Toorkombuis: My wingerd word herfs in rosyne

  • 1

  • Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.

Moenie my vra waarom herfs my aan rosyne laat dink nie. Miskien omdat die wingerde nou in roesbruin en koper staan en ek die verskrompelde ou goedjies sien as die einde van die pad van die goue en dieprooi juwele wat eens tussen lowergroen wingerdblare in trosse gehang het.

Dan verlang ek terug na my studentedae op Stellenbosch en die wonderlike rosyntjiebrood van Luigi’s, die klein bakkerytjie wat seker nou nie eens meer bestaan nie. Dit was destyds daar langs die Spur in die nou systraatjie neffens ’n groot winkelsentrum.

Mý Stellenbosch bestaan lankal nie meer nie, net in my onthou nog ...

Wanneer die koshuisdeure met die aandklokreël agtuur saans agter ons eerstejaartjies toegegrendel is, was daar altyd van die manne wat gewilliglik vir ons van daardie brode, nog warm uit die oond, gaan haal en deur die venster aangegee het.

........
Luigi’s se brood was byna oordadig uitgerys en die sagte wit van die brood deurspek met blinkvet rosyne, uitgeswel in die warm deeg, wat stroopsoet in jou mond ontplof het.
........

Luigi’s se brood was byna oordadig uitgerys en die sagte wit van die brood deurspek met blinkvet rosyne, uitgeswel in die warm deeg, wat stroopsoet in jou mond ontplof het. Miskien maak die onthou dit lekkerder as wat dit was, maar ek het nog nie weer sulke lekker rosyntjiebrood geëet nie.

Ek is skaam om te erken, maar die pad na my hart het deur daardie brood geloop. Vir my was so ’n brood ’n groter liefdesverklaring as die blomme wat deur my koshuiskamervenster vir my aangegee is. Selfs groter as die “serenades”, was manne wat vir my “Nights in white satin” en “Where do you go to, my lovely?” onder my venster kom sing het.

Dis daardie einste rosyntjiebrood wat gemaak het dat ek vakansietye by die huis die tuna, hardgekookte eiers, tamatie en pynappel van die sogenaamde Mayo-kliniek-dieet moes afwurg. Ek dink nie eens daai Amerikaanse kliniek weet dat hul naam so ydellik gebruik is nie, maar ek het geglo dit help om die rosyntjiebroodvetjies te laat wegsmelt.

Met al my bakkery het ek nog nooit probeer om ’n rosyntjiebrood soos Luigi’s s’n te probeer bak nie. Ek het nog nooit eens probeer om ’n ander bakkery s’n ’n kans te gee om só in my hart te kom lê nie. Dis die onthou wat ek koester.

Die rosyntjiebrood wat ek bak, is baie anders. Jy meng die bestanddele en laat dit oornag staan. Dan verkleur die rosyne daardie brood en dis glad nie die wit van Luigi’s s’n nie. Die broodjie is ook baie digter en sterk gegeur – met kaneel, fyn naeltjies en gemengde speserye.

Ek bak dit gereeld vir my en ’n vriendin se opskietmarkie wat ons een keer ’n maand hier by my huis hou. Ek bak dit in kleiner pannetjies en ek is maar te bly wanneer daar ’n broodjie of twee oorbly vir ’n snytjie met dik botter by my oggendkoffie. Lekker, maar nie Luigi-lekker nie.

Wanneer ek so aan my broodjie hap, dink ek baie keer hoe vreemd dit is dat deurleefde, byna afgeleefde, vrugte soveel geur aan dinge gee.

Ek laat my suurlemoene en ’n lemoene lank lê voordat ek hul sap gebruik. Hulle raak vaal, en aan die buitekant is hulle al besig om te versteen. My pruime is diep pers en byna papsag wanneer ek gebakte pruimpoeding of my Oosterse pruimsous daarvan maak.

My roomys maak ek van oorryp pynappels en mango’s. Die pynappels sou in ’n ander huis al lankal uitgegooi gewees het. Die mango’s se skil is taai en vol plooie. Maar wanneer jy die onooglikheid van die ouderdom aan die buitekant wegsny, sit jy met ’n ryp, geurige kern waarvan nie een van die blosende jongetjies hulle dit kan nadoen nie.

........
Jy haal die goddelikste smaakgenot van ou, amper-weggooi vrugte, vrugte waarvan net ’n vergete en verrimpelde droom van die blos op jeugdige ferm wangetjies oorgebly het ...
........

Jy haal die goddelikste smaakgenot van ou, amper-weggooi vrugte, vrugte waarvan net ’n vergete en verrimpelde droom van die blos op jeugdige ferm wangetjies oorgebly het ...

Goed, rosyne is nou nie heeltemal in dieselfde klas nie. Dis ’n hele proses om hulle so verskrompeld te kry om nog lank behoue te bly.

Soms wonder ek hoe anders die lewe sou gewees het as ons net wou raaksien hoeveel ons by die oumense kan leer. Daardie rosyne of oorryp, verskrompelde vrugte kan soveel meer geur aan ons lewens gee – as ons dit net wou toelaat.

Ek lees soveel hartseer stories oor vereensaamde bejaardes wat vergeefs wag op ’n telefoonoproep of ’n kuiertjie van hul kinders. Selfs in Hollywood. Almal was geskok oor die storie van Gene Hackman en sy vrou wat lank dood gelê het in hul huis voordat hul lyke gevind is. Die waarheid is: Daardie soort verwaarlosing gebeur elke dag om ons.

Vir my was die groot tragedie van die koorstyd dat kinders nie toegelaat is om hul ouers in aftreeoorde te besoek nie. Ek dink nie Covid het soveel lewens geëis as die absolute vereensaming nie. My hart het ineengekrimp toe ek die brief lees wat die bekroonde skrywer Elsa Joubert in haar laaste lewensjaar in dié afsondering aan die President geskryf het, waarin sy smeek dat bejaardes toegelaat word om hul geliefdes te sien.

Ons leef lankal nie meer in afsondering nie, maar almal is so besig met hul eie lewens dat daar nie tyd is vir kuiertjies by oumense nie. Dink net aan al die stories, lewenswyshede en ervaring wat ’n stille dood sterf agter die mure van luukse aftreeoorde en doodgewone ouetehuise.

Dit het miskien tyd geword om tot stilstand te kom en toe te laat dat die verskrompelde vrugte en rosyne weer geur aan ons lewens gee. Soos Luigi se hoog geryste rosyntjiebrood of my eie oornagnommertjie.

Karen se oornagrosyntjiebrood

Lewer 6 minibroodjies of 2 standaardgrootte brode.

1⅔ koppies ontpitte rosyne
3⅔ koppies koekmeel
½ teelepel sout
¼ teelepel fyn naeltjies
¼ teelepel kaneel
¼ teelepel gemengde speserye
125 g botter
2 teelepels koeksoda
1 koppie suiker
2 koppies karringmelk
2 eetlepels fyn appelkooskonfyt,

Kap die rosyne fyner in jou voedselverwerker. Sif die koekmeel, sout, naeltjies, kaneel en gemengde speserye saam in ’n mengbak. Voeg die rosyntjies by en meng totdat al die stukkies met meel bedek is. Smelt die botter oor lae hitte in ’n groot kastrol. Haal dit van die stoofplaat af sodra die botter gesmelt is en roer die koeksoda by. Roer totdat al die klontjies opgelos het. Voeg die meelmengsel en suiker by. Giet die karringmelk in ’n kleiner bakkie en klits die appelkooskonfyt by. Voeg dié mengsel by die mengsel in die kastrol. Meng goed. Bedek die kastrol met sy deksel en laat oornag staan. Die volgende oggend skep jy die deeg in die gesmeerde broodpannetjies en bak die kleintjies vir 30–35 minute of die grotes vir ’n uur lank in ’n voorverhitte oond van 180 ºC.

Wenk: Jy kan die karringmelk met amasi vervang – heerlik!

Lees ook:

Toorkombuis: Krismis met die radio en gemmerbroodmannetjies

Toorkombuis: Brood vir Bottergat

Toorkombuis: Oor sprokies en pampoenbredie

Toorkombuis: ’n Oorvloed van appelkose en onthou

Toorkombuis: Karen se bleddie lekker steak

  • 1

Kommentaar

  • Lizelle Van Staden

    Die rosynebrood lyk heerlik en ook maklik genoeg om self te probeer bak. Baie dankie vir die deel van jou reseppie, Karen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top