Good intentions can often lead to unintended consequences. – Tim Walberg[i]
Agtergrond
Wat sou 'n veroordeelde persoon se motivering vir sy besluit om 'n daad uit te voer, kon behels indien hy die volgende boodskap ontvang? "Gedra jou soos 'n man, broer, jou tyd het gekom."[ii] Denise Ackermann (2014) sê tereg: "Human beings have the unique ability to ask questions of themselves and others, questions that matter and that change our understanding" (bl 17).
Die rol wat sielkundige prosesse in oorlogvoering speel, is kritiek en waarskynlik alombekend. Cushman (2014) verwys na verskeie algemene oorsaaklike faktore, soos kognisie (the role of reason), persoonlikheid, affek (emosies); sydigheid (bias), risikogedrag, opvattings, houdings, besluitneming, wanopvattings en stres, wat bepalend is van menslike gedrag tydens militêre konflikte.
Wat spesifiek die Anglo-Boereoorlog (ABO) betref, het McLeod (2004) 'n DPhil-proefskrif laat verskyn oor die Boere se ervaring van "sielkundige verwonding" tydens die guerrillafase en van die ABO. Die rol en belewing van reaktiewe en posttraumatiese stres is hier deeglik en omvattend dmv psigohistoriese retrospeksie nagevors.
Vir die doeleindes van hierdie artikel word twee fusilleringsinsidente (dié van Johannes Jacobus Morgendaal en Lambert Johannes Colyn) met mekaar vergelyk en in terme van onder andere die kognitiewe-dissonansie-teorie geïnterpreteer.
Johannes Jacobus Morgendaal
Agtergrondinligting oor Morgendaal en Colyn wat hier volg, is aan die volgende bronne ontleen, tensy anders vermeld: Blake (2012), Geldenhuys (2002), Grundlingh (1999), Le Riche (1980) en Reitz (2013).
Morgendaal (gebore op 10 Januarie 1870 te Middelburg, Stormberg-distrik, Oos-Kaap – www.geni.com/people/Johannes-Jacobus-Morgendaal/6000000032519738923) was ʼn vooruitstrewende boer in die Kroonstad-omgewing, en het ook verskeie openbare posisies beklee. Teen die middel van 1900 was hy nie meer oortuig van die Boeresaak nie en het gevolglik die Britse eed van getrouheid afgelê. Hy het lid geword van die burgervredeskomiteestelsel.
Op 28 Desember het hy en Wessels na die laer van genl de Wet vertrek om die Boereleiers te probeer oortuig van die futiliteit van voortsetting van die oorlog. Hy is egter in hegtenis geneem, verhoor en as ʼn gevangene aangehou. Op grond van ʼn reeks ongelukkige gebeurtenisse en onverantwoordelike gedrag (in die konteks van die intens stresvolle en vyandelike atmosfeer) deur Morgendaal, wat die ignorering van bevele ingesluit het, het genl Froneman hom summier geskiet en het hy later (19 Januarie 1901) aan sy wonde gesterf.
Lambert Johannes Colyn
Colyn was afkomstig uit die Piketberg-omgewing, en die vermoede bestaan dat hy 'n bywoner was. 'n Genealogiese studie van Colyn (kyk Geldenhuys 2002) toon aan dat hy deels van Britse afkoms was, dus kan gespekuleer word dat hy waarskynlik lojaal teenoor die Britse saak kon gewees het.
Met inagneming van verklarings deur sy vader, Abraham Colyn, en omdat Lambert Colyn van Piketberg afkomstig was, kan geredeneer word dat hy ten minste wat sy taalvoorkeur betref, meer Afrikaans/Hollands as Engels was. As Kapenaar was Colyn ook dus 'n Britse burger, en sy seun, Pieter, wat as jong seun aan Boerekant geveg het, is ná die oorlog deur die Britte aan hoogverraad skuldig bevind (persoonlike kommunikasie, Francois Theron).
Hy het onder valse voorwendsels by 'n Boerekommando onder kmdt Ben Bouwer aangesluit. Hy was in 'n "gehawende toestand", en volgens hom was sy gesin aan die verhonger weens armoede. Colyn is in die kommando onder deeglike observasie geplaas, maar dit het mettertyd verslap. Nadat Colyn hom deeglik van die posisie van die Boeremagte vergewis het, het hy gedros en die Britse bevelvoerder strategies ingelig, waarna genl Kavanagh die Boerelaer by die plaas Krantz in die nag verras het. Die aanval het met ernstige lewensverlies aan Boerekant gepaard gegaan.
Colyn is per toeval na afloop van 'n suksesvolle teenaanval deur die Boere op die plaas Windhoek (naby Vanrhynsdorp) gevang. Hy is op die naburige plaas, Aries, deur 'n krygshof[iii] verhoor en ter dood veroordeel. Die vonnis is onmiddellik deur 'n vuurpeloton voltrek op 25 Februarie 1902.

Die brief van PS Krige, 'n lid van genl Jan Smuts se staf, verduidelik die prosedure wat gevolg is en kan as betroubaar aanvaar word. (Toestemming deur die Stellenbosch Dorpsmuseum is verleen om die brief slegs vir die doel van hierdie artikel te fotografeer en te publiseer.)
Die term kognitiewe dissonansie (Kaplan en Sadoc 2003) verwys na "incongruity or disharmony among a person’s beliefs, knowledge, and behaviour" (147). Anders gestel: inkongruensie of konflikte ontstaan tussen die kognitiewe, affektiewe en konatiewe dimensies van persoonlikheid wat geïntegreerd as 'n geheel funksioneer.
Kognisies kan in 'n konsonante, 'n irrelevante of selfs dissonante verhouding tot mekaar staan. 'n Persoon wat byvoorbeeld wil ophou rook, koop doodeenvoudig nie meer sigarette nie (konsonant). 'n Persoon wil ophou rook, daarom drink hy meer rooiwyn (irrelevant). 'n Persoon wil ophou rook, maar hy koop 'n kartonhouer sigarette (dissonant). Vir meer algemene inligting hieroor, raadpleeg http://en.wikipedia.org/wiki/Cognitive_dissonance.
Wanneer die disharmonie vererger of meer intens word, kan die persoon sy denkpatrone of gedrag wysig om die disharmonie te probeer verlig. Benewens wysiging van gedrag kan 'n persoon ook sy gedrag regverdig, of selfs nuwe inligting wat strydig met die dissonansie is, ignoreer. Kognitiewe dissonansie veroorsaak dus 'n interne gemoedstoestand wat as intense spanning (stres) beleef kan word en normaalweg die persoon motiveer om sy denke of gedrag te wysig.
Intensie verwys na 'n instelling of gerigtheid om 'n plan of idee uit te voer. Intensies is die doelstellings wat gedrag motiveer. Dit is iets wat 'n persoon wil doen, hetsy suksesvol of onsuksesvol. ʼn Individu is gedetermineerd of gemotiveerd om op ʼn sekere manier op te tree, en is bewus van die implikasies en die gepaardgaande gevolge van sy gedrag.
Fishbein en Ajzen (Vallerand ea 1992) het verdere verbandhoudende teorieë ontwikkel, soos die teorie van beplande gedrag (planned behaviour) en beredeneerde aksie (reasoned action). In kort kom dit neer op die ontwikkeling van ‘n reeks kognitiewe prosesse: eerstens ‘n houding of instelling (die waarde wat die persoon heg aan die handeling wat uitgevoer moet word); gedragsintensie (die intensiteit van motivering om die handeling uit te voer); subjektiewe norme (die mate waarin die persoon glo dat sy portuurgroep hom steun in sy handeling); sosiale norme (of die gedrag in ooreenstemming met die kulturele konteks in groter groepsverband is); waargenome mag (die mate waarin die persoon dink hy beheer faktore wat sy voorgenome handeling kan beïnvloed); gedragskontrole (persepsie van hoe moeilik of hoe maklik dit is om die handeling uit te voer).
Die vraag ontstaan gevolglik of die gebeurtenisse rondom Morgendaal en Colyn wat hulle tydens die ABO afgespeel het, moontlik deur die teorie van kognitiewe dissonansie van Festinger (kyk oa Forgas, Cooper en Crano 2010) asook die werk van Fishbein en Ajzen verder verhelder kan word.
Die opvallendste verskille en ooreenkomste tussen Morgendaal en Colyn word in Tabel 1 saamgevat.
Tabel 1
Morgendaal vs Colyn
| Motivering van intensionaliteit | Simpatie met Britse saak | Sosiale status | Botsende elemente in bewussyn | Was kommando's bewus van intensies? |
Uitkomste | Plek van insident | Ouderdom | |
| Morgendaal | Polities/ Finansieel |
Ja | Hoog | Eiebelang en vrede vs Republikeinse ideaal | Ja | Krygshof; Summier geskiet ogv verband-houdende insident | Kroonstad | 60 |
| Colyn | Altruïsties/ Finansieel |
Ja | Laag | Gesinsbelange vs Republikeinse ideaal | Nee |
Krygshof; Vuurpeloton ná verhoor |
Vanrhynsdorp | 41 |
Dit blyk uit tabel 1 dat intensionele verskille moontlik by Morgendaal en Colyn teenswoordig was. Omdat Morgendaal meer welgesteld as Colyn was, sou hy meer daarby baat indien vrede spoedig gesluit kon word, en was dus waarskynlik meer deur eiebelang gedryf. Daarteenoor was Colyn se intensie om die finansiële krisis waarin sy gesin verkeer het, te probeer verlig, dus kon medemenslikheid as die hoof motiverende faktor vir sy gedrag gesien word. Hy het ook tydens die fusillering gesê dat hy vir "bloedgeld" sterf.
Kognitiewe dissonansie by Morgendaal was gesetel in botsende belange tussen die behoefte aan spoedige vrede en die voortspruitende materiële voordele versus getrouheid aan die Republikeinse ideaal van onafhanklikheid. Daarteenoor het Colyn konflikte beleef tussen die materiële nood en armoede van sy vrou en kinders versus die morele verpligting om die Boeresaak te ondersteun.
Wat die reeks kognitiewe prosesse betref, was die houding om die handelinge uit te voer by beide Morgendaal en Colyn goed gevestig. Beide was hoogs gemotiveerd om tot aksie oor te gaan. Morgendaal se onmiddellike portuurgroep (die Vredeskomitees) het sy optrede gesteun, terwyl Colyn nie aan soortgelyke portuurgroepdruk blootgestel was nie. Morgendaal se gedrag sou egter nie binne die groter Republikeinse kulturele konteks goedgekeur gewees het nie (in die konteks van die Republikeinse saak is die Vredeskomiteebeweging as verraad beskou). As Britse onderdaan sou Colyn se optrede moontlik binne die kulturele konteks van die Kaapkolonie in ‘n ander lig gesien kan word. Baie Kaapse Afrikaners het ook nie noodwendig konflikte beleef tussen hul Afrikaner-identiteit en lojaliteit aan die Britse Kroon nie (Dederen 2011). Wat waargenome mag en gedragsbeheer betref, het beide Morgendaal en Colyn beslis irrasioneel opgetree.
Beide Morgendaal en Colyn was dus intensioneel gerig. Die konteks van hulle intensionaliteit het egter beduidend verskil. Hierdie intensionaliteit kon tot kognitiewe dissonansie aanleiding gee, ongelukkig met katastrofiese gevolge in beide gevalle.
Menslike gedrag in spesifieke situasies kan dikwels vir buitestanders as riskant en soms totaal onverklaarbaar voorkom. Wanneer ons egter meer noukeurig nadink oor presies watter faktore die gedrag motiveer, kan selfs die skynbaar onverklaarbare meer sinvol blyk te wees.
Gevolgtrekkings
◙ Morgendaal en Colyn se intensies het verskil. Morgendaal wou hoofsaaklik vrede bevorder, en Colyn wou hoofsaaklik spioeneer.
◙ Verskillende intensies in ooreenstemmende kontekste (oorlog) kan presies dieselfde negatiewe implikasies inhou (die dood).
◙ Intensies waarvan 'n persoon rasioneel oortuig blyk te wees, kan as irrasioneel deur die omgewing geïnterpreteer word en ernstige implikasies en gevolge hê, soos uit beide gevalle blyk.
◙ Die wyse waarop beide Morgendaal en Colyn hul kognisies volgens die beskikbare inligting hanteer het, herinner baie aan regverdiging enersyds en/of ignorering andersyds van die dissonante fasette van die kognisies.
Psigopatologie en disintegrasie van gedrag word meestal met oorlogvoering en militêre konflikte geassosieer. Die noodlottige insidente waarby Johannes Morgendaal en Lambert Colyn hul lewens verloor het, het nie kenmerkende psigopatologiese prosesse as oorsaak nie, maar in aansluiting by Cushman (2014) toon die gebeure die belangrikheid van insig in die intensionaliteit van menslike gedrag en die gevolge wat daaruit voorspruit.
Opmerkings
◙ Daar moet beslis gewaak word teen die oorvereenvoudiging van menslike gedrag. Veral die voorspelling van gedrag is normaalweg uiters kompleks. Ek vereenselwig my met hierdie standpunt. Die doel met hierdie artikel was slegs om een aspek, nl dissonansie, te bespreek, terwyl die rol van ander aspekte soos persoonlikheidseienskappe, aanleg en waardes nie misken word nie. In hierdie artikel word dus hoofsaaklik 'n mening uitgespreek, en ek verwelkom ander invalshoeke oor dieselfde gebeure.
◙ Die bronnelys wat in hierdie in hierdie artikel geraadpleeg is, is beperk. Die doel was egter geensins om 'n volledige akademiese literatuuroorsig van die twee fusilleringsinsidente te gee nie, maar bloot om 'n standpunt daar te stel wat die gebeure kan verhelder of in 'n ander perspektief stel.
◙ Die kommentaar van Francois Theron ('n verteenwoordiger van die Colyn-familie) oor die teksinhoud word waardeer, asook die toestemming deur Hannelie Jonker, senior bibliotekaresse van die Stellenbosch Museum, om die brief deur PS Krige te publiseer.
Bibiografie
Ackermann, DM. 2014. Surprised by the Man on the borrowed donkey. Kaapstad: Lux Verbi.
Behavioural change models. The theory of planned behaviour. Onttrek op 7 Augustus 2015 van
http://sphweb.bumc.bu.edu/otlt/MPH-Modules/SB/SB721-Models.
Blake, A. 2010. Boereverraaier. Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog. Kaapstad: Tafelberg Uitgewers.
Cognitive dissonance. Onttrek op 16 Mei 2015 van http://en.wikipedia.org/wiki/Cognitive_dissonance.
Cushman, G. 2014. What causes war? An introduction to theories of international conflict. Maryland, Roman & Littlefield. Onttrek op 13 Mei 2015 van https://books.google.co.za/
Dederen, J. 2011. Book reviews. Historia, 56(2), November. Onttrek op 8 Augustus 2015 van www.scielo.org.za.
Forgas, JP, J Cooper & WD Crano. 2010. The psychology of attitude change. NY: Taylor & Francis. Onttrek op 17 Mei 2015 van https://books.google.co.za/
Geldenhuys, G. 2002. Generaal Jan Smuts en Lambert Colyn. Capensis, 1:19–29.
Grundlingh, AM. 1999. Die "hensoppers" en "joiners". Die rasionaal en verskynsel van verraad. Pretoria: Protea Boekhuis.
Le Riche, PJ. 1980. Memoirs of General Ben Bouwer. Pretoria, Human Sciences Research Council.
Mcleod, AJ. 2004. The psychological impact of guerrilla warfare on the Boer forces during the Anglo-Boer War. DPhil-proefskrif, Universiteit van Pretoria.
Reitz, D. 2013. Kommando van perde en manne. ‘n Boere-joernaal van de Anglo-Boereoorlog en die nadraai van die oorlog. Kaapstad: Cerderberg Uitgewers.
Vallerand, RJ, LG Pelletier, P Deshaies, J Cuerrier en C Mongeau. 1992. Ajzen and Fishbein’s theory of reasoned action as applied to moral behavior: A confirmatory analysis. Journal of Personality and Social Psychology, 62(1):98–109.
Endnotas
[i] Tim Walberg (sj). BrainyQuote.com. Onttrek op 13 Mei, 2015, van BrainyQuote.com. Webtuiste: http://www.brainyquote.com/quotes/quotes/t/timwalberg645018.html.
[ii] Deur die veldprediker Abraham Kriel oorgedra aan Lambert Colyn tydens sy fusillering (Blake, bl 237).
[iii] Verskil van mening bestaan oor hoe presies die krygshof saamgestel was, en of krygshofverrigtinge hoegenaamd plaasgevind het.




Kommentaar
Puik Handre ... baie geluk !
Die konsepte''sielkundige verwonding'' en ''psigohistoriese retrospeksie '' het ek veral baie interssant gevind.Die insig in intensionaliteit van gedrag is inderdaad baie belangrik,maar word selde gepleeg! Dankie dat jy met my gedeel het!
Baie dankie. Ek is besig met navorsing oor 'n gelyke saak. This will be very helpful to me!
Carmel alle sukses met jou navorsing. Ek sal graag jou publikasie wil lees.