Bergklimmer, voorligtingsielkundige, navorser, artikelskrywer: wie is Handré Brand?

  • 1

Foto verskaf deur die skrywer

Handré Brand skryf al tien jaar lank Seminaarkamer-artikels vir LitNet. Naomi Meyer gaan vind uit wie die mens is wat navorsing oor so baie uiteenlopende onderwerpe doen.

Handré, daar daag elke nou en dan 'n artikel uit jou pen by LitNet op. Wat is jou agtergrond – jou beroep, jou stokperdjies en belangstellings?

Baie dankie, Naomi, vir die geleentheid om met jou te gesels. Wat my agtergrond betref: Ek het op Somerset-Wes grootgeword en skoolgegaan, ’n dorp en omgewing wat toentertyd bekend was vir onder andere uitvoertafeldruiwe soos die Waltham Cross- en Barlinka-variëteite, asook die De Beers-plofstoffabriek. Ek het aan die Universiteit Stellenbosch studeer en onderwyskwalifikasies aan beide Unisa en die (destydse) Onderwyskollege Wellington behaal. Ek was bevoorreg om onder die eerste groep voorligtingsielkundiges te wees wie se professionele registrasie gedurende die sewentigerjare by die Beroepsraad vir Sielkunde goedgekeur is. Gedurende my akademiese loopbaan aan die Universiteit Stellenbosch was my fokus op belangstellings soos beroepsvoorligting aan en beroepsontwikkeling van studente, die opleiding van professionele sielkundiges, sowel as op die behoeftes en uitdagings van persone met gestremdhede.

My vernaamste stokperdjie is om my liewe vrou, Cecile, gelukkig te hou.

Ek dink die saadjies vir my belangstelling in navorsing en skryfwerk is aanvanklik onder andere deur my destydse standerd 9- (graad 11-) geskiedenisonderwyser gesaai wat voorgestel het dat ek ’n artikel vir die skool se jaarblad skryf met die titel “Het Kasteel De Goede Hoop”. Dit was ’n lekker uitdaging, omdat my onderwyser van mening was dat ek oor die vaardighede beskik om oor ’n historiese gebeurtenis navorsing te doen.

.............
Ek dink die saadjies vir my belangstelling in navorsing en skryfwerk is aanvanklik onder andere deur my destydse standerd 9- (graad 11-) geskiedenisonderwyser gesaai wat voorgestel het dat ek ’n artikel vir die skool se jaarblad skryf met die titel “Het Kasteel De Goede Hoop”. Dit was ’n lekker uitdaging, omdat my onderwyser van mening was dat ek oor die vaardighede beskik om oor ’n historiese gebeurtenis navorsing te doen.
..................

Foto verskaf deur die skrywer

Daarna het my pad gekruis met dié van die formidabele JM du Toit, wat ’n professor in sielkunde was, asook ’n statistikus en ’n bekende plantkundige. Hy het veral klem geplaas op die belangrikheid van deeglike en suiwer wetenskaplike navorsingsmetodologie. Vraagstukke en hipoteses moet eksperimenteel ondersoek word. Daar word nie ruimte gelaat vir blote spekulasie nie. Die meetinstrumente moet geldig en betroubaar wees. Korrekte statistiese metodes moet toegepas word en ontleding van die resultate moet vernuwend gedoen word.

..............
Vraagstukke en hipoteses moet eksperimenteel ondersoek word. Daar word nie ruimte gelaat vir blote spekulasie nie. Die meetinstrumente moet geldig en betroubaar wees. Korrekte statistiese metodes moet toegepas word en ontleding van die resultate moet vernuwend gedoen word.
...............

Hierdie benadering het ’n groot indruk op my gemaak en ek probeer steeds om die skryfwerk wat ek doen, op daardie fondamente van ’n deeglike wetenskaplike benadering te baseer.

Op LitNet lees mens die mees uiteenlopende artikels wat jy al geskryf het. Sommige handel oor damme en water, ander oor robotte en kunsmatige intelligensie, oor die sielkunde, die geskiedenis, gesondheidskwessies, boeke en bergklim (ek voeg ’n paar van die artikels uit jou pen onderaan hierdie onderhoud). Jy skryf al tien jaar lank artikels vir LitNet, en as ek weer sien, daag daar net nóg een by my op. Watter artikels onthou jy almal, en watter van die artikels staan vir jou uit oor onderwerpe wat jou interesseer (het)?

Die 76 meningstukke wat ek vir LitNet geskryf het sedert my aftrede, kan ek sowaar almal nog onthou. Een wat uitstaan, is die geakkrediteerde artikel wat handel oor die bergklimmers van die Eigerspits in die Switserse Alpe, wat ook as die selfdoodmuur bekendstaan. Die artikel het voortgespruit uit ’n intense debat onder ’n groep vriende oor die motivering van die bergklimmers om hierdie uitdaging aan te pak. Sou dit ’n behoefte aan prestige wees, of oordrewe dapperheid, of selfs onrealistiese egobewustheid?

Verder het ek dit ook gewaag om ’n paar boekresensies te skyf. ’n Resensie wat ek baie goed onthou, het gegaan oor Harris Dousemetzis se boek The man who killed apartheid, wat handel oor die moord op HF Verwoerd deur Dimitri Tsafendas. Ek het ’n redelik kritiese standpunt ingeneem, veral teenoor die onderliggende beginsel van historiese revisionisme, asook die metodologie wat die skrywer gebruik het om data deur middel van persoonlike onderhoude te versamel. Dousemetzis was geensins beïndruk met die resensie nie en het besonder intens en gedetailleerd op my poging reageer.

Dit was ook ’n besonder aangename ervaring om oor Stellenbosch se oorlogsperdeplase te skryf. Dit was ’n voorreg om die historiese plase Simonsig, Nooitgedacht, Koelenhof en Geluksoord te besoek, met die eienaars te gesels en na artefakte uit die tydperk van die Anglo-Boereoorlog te kyk.

Jy skryf algemene meningstukke vir LitNet, maar jy doen baie navorsing vir die artikels wat jy stuur. Hoe gaan jy te werk as jy navorsing doen? Jy kan dalk een spesifieke artikel as voorbeeld gebruik en op die proses uitbrei.

Deeglike navorsing is kernbelangrik by die skryf van ’n meningsartikel. Wat die proses vergemaklik, is dat ek steeds toegang het tot die Universiteit Stellenbosch se elektroniese databasisse waarop die nuutste uitgawes van vaktydskrifte beskikbaar is. Ek vra ook gewoonlik een of twee deskundiges se menings oor die inhoud van die artikel voordat ek die skryfstuk vir beoordeling aan LitNet aanbied.

As voorbeeld van hoe die proses werk, kan ek verwys na my mees onlangse artikel, wat handel oor die hiporheïese sones van riviere. Ek het aanvanklik in die digitale tydskrif Journal of Hydrology ’n onlangse portuurgeëvalueerde artikel gelees oor die wisselwerking tussen grondwater en oppervlakwater in rivierstrome en die implikasies daarvan. Daarna het ek met ’n geoloog en ’n limnoloog verdere gesprekke gevoer oor die belangrikheid en implikasies van hierdie sones, en toe die artikel geskryf.

Hoekom skryf, waarom iets boekstaaf? En waarom in Afrikaans?

Om te skryf is ’n passie vir my, bykans ’n vorm van psigoterapie, veral omdat ’n mens jou eie unieke stempel op die eindproduk kan afdruk, iets wat baie bevredigend is.

...........
Stelwyse en uitdrukkkingsvermoë in ’n moedertaal is uniek en eiesoortig.
.............

Stelwyse en uitdrukkkingsvermoë in ’n moedertaal is uniek en eiesoortig. Sekere uitdrukkings is net eenvoudig onmoontlik om in Engels te doen sonder om trefkrag in te boet, veral waar humor binne ’n bepaalde kultuurverband ter sprake kom, byvoorbeeld in die verhaaltjie “Ken jy die see, meneer?” wat onlangs deur LitNet gepubliseer is.

Wat is die volgende onderwerp wat jou interesseer?

Ek het onlangs ’n berig oor die negatiewe implikasies van die blootstelling van volwassenes en kinders aan klankbesoedeling in die Europese Unie op Euronews gelees. Terselfdertyd het ’n berig op Netwerk24 verskyn oor die harde gefluit van treine in Muizenberg wat die inwoners tot raserny dryf. Nadat ek die US se databasisse geraadpleeg het, het ek afgekom op die term misofonie (misophonia), wat ’n oordrewe sensitiwiteit vir sekere klankprikkels beteken. Ek begin dus nou met die samestelling van ’n raamwerk vir ’n artikel oor geraasbesoedeling en misofonie.

Lees ook:

Kunsmatige intelligensie

Opponerende standpunte oor waardigheidsdoding (eutanasie)

Stellenbosch se Vergenoeg: Die pad vorentoe

Keuses en gevolge: ontleding van ’n gebeurtenis

Nalatenskappe

Sielkundige gevolge van langdurige droogtetoestande

Vroeë artikels oor die Anglo-Boereoorlog wat in internasionale vakkundige tydskrifte verskyn het

Die fusillerings van Johannes Morgendaal en Lambert Colyn

Die sielkunde van korrupsie

Stellenbosch se oorlogsperdeplase (1899–1902)

Stereotipering van rotsklimmers: Ware helde of soekers na rampspoedige roem?

Sosiohidrologie: menslike interaksie en waterstelsels

Risikopersepsie en klimaatsverandering

Fisieke oefening en demensie – enkele navorsingsbevindinge

Interpretiewe of vertolkende versorging en demensie

Hiporheïese sones: die lewer van riviere

Ken jy die see, meneer?

 

  • 1

Kommentaar

  • Jeanette de Klerk-Luttig

    Wat 'n besondere prestasie, Handre! Die uiteenlopende onderwerpe oor die jare verstom mens. Jy is sowaar 'n voorbeeld van 'n afgetrede persoon met baie interessante belangstellings. Dankie dat jy dit met ons deel. Doet so voort!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top