
Foto van Karen Hart: verskaf
Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet. Sy vertel vir Naomi Meyer wie sy is.
Karen, jy skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet. Jou rubrieke handel altyd oor meer as net die kos. Dis persoonlike vertellings en die kosgedeelte van die rubriek vloei uit jou persoonlike reise met mense en kos. Waar kom jou liefde vir kook en bak dan vandaan? Wat was jou eie eerste bak- of kooksukses?
Dis moeilik om te sê wanneer ek nou eintlik besef het kook en bak is my lewe. Die skryfgedeelte is makliker. Dit was nog altyd deel van my, soos asemhaal. Ek het dagboeke vol geskryf, briewe, skoolopstelle ...
Maar wanneer ek nou terugdink, het kook en bak my baie vroeg al gefassineer. Ek kan baie ver terug onthou – van my eerste herinneringe strek so ver terug as toe ek as tweejarige in Shannon op ’n plot buite Bloemfontein gebly het. My liefde vir roereier as die beste koesterkos het daar begin.
Ek was so drie jaar oud toe ons op Victoria-Wes gaan bly het. En daar het ek en my boetie gereeld weggeloop en in die buurvrou se kombuis gaan sit terwyl sy brood bak. Daardie sny warm brood met botter sal ek nooit vergeet nie. Dit en die prent van die breede en smalle weg wat teen haar muur gehang het.

Foto: Canva
Daar was die stampmielies in die Aga-stoof op Volmoed, my ouma wat my leer komkommerslaai maak het somervakansies by De Bakke, die proesel waterblommetjiebredie wat ons bure op Kuilsrivier vir ons gestuur het, en die vreemde nuwe kosse by my Roemeense skoolmaat. En die wonderlike braaihoender by ’n jaarlikse funksie in die Jan Kriel-bos – ek wonder tot vandag toe nog oor daardie marinade.
Ek was in standerd 7 (nou graad 9) toe my ma hospitaal toe is vir ’n rugoperasie en ek vinnig moes leer om kos te maak. Dis toe dat ek agterkom my ma se kosmaak was meestal ’n paar blikkies wat sy vinnig bymekaar gegooi het. (Sy sou waarskynlik baie goed kon gekook het as sy nie so gerebelleer het teen die dodelike roetine nie.)
Die blikkies het niks vir my gedoen nie, ook nie tot groter dinge geïnspireer nie. Maar in daardie selfde jaar moes ons ’n demonstrasie doen as mondeling vir Engels. Een van die leerlinge, so ’n rooiwangseun wie se naam ek nou vergeet het, het ’n trollie by die deur ingestoot en gedemonstreer hoe om komkommertoebroodjies te maak. Op daardie oomblik het ek gevoel hoe iets in my roer – die onversadigbare begeerte om meer te weet en te doen.
Ek het nie juis vrye toegang tot die kombuis gehad nie, behalwe die tye wanneer my ma in die hospitaal was, en dan was ek beperk tot wat ons gesin moes eet en wat in die koskaste was. Toe ek ’n resep raaklees van ’n sjokoladekoek, moes ek by die bure ’n koekpan gaan leen. Ek was so trots op daardie koek!
Maar ek het eers jare later werklik uiting gegee aan hierdie nuutgevonde liefde – daar was skoolwerk, toe universiteit, en daar was nie regtig plek in my lewe vir kook of bak nie. Dit was eers toe ek in my eerste onderwysjaar op Graaff-Reinet beland en ná ’n blitsromanse getrou het dat ek blitsvinnig myself moes leer kook.
Ek het by die enigste boekwinkel op die dorp ingestap, ’n Kook en geniet gekoop en met mening die klomp wildsvleis in ons vrieskas getakel. Dit was die begin ...
Die ontdekking dat ek skryf en kook kan kombineer het eers gekom toe ek Julie Powell se Julie & Julia gelees het. Die fliek met Meryl Streep het eers drie jaar later gekom – ek het die hele fliek deur sit en huil. Maar dit was die boek wat my geïnspireer het en ek het ’n blog, Toorkombuis, begin. Ek was nie heeltemal seker hoe die proses werk nie en was verstom oor die reaksie op my skrywe. Ek het gedink dit was maar soos ’n elektroniese dagboek. Die wonderlike terugvoer het my aangespoor om meer en meer oor my kos te skryf.
Een van die grootbase by Media24 het my blog raakgesien, en toe die nuwe tydskrif Kuier begin is, het hy my gevra om vryskut as kosredakteur te werk. Ná baie slapelose nagte en angsaanvalle het ek my eerste kosfotosessie gedoen. Dit was tegelyk die vreesaanjaendste en opwindendste dag!
Die res, om nou die ou holrug perd weer op te saal, is geskiedenis.
Jy het by LitNet rubrieke begin skryf omdat jy ’n vorige redaksielid geken het, wyle Chris Brunette. Wat kan jy van julle twee se pad deel?
Ek raak sommer weer van voor af hartseer wanneer ek aan Chris dink. Sy dood het te gou gekom. So skielik. Hy was so talentvol en ’n ware omgee-mens. Ek en Chris het mekaar ontmoet toe hy as Christiaan J de Swardt se metgesel na die Mej Wêreld-kompetisie by The Lost City genooi is.
Ek was toe vermaakredakteur by Huisgenoot en You en ons was M-Net se gaste by die glansgeleentheid. Ek het my ma saamgeneem en Christiaan, wat destyds by Keur gewerk het, het Chris saamgenooi.
Ons is by Bakubung, ’n luukse wildreservaat naby The Palace, gehuisves en ons vier – ek en my ma en Christiaan en Chris – het sommer van die begin af gekliek. Ons het die wonderlikste wildritte ervaar en was soos uitgelate kinders wanneer ons elke keer gehardloop het om by The Bridge of Time uit te kom wanneer die rookwolkies ontplof.
Ek was in daardie stadium toegegooi by die werk en het dringend gesoek na iemand om my te help. Chris het toe as vryskut gewerk en ek het hom genader. Dit was die beste besluit – ons het ’n gedugte span uitgemaak.
Ons het saam baie dinge beleef, selfs saam die koerant gehaal toe ’n dwaalkoeël tydens ’n betoging deur ons kantoorvenster in die muur agter ons vasgeslaan het. As een van ons twee van agter die lessenaar opgestaan het, was ons daarmee heen.
Ons het deur die jare kontak behou en toe Chris my nader om vir LitNet oor kos te skryf, was dit vir my ’n groot oomblik – tegelyk opwindend en vreesaanjaend. Dit was juis met die aanstuur van ’n rubriek dat ek van sy dood gehoor het. So skokkend en hartseer.
Wat is sommige van die LitNet-rubrieke wat vir jou persoonlik uitstaan en wat jy kan onthou – weens die resepte of weens die stories agter die resepte?
Die legendariese rolprentregisseur Dirk de Villiers het sewe jaar lank ’n groot rol in my lewe gespeel en ek het ’n hele paar kosstories oor ons avonture saam geskryf. Hy was ’n man wat die lewe met alles aangegryp het en oral waar hy gegaan het, mense meegesleur het met sy onblusbare passie vir die lewe.
Daar was die storie oor die padkos wat ek vir hom en sy Belgiese vriende ingepak het toe hulle saam na die klip in die Oranjerivier gaan soek het, die sop wat ek vir hom en Dawid Kruiper gekook het, en die twee operastudente wat vir hom onder die sterrehemel op Victoria-Wes die liefdesduet uit Don Giovanni gesing het.
En dan is daar nou die ou liefde wat uit die niet opgeduik en my weer wakker geskud het. Ek het vyf jaar lank na my ma gekyk en elke dag met die verskrikking van demensie en die afbreek van die ouderdom saamgeleef. Dan begin jy later leef en dink soos ’n oumens, met geen ander gedagte as die verganklikheid van die lewe nie. Dié man het soos ’n tornado my oumenswêreld aan flarde geskeur en my op ’n dolle wipwaentjierit geneem. Ek het weer van voor af geleer om spontaan en vry te leef. Boonop is hy net so lief vir kook en ons het wonderlike avonture saam in die kombuis.
Jy het ook ’n eie besigheid, ’n toorkombuis in jou huis – of hoe? Hoe werk dit? Is dit ’n opwipkombuis? Watter kos maak jy, wat verkoop jy, en kan mense dit bestel?
Ek en my ma het net voor Covid na Plumstead toe getrek en ek het nooit regtig kans gehad om ons bure te ontmoet voor die tyd van afsondering ons getref het nie. In daardie tyd het ek nog as kosredakteur vir Kuier gewerk en daar was gelukkig net een maand dat ons nie ’n kosfotosessies kon hê nie. Ek het ook op bestelling vir ’n tuisnywerheid in Constantia Village gebak.
Ons straat het ’n baie bedrywige WhatsApp-groep en ek het toe begin om op Saterdae die gebak wat ek oorgehou het ná die bestelling vir die tuisnywerheid op die groep te adverteer. Dan het ek ook so ’n paar goedjies by gebak en verkoop. Dit het nogal vinnig posgevat en gegroei en ek het ook ’n paar privaat bestellings vir verjaardagkoeke en so aan gekry.
Toe ek ná my ma se dood daar wegtrek en ’n paar blokke verder gaan bly, het hulle my steeds ondersteun. Ek en ’n vriendin het toe die koekverkope voortgesit – een keer ’n maand op ’n Saterdag hou ons ’n opwipmarkie hier by my huis. Dit het klein begin, maar gou tot ’n gesellige affêre gegroei.
Maar ek het die kook gemis. My loopbaan as kosredakteur vir Kuier het doodgeloop toe die tydskrif deur ’n ander afdeling oorgeneem is. Ek het toe begin om ’n weeklikse spyskaart op my Toorkombuis-WhatsApp-groepie te adverteer en op bestelling te maak.
Dit het ’n hele rukkie geneem en aan die begin het dit maar stadig gegaan. Maar gou het die mense begin praat oor my kos en ek kry elke dag nuwe klante by. Ek het nou ’n spyskaart vir vier dae van die week en dan het ek nog ’n hele paar privaat klante wat kos vir ’n week of vir die maand bestel. Of vir ’n spesiale verjaardagete of ander viering.
Ek maak lasagne, tuisgemaakte tagliatelle met room- of tamatiesousbasisse, moussaka, botterhoender, lamskenkelpastei, hoenderpastei, boerpastei (cottage pie), kerries, soppe, bredies ... noem maar op.

Foto: Canva
My kombuis is nie veel groter as ’n posseël nie. Ek het ’n klein oondjie en twee stoofplate. Die mense lag en sê dis waarom die naam Toorkombuis is – dis ongelooflik wat ek in daardie klein kombuisie vermag.
Ek werk hard. Baie keer kook ek van drie-uur in die oggend tot sewe-uur die aand, heeltyd op my voete. Party dae kry ek skaars kans om vir my ’n koppie tee te maak. Maar wanneer ek daardie potte nadersleep, is dit asof ek lewe kry. Dis soos suurstof vir my. (Dis net die skottelgoed wat my onderkry!)
Jy is ook lief vir jou kat, weet ek. Wat is sommige van jou ander belangstellings, benewens kos en kook en bak? Wat is jou grootste droom en wat sou jy graag nog wou doen – as geld en tyd geen faktor was nie?
Ek is eintlik baie vervelig. Bliksem is my lewe – daardie gemmerkat is die rede waarom ek vandag nog hier is. Terwyl ek na my ma gekyk het, veral in die laaste paar maande voordat sy in die versorgingsoord opgeneem is, het ek dikwels gewonder of die lewe nog die moeite werd is. Dit was baie moeilike tye.
Ek het geweet as ek dit hier en nou sou beëindig, sou my ma wel versorg gewees het en al die ander mense in my lewe sou kon voortgaan, maar ek kon niemand met Bliksem vertrou nie. Dan byt ek maar vas. En ek sal altyd dankbaar wees dat Bliksem my nie heeltemal laat moed opgee het nie.
Ek is baie lief vir poësie, veral in Afrikaans. My taal is musiek. Maar ek hou ook van Nederlandse digters en Engels. So ’n bietjie Duits. Ek is baie lief vir musiek, veral opera, en ek kook nooit sonder musiek nie.
Ek wil nog ’n kookboek skryf, hierdie keer my Toorkombuis-kookboek, die suiwer betowering en wonderlike alchemie waarmee ek elke dag werk. En wanneer die seer minder rou is, wil ek oor my ma se demensie skryf.
Ek kan nou vir jou ’n hele paar dinge opnoem wat ek graag sou wou doen as tyd en geld nie ’n probleem was nie. Soos ’n kosreis deur die Toskane of Provence. Of om ’n opera in die Met of La Scala te ervaar.
Maar die waarheid is dat ek net ’n tydjie soek om in die son te sit en boek lees, of op my rug te lê en na die wolke te kyk terwyl ek ongehinderd na my musiek luister – sonder om te dink aan al die dinge wat op my wag om te doen.
Ek weet dis vreeslik vervelig, maar ek kan my nie ’n groter weelde of plesier voorstel nie.
Lees ook:
Bergklimmer, voorligtingsielkundige, navorser, artikelskrywer: wie is Handré Brand?
Toorkombuis: Ek onthou vir Mamma – en haar peppermint crisp-tert


Kommentaar
Ek is 'n groot liefhebber van Karen Hart se kosskrywes en haar heerlike resepte. As jy dit nog nie probeer het nie, soek haar tamatiebredieresep op LitNet. Lees eers die lekker artikel, dan kook jy die dis. Watertand winterkos. Én salige somerkos. En die seisoene tussen-in.
Baie dankie, Cobus! Jy sal nooit weet hoeveel jou woorde vir my beteken nie. Ek koester dit in my hart.