Toorkombuis: Oor sprokies en pampoenbredie

  • 2
  • Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.

Ek leef my lewe in sprokies. Oral in my huis, in hoekies en gaatjies, kry jy heksies wat op besems vlieg na nêrens. Daar is ook eina-klein feëtjies en engeltjies, maar hulle is by verre in die minderheid. Ek het selfs ’n padda wat sy snoet al nerf-af geval het en nog nooit het iemand hom probeer soen om van hom ’n prins te maak nie.

Ek wag lankal nie meer vir paddas om prinse te word nie. En ridders op wit perde beïndruk my glad nie – nie ná drie huwelike wat nie een langer as vier jaar gehou het nie. Buitendien glo ek prinse en ridders kan self doen met ’n bietjie hulp.

Ek het nou al vertel ek moes aan myself erken ek is lankal nie meer Sneeuwitjie wat in die kombuis werkskaf om die dwergies en die diere van die veld kos te gee nie. Ek is eerder die ou vrou wat kinders nader lok met koekies en lekkergoed.

Natuurlik gee ek die eekhorinkies, tarentale en ’n swetterjoel voëltjies kos. Ek het selfs vir Saartjie die rot vet gevoer totdat haar familie begin oorneem en amok gemaak het. En deesdae sorg ek selfs vir die bye – hulle gaan deur ’n liter suikerwater ’n dag.

Ek het lankal besef nie al die betowering van die wêreld kan vir my raafswart hare en ’n sneeuwitvel gee nie. Ook nie die bewondering van sewe toegewyde dwergies nie. Maar dit beteken nie ek het my sprokiesboek toegemaak en weggebêre nie.

........
Wanneer ek in die kombuis werskaf, voel ek baiekeer soos ’n heks wat my toorgoed in in ’n groot pot inroer. Dis ook waar my toorkombuis sy naam gekry het – dis daardie alchemie, die onverklaarbare iets wat gebeur wanneer jy ’n paar eenvoudige bestanddele in ’n pot saamgooi en ’n geurige dis optower.
........

Wanneer ek in die kombuis werskaf, voel ek baiekeer soos ’n heks wat my toorgoed in in ’n groot pot inroer. Dis ook waar my toorkombuis sy naam gekry het – dis daardie alchemie, die onverklaarbare iets wat gebeur wanneer jy ’n paar eenvoudige bestanddele in ’n pot saamgooi en ’n geurige dis optower.

Dis ook nie net in die kombuis waar sprokies afspeel nie. Wanneer ek my bed skoon oortrek en sukkel om die duvet in sy oortreksel met ’n paar skudde te laat pas, word ek die meisie wat so vlytig Moeder Holle se donskombers skud dat dit regoor die wêreld sneeu. Ek word nie met goud beloon nie, maar, ai, die lekker binnepret . . . .

Ek moet erken dat ek sommige dae glad nie so ywerig is met die bedopmakery nie. Elke skud van daardie duvet is ’n pyn. Dan word ek die aaklige stiefsuster wat behoorlik lyf wegsteek en geteer en veer word.

Hierdie liefde vir sprokies kom van kleintyd. My pa en my ma het beurte gemaak om slaaptyd vir ons die Grimm-broers en Hans Christian Andersen se mooi verhale voor te lees. Ook ons eie Langenhoven se Brolloks en Bittergal. En elke keer wanneer my pa Kaap toe gegaan het om te gaan vraestelle merk, het hy terug gekom met ’n Liewe Heksie-boek of een van Helena J. F. Lochner se sprokieboeke.

Ek was gelukkig al grootmens toe ek Oscar Wilde se sprokies ontdek het. Maar selfs as volwassene het ek sy verhale te onuitspreeklik hartseer gevind en kon dit nie meer as een keer lees nie.

Dan moet ek ook bysê ek het in ’n nostalgiese luim weer gaan lees aan die sprokies van kleintyd en ek het die meeste van die verhale nogal wreed gevind. Miskien is dit omdat grootmense beter verstaan van die gevare en die lewe jou ontneem het van die emosionele buffers van kleintyd.

Gelukkig is nie alle sprokies so wreed nie. Goed, die geloof in ’n gelukkige einde kan miskien tot wrede ontnugtering ly. Maar in hierdie vreemde ou wêreld kan ’n mens nogal doen met ’n bietjie sprokiesmooi fantasië en ontvlugting.

Een van my gunsteling-sprokies bly nou maar Aspoestertjie. Miskien is dit omdat die nare ou stiefsusters en die stiefma hul verdiende loon gekry het. Of dalk omdat Aspoestertjie met ’n bietjie hulp van haar goeie fee uit die as uit opgestaan het. Dis beslis nie omdat ek ’n liefde vir mooi skoene het nie – met my paar stampers bly jy maar by die praktiese en los die fyn hakkies vir Mej Voete en haar prinsesse.

........
Maar in my toorkombuis word hierdie nederige groente nie ’n luukse ryding nie. Nee, dit word omtower in pampoenkoekies met ’n kaneelsuikerlaag wat onder jou tande kraak. Of, nog lekkerder –  in ’n bredie waarvan die smaak genoeg is om jou sommer weer van voor af in sprokies te laat glo.
........

Die eintlike rede waarom dié sprokie vir my soveel betowering inhou, is die pampoen wat koets geword het. Maar in my toorkombuis word hierdie nederige groente nie ’n luukse ryding nie.

Nee, dit word omtower in pampoenkoekies met ’n kaneelsuikerlaag wat onder jou tande kraak. Of, nog lekkerder –  in ’n bredie waarvan die smaak genoeg is om jou sommer weer van voor af in sprokies te laat glo.

Karen se pampoenbredie

Genoeg vir 4 – 6

3 uie, fyngekap
7 naeltjies
7 wonderpeperkorrels
3 steranysblommetjies
1 koppie water
3 eetlepels olie
1½ kg lamsnek
3 mollige knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
1 x 5 cm vars gemmer, geskil en fyngekap
1 rooi brandrissie, pitjies en membraan verwyder en fyngekap
1 groen brandrissie, pitjies en membraan verwyder en fyngekap
3 kaneelstokkies
2 kg pampoen, geskil en in blokkies gesny
2 eetlepels klewerige bruinsuiker
3 eetlepels botter
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Gooi die water, uie, naeltjjies, wonderpeper en steranys in ’n swaarboomkastrol en kook totdat die water heeltemal geabsorbeer is. Wees geduldig en vat dit stadig sodat die geure behoorlik kans kry om te ontwikkel. Hou goed dop sodat dit nie aanbrand nie. Voeg nouo die olie by die uiemengsel in die pot en braai nog ’n bietjie totdat die uie so ’n blink goue kleur het. Voeg nou die vleis, knoffel, gemmer, rissies en kaneel by en braai totdat die vleis verbruin en so ’n sousie van sy eie begin vorm. Voeg die pampoen by en roer sodat dit goed vermeng is met die vleismengsel. Moenie nog vloeistof byvoeg nie, al lyk dit vir jou in dié stadium of dit dalk nodig is. Die pampoen sal vir die vloeistof sorg wanneer dit begin afkook. Sit nou die deksel op die pot, verlaag die hitte en laat dit stadig stowe totdat die pampoen sag is en die vleis van die been begin afval. Voeg nou die suiker en botter by en geur na smaak. Bedien met ’n heerlike witrys en stuur jou smaakbekertjies op ’n koetsrit na Aspoesterjie se paleis.

Soos my ma altyd gesê het, die lewe is alleen die moeite werd vir mense wat nog in sprokies glo.

Lees ook:

Toorkombuis: ’n Oorvloed van appelkose en onthou

Toorkombuis: Karen se bleddie lekker steak

Swartboonsop vir die samesyn

Die lekker lewe – koffie en lamsboud

Koningskos uit ’n knoetserige ou knol – patat-en-tiemie-sop

Botterhoender met maan en musiek

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top