Toorkombuis: My kosbare erfenis – basaarkerrie

  • 1

  • Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.

Hier in Erfenismaand het ek baie om oor na te dink. En voor dankbaar te wees. Vanjaar ervaar ek dit so ietwat anders. Ek dink dis omdat ek, met die jaar wat einde se kant toe haas, die verlange na my pa en ma en die onskuld van my kinderdae nog meer intens ervaar. En dis asof my kop vanjaar vasgehaak het by basaars, veral die basaarkerrie van die kerkbasaars uit my kinderdae.

Ek weet die braaiers het die maand as hul eie geannekseer. Moenie my verkeerd verstaan nie: Ek is baie lief vir braaivleis. As Karookind sal ek my siel verkoop vir ’n lekker lamtjoppie oor die kole gebraai. En daai braaibroodjie ...

Maar ons het so ’n ryke kosgeskiedenis, so baie om te vier. In hierdie reënboogland van ons spog ons met ’n smeltkroes van kulture – ons eie boerekos is gebore uit ’n eeue oue Europese koskultuur – invloede uit ons koloniale verlede. En die slawe uit die Ooste het hul kennis van speserye saamgebring.

Vandag is alles so oop en toeganklik, en moderne tegnologie het dit nog makliker gemaak om nuwe dinge te ontdek en te ervaar. Kosprogramme op televisie het nuwe belangstelling geskep en die groter aanvraag het gesorg vir ’n groter verskeidenheid van bestanddele op die winkelrakke.

Van die eerste televisieprogramme hier by ons was dié van Keith Floyd, wat wynglas in die hand gekook het. Ek was destyds by M-Net se bekendstelling van die program. Dit het afgeskop met ’n heerlike ete in die Café Paradiso in Kloofstraat. Dit was toe Mapula Swanepoel, dogter van die legendariese Madeleine van Biljon, saam met ’n paar vennote die wonderlike nuwe eetplek begin het.

Daardie aand het my koshart warm geklop. Dit was asof ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan het.

........
Maar in hierdie Erfenismaand het my onthou ’n ander kospad geloop, ver terug oor die Karookoppies na die kerksaaltjie op die bult. Dit was een van die grootste gebeurtenisse in die kalenderjaar – die kerkbasaar.
........

Maar in hierdie Erfenismaand het my onthou ’n ander kospad geloop, ver terug oor die Karookoppies na die kerksaaltjie op die bult. Dit was een van die grootste gebeurtenisse in die kalenderjaar – die kerkbasaar.

Volmoed was ’n plaasgemeenskap, en die opslaantafels het gekreun onder vleise en groentes wat die boere daar aangebring het. Dan was daar die tafels met die handwerk, netjiese popklere, babaklere en truie, deur vlytige hande gehekel, gebrei en genaai.

Die popklere het my soos ’n magneet getrek. My ma was nie goed met naaldwerk nie en my ouma Drienie se kuiertjies was te kort om my poppe behoorlik uit te dos. Ek het nie veel van my sakgeld oorgehad nadat ek by daardie tafel was nie.

Gelukkig het die dominee ’n groot hart gehad, en dit was deel van die tradisie dat hy vir elke kind ’n lekkergoedmandjie gekoop het. In daardie dae is die wynbottels in saamgeperste kartonhouers verpak en die tannies het die onderste deel afgesny, ’n handvatsel uit karton gefatsoeneer en vir die “mandjie” ’n veelkleurige kreukelpapierrokkie aangetrek. Dit het heel feestelik gelyk, byna soos ’n miniatuur- Meksikaanse piñata, en die mandjie is gevul met lekkers, tuisgemaak en gekoop.

My pa was gek na ’n basaar en het tot die jaar waarin hy oorlede is, nie een kerkbasaar oor die Kersvakansie by Glentana misgeloop nie. Hy was op sy gelukkigste met sy bakkie basaarpoeding, ’n mengelmoes van jellies, skuimpoedings en trifles.

By Volmoed se basaar, in die ou dae, het die tannies die poedings in sinkbaddens aangemaak sodat daar genoeg vir die boere se bakkies kon wees. En, natuurlik, vir my pa.

Ek moet erken ek het daardie belusting vir basaarpoeding by my pa geërf en luister altyd kwylbek wanneer ’n vriendin se tante vertel hoe sy moet poedings maak vir die jaarlikse kerkbasaar by die Drieankerbaai-gemeente. (Ja, daar hou hulle nog regte basaar.)

My broer en sy maats het gesorg dat hulle naby die pannekoektafel gebly het om die tannies se “flops” af te bedel. Hy was boepens geëet aan die lekkerte en het met sy sakgeld nog onaangeraak by die huis aangekom.

Dan was daar die tafels met die koeke, terte en kleinkoekies, fudge en tuisgemaakte lekkers ... die verskeidenheid was oorweldigend. Ek het gevoel soos Roald Dahl se Charlie in the chocolate factory.

........
Maar tussen al die soete verleiding, moet ek bieg, was die heel lekkerste en die herinnering wat ek na aan my hart koester, daardie bakkie basaar-kerrie-en-rys.
........

Maar tussen al die soete verleiding, moet ek bieg, was die heel lekkerste en die herinnering wat ek na aan my hart koester, daardie bakkie basaar-kerrie-en-rys. Natuurlik was daar nog ander wonderlike kosse. Soos daardie sosaties wat dae lank in ’n kerriemarinade gelê het en oor die kole gebraai is. Roosterkoeke, vetkoeke ...

Maar vir my was daardie Foamalite-bakkie met basaarkerrie die lekkerste lekker. ’n Effe soeterige beesvleiskerrie, geskep op rys met ’n bietjie blatjang, klapper en gesnyde piesang. Ek het jare daarna nog lank gesoek na daardie resep en nie gerus voor ek dit, na etlike pogings in my eie kombuis, vervolmaak het nie.

Natuurlik kan my eie pogings nooit meeding met die geure en smake van my herinneringe nie. Ek kan nooit weer op een van daardie opvouhoutstoele in die stowwerige kerksaaltjie sit en die basaarkerrie eet wat my pa en ma vir my gekoop het nie.

Daardie onthouplek van my kinderdae lyk nou so anders. En my pa en ma is nie meer daar nie.

Karen se basaarkerrie vir Erfenismaand

Genoeg vir 6

1 eetlepel botter
2 eetlepels olie
3 groot uie, gehalveer en in skywe gesny
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en naatjies verwyder en fyngekap
1 x 3 cm-knoets vars gemmer, in stukkies gekap
3 eetlepels appelkooskonfyt
1,5 kg beesstowevleis
1 koppie beesvleisaftreksel
2–3 koppies bevrore gemengde groente
1 eetlepel matige kerriepoeier
1 eetlepel suiker
1 eetlepel koekmeel
1 eetlepel asyn
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak.

Verhit die olie en botter in ’n swaarboompot en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Voeg die knoffel, brandrissie en gemmer by en braai nog ’n minuut of twee saam. Roer die appelkooskonfyt deur die uiemengsel en voeg die vleis by. Meng goed en giet die aftreksel by. Sit die deksel op, verlaag die hitte en stowe vir 1½–2 uur of totdat die vleis amper sag is. Roer die groente by en stowe vir nog 20 minute. Meng die kerriepoeier, suiker, koekmeel en asyn en roer goed deur die mengsel in die pot. Stowe vir nog 30 minute en geur met sout en peper na smaak.

Wenk: Bedien met rys, blatjang, geroosterde klapper en piesangskywe in ’n bietjie suurlemoensap geweek.

Lees ook:

Toorkombuis: ’n onderhoud met Karen Hart

Toorkombuis: Afrikaans is my kombuistaal

Toorkombuis: Augustus vra vir sieletroos – my balsemiekhoenderpotjie

Toorkombuis: ’n Kerrie-warm tuiskoms

Toorkombuis: My wingerd word herfs in rosyne

Toorkombuis: Ek onthou vir Mamma – en haar peppermint crisp-tert

Toorkombuis: Oor sprokies en pampoenbredie

Toorkombuis: Karen se bleddie lekker steak

Toorkombuis: ’n Oorvloed van appelkose en onthou

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top