Toorkombuis: Brand dit skoon – gnocchi met geskroeide botter en salie

  • 0

  • Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.

My salie het in volle blom gestaan. Dis vir my so ’n mooi kruieplant, selfs mooier as laventel. Die groen van die blare lyk asof dit deur die volmaan gestreel is en blomtyd maak die pers trosse hul verskyning.

Maar die suidooster het gou klaargespeel met die mooi. Die een dag het ek my nog verlustig in die pers weelde en toe ek my weer kom kry, het ek gesukkel om die verskrompelde blare weer lewe te gee. Van die blomme was daar geen teken nie.

Hierdie tyd van die jaar vang my elke keer ’n bietjie onverhoeds. Nie omdat die suidooster soveel verwoesting saai nie. Nie omdat ek met ’n skok besef hoe vinnig die tyd gevlieg het nie. (Nuwejaar voel soos gister en nou is dit al amper weer Kersfees.)

Dis ook groettyd.

Miskien is dit omdat my pa in hierdie maand voor Kersfees dood is. Van toe af is ek oorbewus van mense wat in hierdie tyd te sterwe kom. My hart breek elke keer in duisend stukkies, want ek weet hoe seer en leeg daardie eerste Kersfees sonder hom was.

En met elke sterfte raak ’n mens net meer bewus van hoe kosbaar en hoe kort die lewe is.

Ek het oor die naweek Getuie van Christine Barkhuizen-Le Roux gelees. Dis ’n aangrypende roman, ja, maar ek het net weer oneindig hartseer geword oor haar voortydige dood.

Ons was saam eerstejaars in Erica op Stellenbosch en die laaste keer wat ek haar gesien het, was op die jaarlikse partytjie van ’n uitgewer. Ek en sy en haar suster het die hele aand gesels, baie gelag en planne gemaak om mekaar weer te sien.

Dit het nooit gebeur nie.

’n Paar weke gelede is Phillip Henn skielik dood. Ons het oor die jare kontak verloor. Maar eens op ’n tyd, toe ons jonk en vol planne was, was ons groot maats. En die een ding van hom wat my altyd sal bybly, was sy onblusbare passie vir die lewe.

Daardie vlam het ook nou uitgebrand.

Ek wil nie hier verval in ’n morbiede gesanik nie. Dis nie waaroor dit gaan nie. Al hierdie dinge het my net weer laat besef hoe belangrik dit is om die lewe met albei hande aan te gryp en met oorgawe te leef.

Daar is nie plek of tyd vir stowwerigheid of opgegaarde rommel nie. Dis nou die tyd om skoon te maak en lig en vry uit te loop en die tyd wat nog oor is, te geniet.

Dis wanneer die groot skoonmaakgier my beetpak.

.......
Ek kyk met ’n vergrootglas na elke klein hoekie wat stof vergaar. En in my kop maak ek planne hoe ek gaan boeke uitpak, rakke afwas. My kaste is oorvol en in my verbeelding stroop ek elke rak van oorbodige ruimtediewe.
.......

Ek kyk met ’n vergrootglas na elke klein hoekie wat stof vergaar. En in my kop maak ek planne hoe ek gaan boeke uitpak, rakke afwas. My kaste is oorvol en in my verbeelding stroop ek elke rak van oorbodige ruimtediewe.

Natuurlik is daar nie altyd tyd om by alles uit te kom nie. Maar die gees is ten minste gewillig. Die eintlike werk lê by die kop en hart. Dis waar die eintlike skoonmaak gebeur. En hier, hoe pynlik ook al, is uitstel nie ’n opsie nie.

’n Oeroue gebruik van inheemse Amerikaanse groepe was die brand van salie om negatiewe energie te verdryf. Vandag nog brand ons wit salie, of sommer gewone tuinsalie, wanneer ons in ’n nuwe plek intrek en ’n skoon nuwe begin wil maak. (Hulle noem dit smudging – ek soek nog na ’n mooi Afrikaanse woord daarvoor.)

Maar volgens die kenners is die brand van salie nie net vir die uitdryf van negatiewe dinge nie. Dit het soveel ander byvoordele. Dis nou natuurlik as jy dit verantwoordelik doen en nie jou plek afbrand in die proses nie.

Jy moet die bossie kruie aan die brand steek, die vlamme blus en die takkies laat smeul. Met die ander hand waai jy die rook om jou en na die plekke in die vertrek wat jy wil “skoonmaak”. Jy kan ook ’n handwaaier gebruik om dit meer effektief te doen.

.......
Die brandende salie help ook om ontslae te raak van kieme, virusse en bakterieë wat in die hoekies skuil. Dit suiwer die lug en jou gemoed – die blote aksie bring jou weer in kontak met jou geestelike wese. Met wie jy werklik is. Die kern van jou menswees. Dis dan wanneer jy besef waar jy sal moet uitgooi en uitsny om werklik vry te wees. Vry om te leef. Dis wat die brand van salie vir jou doen.
.....

Die brandende salie help ook om ontslae te raak van kieme, virusse en bakterieë wat in die hoekies skuil. Dit suiwer die lug en jou gemoed – die blote aksie bring jou weer in kontak met jou geestelike wese. Met wie jy werklik is. Die kern van jou menswees.

Dis dan wanneer jy besef waar jy sal moet uitgooi en uitsny om werklik vry te wees. Vry om te leef. Dis wat die brand van salie vir jou doen.

Die krui self het soveel gesondheidsvoordele en jy kan so ’n ekstra paar jaar by jou leeftyd voeg deur dit mildelik in jou kos te gebruik. Een van my gunstelingmaniere om salie te “brand” is in geskroeide botter oor sagte gnocchi-kussinkies.

Gnocchi met geskroeide botter en salie

Genoeg vir 4–6

Vir die gnocchi
5 groterige aartappels (ongeveer 900 g)
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
¼ teelepel varsgerasperde neutmuskaat
2⅓ koppies koekmeelblom
1 eier
1 eetlepel olie

Vir die geskroeide botter
115 g botter
7 salieblaartjies

Vir opdiening
’n handvol vars gesnipperde salieblare
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
½ koppie vars gerasperde parmesaan

Kook die aartappel met skil en al in soutwater. Laat dit afkoel totdat jy dit kan hanteer en trek die skilletjies versigtig af. Druk die aartappels met ’n aartappeldrukker fyn, geur met sout en peper en neutmuskaat. Keer die aartappelmengsel op ’n meelbestrooide oppervlak uit. Maak ’n holte in die middel en gooi ’n bietjie van die meel, die eier en die olie daarin. Bring die aartappel met jou hande bymekaar om die ander bestanddele toe te vou en in te werk. Voeg elke keer nog ’n bietjie meer van die meel by totdat alles in die mengsel bygewerk is. Jy behoort nou ’n sagte hanteerbare deeg te hê. Laat dit vir 20 minute rus. Bring intussen ’n groot pot water tot kookpunt. Verdeel die deegmengsel in die helfte en rol elke helfte in ’n dun wors uit. Sny die “wors” in stukkies van ongeveer 2,5 cm lank. Druk ’n vurk in die middel van elkeen en vou om die tande van die vurk om ’n “skulpie” te vorm. Of jy kan dit bloot los in die klein kussingvormpies. Gooi die gnocchi ’n paar op ’n slag in die kokende water. Wanneer hulle op die wateroppervlak kom lê, is hulle gaar. Skep met ’n gaatjieslepel op ’n bord uit en kook die volgende sarsie. Hou eenkant. Plaas die botter en salieblaartjies in ’n pan of klein kastrolletjie en verhit oor matige tot hoë hitte totdat die botter neutbruin word. Skep die gnocchi op elke bord en giet die botter oor. Garneer met vars salieblare, geur met sout en peper en sprinkel parmesaan oor.

Lees ook:

Toorkombuis: Murgpampoentjies, o murgpampoentjies ...

Toorkombuis: My kosbare erfenis – basaarkerrie

Toorkombuis: Augustus vra vir sieletroos – my balsemiekhoenderpotjie

Toorkombuis: Ek onthou vir Mamma – en haar peppermint crisp-tert

Toorkombuis: Afrikaans is my kombuistaal

Toorkombuis: Karen se bleddie lekker steak

Toorkombuis: Oor sprokies en pampoenbredie

Toorkombuis: Krismis met die radio en gemmerbroodmannetjies

Sluk daai ertjies (saam met pasta, spek en room)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top