Ek moet huis oppak en na ’n heelwat kleiner plekkie trek. My popspeel-plaashuis-sonder-die-plaas het te groot en te duur geword.
Hier, in die huis met sy mooi plankvloere en hoë mure, het ek en my ma drie jaar lank skuiling gesoek teen Covid en demensie. Ons het net voor Covid hier ingetrek en dis ook hier waar my ma se skielike oorgang na erge demensie feitlik saam met die koorstyd gekom het.
Ons het die Covid vrygespring, maar teen die demensie het ons geen verweer gehad nie. Ek moes eindelik, ná vyf jaar, toegee ek kan haar nie die sorg gee wat sy nou moet kry nie. Sy is nou in ’n versorgingsoord waar sy met deernis en respek behandel word. En ek kan rustig by haar gaan sit en gesels en die saamwees geniet.
Ek sal lieg as ek sê ek het nie uitgesien na die dag dat ek weer op my eie kan wees nie. Maar niks het my voorberei op die verskriklike “rouproses” wat ek eers moet deurmaak voordat ek die lekkerte van my nuwe vryheid kan ervaar nie.
..........
Ek sal lieg as ek sê ek het nie uitgesien na die dag dat ek weer op my eie kan wees nie. Maar niks het my voorberei op die verskriklike “rouproses” wat ek eers moet deurmaak voordat ek die lekkerte van my nuwe vryheid kan ervaar nie.
............
Ek het nie regtig tyd gehad om myself jammer te kry nie – ek moes onmiddellik inspring en begin om ’n nuwe blyplek te soek. Ek het altyd gedink dit sal vir my baie swaar wees om hier weg te gaan – ek was so gelukkig in die lieflike, ou huis met sy tuin en die baie voëls.
’n Klein paradys, ja, maar hier het ek ook bitter swaargekry. En ek besef nou die hartseer en ongeluk het op die ou einde alles oorheers. Dit het tyd geword om daardie deur agter my toe te trek.
Die tyd van verhuising het ook beteken ek sal drasties moet afskaal en van my goed ontslae moet raak. Ek het probeer uitstel so lank as wat ek kon, want elke ou dingetjie in my huis het ’n geskiedenis en loop ’n lang pad saam met my.
Op my spieëltafel staan die porseleinpoppie wat ’n skoolmaat vir my gegee het toe ek 10 jaar oud was. Dit was haar afskeidsgeskenk aan my toe ons uit die Karoo na die Kaap toe getrek het. Sy het dit waarskynlik uit haar ma se vertoonkas gegaps, maar dié klein dingetjie trek al jare lank saam met my. Dis klein genoeg om te hou, het ek besluit.
En so het elke ornamentjie sy eie geskiedenis – ook van die groter goed. My pa se eerste tikmasjien, my oupa se Hollandse Bybel, my ouma se laaikas, bordjies, bekertjies, potjies by dosyne. Elke keer het ek ’n hele storie wat my laat besluit om eerder te hou as om te laat gaan. Toe ek klaar is met my “inventaris”, het ek feitlik nog met alles gesit.
Dis toe dat ek Gertruida se hulp inroep. Dis my gehate middelnaam en dis ook my alterego, die een op wie ek staatmaak wanneer Karen te sag en te swak is om moeilike besluite te neem. Toe sy eers ingryp, was dit net ’n kwessie van hart toemaak en uitsmyt.
Aanvanklik was dit moeilik, maar toe ek eers aan die gang kom, het ek besef hoe vry dit ’n mens maak. En tot nou toe was ek baie gelukkig – elke dingetjie wat ek verkoop het, het gegaan aan ’n vreemdeling wat maklik ’n vriend sou kon word en aan wie ek my hartsgoed met die grootste vrymoedigheid kon toevertrou.
Ek het die grootste tas wat ek kon kry, volgepak met DVD’s en CD’s wat ek weet my ma en haar portuur sal geniet. Daarmee is ek die berg oor na die versorgingsoord waar sy nou bly. In die sitkamer, waar my ma en die ander inwoners elke dag sit en deur die groot vensters na die berge rondom Vishoek kyk, het die versorgers my met groot opgewondenheid help uitpak. Die eerste CD wat hulle speel, is dié van ABBA.
Die toneel wat toe daar voor my afspeel, was soos iets uit ’n Europese fliek. Die versorgers dans daar in die middel van die vloer en een van hulle, met ’n besondere mooi stem, sing kliphard saam. Een van die ander hardloop en kom laggend terug met ’n speelgoedmikrofoon en druk dit in haar hand.
En die pasiënte sit en wieg op die maat van die musiek. Van hulle klap selfs hande. Almal is vasgevang in die betowering van die oomblik. En ek sit daar met trane wat onbeheersd oor my wange rol.
Maar die moeilikste lê nog voor – om van my boeke te laat gaan. Ek kon dit nog nie oor my hart kry nie. En die blote gedagte aan die leë motorhuis by my nuwe blyplek het my sommer nuwe hoop gegee. Nie eens Gertruida kan hier die sweep slaan nie.
Met die geblaai deur my resepteboeke (om kamtig te besluit wat ek moet laat gaan), kom ek toe af op ’n los velletjie papier wat tussen die blaaie ingedruk is. Dis ’n resep vir ’n suurlemoenpoeding, so ’n regte basaarpoeding.
Ek moes dit net eenvoudig maak en het die resep so ’n klein bietjie aangepas. Dié poeding kom lê soos ’n liggeel wolkie, met die tinteling van suurlemoen, op jou tong. En jy kan net eenvoudig nie genoeg kry nie. Ek het gesien hoe die bak krimp en nie eens skuldig gevoel nie.
..........
Dié poeding kom lê soos ’n liggeel wolkie, met die tinteling van suurlemoen, op jou tong. En jy kan net eenvoudig nie genoeg kry nie. Ek het gesien hoe die bak krimp en nie eens skuldig gevoel nie.
.............
Elke happie het my teruggevoer na my kinderdae op Volmoed, na opslaantafels wat gekreun het onder sinkbaddens vol basaarpoeding. En my gedagtes het ver gaan draai daar tussen die Karookoppies waar ons as kinders gespeel het, so lig en so vry.
Karen se suurlemoenpoeding
Genoeg vir 6
2 pakkies suurlemoenjellie
1 koppie kookwater
1 koppie room
2 koppies ongegeurde volroom jogurt
1 koppie melk
1 teelepel vanielje
3 eetlepels suiker
Sap van 1 groot of 2 kleiner suurlemoene
Los die jellie in die kookwater op en laat staan om effens af te koel. Klits die room styf en roer die jogurt en melk by. Voeg die vanielje, suiker en suurlemoensap by en meng goed. Voeg die jelliemengsel by en klits alles saam. Giet die mengsel in ’n mooi glasbak, bedek met kleefplastiek en plaas dit in die yskas vir minstens vier uur om te stol.
WENK: Sorg dat jy die poeding maak wanneer jy ’n huis vol mense het, anders gaan jy sondig en daardie bak alleen opeet.
Kommentaar
Dit klink na 'n heerlike verfrissende somernagereg en ek gaan dit met die eerste geleentheid maak.
Die resep klink heerlik. Dit herinner my aan die skuimpoeding wat ons in ons eerste huishoudkundeklas moes maak.
Die opruim van die plaashuis lê nog vir my voor. Ek en my man is nou pensioenarisse, die plaas is in die mark en waarheen gaan ek met al my "nostalgieë" en my man met al sy gereedskap?
Karen, met n knop in my keel en wasigheid in my oë lees ek jou 'briefie'. Ek en jou ma het saam grootgeword, bure. Sterkte en liefde.
Wat 'n hartroerende storie, my trane het maar vlak gesit.
Sal beslis hierdie poeding probeer, dit klink hemels.
Ek sit met trane wat baie vlak sit, en ek weet presies wat Karen moes verwerk, en dink ek het 'n groot bak van die poeding nodig vir troos.
Karen, en so is hier nou nog ’n wonderlike resep vir my poedinglêer! Lêers vol resepte, elkeen met ’n nostalgiese storie ... Die ERGSTE is dat ek ook besig is met daai wrede ding van afskaal, weggooi en uitdeel en kleiner gaan. Wie sal al die bymekaargemaakte resepte wil hê en waardeer? Ek praat nie eers van maak nie!
Dit was goed om jou verhaal te lees. Ek weet ook dat baie al deur dieselfde ervaring is en ek MOET net voort, al is dit hoe traumaties!
Baie dankie vir jou mooi storie wat jy met ons gedeel het. Ek het ook onlangs die groot afskaal beleef, dit is verseker 'n rou proses maar ook bevrydend. Ek gaan kuier een keer per week by die versorgingsafdeling om vir die demensielyers te lees en musiek te speel. Wat 'n ongelooflike voorreg, en dit is so goed vir my eie siel. Baie dankie vir die resep. Dit lyk heerlik. Mooi loop.
Groete.
Sit nou hier met vet trane op my wange.
Dankie vir die mooi storie. En die resep.
Gaam dit beslis maak.
Ook nou deur die oppak-en-wegmaak-episode. Dis hard.
Sterkte en voorspoed in jou nuwe plek.
Mag daar 'n sonstreepvenster wees.
Baie lekker gelees aan jou storie! Ek is ook pas daardeur en verstaan jou ervaring so goed. Dankie dat jy dit met ons gedeel het. Om die versorgingsoord te verras met die CD's was so'n wonderlike plan ... in my geestesoog kon ek die vrolikheid sien gebeur!
Hi Karen, what a sad story. I see myself in you. I also went through something similar.
I also lost lots of precious items with a rushed move. Left packing far too late and had to leave lots and give away lots. Missing those items now.
I'm definitely going to try your pudding recipe. Looks lovely.
God bless you and your mother.
💜 Hartseer verhaal met baie liefde vertel.
Ai, Karen, hier lees ek jou briefie en my hart is vol. Ek identifiseer. Ek self moet die afskaalproses aandurf, maar stel uit, want als is vir jou kosbaar en vertel 'n verhaal. Ek maak sommer die poeding en eet die hele bak terwyl ek moet besluite neem.
Ek kyk verby die hartseer, want die storie het ‘n gelukkige einde!
Maak sommer 'n skermafdruk van die resep op my foon, sodat ek dit byderhand hou.
Van 'n mede oud-Volmoed-kaalvoetkind.💕
Gaan vanmiddag maak. So maklik.
Ek voel nog steeds skuldig omdat ek my ma, ’n demensielyer, moes laat gaan na ’n plek wat ek gevoel het nie reg na haar gekyk het nie. Ek sal beslis die poeding probeer!
Liewe Marica, jammer dat ek nou eers reageer. Dit was 'n uitmergelende paar maande van vervreemding en ontworteling. Ek is so bly om van jou te hoor. Ek dink so baie aan jou en aan ons wonderlike skooldae op Volmoed. Ek het nog 'n foto iewers van ons twee in ons skooldrag.
Liewe Naomi, natuurlik onthou ek jou. Jammer dat ek nou eers antwoord. My ma is toe eindelik op 9 Junie dood. Die verligting dat sy nou verlos is uit die aaklige kloue van demensie is groot, maar, ai, die verlange en die groot leemte wat sy agterlaat.
Dankie aan elkeen vir die mooi woorde en die deel van jul eie afskaal en afskeid. Ek wens ek kon vir elkeen 'n persoonlike boodskap stuur, maar ek het reeds te lank versuim om te reageer. Vergewe my, maar dit was 'n baie deurmekaar tyd. Weet net dat jul woorde diep in my hart kom lê het.