Nalatenskappe

  • 0

“No legacy is so rich as honesty.”1

1. Inleiding

Johan van Wyk (2016:48) beskryf die geskiedenis, rol en impak wat Daniel Edward Ellis op die Van Wyksdorpse gemeenskap in die Klein Karoo gehad het. Die skets word afgesluit met die volgende perspektief: “In sy begrafnisrede het Alberton se ds Aap Raath hom Van Wyksdorp se Goue Seun genoem wat goud in die Goudstad kom soek het maar klatergoud gevind het.” Die afleiding kan gevolglik deur die leser gemaak word dat die “Goue Seun” se nalatenskap volgens die interpretasie van die predikant nie verloop het soos wat verwag is nie, of ’n ander wending geneem het, of selfs traumaties kon wees. Is dit egter ’n geldige gevolgtrekking om te maak? Berus ’n persoonlike nalatenskap noodwendig uitsluitlik op eksterne persepsies, waarnemings en interpretasies van die lewenstyl, waardes, beginsels en werksprestasies van ’n persoon? Hoe geldig is sulke interpretasies van ander se nalatenskappe? Die Goue Seun kon moontlik wat sy interne beleweniswêreld betref volgens sy eie waarnemings ’n doodgelukkige lewensbestaan gevoer het. Miskien het hy die kuns van hoe om gelukkig te lewe verstaan terwyl ander se interpretasies van sy lewenstyl misplaas was.

 

2. Doel

Die doel van hierdie artikel is om die begrip nalatenskap te omskryf; die kenmerke van nalatenskappe kortliks te bespreek; enkele voorbeelde te noem van perspektiewe oor en wyses waarop die begrip toegepas word; en prosesse uit te lig wat met die ontwikkeling van nalatenskappe verband hou.

 

3. Omskrywing en definisies

Volgens Merriam-Webster.com is ’n nalatenskap (a) ’n bemaking of ’n erflating in ’n testament van veral geld of eiendom, of (b) iets wat ontvang is van of oorgedra is deur voorgangers uit die verlede (bv die waagmoed van Portugese seevaarders of die dekades se verwaarlosing van natuurlike hulpbronne of die aanvaarding van godsdiensvryheid), of (c) ’n kandidaat wat vir lidmaatskap van ’n organisasie oorweeg word en wat spesiale status toegedeel word op grond van sy/haar familieverbintenisse met ’n bestaande lid van die organisasie (legacy candidate).

Aansluitend hierby onderskei die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (Van Schalkwyk, du Plessis, Lombard, Botha en van Wyk 2000:47) die volgende betekenisse op grond van algemene Afrikaanse spreektaalwyses: roerende en (of) onroerende goedere wat in ’n testament nagelaat word; ’n materiële of geestelike bydrae wat deur ’n vorige geslag oorgedra is; ’n eienskap of reeks eienskappe wat van ’n familielid oorgeërf word; die resultaat of gevolg van ’n gebeurtenis of handeling.

’n Persoonlike nalatenskap is volgens Fox, Plunkett-Tost en Wade-Benzoni (2010) ’n voortdurende betekenis wat aan ’n persoon se identiteit gekoppel word, en manifesteer as die impak wat die persoon op sy medemens het en wat nie gebonde is aan die tydsbeperking van ’n leeftyd nie.

Preuss (2007) stel die volgende oorsigtelike definisie voor vir ’n nalatenskap binne die konteks van megasportbyeenkomste. Hiervolgens is ’n sportnalatenskap alle beplande en onbeplande, positiewe en negatiewe, tasbare en nietasbare strukture wat geskep is vir en deur ’n sportbyeenkoms en wat ’n langer nawerking as die sportgebeurtenis self het.

Die nalatingskonsep bied dus ’n besondere wye verskeidenheid gebruiks- en toepassingsmoontlikhede.2 Persoonlike nalatenskappe word van die res onderskei deurdat die betekenisse wat uit die vertolking van inligting oor ’n persoon voortspruit, aan die persoon se identiteit gekoppel word, byvoorbeeld wanneer die oorledene as ’n “kwasterige persoonlikheid” in ’n begrafnisrede beskryf word.

 

4. Kenmerke van nalatenskappe

’n Nalatenskap kan positief of oorwegend positief, negatief of oorwegend negatief, of gemeng van aard wees.

4.1 Oorwegend positief

As ’n voorbeeld van ’n oorwegend positiewe persoonlike nalatenskap word hier na die lewenswyse van Moeder Theresa, die Albaniese non en Nobelpryswenner, verwys. Haar opheffingswerk onder die armes in Indië vind steeds wêreldwye resonansie (Alpion 2006). Moeder Teresa se charisma het die toets van die tyd deurstaan, ten spyte van haar kritici se uitsprake voor en na haar dood (Alpion 2014) en desnieteenstaande die openbaarmaking van ’n spirituele leegheid (“the place of God in my soul is blank”) wat sy lewenslank ervaar het (Kolodiejchuk 2008: 2).

Volgens Fox e.a. (2010) is die motivering vir die daarstelling van ’n positiewe nalatenskap gewortel in die fundamentele behoefte om sekerheid te kry dat die lewe wel betekenisvol was.

4.2 Oorwegend negatief

Whitelaw (2012) som die oorwegend negatiewe nalatenskap van die Romeinse keiser Caligula in een enkele sin op: hy het die Romeinse staat tot bankrotskap bestuur en was die oorsaak van die dood van groot getalle onskuldige Romeinse burgers.

 In Januarie 1878 skiet en verwond Ivanovna Zasulich die polisiehoof van St Petersburg, en in die Palgrave Handbook of Women and Gender in the Twentieth-Century Russia and Soviet Union word haar nalatenskap onvleiend beskryf as dié van die wêreld se eerste vroulike terroris, ’n politieke ekstremis en die beskuldigde in Rusland se moordsaak van die 19de eeu.

4.3 Gemengde nalatenskappe

Die Magna Carta was die eerste tentatiewe stap weg van outokrasie in die rigting van moderne demokrasie. Alhoewel die Magna Carta vandag gesien word as die ontstaanbron van ’n wye spektrum hoogs gerespekteerde menseregte in die konteks van die Britse en Amerikaanse regstelsels, beweer Green (2017) dat die gesag van die Magna Carta wat kerklike outonomie betref, oorbeklemtoon word. Die Handves het geen noemenswaardige rol gespeel in die ontwikkeling van die beginsels van kerklike outonomie in die Amerikaanse regstelsel nie. Die Magna Carta lewer dus hoogstens ’n gemengde nalatenskap wat Amerikaanse godsdiensvryheid betref.

In die geval van Robert Mugabe kan nie sonder meer tot die gevolgtrekking gekom word dat sy nalatenskap negatief is nie. Van der Westhuizen (2017) toon in sy artikel, “Groot bevryder of diktator?”, aan dat dié nalatenskap waarskynlik eerder as gemeng as negatief gesien behoort te word.

Verdere interessante kenmerkende eienskappe van nalatenskappe wat in die literatuur genoem word, volg hier onder.

4.4 Volhoubaarheid en reikwydtes

Volgens Cornelissen (2011:309) behoort ’n sportnalatenskap volhoubaar voort te duur vir ’n betekenisvolle periode na die byeenkoms, en die impak behoort deurlopend geëvalueer te word vir minstens 20 jaar na die gebeurtenis. Nalatenskappe van megasportbyeenkomste word gekenmerkend aan veral langtermynimpakte, hetsy positief of negatief, en die reikwydte van die impak word as meer akuut ervaar nader aan die spesifieke ruimtelike omgewing waar die aktiwiteit plaasgevind het.

4.5 Teorie, geldigheid en betroubaarheid

Persoonlike nalatenskappe berus op die vertolking en interpretasie van feite en gegewens, met die gevolg dat verskille tussen individuele persepsies ’n sekere mate van foutvariansie kan veroorsaak tydens die integrasieproses van die beskikbare inligting tot ’n betreklik betroubare en geldige geheelbeeld.

Vanuit die Sosiale Denke-teorie (Passer, Smith, Holt ea 2009:602–3) kan die begrip attribusie met die ontwikkeling van nalatenskappe in verband gebring word. Attribusies word geïdentifiseer na aanleiding van die beoordeling van eie en ander persone se gedrag en gedragsuitkomste. ’n Skrywer se attribusies van ’n historiese figuur kan byvoorbeeld die wyse waarop oor die rol en impak van die persoon geskryf word, beïnvloed. By interne attribusies word ’n ander persoon se gedrag toegeskryf aan sy persoonlike eienskappe (bv “hy is onbeskof daarom het hy haar nie gegroet nie”), teenoor eksterne attribusies, waar ’n persoon se gedrag aan eksterne faktore toegeskryf word (bv “hy het met onderskeiding geslaag omdat die vraestel maklik was”).

Attribusiesydigheid beteken dat elemente van die situasie of die rol van die omgewing (eksterne attribusie) onderskat word ten koste van persoonlikheidsfaktore (interne attribusie) wat terselfdertyd oorskat word tydens die interpretasie of verklaring van ’n persoon se gedrag. Attribusiesydigheid kom ter sprake wanneer televisiekykers byvoorbeeld aanneem dat ’n akteur oor dieselfde persoonlikheidseienskappe beskik as dié van die karakter wat die akteur vertolk. Indien aangeneem word dat Jan Smuts op grond van sy persoonlikheidseienskappe alleen (interne attribusies soos doelgerigtheid, gebrek aan sensitiwiteit, struktuurgebondenheid en rigiditeit) die fusillering van Lambert Colyn (Blake 2010:237) voltrek het, word ’n attribusiesydigheidsfout begaan, omdat die omstandighede (die Krygshofbesluit en gepaardgaande prosesse as eksterne attribusies) finaal en deurslaggewend was.

Tydens die oorweging van die geldigheid en betroubaarheid van nalatenskappe behoort kritiese vrae konsekwent oor moontlike onbeheerde invloede soos attribusiesydigheid op die konstruk- (of faktoriale geldigheid) en interbeoordelaarsbetroubaarheid gevra te word.

Teenoor die kognitiewedenkteorie gaan die psigoanalitiese teorie (Fox ea 2010) van die standpunt uit dat ’n individu se bewustheid van sy/haar eie sterflikheid aanleiding gee tot die ontstaan van angs wat as motivering dien vir die verlenging van die persoonlike self in die toekoms. Tweedens is individue wat op die eie self gefokus is (kliniese narsisme), bereid om opofferinge te maak wat die huidige scenario betref sodat finansiële voordele (nalatenskappe) vir ander in die toekoms gewaarborg word.

Die nalatenskapkonsep word ook met Erikson se stadium van generatiwiteit in verband gebring (Fox e.a. 2010). Generatiwiteit is ’n volgende stap in die menslike ontwikkelingsproses na afloop van die suksesvolle resolusie van vroeë volwassenheid. Generatiwiteit word gesien as ’n konstellasie van kognitiewe, affektiewe en konatiewe inhoude wat geïntegreer word om ’n beleggingsbeeld te vorm van ’n persoon se lewe en werk waardeur toekomstige generasies gerig kan word.

Die inligting wat na vore kom in erkende teoretiese verklaringsmodelle kan dus nuttig aangewend word om die geldigheid en betroubaarheid van ’n persoonlike nalatenskap te assesseer.

4.6 Basis waarop nalatenskappe berus

Sekere nalatenskappe berus hoofsaaklik op kwalitatiewe inligting en kan dus slegs op ’n kwalitatiewe basis geëvalueer word. In die geval van die internasionaal bekende Amerikaanse maatskappy die Educational Testing Service (ETS) word hul nalatenskap op hul webtuiste uiteengesit in ’n raamwerk van dienste wat oor dekades gelewer is en gerugsteun word deur toepaslike publikasies en verslae. Die ETS se navorsingsbydraes sluit in: klassieke toetsteorie, item-respons-teorie, normalisering van toetstellings, eksploratiewe en bevestigende faktoranalise, assesseringsnavorsing, asook navorsing oor toetsbillikheid. Die gesigsgeldigheid van die ETS se nalatenskap kan op grond van hierdie feitelike inligting slegs deur onafhanklike evalueerders met die nodige kennis en ervaring op ’n kwalitatiewe wyse geëvalueer word.

Wat sportbyeenkomste betref, is egter dikwels meer eksakte bronne soos bywoningsgetalle, finansiële state en omgewingsimpakverslae beskikbaar wat kwantitatiewe ontledings in ’n sekere opsig moontlik maak. By groot sportbyeenkomste word van die standpunt uitgegaan dat die totale nalatenskap positief moet wees op sport-, ekonomiese, sosiale en omgewingsterreine. Die totale belegging moet dus getransformeer word in werklike optimale groei van die gasheerstad en -land (Bizarro, Lucchese, Breis ea 2015).

 

5. Verwyt, stigmabewustheid en nalatenskap-emosies

Nalatenskappe kan ook ’n wye spektrum emosies, houdings, gewaarwordings en impakte by ander individue tot gevolg hê. Die sielkundige impak wat ’n positiewe of negatiewe nalatenskap van ouers op die beleweniswêreld van hul biologiese kinders kan uitoefen, is welbekend. ’n Sielkundige diagnostiese entiteit soos obesiteit kan ook ’n meetbare negatiewe fisiologiese nalatenskap by die persoon self meebring, soos byvoorbeeld die veroudering van t-selle (Shirakawa, Endo, Katsumata ea 2017). In China is ’n spesifieke gesondheidsnatalenskapprojek gedurende die tweede Jeug Olimpiese Spele in Nanjing van stapel gestuur om obesiteit by kinders te voorkom en sodoende negatiewe nalatenskappe te voorkom.

Die gewaarwording van verwyt as ’n simptoom (Groopman en Hartzband 2017) word onder sekere omstandighede met nalatenskappe geassosieer. Twee essensiële elemente van nalatenskappe wat tot verwyt aanleiding gee, is bekend: eerstens ontwikkel ’n gewaarwording by ’n persoon dat die huidige situasie (of nalatenskap) dalk beter of anders kon wees indien hy/sy vooraf anders opgetree is. Die gewaarwording gaan geleidelik oor in ’n duidelike waarneming (kognisie of schema) van selfverwyt omdat ’n besluit volgens die persoon se eie insigte geneem is wat tot swak uitkomste gelei het.

Vroeëre navorsers het die slagoffers van stereotipering hanteer asof hul almal uniforme reaksiepatrone teenoor hul gestereotipeerde status toon (Pinel 1999). Dit is vandag bekend dat die sielkundige nalatenskap van blootstelling aan stereotipering meer divers en kompleks is. Stigmabewustheid word byvoorbeeld aangedui as ’n spesifieke sielkundige nalatenskap wat by sekere slagoffers van sosiale stereotipering presenteer.

Breggin (2015:19) verwys na ’n hipotetiese konstruk wat hy negatiewe nalatenskapemosies noem. Hy isoleer vir die doel van sy studie drie emosies, naamlik skuld-, skaamte- en angsgevoelens. Hiervolgens funksioneer negatiewe nalatenskapemosies op ’n inhiberende en herkanaliserende wyse veral wat die uitdrukking of uitlewing van doelgerigte geweld en aggressie binne die konteks van persoonlike en gesinsverhoudings betref. Nalatenskapemosies is negatief van aard omdat hulle as “emosionele remme” dien, en ook omdat hul oneffektiwiteit selfvernietigende gedrag gedurende die kinder- en volwasse lewensfases kan meebring, veral wanneer hulle remkrag en inhiberende werking verswak. Hierdie emosies word as nalatenskappe beskou omdat hulle oorgeërf is op grond van biologiese evolusie en geleidelik gesneller (elicited), versterk en gevorm word gedurende die kinderjare. Negatiewe nalatenskapemosies vorm reeds vir duisende jare deel van die menslike genoom.

 

6. Enkele verdere perspektiewe

Lofaj (2014:17–8) beskryf die implikasies wat nalatenskapstelsels vir sagteware-ontwikkeling inhou. ’n Nalatenskapstelsel word deur Lofaj operasioneel aan die hand van die begrip evolusie verduidelik. Op ’n kritieke stadium in die evolusie van ’n bepaalde stelsel het ontwikkeling daarvan getaan of is dit selfs gestaak. Die stelsel se natuurlik evolusie het dus onder menslike beheer verlore geraak. ’n Nalatenskapstelsel is gevolglik ’n belangrike stelsel, wat steeds in gebruik is, maar dit het kompleks en moeilik bestuurbaar geword. Die redes daarvoor mag tegnies van aard wees, of die gevolg wees van personeelmigrasie of ’n gebrek aan behoorlike dokumentasie. Die nalatenskapstelsel se evolusie behoort dus herstel te word deur die stelsel te wysig, of dit bloot te laat soos dit tans is, of dit met ’n nuwe stelsel te vervang. In sagteware verwys “legacy code” na die duur belegging in terme van tyd en kundigheid wat programmeerders aan die ontwikkeling van sagtewarestelsels bestee. Instandhouding en wysiging van nalatenskapkode besorg kopsere vir programmeerders omdat dit dikwels die volgende dilemmas insluit: groot, monolitiese kodebasisse; onbekende inhoud of misverstande oor inhoud; ou-styl programmering; “all-over-the-place, pervasive programming” oftewel rond-en-bont-programmering wat vir ’n wye spektrum van apparate soos selfone, skootrekenaars en tablette funksioneel moet wees. Kodering word nie doelbewus nalatenskapkode nie. Indien ’n persoon die programmeringspan sou verlaat, en niemand anders in die span verstaan die kode nie, dan word dit nalatenskapkode. Nalatenskapkode is moeilik verstaanbaar en wysigings daaraan lei gewoonlik tot defekte in sagtewarestelsels.

In Besigheidsomgewings kom nalatenskapprobleme (legacy issues) algemeen voor as aangeleenthede waarvan die bestuur3 voorheen onbewus was as gevolg van onvoldoende interne dokumentasie en/of kommunikasie. Nuwe beleidstukke en regulasies kan ook nalatenskapprobleme onverwags skep of ter sake maak, soos uitgediende praktyke wat nie meer tred hou met nuwe markvereistes nie en aanleiding gee tot dilemmas wat voorheen nie bestaan het nie. In ’n sekere opsig is nalatenskapprobleme ’n normale verskynsel by suksesvolle maatskappye. Sekere oplossings word voorgestel: rol doodeenvoudig moue op en skakel die probleem uit indien die beskikbare bronne en kundigheid beskikbaar is; stel ’n eksterne vennoot aan of koop die dienste van ’n kundige konsultant in; evalueer die situasie en ignoreer daardie probleme met min of onbelangrike uitwerking op die werksaamhede van die maatskappy; of stel hantering van die probleem uit tot ’n later stadium.

Westen (1998) ondersoek die geldigheid met tydsverloop van die akademiese nalatenskap van Sigmund Freud. Hy probeer doelbewus nie om die geldigheid van die psigoanalitiese teorie uit 1920 te bewys nie, maar ondersoek die relevansie van die moderne (maw bygewerkte) psigodinamiese teorie vir die sielkunde as wetenskap in die 21ste eeu. ’n Akademiese nalatenskap kan derhalwe gebruik word om werk wat in die verlede gedoen is te evalueer, asook om die strategieë waarvolgens toekomstige werk benader word, in te gee (Lambdon 2015:102).

Feitlik enige nalatenskap (hetsy positief of negatief) kan aangeleenthede voortbring waarop in die toekoms verder gebou kan word. Rossouw (2017) verwys na die onlangse Steinhoff-debakel en kom tot die gevolgtrekking: “[W]e need ethical behaviour at all levels, namely the government, business and civil society.” Uit hierdie negatiewe nalatenskap word duur lesse geleer, maar wat in die toekoms op verskillende vlakke positiewe uitkomste sou kon meebring.

Die Kepler-nalatenskap het doen met fotometriese inligting oor sterre wat tydens die Keplermissie bekom en beskikbaar gestel is om deur asteroseismiese ontleding ondersoek word (Aarslev, Christensen-Dalsgaard, Lund ea (2017).

Galetti, Moleón, Jordano ea (2017) beskryf die nalatenskap van die verlies van die groot gewerweldes (megafauna) wat vir honderde miljoene jare die ekostelsels op die aarde bewandel het. Gedurende die laat kwaternêre periode het hul getalle vinnig begin afgeneem. Baie aandag is aan die oorsake hiervan gegee, maar minder aan die impak van die verlies (maw die nalatenskap) aan megafauna op die ander organismes waarmee daar interaksie was. Ekologiese interaksie is ontwrig (sommige gespesialiseerde afhanklikes soos die soort miskruiers wat spesifiek op die mis van megafauna vir hul voortbestaan afhanklik was, het uitgesterf) en hervorm (ander wat minder afhanklik was, het gedragsplastisiteit getoon en hul afhanklikheid na die mens verskuif via kommersialisering).

Mynbedrywighede het oor eeue heen aanleiding gegee tot ’n nalatenskap van omgewingsbesmetting waarvan die negatiewe impak op ekosistemiese funksionering en menslike gesondheid beslis geminimaliseer behoort te word. Om die remediëring van mynbouskade doeltreffend uit te voer vereis gespesialiseerde kennis van nano- en molekulêreskaal-spesiasie van mynboukontaminante (Brown, Hochella en Calas 2017). Abraham, Dowling en Florentine (2017) ondersoek die omgewingsimpak van toksiese metaalkontaminasie as ’n gevolg van die nalatenskap van mynboubedrywighede in Sentraal-Victoria, Australië. Hul gevolgtrekkings is: nalatenskapmynbou het onder beperkte of die totale afwesigheid van amptelike omgewingsregulasies plaasgevind; etlike tonne ongerehabiliteerde mynafval wat ryk is aan metale is by skagte aangetref; mynafval het die omgewing erg besoeldel, veral wat kwik en arseenneerslae betref; metaalmobiliteit het ’n negatiewe effek op waterbronne stroomaf gehad.

Nalatenskappe kan ook misterieus wees en gekoppel aan allerhande geheimenisse, gevare en spekulatiewe interpretasies, soos die Bermuda Driehoek se nalatenskap gekenmerk word deur elektroniese aberrasies, kompasnaaldafwykings, onverklaarbare mis- en ligverskynsels asook veranderinge in die persepsie van ruimtelike tyd (time warps).

Die nalatenskap van erdwurms (Mudrák en Frouz 2017) is spesifiek en betroubaar en die geldigheid daarvan kan empiries en objektief bestudeer word: “As ecosystem engineers, earthworms greatly affect plant communities. They create persistent soil structures enriched by nutrients that improve the conditions for plant growth and modify competition between plant species.”

 

7. Intensioneel of spontaan?

Die vestiging van persoonlike nalatenskappe kan óf intensioneel (doelbewus) of onbewustelik, onvoorsiend, spontaan en toevallig plaasvind. Foster (2010), iemand met deeglike kliniese ervaring van die terapeutiese begeleiding van terminale pasiënte, noem dat sommige individue doelbewus die behoefte uitspreek om persoonlik onthou te word na hul dood, terwyl ander geensins daaroor bekommerd is nie. Sommige Christenpasiënte se primêre nalatenskapbehoefte is dikwels dat hul dade en optrede in die eerste plek van so ’n aard sal wees dat Christus daardeur onthou sal word.

Ouer volwassenes met ’n diagnose van ongeneeslike onkologie is aan ’n program van waardigheidsterapie (Chochinov, Hack, Hassard ea 2005) blootgestel. Gedurende die terapeutiese proses (met die fokus op die pasiënte se psigososiale en eksistensiële ervaringswêreld) is sake bespreek wat in hul leeftyd as besonder betekenisvol ervaar is, asook daardie aspekte van hulself waaraan hul graag onthou sal wil word. Die sessies is getranskribeer en geredigeer en die finale weergawe is vir hulle teruggegee sodat hulle aan ’n vriend of familielid bemaak kan word.

Werknemers van organisasies kan hul verhoudings met en houding teenoor ’n maatskappy gebruik om vir hulle maatskappynalatenskappe te bou (Fox e.a. 2010). In hierdie verband speel hul werkwaarde-oriëntasies ’n belangrike rol. Drie groepe is onderskei, naamlik diegene wat hul werk as ’n blote roetine-opdrag (job) beskou, of as ’n loopbaan bestuur of as ’n roeping benader. Die opdragwerkers is geneig om nalatenskappe ekstern aan die organisasie te vestig (byvoorbeeld werk in programme wat skenkings aan skole en gemeenskapsgroepe gee). Loopbaan- en roepingwerkers word weer meer gemotiveer deur interne nalatenskappe te skep wat in ooreenstemming is met die organisasie se kernwaardes.

Volgens Stosny (2014) is die daarstelling van ’n persoonlike nalatenskap ’n proses wat doelbewus en doelgerig plaasvind. Om latere selfverwyt te voorkom is dit belangrik om vroegtydig aan ’n nalatenskap te begin werk. Vrae moet gestel word soos: Wat wil jy nalaat in terme van ’n nagedagtenis aan jouself? Watter bydrae tot die mensdom wil jy maak? Hierdie soort resepmatige “kook en geniet”-benaderings is egter nie op portuurgeëvalueerde navorsing gebaseer nie, en kom dikwels op die oorvereenvoudiging van ’n komplekse situasie neer. Die differensiële effek van nalatenskapontwikkeling word meestal by gestruktureerde wenke nie in ag geneem nie.

 

8. Samevattende gevolgtrekkings

  • Die begrip nalatenskap toon ’n wye verskeidenheid toepassingsmoontlikhede en gebruike en die betekenisse daarvan word deur middel van verskeie definisies verduidelik.
  • ’n Nalatenskap kan oorwegend positief, oorwegend negatief of gemengd van aard wees.
  • Onder andere die kognitiewe sielkunde, psigoanalise en ontwikkelingsielkunde lewer sinvolle bydraes om die teoretiese onderbou van nalatenskappe beter te verstaan.
  • Verwyt wat met nalatenskappe geassosieer word, ontwikkel geleidelik as ’n gewaarwording totdat dit oorgaan in ’n suiwer waarneming wat gekoppel word aan betekenisvolle geheue-inhoude.
  • Stigmabewustheid kan onder sekere omstandighede as ’n nalatenskap van blootstelling aan stereotipering presenteer.
  • Nalatenskapstelsels kom by die ontwikkeling van sagteware voor.
  • Legacy issues (nalatenskapprobleme wat gewoonlik van ’n tegniese aard is, en in korporatiewe omgewings kop uitsteek) kan onverwagse en problematiese bestuursdilemmas vir organisasies meebring.
  • Die nalatenskapbegrip is van toepassing binne die konteks van verskeie dissiplines, soos die ekologie van megafauna, die sterrekunde, grondkunde en mynbou.
  • Die ontwikkeling van ’n persoonlike nalatenskap kan intensioneel gerig wees, of heel toevallig en spontaan plaasvind.
  • Eksterne persepsies, interpretasies en vertolking van inligting bly egter die finale belangrike beoordelaar van die gehalte van ’n persoonlike nalatenskap.
  • Spekulasie oor ’n nalatenskap behoort egter sover moontlik vermy te word. Om ’n bewering te maak dat Angela Merkel “alles het behalwe ’n nalatenskap” grens aan bevooroordeelde en antagonistiese joernalistiek. Om in ’n blog te skryf dat die Suid-Afrikaanse geskiedenis gewysig is as gevolg van ’n liefdesverhouding tussen genl Jan Smuts en prinses Frederika van Griekeland, wys in die rigting van populêre opportunisme, attribusiesydigheid en ’n poging om deur middel van indirekte inligting Smuts4 se oorwegend positiewe nalatenskap in die gedrang te bring. Oor die gebruik van indirekte of geparafraseerde inligting sê Burns (2016:ix-xii) dat alle biografiese materiaal op gesprekvoering gebou word, en dat biografiese gesprekvoering dikwels op wankelrige (flimsy) inligting gebaseer is. Biografieë en memoires (Burns 2016) kan selfs soms aan elemente van wraak gekenmerk word.

 

Bibliografie

Aarslev, MJ, J Christensen-Dalsgaard, MN Lund, VS Aguirre en D Gough. 2017. A fitting legacy – modelling Kepler’s best stars. EPJ Web of Conferences 160, 03010 (2017). DOI: 10.1051/epjconf/201716003010 (4 Oktober geraadpleeg).

Abraham, J, K Dowling en S Florentine. 2017. Assessment of potentially toxic metal contamination in the soils of a legacy mine site in Central Victoria, Australia. Chemosphere, 192:122–32.

Alpion, G. 2006. Mother Theresa: Saint or celebrity. Abingdon, United Kingdom: Routledge.

—. 2014. The emergence of Mother Theresa as a religious visionary and the initial resistance to her charisma: A sociological and public theological perspective. International Journal of Public Theology, 8:25–50.

Bizarro, R, TA Lucchese, AM Breis, K Rucker, MSA Fernandes, MT Paletti, ALC de Jesus, RCM Pereira, DRTW Rocha en AK Arbex. 2016. Health, physical activity and the Rio de Janeiro 2016 Olympic Games: Legacy or fallacy? Health, 8:9–17 http://dx.doi.org/10.4236/health.2016.81002 (15 Oktober 2017 geraadpleeg).

Blake, A. 2010. Boereverraaier: teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog. Kaapstad: Tafelberg.

Breggin, PR. 2015. Biological evolution of guilt, shame and anxiety: A new theory of negative legacy emotions. Medical Hypotheses, 85:17–24.

Brown, GE, MF Hocella en G Calas. 2017. Improving mitigation of the long-term legacy of mining activities: Nano- and molecular-level concepts and methods. Elements, 13(5):325-30. DOI: 10.2138/gselements.13.5.325 (27 Desember 2017 geraadpleeg).

Burns, K. 2016. Henri Nouwen his life and spirit. Cincinnati, Ohio: Franciscan Media.

Chochinov, HM, T Hack, T Hassard, LJ Kristjanson, S McClement en M Haarlos. 2005. Dignity therapy: A novel psychotherapeutic intervention for patients near the end of life. Journal of Clinical Oncology, 24:5520–5.

Cornelissen, S, U Bob en K Swart. 2011. Towards redefining the concept of legacy in relation to sport mega-events: Insights from the FIFA 2010 World Cup. Development Southern Africa, 28(3):307–18.

Du Pisani, K, D Kriek en C de Jager. 2017. Jan Smuts: van boerseun tot wêreldverhoog, ’n herwaardering. Pretoria: Protea Boekhuis.

Foster, TL. 2010. Personal reflections on legacy making. Palliative and Supportive Care, 8:99–100.

Fox, M, L Plunkett-Tost en KA Wade-Benzoni. 2010. The legacy motive: A catalyst for sustainable decision making in organisations. Business Ethics Quarterly, 20(2):153–85.

Galetti, M, M Moleón, P Jordano, MM Pires, PR Guimarães, T Pape, E Nichols, D Hansen, JM Olesen, M Munk, JS de Mattos, AH Schweiger, N Owen-Smith, CN Johnson, RJ Marquis en J-C Svenning. 2017. Ecological and evolutionary legacy of megafauna extinctions. Biological Reviews. doi:10.1111/brv.12374 (12 Desember 2017 geraadpleeg).

Green, SK. 2017. The mixed legacy of Magna Carta for American religious freedom. Journal of Law and Religion, 32(2):207–26.

Groopman, J en P Hartzband. 2017. The power of regret. New England Journal of Medicine, 377:1507-9.

Kolodiejchuk, B. 2008. Mother Teresa come be my light. Londen: Rider.

Lambdon, J. 2015. Workshop review. Psychological legacies: podium, performance and participation. Sport and Exercise Psychology Review, 11(2):100–2.

Lofaj, M. 2014. Evolution of legacy systems using system engineering in software and workflow. Bachelors thesis. Brno: Masaryk Universiteit.

Mudrák, O en J Frouz. 2017. Earthworms increase plant biomass more in soil with no earthworm legacy than in earthworm-mediated soil, and favour late successional species in competition. Functional Ecology, 20:1–10. https://doi.org/10.1111/1365-2435.12999 (15 Desember 2017 geraadpleeg)

Passer, M, R Smith, N Holt, A Bremmer, E Sutherland en M Vliek. 2009. Psychology, the science of mind and behaviour. Londen: McGraw-Hill.

Pinel, EC. 1999. Stigma consciousness: The psychological legacy of social stereotypes. Journal of Personality and Social Psychology, 76(1):114–28.

Preuss, H, 2007. The conceptualisation and measurement of mega sport event legacies. Journal of Sport and Tourism, 12(3–4): 207–27.

Rossouw, J. 2017. Steinhoff scandal points to major gaps in stopping unethical corporate behaviour. The Conversation, 17 Desember.

Shirakawa, K, J Endo, Y Katsumata, T Yamamoto, M Kataoka, S Isobe, N Yoshida, K Fukuda en M Sano. 2017. Negative legacy of obesity. PLOS ONE | doi:10.1371/pone.0186303 October 26, 2017. http://web.a.ebscohost.com.ez.sun.ac.za/ehost/pdfviewer/pdfviewer?vid=4&sid=677d1477-a6ab-4781-87ce-2621d76c0779%40sessionmgr4006 (17 Desember 2017 geraadpleeg).

Steyn, R. 2015. Jan Smuts unafraid of greatness. Johannesburg: Jonathan Ball.

—. 2017. Churchill and Smuts: The friendship. Johannesburg: Jonathan Ball.

Stosny, S. 2014. What will your legacy be? How te prevent regret. Psychology Today, 14 April.

Van der Westhuizen, G. 2017. Robert Mugabe: So sal hy onthou word – Groot bevryder of diktator? Die Burger, 22 November, bl 21.

Van Schalkwyk, DJ, JCMD du Plessis, FJ Lombard, WF Botha en GJ van Wyk. 2000. Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Elfde Deel, N–O. Goodwood: NBD.

Van Wyk, J. 2016. So is dit nou. Nog stories van gister en vandag. Kaapstad: Tafelberg.

Westen, D. 1998. The scientific legacy of Sigmund Freud. Toward a psychodynamically informed psychological science. Psychological Bulletin, 24(3),333–71.

Whitelaw, I. 2012. History’s worst decisions and people who made them. Volume 2. Kaapstad: Zebra Press.

 

Eindnotas

1 Die direkte betekenis van “No legacy is so rich as honesty” uit Shakespeare se drama All is well that ends well word dikwels deur skrywers gebruik, alhoewel ’n begrip van die woordspeling vereis word om die dieperliggende betekenis korrek te verstaan. “Legacy” verwys in Shakespeare se konteks na ’n bedrag geld wat vir die doeleindes van ’n huwelikskontrak in gebruik was (maw nie ’n geldelike bemaking in ’n testament nie), terwyl “honour” vroulike maagdelikheid impliseer (Shakespeare).

2 Die dilemma van bestuursnalatenskappe in korporatiewe omgewings word deur middel van satiriese humor deur die volgende grappie geïllustreer: “What I need is a list of specific unknown problems we will encounter."

3 Op Google Scholar alleen het sedert 14 Oktober 2017 meer as 400 verwysings verskyn na hoofstukke in boeke en artikels in erkende vaktydskrifte op grond van die trefwoord “legacy”.

4 Onlangse bronne met goeie en deeglike resensies en wat Jan Smuts se oorwegend positiewe nalatenskap in besonderhede beskryf, is die volgende: Du Pisani, Kriek en de Jager (2017), Steyn (2015) en Steyn (2017). Die vriendskap tussen Smuts en Frederika word deeglik deur Steyn (2015:193–6) beskryf en die inligting word op erkende primêre bronne gebaseer, met die finale gevolgtrekking dat Smuts se verhoudings met die teenoorgestelde geslag “platonic and overwhelmingly intellectual” (Steyn 2015:198) van aard was.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top