Terug Karooveld toe met rooibos en lam

  • 0

Noem dit net wat jy wil – rooitee, bossietee, rooibos … vir my is daardie bossie uit die Cederberge troostee, slaaptee. Dis die towerdrankie wat help om die klipperige kronkelpad tussen gaan lê en aan die slaap raak soveel korter en meer begaanbaar te maak. Maar dis meer as dit. Dis ’n bossie wat na veld proe, ’n krui met ’n effe rokerige smaak wat ’n dieper dimensie aan enige smaakprofiel gee. Dis vir my die krui wat die karoobossie in lamsvleis na vore bring.

Ek dra nie veel botaniese kennis van die plant wat hierdie heilsame tee en wonderlike krui gee nie. Die mense wat weet, sê die besemagtige struik is glad nie eens verlangs verwant aan die tradisionele teeplant nie, maar het ’n hele paar niggies en neefs onder die peulplantfamilie. Die Hollanders het glo hier aan die Kaap saam met die inheemse bevolking begin bossietee drink toe die teedrinkery hoogmode in Europa geword het en hulle nie kon wag vir die duur tee om met die skip aan te kom nie. Daar is ook al van toendertyd af stories oor hoe die Khoi en die San dit as medisyne gebruik het.

Dis hoe ek dit leer ken het – rooibostee wat alles kan regdokter. Ook ’n hart wat breek …

Toe ek sewe jaar oud was, het my pa vir my en my boetie, toe vyf, geneem om die Carfo-fliek, Bennie-Boet, in Volmoed se kerksaaltjie te gaan kyk. Die Carfo-flieks kon jy nie in die bioskoop op die dorp of by die inry net duskant die weermagkamp buite Oudtshoorn sien nie. Dié organisasie het die land deurkruis en hul flieks in kerk- en skoolsale vertoon. Elke fliek het so ’n boodskappie gehad. Bennie-Boet was ’n hartseerstorie oor ’n pa wat nie verstaan het sy seun wil beeldhouer word en nie boer nie. Al wat ek van die fliek onthou, was hoe die pa op sy seun afkom waar hy by die kleigat ’n borsbeeldjie van sy oorlede ma gemaak het, hartverskeurend mooi, en hoe die pa dit woedend op die grond gegooi het. Ek en my boetie het lank na die eindtitels gerol het nog sit en snik. My pa het ons al snikkend in die motor gelaai en by die huis het my ma ons met rooi koeldrank getroos.

Rooibostee sou beter gewees het, maar ons het dit nooit in die huis gehad van wat ek kan onthou nie. Tant Martjie, ons buurvrou op Volmoed, het ’n groot wit emalje-teekan met rooibostee gehad wat heeldag op die koolstoof staan en trek het. Wanneer ek deur die opening in die teerpaalheining geklim het om vir haar te gaan kuier, het ek die bekertjie soet, melkerige tee in my hande gekoester en so ongelooflik veilig gevoel.

Dit was eers later toe ons Kaap toe getrek het dat rooibostee sy verskyning in ons kombuiskas gemaak het. My ma het my geleer wanneer jy ’n pot tee maak, gebruik jy twee gewone teesakkies en een rooibos. En vakansietye het ons vrugtesap met rooibostee verdun – minder soet, baie verfrissend en baie meer bekostigbaar wanneer jy drie kinders se dorstige kele moet klam hou oor ’n lang somervakansie.

Eers toe ek op my eie gebly het, het ek rooibos regtig onverdund en op sy suiwerste leer ken. Wanneer ek saans die gordyne toegetrek het in my eenmanswoonstelletjie daar teen Duiwelspiek, het die spoke my begin jaag. Ek het geleer om myself aan die slaap te sus met ’n koppie melkerige rooibostee en ’n kasset met Joan Sutherland se mooiste arias. So het ek elke aand aan die slaap geraak. Joan Sutherland se stem het stil geword. Die kasset is lankal voos gespeel en die CDs wat ek nou van haar het, kan ek nie slapenstyd luister nie, want die CD-speler staan in die sitkamer, ’n hele entjie van my slaapkamer. Die rooibostee is al wat gebly het. Nou nog, meer as dertig jaar later, is dit steeds my slaaptyddrankie.

Maar saam met die wondersoete slaap het dit ook ’n vreemde nadraai – ek kan glad nie rooibostee deur die dag drink sonder om te begin gaap en bed te soek nie. Wanneer ek ontsteld is, soek ek troos in ’n mengsel van skeletium en rooibos. Dis die kannabos wat langs ons teerpaalheining gegroei het wat deesdae medisyne-status beklee. Saam met die rooibos gee dit ’n kalmte wat enige stres die wyk laat neem. Selfs wanneer my buurman met sy alarm begin speel.

Ek glimlag altyd wanneer ek na heruitsendings van die TV-sitkom The Big Bang Theory kyk. Die super-intelligente Sheldon se enigste poging tot sosiale vaardigheid is om ’n “hot beverage” aan te bied wanneer iemand hartseer of geskok is, want dis hoe sy ma hom geleer het. Ek staan ook altyd reg met die rooibostee wanneer iemand kom troos soek, maar ten minste weet ek – hierdie “hot beverage” gee regtig kalmte. En dis ’n lekkerte wat van die keel af reguit hart toe gaan.

Ek weet mense kook al lankal met rooibostee en ek kan verstaan hoekom. Die rokerige smaak is ’n wonderlike toevoeging tot enige dis – soet of sout. En dis nie ’n oordonderende smaak wat die ander bestanddele uit die pad uit stamp nie. Ek het onlangs eers daarmee begin kook, eintlik heel toevallig. Ek wou ’n beesvleisbredie met vars pruime en port kook, maar besef toe ek het nie port in die huis nie. Ek was al klaar aan die kook en kon nie alles los om eers drankwinkel toe te gaan nie. Toe trek ek ’n koppie sterk rooibostee met ’n bietjie suurlemoen en heuning en voeg dit by die pot. Volgende keer sal ek nie eens bodder om aan port te dink nie!

En die rooibosteeblare in hierdie braaivleis-vryfmengsel gee ’n wonderlike smaak aan lamsribbetjie. Jy hoef ook nie so snoep te wees met hierdie heerlike speserymengsel nie – jy kan dit op enige tjop, steak of hoenderstuk gebruik – oor die kole of in die oond. Maar hierdie kombinasie van rooibos en lam neem my ver terug, iewers na ’n groot stoep wat uitkyk oor die Karooveld. Dan sit en luister ek na die stilte en kyk na die skemermis wat oor die doringbome by die droë rivierloop hang. Trooskos, troostee, my klein hoekie in die ewigheid.

Karen se lamsribbetjie (met rooibos)

Genoeg vir 4

Vir die speserymengsel (jy gebruik net 2 eetlepels hiervan – die res bêre jy in ’n glasflessie wat dig toeskroef)
1 sakkie rooibostee, blare uit die sakkie gehaal
4 eetlepels bruinsuiker
1 eetlepel geelmosterdsaad
1 eetlepel sout
1 eetlepel swartpeperkorrels
2 teelepels paprika
1 teelepel droë tiemie
1 teelepel droë oreganum
½ teelepel rooipeper
1 teelepel wonderpeper

Vir die pot
1 heel lamsribbetjie van ongeveer 1 kg
1 koppie sterk rooibostee
1 groot ui, fyngekap
3 knoffeltoontjies, gekneus en fyngekap
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Maak eers die speserymengsel: Plaas al die bestanddele in ’n bakkie en meng goed. Maal dit in sarsies in ’n speserymenger of koffiemeultjie wat jy spesiaal vir speserye gebruik. Bêre in ’n lugdigte houer. Vra jou slagter om jou ribbetjie mooi bo-op die vetgedeelte te sny of gebruik ’n matmessie (wat jy net vir die kombuis hou) en sny self die vetllaag. Gebruik 2 eetlepels van die speserymengsel en vryf dit oral oor in die ribbetjie in. Plaas die ribbetjie saam met die ui, knoffel en rooibostee in ’n swaarboompot, bedek die pot en laat liggies prut oor baie lae hitte vir ongeveer ’n uur. Haal die ribbetjie uit. Plaas dit op die rooster van ’n oondpan en verf dit met die sappe wat in die pot agtergebly het. Geur met sout en peper en plaas in ’n voorverhitte oond van 160°C. Braai stadig vir ongeveer 2 uur. Verhoog die oondtemperatuur tot 200°C en braai vir nog 20 minute of totdat die vet genoeg uitgebraai het.

Lees ook

Pophuise en pampoenkoekies vir die onthou

Die eenvoud van dinge

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top