Die eenvoud van dinge

  • 3

Die lewe is eintlik heel eenvoudig, het Confucius honderde jare gelede al gesê, dis die mens wat dit so onnodig gekompliseerd maak. Ons doen dieselfde met kos. Moenie my verkeerd verstaan nie – ek het groot respek en eindelose bewondering vir die groot kosghoeroes. Met hul skuim, geurwolke en klein smaakontploffings in minuskule pêrels ingebou, skep die molekulêre gastronome ’n heel nuwe eet-avontuur. En jy kan nie help om geïntimideer te voel deur die eindelose stroom TV-sjefs wat met enkele bestanddele kulinêre kunswerke kan optower nie. Soms verlang ek net na die eenvoud van dinge.

Kleintyd se lekkerte was die stampmielies wat heeldag staan en uitswel het op die aga-stoof. Wanneer jy in die middag van die skool af kom en die warmte van die kombuis opsoek weg van die Karoowinter se byt, dan stoot jy jou bord kos weg en druk die lepel diep in daardie pêrelwit genot in – met ’n klontjie regte botter en ’n lekseltjie gouestroop. Ek kan baie goed verstaan dat Madiba hoflik nee dankie gesê het vir die feestafels wat vir hom voorberei is en gehunker het na sy stampmielies-en-bone. Doodgewone stampmielies, nie stampmielie-risotto of watter volksvreemde nuwe gewoontes ons op die arme mielies afdwing nie. Ek moet erken ek het ook al uit nuuskierigheid geswig en die nuwigheid in die kombuis probeer. Stampmielies maak ’n heerlike risotto, veral met sampioene. Maar niks, net mooi niks klop die smaak van daardie bakkie stampmielies wat op die aga-stoof gaargemaak is nie. O, die wonderlike eenvoud daarvan . . .

Toe ek nog in my woonstel aan die voet van Leeukop gebly het, het twee vriendinne een middag onverwags by my ingeloer. Dis was net so skuins voor middagete en ek het nie veel in die huis gehad nie. Toe maak ek maar omelet, doodgewoon sonder vulsel. “Wat op aarde het jy in hierdie omelet gesit?” wou hulle weet. Ek was so  bietjie uit die veld geslaan. “Eiers, sout en peper . . .” maar ek kon sien hulle glo my nie. Dis net die hitte van die pan, die botter waarin jy dit gaarmaak, maar dit help nie eintlik jy probeer verduidelik nie. Daar moet ’n vangplek wees, dis te eenvoudig.

’n Paar weke gelede, reg aan die begin van die avokado-seisoen, is ek genooi na ’n baie interessante ete. Met elke gang op die spyskaart was avokado die held in die verhaal. Die lusmakertjie reg aan die begin was bevrore avokado-suigstokkies. Ek het ’n bietjie wasabi geproe, min avokado, maar niks wat my smaakbekertjies laat rieldans het van genot nie. Dis gevolg deur ’n avokado-gazpacho met pofrys, sitroen-verbena en ’n olie gemaak van die avokado-skil. So mooi in die bord . . . Die hoofmaal was ’n bontspul van avokado-en-kaaskrokette, geroosterde mielies, ’n avokado-en-lemmetjieroompie, ’n bros masa harina taco en avokado-rosies. Die nagereg was ’n dekadente oordaad van wit-sjokolade-en-avo-mousse, koljander-en-lemmetjie-tapioka, avokado-koek, versuikerde bougainvillea en ’n klappersorbet.

Ek het daar aan die mooi gedekte tafel gesit en verlang na die botterryp avokado’s wat my groenteman vir my met die hand uitsoek. Nazeem het by sy pa geleer van groente en dinge. Hy ken elke soort avokado by sy naam en hy weet van elkeen se skete en geite. Ek het nog nooit ’n avokado by hom gekry wat met bruin kolle sit nog voor hy behoorlik ryp is nie. Nee, syne word binne ’n dag of drie ’n genoeglike groengeel. Dis dan wanneer ek my broodpan nadertrek, want hierdie avokado verdien iets beters as winkelbrood.

Toe my ma, broos en breekbaar uit die aftree-oord se siekeboeg by my aankom, het ek haar bederf met ’n sny varsgebakte brood met ’n dik laag avokado, gegeur met sout en varsgemaalde swartpeper. Dis waarvan sy gedroom het, het sy so tussen die happe deur gesê, dit was heel bo aan haar emmerskoplysie.

Hierdie brood, van kitsgis gemaak, is ook die eenvoud vanself. Jy hoef nie eens te knie nie. Ek gee jou die resep vir die brood, maar ek vrees jy sal self vir jou ’n Nazeem vir daardie perfekte avokado moet gaan soek. En moenie lol met allerhande fieterjasies nie – net sout en peper. Jy kan anderdag loop en spog met jou guacamole en ander uitlandse avokado-disse – nou is dit net die eenvoud wat tel.

Karen se kitsbrood (vir daardie spesiale bottergeel avokado)

2½ koppies steengemaalde volkoringmeel
½ koppie bruismeel
2 eetlepels suiker
1 teelepel sout
½ koppie sonneblomsaad en ’n bietjie ekstra vir die pannetjie en bo-op sprinkel
½ van ’n 10 g pakkie kitsgis
2 koppies louwarm water
2 eetlepels olyfolie

Meng al die droë bestanddele saam. Voeg die olie by die water en roer by die droë bestanddele. Meng  goed. Sprinkel ’n bietjie sonneblomsaad langs die kante en onder op die bodem van ’n gesmeerde broodpan. Giet die deeg in die pannetjie en sprinkel sonneblomsaad bo-oor. Bedek die pan met kleefplastiek asook met ’n skoon vadoek. Laat staan op ’n warm plek vir ongeveer 20 minute. Ek laat staan die broodpan sommer bo-op die stoof terwyl ek die oond laat warm word. Na 20 minute sit jy die brood in die voorverhitte oond (200°C) en bak dit vir 50 – 55 minute.

Gee die brood darem kans om af te koel voordat jy dit sny en dan eet jy ’n heerlike sny daarvan met regte, egte botter en dik hompe avokadopeer, gegeur met sout en peper. Net so – die eenvoud vanself.

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Ivan Oosthuizen

    Ai Karen, hoe raak vat jy oor die mooi van eenvoud. Ek voel so gereeld dat ons so bitter baie van die mooi om ons misloop juis oor hierdie geneigdheid om alles so te (oor)vernuwe. Partykeer is goed so op hulle eie mooi. Ek gaan beslis daai broodjie bak.

  • Baie dankie, Ivan. Jou woorde gaan my deur hierdie week dra. Dis vir my die wonderlikste van kos en kook - hoe dit mense laat uitreik na mekaar. Dankie.

  • Karen
    Gestroop van die hoogdrawendheid en pretensie van hedendaagse "kos-foendies". 'n Neiging wat floreer op selfspog en uiterlike vertoon ... moet die invloed van die "kassie" wees.
    Jy maak stampmielies en brood weer 'n koningsmaal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top