goeters nie. Dit was doodeenvoudig ’n ruim vertrek waar werkers gesit het en met die hand die tabak gevleg en op houttolle gedraai het.
Waar my oupa sy liefde vir gholf uitgeleef het, weet ek nie. Die Karoo, selfs ’n lushof soos Prins Albert, is nou nie juis bekend vir weelderige setperke nie. Miskien het ’n klippiesveld net so goed gewerk.
Maar my oupa het nie altyd op die dorp gewoon nie. Hy het grootgeword op die plase Frisgewaagd, Weltevreden en Scholtzkloof. My ma was ’n bietjie vaag hieroor – my pa was die een wat intens in familiegeskiedenis en herkoms belang gestel het. Vreemd genoeg het sy, toe die demensie haar in sy kloue beetgekry het, dinge onthou en gedeel wat vir my die legkaartstukkies in plek laat val het.
Wanneer ons in appelkoostyd by my oupa gekuier het, het ons altyd by die familie op dié plase ’n draai gaan maak. Ons kinders het dan agterop die boer se bakkie gesit en terwyl hy so deur die boorde ry, kon ons perskes en appelkose pluk en eet soveel as wat ons wou.
Met aandete terug by die huis was dit ’n saak van “Gebed vir ’n Groenperske” (met apologie aan Annesu de Vos). Ons het dubbel gevou van maagpyn van oordoen en niemand kon ’n krieseltjie kos eet nie. Die mandjies vrugte wat saamgestuur is van die plaas af, het ’n dag of twee maar min aandag gekry.
Tot die belusting ons weer gepak het ...
Ek het kort ná Nuwejaar die lekkerste appelkose en perskes by ’n vriendin present gekry. Sy het ’n hele paar bokse vol van die plaas af gekry en net eenvoudig uitgedeel. Myne was eintlik bedoel vir konfyt en blatjang kook.
Maar wanneer die sente min is en jy beslis nie ’n Lindt-balletjie kan bekostig om jou soettand te bevredig nie, dan is ’n blosende appelkosie net die ding. En dis nie lank nie of daar is maar min oor om flessies vol te maak.
Ek het ook agtergekom watter heerlike disse jy met vars appelkose kan optower. En hierdie een, dink ek, is die heel lekkerste. Dis wat jy kook vir die mense wat jy die nuwe jaar in met jou gaan saamneem – dié wat regtig saak maak.
Karen se hoender-en-appelkoosskottel

Karen Hart se hoender-en-appelkoosskottel (foto: verskaf)
Genoeg vir 4
3 eetlepels olie
8 hoenderstukke (ek kies altyd 4 dye en 4 boudjies, maar dis jou keuse)
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
½ koppie witwyn
3 groot uie, gehalveer en in skywe gesny
3 mollige knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder
1 x 3 cm vars gemmer, fyngekap
2 teelepels Cajun-speserymengsel (sien wenk)
1 koppie hoenderaftreksel
10–12 ryp appelkose, gehalveer en pitte verwyder
1 eetlepel vars tiemieblaartjies (of 1 teelepel droë tiemie)
2 eetlepels balsamiese asyn
’n paar takkies tiemie vir garnering
Verhit die olie in ’n platterige oop swaarboomkastrol wat ook in die oond kan gaan. Geur die hoenderstukke met sout en peper en braai alkant goudbruin. Haal die hoenderstukke versigtig uit en giet die witwyn in die pot. Roer al die potskraapsels los en laat die wyn wegkook. Voeg nog ’n bietjie olie by as dit nodig is en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die rissie, knoffel en gemmer by en braai nog ’n minuut of twee voordat jy die Cajun-speserymengsel en die aftreksel in de pot gooi. Plaas die hoenderstukke weer terug in die kastrol en rangskik die appelkooshelftes tussenin. Sprinkel die tiemie bo-oor en geur met nog ’n bietjie sout en peper as dit nodig is. Sprinkel die balsamiese asyn bo-oor. Plaas die pot in ’n voorverhitte oond van 200 ºC en bak vir 40–50 minute of totdat die hoender deurgaar is. Bedien met ’n lekker witrys.
WENK: Maak jou eie klein houertjie Cajun-speserye.
Lewer ongeveer 4 eetlepels
1 eetlepel varsgemaalde swartpeper
2 teelepels paprika
2 teelepels knoffelpoeier
2 teelepels sout
1 teelepel droë tiemie
1 teelepel droë oreganum
1 teelepel mosterdpoeier
½ teelepel rooipeper
Gebruik net wat jy nodig het en bewaar die res in ’n glasflessie met ’n skroefdeksel.
Lees ook:
Toorkombuis: Goud-in-die-mond – roomys vir die feestyd-blues