Kaap, kerrie en koesisters deur Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien: ’n resensie

  • 8

Titel: Kaap, kerrie en koesisters
Outeurs: Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780798177726

Hierdie kookboek is 189 bladsye van tradisie en kultuur. Moeilike woorde daai – tradisie en kultuur. So abstrak. Jou kultuur, my kultuur, of ons kultuur?

’n Mens kan egter met veiligheid sê dat talle Suid-Afrikaners hulle met hierdie boek kan vereenselwig. Ek self het in die 189 bladsye baie bekende disse gevind – wie wil nou nie ’n goeie piekelvis-resep (ingelegde kerrievis) vir Paasfees byderhand hê nie (bl. 38)? Daar is ander resepte wat vir my nuus is, soos die Mavrou, sowel as talle terme en tradisies (dhaltjies – soms ook daltjies gespel – word met sop voorgesit wanneer die vas gebreek word in Moslemkultuur) wat vir my insiggewend en hoogs leersaam is.

Die boek bevat baie interessante brokkies kultuur; ek gaan dit nie oorvertel en so bederf nie. Die susters maak natuurlik ook op allerhande plekke hul resepte en kultuur bekend – TV en Facebook ook. Van hul disse val buite my verwysingsraamwerk, byvoorbeeld gebraaide masala-viskuite, maar ek het ’n familielid wat dit wel maak. Sardynkerries het ek ook nog nooit gemaak nie, maar ek het ’n vriendin wat dit doen. Dit is kerrie uit gewone geblikte sardyne (kyk byvoorbeeld na die resep Sardyn-Ahkni op bl 82). So ja, dis ons kultuur. Nie dalk in my eie kombuis nie, maar in die kombuis langsaan.

’n Tweeling wat saamspan is gewoonlik ’n interessante verskynsel. Die susters se individualiteit te midde van hul hegte spanwerk kom pragtig in die boek oor. Elkeen het ’n inleiding geskryf. Hul skryfwerk wat hul kinderjare aanraak het my diep getref en ek sal dit altyd onthou.

Ja, die Sydow-susters is ’n formidabele span. Hulle het twee jaar al hul eie televisie-program op DStv, kanaal 147, en in April het die boek met dieselfde naam, Kaap, Kerrie en Koesisters, sy verskyning gemaak. Die Susters het in die tydskrif Kuier ook baie van hul resepte uitgegee ... vir diegene wat die boek teen R330 dalk nie kan bekostig nie. Die tydskrif se resepte neig na die meer ekonomiese. ’n Lekker aankope. Daarin sê hulle dat Kaapse kos uniek is omdat dit ’n potvol verskillende kulture en stories is. Daar is egter ’n rede hoekom ’n mens die boek moet koop. Die foto's deur Michelle Parkin is honderd keer beter as die foto's in die tydskrif, maar dit is seker ’n geval van begroting. Die ontwerp in die boek is ook fantasties – mooi gedaan, Roann Louw. Aletta Lindtvelt se stilering is ook nommerpas. Skoon en vars en sonder fiemies uit die tagtigs, terwyl dit outentiek bly. So vars dat mens half vergeet dat sommige bestanddele, soos geblikte sardyne, nie vars in die ware sin van die woord is nie. ’n Mooi boek. Ek dink NB het dalk ’n berekende risiko van hoë verkope geneem met die relatief lae koste van hierdie boek; die boek raak dalk net so tuis soos Huisgenoot se resepteboeke.

Om terug te keer na geblikte items en ander standaarditems in die koskas. Alle besige mense weet – ’n blik moet jy hê. Die resepte het bestanddele wat jy heel moontlik reeds in jou kas of vrieskas het; jy hoef dus net hier en daar by te koop. Dit is eintlik wat die mens op straat in hierdie boekgaan geniet. Dit voel bekend en nie te duur nie. Vleis, garnale, klappermelk ensomeer is dalk duur, maar baie van die bestanddele en disse is bekostigbaar.

En die soetgoed? Sal reseptename soos peer- en kaneelkoek, piesangbrood en dadelbrood jou nie sus nie, nie eers te praat van die smake nie? Die susters maak ook erg dekadente nageregte soos pannekoek met melktertvulsel en sjokoladesous (’n uitmuntende pannekoekresep, terloops) – ek bekommer my oor poeding wat nie ’n vars bessie in sig het nie. Die boek se resepte voel vir my egter effens meer gesofistikeerd en minder swaar op die cholesterolvlakke.

Die koesisters (nie koeksisters nie) is natuurlik dié met klapper, nie die gevlegte “boere"-soort nie. Minder stroopsoet en vol kalmerende speserye; eintlik verkies ek ’n koesister bo ’n koeksuster. Albei egter diep in ons kultuur. Soos die storietjie by die resep meedeel: ’n mens onthou daardie eerste kinderlike genot van die doop van warm deeg in stroop. Ek onthou self nog presies waar ek dit die eerste keer beleef het. Dit was in Owen Warrenstraat in Bethlehem in die Vrystaat aan die huis van die Smit-familie; ek was seker tien jaar oud. My maatjie daar se mammie het my daardie eerste blik op emmersvol stroop gegun wat in haar kombuis in ’n ry yskoud regstaan. Daardie beeld bly my by – en die smaak van die gedoopte gebak! Ek onthou dit soos gister! Sulke herinneringe maak ’n mens se kultuur.

Ek het my vereenselwig met hoe die susters van jongs af by ander mense kulinêre geheime afgeloer het, tog het ek met ’n skok besef dat ek self nog nooit roti's gemaak het nie! En ek het al talle geleenthede gehad om te kyk hoe dit gemaak word. Ek koop dikwels die heerlikste tuisgemaakte roti's by my vriendinne in die gemeenskap van Groenheuwel in die Paarl, maar het nog nooit self die "velle" gemaak nie. (’n Mens moet sulke woorde gebruik: velle. En ’n roti word afgebak in die pan.) Dit is immers moeite (oftewel, tydrowend) om die velle te maak en baie mense wat ek ken sal dit eerder by ’n antie in die straat koop om by hul eie pot kerrie te eet.

Kerrie het ek wel al baie gemaak. My geliefkoosde lamskerrieresep kom uit ’n boek wat in 1989 uitgegee is, met resepte wat deur die bekende Isabel Jones uitgekies is vir Women's World Cookbook, wat deur Chameleon Press in samewerking met die SAUK en Woolworths uitgegee is. Dit bevat allerlei resepte van regoor die land. ’n Mens lees omtrent nooit ’n Suid-Afrikaanse kosboek sonder om ’n kerriedis raak te loop nie, maar kom ek gesels oor die roti's. Om ’n roti te maak is nou maar ’n ding wat jou laat voel dat dit wel ’n "Women's World" is. Pannekoek sal mans nog bak, maar ek self het nog nooit ’n man sien roti maak nie. Om myself op te lei, het ek ’n vriendin uit Groenheuwel in die Paarl gevra om my touwys te maak. Haar resep is anders as die susters s’n, maar ek wou sien hoe iemand dit in my eie kombuis doen. Hoe hulle te werk gaan. Die temperatuur van die botter en die kamer help (’n matige wintersdag is perfek vir rotis maak, sodat die botter nie te loperig en nie te hard is nie). My vriendin Gwen het my gewys dat ’n mens nie hoef skaam te wees om die deeg goed te bewerk nie. Dis ’n hele proses. Slaan daardie slange maar, sodat die botter lekker houvas tussen die deeg kry.

Foto: Elsibe Loubser McGuffog

Toe het ek op my eie die Sydow-susters se resep probeer, saam met hul lamskerrieresep. Hoor hier! Die familie het omtrent weggelê aan daai roti's! Lekkerste familiedag ooit. Dit was 18 Julie 2019. Hoe wonderlik dat ek op Madiba se verjaarsdag my eerste roti's gemaak het! Ek moet net noem dat ek werklik nie die volle 150 gram botter in die resep kon gebruik nie. Ek was bietjie bang dit peul uit die deeg uit en my 100 gram was genoeg. Maar ek is seker dat iemand met vernuf die volle 150 gram sal kan gebruik. Dit sal ook ’n ryker roti lewer. Die roti's is heerlik saam met die susters se lamsvleiskerrie (bl 66), wat baie kerrie lewer. Ek het die helfte daarvan sommer met rys as ’n ete bedien. (Effens meer water bygevoeg sodat dit nie droog kook nie, omdat ons AGA-stoof baie warm raak.) Ek dink tog ’n kerrie met rys soek ’n bietjie tamatie, naeltjies en oreganum. (Dis nou uit my geliefde resep wat Isabel Jones uit die destydse Transvaal gekry het.) Die Sydow-susters se kerrie is egter ideaal vir roti's; dit is nie so ’n komplekse smaak nie; dit pas by die roti's, omdat die roti's vanself so geurig is. ’n Mens hoef nie te veel geure in die kerrie te hê nie. Ons het elke laaste druppel van die sous met nog roti's opgevee. Ek moet bieg dat ek altyd bietjie vars rissie byderhand hou om bo-oor te gooi. Die Italianers noem die rissie la droga dei poveri – die dwelm van ’n arm man. Dit kikker ’n ding op!

Ek het ook ’n ander baie lekker resep deur die susters probeer (nie in die boek nie): botterskorsie, wortelgroente- en kokosneutkerrie. Soos baie van hul groentekerries is dit salig lekker en vullend. Ek het dit bedien met die maalvleis- en ertjiebredie (bl 96) – ’n ekonomiese dis. Die verskillende kerries so saam is ’n heerlike smaaksensasie van subtiele kontras. Ek hou daarvan om allerhande potte kerries saam te eet, soos in ’n Indiese restaurant.

Ek was ook bly om te sien daar is so baie knoffel by die disse. Vergelyk dit met, byvoorbeeld, Wenresepte 2 (in 1984 uitgegee), wat wel baie kerriedisse bevat, maar knoffel was toe nog nie ’n ding in standaard Suid-Afrikaanse kultuur nie. Dis moeilik om te glo, nè? As kind het ek nie knoffel geken nie. Uie wel, maar nie knoffel nie. ’n Nasie moet soms wag vir knoffel.

Hier moet ek eers herhaal wat Peter Veldsman in sy boek Wat die Hart van Vol is van knoffel vertel. Hy skryf hoe Elizabeth David in 1950 haar eerste kookboek gepubliseer het. Dit was net na die oorlog en daar was nog streng rantsoenering. Verbeel jou: geblikte snoek uit Suid-Afrika is die belangrikste proteïen en gedroogde eierpoeier. "Tydskrifte gee selfs advies oor hoe om kraai gaar te maak." David wou haar nasie hoop gee. Sy was kwaad dat die regering hul mense so kon afskeep. Dit was eintlik die jaar waarin Britte, wat nooit bekend was as kosmense nie, in kos begin belangstel het. Veldsman sluit af: "Om haar aan te haal waar sy op háár beurt die woorde van die Franse sjef Marcel Boulestin herhaal: 'Dis geen oordrywing om te sê vrede en geluk begin, geografies gesproke, waar met knoffel gekook word nie'."

Ek dink ook dat vrede en geluk begin met ’n haalbare begroting. Al is duur kos heerlik, is varsheid, soos Veldsman en elke ander goeie kok sal sê, eintlik maar die belangrikste. Daar is talle van die susters se resepte wat jou finansies gelukkig sal hou. Ek dink nou aan smullekker en eenvoudige disse soos aartappelkerrie.

Ja, hierdie kookboek laat my tuis en ook ’n bietjie "niks gewoond” voel, maar ek is een van die dae gewoond – sodra ek al die resepte probeer het.

Ek moet nog hul lamsbrijani probeer. My hart behoort aan Reza Mahammad se chicken and prune biryani wat hy self gemaak het toe hy op 27 Mei 2007 (dit was so lekker, dis in my dagboek) by die KIKS in Kaapstad uit sy boek Rice, Spice and All Things Nice (Simon & Schuster, Britanje, 2006) kom kook het. Dit beklemtoon juis wat die Sydow-susters glo – Kaapse kos is eintlik ’n pot vol verskillende kulture.

Foto: Elsibe Loubser McGuffog

Die dag toe ek hierdie resensie klaarskryf, ry ek by ’n begraafplaas verby soos kar na kar met brandende ligte daar vertrek. My eerste gedagte? Ek wonder wie al die potte brijani moes maak. Want kyk, daar behoort te alle tye, in alle families en in alle nasies, die smaak van troos te wees. Al hou ek dalk nie met dieselfde dis begrafnis nie en al het ek nie in Manenberg grootgeword nie, het ek op talle plekke op my lewensreis ’n ervaring gehad wat met die reis van die susters s’n klop. Die boek het my skoon nostalgies laat voel. Ek moes onwillekeurig terugdink aan my besluit om na matriek met my sakgeld (wat ek by Suikerbossierestaurant in Houtbaai as kelnerin gemaak het) oorsee te gaan reis. Ek en ’n skoolvriendin. Ons begroting het my pa duidelik bekommer, want hy het "ter veiligheid" vir my ’n kredietkaart saamgegee. Ek was egter vasberade om dit nie te gebruik nie, uit respek. So het ek en ’n vriendin op ons reise deur Europa ook dikwels vir middagete droë korsies brood met suiker geëet. Kaas en botter op brood was net gans te duur. Ek weet dus dit is waar wat Fatima Sydow vertel. As ’n mens gelukkig is, smaak so ’n middagete heel goed. En dit kweek ook ’n respek vir goeie kos, ’n hunkering na goeie kos, ’n behoefte om dit vir ander mense te bied. Ek en my vriendin wat saam gereis het, het op ’n dag die heuwels buite Zermatt in Switserland uitgeklim – en al waaroor ons gepraat het, op- en afdraend, was die driegangmaal wat ons graag vir ons families sou wou maak wanneer ons weer by ouerhuis in Suid-Afrika aankom. Ai, so ’n lekker herinnering. Dankie daarvoor, Sydow-susters.

Ek gee hierdie boek ’n 9 uit 10. Ek het foto's van familie gemis, omdat ek nuuskierig is en omdat die boek aan hul ouers opgedra is, maar ek weet die susters het besluit om hul familie uit die kollig te hou.

My raad is: koop een. Pos dan ’n tweede boek aan jou famile- en vriende in Kanada of waar ook al, sodat jy self aan hul tafel lekker warm kan eet wanneer jy eendag daar gaan kuier. Daar is selfs ’n Engelse uitgawe indien jou mense in die verte Afrikaans so ’n bietjie verleer het.

  • 8

Kommentaar

  • Nico M Ferreira

    'n Heel interessante resensie.
    Ek is soo bly dat aangedui word dat koesisters en koeksisters NIE dieselfde ding is nie. My 5de uitgawe 2013 van die HAT dui aan dat dit dieselfde is.
    Ek verwys na die "internasionale" koesisterdag wat onlangs in die Kaap plaasgevind het. Die fotos in die media het tog duidelik gewys dat koesisters en koeksisters hemelsbreed van mekaar verskil.
    Nou wag ek in spanning dat die ware taalkenners na vore sal tree om hierdie anomalie reg te stel. Tot dan toe sal ek voortgaan om koeksisters te verorber.

  • Good day.
    I found a book called "TRADITION COOKERY OF THE CAPE MALAYS" book dated 1958.
    It has 200 old Cape recipes.
    Is this book of any value?

  • Jeanette Pickford

    Julle resepte is so lekker en elke keer wanneer ek na julle kyk verlang ek baie Kaap toe

  • Cinria Bester

    Ek geniet julle baie en die heerlikste geregte
    Julle n skon deeg aangemaak ek dink dit is Fatima se resep, maar het nie gesê hoeveel suiker daarin moet kom nie. Die program was die 6 de Feb uitgesaai.

  • Ek het in die COVID-19-grendeltyd totaal versot geraak op Fatima se YouTube-video's en toe hierdie insiggewende resensie opgespoor, dankie. Sy en haar geregte en gebak het 'n kalmerende en opbeurende invloed op 'n mens! Ek gaan gewis hulle pragboek by Graffiti Boeke bestel.

  • Nico M Ferreira

    Uiteindelik is 'n navorsingsdokument beskikbaar wat aandui dat "koeksisters" en "koesisters" nie dieselfde is nie en ook nie sinonieme is nie.
    Ek verwys na Rudolph Boraine (2022) "The koeksister: A twisted history? "(UP Dept. Geskiedenis, ongepubliseerde Honneurs - nogals met lof toegeken.
    Hopelik sal die samestellers van SA woordeboeke die nodige veranderinge aanbring.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top