Pophuise en pampoenkoekies vir die onthou

  • 6

My kleintyd se onthou lê opgesluit in die geure van pampoenkoekies en kaneel. En Volmoed se speel sonder ophou. Dit was die popspeel-kombuisie in die vertoonvenster van die grênd speelgoedwinkel wat my neus-teen-die-ruit teruggeneem het na daardie wonderlike dae …

My sussie in die sneeu

Ek was vier jaar oud toe my pa skoolhoof geword het van die Middelbare Skool Volmoed. Die rekordgetal leerlinge, van die outydse sub A tot standerd 8, was 135 en dit was nie in die tyd toe my pa daar was nie. Wanneer dit gesneeu het op die Swartberge, het hy die hele skool in die bus gelaai om dié wit wonderwêreld te beleef. Volmoed is die plaasgemeenskap net buitekant Oudtshoorn, soos jy Mosselbaai se kant toe ry. Dis die pad wat ons gery het vir seevakansies saam met my ouma Drienie in haar houthuisie by De Bakke. En aan die ander kant van Oudtshoorn kronkel die pad oor die Swartbergpas na my oupa Frans en ouma Gertie in Prins Albert. Wanneer ek nou terugdink aan daardie vakansies, proe ek nog die rooilaventel wat ons gevoer is vir die karsiek oor daardie pas.

Volmoed was ’n kinderparadys. Ek was tien toe ons daar weg is Kaap toe, te jonk om ooit te weet hoe die grootmense die plek ervaar het, maar vir my en my boetie was dit een groot speelplek. Ek het soggens langs die pad die afleweringsbode van die winkel ingewag en in die groot mandjie, wat voor op sy fiets vasgemaak was, geklim om ’n ent verder in die pad af by ’n maatjie te gaan speel. Toe my sussie gebore is, is sy sommer daar by die winkel op die skaal geweeg eerder as om al die pad na die kliniek in Oudtshoorn te ry. My boetie en sy maats het by die werkswinkel van Oom Thys se motorhawe geboer. My ma kon die pad na Oudtshoorn Hospitaal se ongevalle-afdeling toe-oë ry – tone, vingers …

Ek en Volmoed

Daar was net ’n heining tussen die grondpad en die plase langs die pad. En jy kon maar net vra om op te klim wanneer daar ’n trekker met ’n sleepwa verbykom. Almal het almal geken en ons het handjies-agter-die-rug gaan staan en baie van die plaasbedrywighede grootoog dopgehou. My boetie het kleintyd ’n ding oor donkies gehad en het gereeld met ’n donkie aan ’n tou die bult op huis toe geloop. Dié het hy iewers by iemand vir tien sent gekoop. En oom Edmund het vir my sussie ’n bokkie present gegee sodat sy haar fopspeen, wat sy “pieshie” genoem het, kan los. Dit het dan ook die bok se naam geword. Pieshie het my ma met ’n kopstamp tot voor die stoof geboelie vir sy melkbottel. Dié kon sy nog hanteer, maar toe die bok viervoet op die klavier gaan staan, is hy gou terug plaas toe gestuur. Die enigste pieshie wat oorgebly het, was die een waaraan Kleinsus nog lustig gesuig het.

Ons het twee sementdamme op die erf van ons huurhuis gehad. Die een was leeg en ons kon net oor die wal klouter om binne-in te speel. By die ander huurhuis, waar ons eers gebly het, het ons ’n hele Karookoppie in die agterplaas gehad. My pa het die mandjie van ’n lugballon op ’n vendusie gekoop en dit op die ruim stoep staangemaak. Ons het ure lank daarin gespeel.

En die buitekamers …

Een van die leë buitekamers het ek vir myself toegeëien as pophuis. Ek neem aan dit was die ou melkkamer, want daar was nog ’n ou roomafskeier waarmee ons so lekker gespeel het. Ek het ’n klein parafienstofie van my ouma se strandhuis af gekry en ’n paar ou potte en panne en stukkende borde en koppies. Ek het by Doortjie in die kombuis ’n bietjie rys, of ’n aartappel gaan bedel en met basaartyd op Volmoed het ek met my sakgeld ’n bossie wortels by die groentetafel gekoop. In my verbeelding het ek elke keer ’n koningsmaal voorgesit. Die stofie was maar baie effens en ek kan nie onthou dat my speelmaats met dieselfde ywer saamgeëet het nie. En die poppe het geswyg.

Ek en Sussie in Ouma se strandhuis

Ek het ook graag gaan speel by ’n maatjie wat verder af in die stofpad gebly het. Sy was ’n jaar of twee ouer as ek en het ’n “buitekombuis” gehad. Daar kon sy vuurmaak en het eenkeer spekboomblare gekook. Daardie aand was ek heelnag in die badkamer en daardie siek sal ek nooit vergeet nie. Ek glimlag wanneer ek sien hoeveel bobaaskokke spekboom nou deel van hul spoggeregte maak. Ek verseg om my mond daaraan te sit.

Vir ons as kinders was die grootste nagmerrie kuiermense uit die dorp. Min van hulle kinders het regtig geweet van speel. Ons het baie pak gekry omdat ons hulle net daar gelos het en weggesluip het na ons eintlike speelmaats. Doortjie, wat by ons in die kombuis gewerk het, het ’n seun en ’n dogter gehad wat net so oud soos ons was en ons het feitlik saam grootgeword. Toe die parafienyskas by ons eerste huurhuis ontplof en die huis aan die brand geslaan het, het hulle net so hard saam met ons staan en huil. Ek en Dorethea het mekaar nou die dag weer, meer as ’n halfeeu later, deur Facebook opgespoor.

Daai speelkombuisie ...

Ek herleef die wonderlike Volmoed-jare deur die foto’s wat my pa daardie tyd geneem het. En dan, op ’n dag, voer ʾn klein speelkombuis in ʾn winkelvenster my terug na daardie buitekamer vol fantasieë en drome. En ek weet, daardie grênd klein kombuisie sal nooit so lekker speel soos die ou melkkamer daar in die huurhuis se agterplaas nie. Dan verlang ek sommer na al die aande voor die ou Aga-stoof in die kombuis en my ma wat vir ons Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas voorlees. En die pampoenkoekies met die dik laag kaneelsuiker wat onder jou tande kraak wanneer jy in die sagte geel in byt.

Karen se pampoenkoekies

Lewer ongeveer 12 – 16 pampoenkoekies (afhangende van die grootte)

2 koppies gaar pampoen, goed gedreineer
1 eier, liggies geklits
1 koppie bruismeel
1 teelepel bakpoeier
½ teelepel koeksoda
1 eetlepel bruinsuiker
’n knippie sout
1 eetlepel koffie (of brandewyn of sjerrie of Marsala)
gerasperde skil van 1 lemoen
½ koppie suiker gemeng met 1 – 2 teelepels fyn kaneel
olie vir braai

Meng al die bestanddele vir die pampoenkoekies (behalwe die kaneelsuiker en olie) en meng goed. Verhit die olie in ’n pan oor matige hitte en skep lepelsvol van die beslag in die warm olie. Moenie probeer om meer as vier koekies op ’n slag te bak nie – dit maak die pan benoud en die omdraaislag raak ’n bietjie moeilik. Braai eers aan die een kant totdat blasies begin vorm en draai dit dan om, om aan die ander kant ook mooi koperbruin te braai. Skep die koekies met ’n gaatjieslepel en dreineer op handdoekpapier. Strooi kaneelsuiker oor.

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Sameerah Frost

    Dankie Karen vir die reis in jou kinderdae. Those were the days my friend, we thought they will never end. Pragtig

  • Heerlike kinderdae toe ons nog regtig en ernstig gespeel het! Ek gaan definitief pampoenkoekies bak en terugdink aan die goeie ou dae ...

  • Baie dankie, Sameerah, Stephanie en Alet! My dag begin sommer met 'n vonkel met sulke wonderlike boodskappe. Dankie dat julle saam met my die herinneringe deel.

  • Ai Karen, hoe verlang ek nou na my ouma se huis op George en ons jaarlikse ‘aftrek’ see toe in Desember vakansie waar ons net nie uitgespeel kon raak nie. Victoriabaai het ook die lekkerste herinneringe. 🤗

  • Ja, Ansie, dis darem die wonderlikste wêreld daardie. Die lug is mos soet daar. En die see is so oneindig mooi.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top