Toorkombuis: Afrikaans is my kombuistaal

  • 0
  • Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.

Ek droom en dink en skryf Afrikaans. Ek leef Afrikaans. Ek kook Afrikaans ... die taal sing in my kombuis. Ystervarkies en repelsteeltjies, murgpampoentjies en soetrissie, borriepatat, spruitkool, boerpampoen en pampoenkoekies, wonderpeper en fenegriek ...

Dis nogal ironies dat Afrikaans destyds afgemaak is as kombuistaal, want dis mý kombuistaal. Ek kan nie genoeg kry van die wonder daarvan nie – die klank en rym van my kruie en speserye, die geregte wat ek in my taal optower.

Ek moet liewer my mond hou, want as ek liries begin uitwei oor hoe lief ek my taal het, sal mense dink ek is mal. En, asseblief tog, my liefde vir my taal het niks met politiek te make nie – net so lief as wat ek my taal het, so verafsku ek politiek! My taal kry sy kleur en karakter van oral af.

Afrikaans is nou amptelik 100 jaar oud, maar in my hart is my taal net so oud soos ek – ons het immers saam grootgeword. Kleintyd se klanke was langspeelplate met vertellings van WO Kühne se Huppelkind.

Ek het lustig saam gesing met Doris Brasch en Dawie Couzyn se “Dapper Muis en Lappop”. Trouens, ek was een van die lappoppe op die ashoop in ’n skoolkonsert. Kompleet met skoenpolitoerstrepe oor my wange en gelapte klere.

My pa het vir ons voorgelees uit CJ Langenhoven se Brolloks en Bittergal. En elke keer wanneer my pa Kaap toe is om te gaan vraestelle nasien, het hy vir my ’n Liewe Heksie-boek van Verna Vels of een van Helena JF Lochner se wonderlike kinderboeke gebring. Die pratende pot was my gunsteling.

Ek was agt toe ek FA Venter se boeke begin lees het en ek was in ekstase toe hy self eenkeer by die skool daar op Volmoed kom besoek aflê  en my Swart pelgrim met ’n “Mooi loop, Karen!” geteken het.

In my tienerjare het ek André P Brink se Die ambassadeur saam met Ayn Rand en DH Lawrence en my eie seksualiteit ontdek. En die gedigte, o die gedigte ... Baie van my verliefdheid van destyds is aangeblaas deur die mooi van die taal en het later min te doen gehad met die arme outjie wat ek op daardie stadium in my visier gehad het.

Op universiteit was ek een van die laaste studente wat klas gehad het by WEG Louw en DJ Opperman. Lina Spies en JC Kannemeyer was ook my dosente. Ek moes my mondelinge eksamen aflê by Joan Hambidge, wat toe Opperman se assistent was. En ek sal in my dag des lewens nooit Merwe Scholtz se uiteensetting van Die towenares van Eugène N Marais in een van ons kleingroepieklasse vergeet nie.  

Ek kon my verluister aan die mooi Afrikaans wat Hennie Aucamp gepraat het. Dit was die enigste klasse wat die saai HOD-jaar enigsins draaglik gemaak het.

.........
Dis toe dat ek die digter C Louis Leipoldt ook as kosskrywer leer ken en deel van my kombuis gemaak het. Ek ontdek elke dag die wonderlikste koswoorde in Afrikaans – ek verkneuter my aan nuwe uitdrukkings, slim vertalings en ou gesegdes.
.........

Die kook het eers heelwat later bygekom. En dit was eers jare later, toe ek met die verskyning van Julie Powell se Julie & Julia besef het ek kan my liefde vir skryf en my liefde vir kook kombineer, dat ek Afrikaans saam met my kombuis toe geneem het.

Ek het my Toorkombuis-blog begin en daarmee saam my kookloopbaan. Een van die grootbase by Media24 het dit raakgesien, en toe die nuwe tydskrif Kuier begin, is ek gevra om vryskut as kosredakteur deel te hê. Ek het nagte in angssweet wakker gelê, maar die nuwe uitdaging aangegryp.

Dis toe dat ek die digter C Louis Leipoldt ook as kosskrywer leer ken en deel van my kombuis gemaak het. Ek ontdek elke dag die wonderlikste koswoorde in Afrikaans – ek verkneuter my aan nuwe uitdrukkings, slim vertalings en ou gesegdes.

Ek het heerlike binnepret gehad oor die arme kaalgatperske se heerlike beskrywende naam wat eers ’n kuiser kaalperske en deesdae nektarien geword het. Ek giggel elke keer wanneer ek by die gladde blink lyfies op die winkelrakke verbyloop.

(Iemand moet net vir my verduidelik hoe maak die idioom “Soos vinkel en koljander, die een is soos die ander” enigsins sin. Die twee verskil hemelsbreed, of dit nou die vars plant of die sade is.)

Ek het ook agtergekom dat dit soms nogal moeilik is om ’n goeie Afrikaanse naam te kry vir ’n ou gevestigde kookterm of bestanddeel wat ons uit anderland oorgeneem het. En dan is daar goedbedoelde vertalings wat net nie heeltemal vastrapplek kry nie.

“Kotelette” klink soos ’n tannie van Waterkloof. Tjops is “tjops”. En “bruintjies” vir brownies is sekerlik deur die “lekker daggie”-brigade geskep. “Koekstruif” is nou maar eenmaal nie trifle nie. Genadiglik is die woordeboekmense baie meer oopkop wanneer dit by sulke taaltameletjies kom.

........
In my kombuis kóók Afrikaans – ouvrou-onder-die-kombers, skurwepadde, blindevinkies, begrafnisrys, krummelpap, uiesmoor, lepelbrood ... Maar hierdie een bly my gunsteling: oopbekkies. Jy maak die vetkoekies klein, en met die lepelvol kerriemaalvleis in sy pensie lyk dit nes ’n oopbekkie wat lag.
........

Die grootste brommer in die sop is Google en Facebook se pogings tot Afrikaanse vertalings. Ek wou eers kwaad raak, maar dit was net te snaaks om nie te lag nie. Ek het eenkeer ’n resep op Facebook geplaas en het my vreeslik vervies toe ’n Engelse vriendin, nogal een van my beste vriendinne van skooldae af, in ’n opmerking sê: “Sorry, no cockroaches for me!” Ek het haar nooit geken as ’n bitsige of agteraf mens nie, en was nogal ontsteld. Maar toe ’n tweede en ’n derde leser ’n opmerking oor die “cockroaches” maak, het ek lont geruik. Facebook, in al sy wysheid, het dit goed gedink om “kekkerertjies” (chickpeas) as “cockroaches” te vertaal! Byna het ’n heerlike resep in ’n heksebrousel ontaard.

In my kombuis kóók Afrikaans – ouvrou-onder-die-kombers, skurwepadde, blindevinkies, begrafnisrys, krummelpap, uiesmoor, lepelbrood  ...  Maar hierdie een bly my gunsteling: oopbekkies. Jy maak die vetkoekies klein, en met die lepelvol kerriemaalvleis in sy pensie lyk dit nes ’n oopbekkie wat lag. En met die wonderlike smaakkombinasie lag dit heelpad tot in jou maag.

Oopbekkies (vetkoekies met kerriemaalvleis)

Genoeg vir 4–6

Vir die kerriemaalvleisvulsel
3 eetlepels olie
1 groot ui, fyngekap
1 eetlepel sagte bruinsuiker
500 g maalvleis
1 eetlepel matige kerriepoeier
½ koppie beesvleisaftreksel
1 teelepel tamatiepasta
1 teelepel borrie
2 eetlepels blatjang
sout en varsgemaalde swartpeper
4 eetlepels volroom jogurt

Vir die vetkoekies
1 koppie koekmeelblom
1 teelepel bakpoeier
½ teelepel sout
½ koppie melk
1 eier, geklits
olie vir braai.

Maak die kerriemaalvleisvulsel: Verhit die olie in ’n swaarboompan of –kastrol en braai die uie daarin tot sag en deurskynend. Sprinkel die suiker bo-oor en roer deur. Braai vir nog ’n minuut of twee voordat jy die vleis met ’n vurk byroer om te keer dat klonte vorm. Roer die kerriepoeier, aftreksel, tamatiepasta, borrie en blatjang by. Geur met sout en peper en laat prut vir 20 minute. Roer die jogurt by en hou die kerriemaalvleismengsel eenkant warm.

Maak die vetkoekies: Sif die droë bestanddele saam in ’n groterige mengbak. Klits die eier en melk saam en voeg by die meelmengsel. Meng tot ’n sagte deeg. Giet genoeg olie in ’n groot en dieperige pan en verhit. Skep lepelsvol van die deeg in die warm olie. Moenie te veel op ’n slag probeer braai nie. Braai alkant tot goudbruin en deurgaar. Dreineer op handdoekpapier. Skep ’n lepel of twee van die kerriemaalvleisvulsel in elke vetkoekie.

Wenk: Bedien die oopbekkies saam met blatjang en ’n lekker sambal.

Lees ook:

Toorkombuis: Oor sprokies en pampoenbredie

Toorkombuis: ’n Oorvloed van appelkose en onthou

Toorkombuis: Brood vir Bottergat

Botterhoender met maan en musiek

Kaap, kerrie en koesisters deur Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien: ’n resensie

Die Bo-Kaap: my erfenis

Erfeniskos en die EasyEquities-skrywersfees by vanjaar se Woordfees: ’n onderhoud met Fayruza Abrahams

LitNet-argief: Onderhoud oor Hartskombuis: Boerekos van die Anglo-Boereoorlog tot vandag

LitNet-argief: Onderhoud: Wat die hart van vol is

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top