Vroeë artikels oor die Anglo-Boereoorlog wat in internasionale vakkundige tydskrifte verskyn het

  • 1

 

handrebrand

Handré Brand

Die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog (ABO) is baie goed gedokumenteer soos blyk uit die groot getal boeke, biografieë, outobiografieë, koerant- en populêretydskrifartikels, ongepubliseerde dokumente, argief- en museummateriaal asook mondelinge getuienis wat beskikbaar is. Vergelykenderwys het minder artikels in vakkundige tydskrifte oor die onderwerp verskyn. Pakenham (2009:620) verwys byvoorbeeld na slegs enkele wetenskaplike tydskrifte in sy bronnelys, insluitende The Proceedings of the Royal Artillery Institution en die Military History Journal of South Africa.

Volgens Almeida (2013) het die eerste wetenskaplike tydskrif, The Philosophical Transactions of the Royal Society of London, in 1665 as mondstuk van die Royal Society of London verskyn. Gedurende die 1800’s het die volgende tydskrifte hul verskyning gemaak: Nature, Science, The Provincial Medical and Surgical Journal (voorloper van die British Medical Journal), The New England Journal of Medicine, The Journal of the American Medical Association en Lancet.

medical_surgical_journal

Voorbeeld van akademiese tydskrif uit 1840 (Bron: provmedsurgj00978-0001b.pdf)

Die meeste artikels in wetenskaplike tydskrifte word aan keuring en ewekniebeoordeling blootgestel, wat die betroubaarheid van die publikasies verhoog. Dit kan met redelike sekerheid aanvaar word dat hierdie tipe evalueringsprosedures ook by die vroeë gepubliseerde tydskrifartikels oor die ABO van toepassing was, en die gehalte van die artikelinhoude dus van hoogstaande aard was.

Die doel met hierdie ondersoek is om te bepaal watter artikels so vroeg as moontlik na afloop van die oorlogsverklaring op 11 Oktober 1899 oor die ABO in erkende internasionale, vakkundige, wetenskaplik/opvoedkundige tydskrifte verskyn het. Wie was die skrywers? In watter tydskrifte is gepubliseer? Waaroor is gepubliseer? En wat kan gesê word oor die kwaliteit van die artikels?

Die prosedure wat hier gevolg is om die toepaslike verwysings op te spoor het die volgende benaderings ingesluit: raadpleging van die bronnelyste van bestaande publikasies oor die ABO, soos boeke en tydskrifartikels; die aflaai van volteks-internetbronne; interbiblioteeklenings; e-pos-kommunikasie met internasionale tydskrifte, insluitend die New England Journal of Medicine; British Medical Journal; Cambridge University Library; National Library of Scotland; Lancet; e-pos-korrespondensie met museums en persoonlike kommunikasie met kundiges op die gebied van die ABO.

Grobler (2008) sluit in sy bronnelys ‘n verwysing na Boon, NJ (1899, 1900, 1901) in: De oorlog in Zuid-Afrika, Periodical Publication, Amsterdam. Die vraag ontstaan: Wat word met Periodical Publication bedoel? Is dit ‘n boek- of tydskrifpublikasie? Geen inligting oor hierdie verwysing kon per internet opgespoor word nie, maar deur middel van persoonlike kommunikasie (Fransjohan Pretorius, 22 Augustus 2015) is vasgestel dat “die Nederlanders tydens en kort ná die Anglo-Boereoorlog verskeie pro-Boer geskrifte die lig laat sien het. Dié publikasie val in daardie kategorie. Dit het egter as 'n vlugskrif en nie as 'n tydskrif verskyn nie, en dit kan nie as 'n opvoedkundige of vakkundige tydskrif geklassifiseer word nie, maar wel suiwer pro-Boer propaganda.”

Volgens hierdie oorsig van die literatuur het die eerste redakteursartikel, “The War in South Africa”, in ‘n erkende akademiese joernaal op 14 Oktober 1899 (met ander woorde slegs drie dae na die oorlogsverklaring) in Lancet verskyn. Die temas het gehandel oor die uitbreek van die oorlog (daar word verwys na die arrogante en diktatoriale toon van die Republieke se oorlogsverklaring), die mediese reëlings met die Britse grondmagte en ‘n gedetailleerde bespreking van die Spartan, ‘n hospitaalskip bestem vir Durban, wat deur “triple expansion engines” van 600 perdekrag aangedryf is.

Die redakteursrubriek “The War in South Africa” word voortgesit in die daaropvolgende uitgawe van Lancet (nr 3973, 21 Oktober 1899). Hierdie rubriek konsentreer op die mediese implikasies van die oorlog in Suid-Afrika. ‘n Lys van siektes waaraan die soldate blootgestel sou wees, word gegee: “Febrile diseases of a continued type” (epileptiese aanvalle met hoë koors geassosieer); die enteriese siektes (“enteric fever and dysentery”); diarree en malaria.

warreporter_boereoorlog

Die vroegste korrespondensie-artikel in ‘n erkende joernaal wat opgespoor kon word, is deur George Stoker geskryf oor vrywillige ambulans- en verplegingsdienste tydens die ABO en het op 21 Oktober 1899 (maw slegs 10 dae na die oorlogsverklaring) in die British Medical Journal (BMJ) verskyn. Die skrywer verwys na ‘n verwagte 100 000 (ongeveer 10%) gewonde en siek soldate (wat volgens hom ‘n konserwatiewe skatting is). Hierdie pasiënte behoort eerder onmiddellik op die toneel behandeling te ontvang as om vervoer te word. Onder hierdie omstandighede is ‘n onafhanklike (maw burgerlike) ambulansdiens, ten volle toegerus met eie personeel, toerusting en transport, onder bevel van die militêre bevelvoerders die beste opsie. Die verpleegsters moet beslis kenners van “sick-cookery” wees.

Op 18 November 1899 verskyn die volgende artikel (ook in die BMJ) oor mediese aspekte van die ABO. Die anonieme skrywer word aangegee as “a South African Campaigner”. Britse hospitaalskepe en -treine sou onmiddellik beskikbaar gestel word, en dit blyk duidelik dat die mediese dienste aan Boerekant (volgens Britse oordeel) ontoereikend was. Gevolglik sou die Britse mediese dienste ook ‘n beduidende gedeelte van hul tyd aan Boeregewondes moet spandeer. ‘n Vergelyking tussen Mauser- en Lee Metford-koeëlwonde word gemaak (in al twee gevalle veroorsaak die ingang- en uitgangspunte klein en skoon wonde met beperkte weefselbeskadiging). Daar word verwys na bomskrapnelwonde wat verband hou met die gebruik van meliniet en liddiet. Die bomme wat aan Boerekant (gelaai met meliniet) afgevuur is, was minder geneig om te ontplof. Liddietbomme is vir die eerste keer op 30 Oktober 1899 op die plaas Farquhar¹ deur die Britte in ‘n veldslag afgevuur. Daar word verwys na generaal Piet Joubert wat amptelik beswaar aangeteken het oor die gebruik van liddiet deur die Britse magte. ‘n Betekenisvolle opmerking deur die skrywer: “men or animals killed by the explosion of lyddite have been found in some cases to show no wounds whatever”, wat kan verwys na die versmorende effek van die liddietdampe en gas wat koolstofmonoksied bevat het.

Drie verdere faktore met implikasies vir mediese dienslewering word in hierdie artikel bespreek, naamlik die effek van die Transvaalse en Vrystaatse somerhitte, die klimaat op die hoëveld en die implikasie van donderstorms.

Bogenoemde artikel is opgevolg deur twee verdere artikels in die 25 November 1899-uitgawe van die BMJ. Die eerste is ‘n opvolgartikel deur die South African Campaigner” in die rubriek “The Medical Aspects of the Boer War”. Die artikel verwys na die aard van die Britse gevegslinie, die beleg van Kimberley, en strategiese spoorvervoer (die strategiese aspekte rakende die spoorlyn wat deurgaans binne bereik van die weermag moes wees). Onder die rubriek “War in South Africa”, wat op hierdie stadium vir die eerste keer in die BMJ verskyn, skryf die spesiale Britse korrespondent in Kaapstad oor militêre sensuur, die Mediese Korps van die Koninklike Weermag, die Britse ambulanstreine, asook die Kaapse Sentrum vir die St Johns Ambulansdiens.

Wat Amerikaanse artikels betref wat vroeg na die oorlogverklaring verskyn het, word hier slegs na vier voorbeelde verwys. Die vroegste opspoorbare artikel was ‘n verwysing na maagkoors (“typhoid”) wat in die redakteursrubriek van die uitgawe van 2 November (1899, bl 453) van die Boston Medical Surgical Journal verskyn het: “British service will be watched for with interest by all military sanitarians and should it turn out to be unexpectedly small in the present war with the Boers, it is more likely that other countries sending their troops to regions where typhoid fever is unusually prevalent will follow the example …”

Die Journal of the American Medical Association (JAMA) publiseer op 18 November 1899 ‘n “Minor Comment” dat drie van Engeland se top sjirurge (Sir William MacCormac, Mr Frederic Treves en Mr G Makins) as konsulterende snydokters die Britse troepe in Suid-Afrika sal vergesel teen salarisse wat wissel tussen 5 000 en 25 000 Britse pond per jaar.

‘n Uitstekende Amerikaanse artikel oor die strategiese aard en belang van militêre operasies van die Suid-Afrikaanse topografie en geomorfologie het in die Mei 1900-uitgawe (ongeveer sewe maande na die oorlogsverklaring) van National Geographic verskyn. Die artikel, deur majoor WA Simpson, hoof van militêre inligting van die Amerikaanse Oorlogsdepartement, beslaan sewe bladsye en is ‘n voorbeeld van die uitstekende internasionale vakkundige publikasies wat destyds oor die ABO verskyn het.

Laastens kan verwys word na ‘n volgende Amerikaanse artikel (wat goed vergelyk met die voriges wat gehalte betref) deur kaptein Carl Reichmann (van die 17de Amerikaanse Infanterie) wat handel oor sy persoonlike herinneringe en ervarings tydens veldslae in die Oranje-Vrystaat gedurende Maart 1900. Die artikel het in die Julie-November 1901-uitgawe van die Journal of the Military Service Institution of the United States (ble 56–73) verskyn.

Hierna (vanaf Mei 1900) het die internasionale artikels vinniger verskyn en ‘n wyer omvang van onderwerpe gedek. Voorbeelde van ander tydskrifte is Quarterly Review, Macmillan’s Magazine, American Historical Review, Nineteenth Century, Human Review, Anglo-Saxon Review, Westminster Review en Lancet (persoonlike kommunikasie, Elria Wessels, 2 September 2015).

Die volgende gevolgtrekkings vloei uit hierdie (beperkte) literatuurstudie voort:

Verskeie artikels in internasionale wetenskaplike/opvoedkundige joernale het reeds baie vroeg (bykans onmiddellik) na die oorlogsverklaring op 11 Oktober 1899 die lig gesien.

Die vroegste artikels het in Lancet en die BMJ verskyn en is kort daarna opgevolg deur publikasies in Amerikaanse tydskrifte. Min artikels oor die ABO in oorlogsjoernale wat gedurende Oktober–Desember 1899 verskyn het, kon opgespoor word.

Die eerste onderwerpe het spesifiek gehandel oor die aard van die oorlogsverklaring en die onvermydelikheid van oorlog, mediese militêre toerusting, vrywillige ambulansdienste en verpleging. In ‘n daaropvolgende artikel het ‘n anonieme skrywer algemene aktuele mediese kwessies aangesny wat uit die oorlogsomgewing voortgevloei het.

Die temas in die eerste artikels was gevolglik meer geneeskundig as militêr georiënteerd. Die Britse militêre veldtog was natuurlik die oorsaaklike faktor van die fokus in die literatuur op die mediese gevolge van oorlog.

Die gehalte van die publikasies was oor die algemeen uitstekend, soos verwag kon word van gepubliseerde materiaal wat deeglik deur vaktydskrifredaksies geskrutineer word.

Die inhoud van die klein groepie geselekteerde akademiese artikels in hierdie literatuuroorsig getuig hoofsaaklik van ‘n gebalanseerde en realistiese benadering deur die onderskeie skrywers ten opsigte van ‘n histories sensitiewe internasionale vraagstuk. As voorbeeld kan verwys word na die objektiewe wyse waarop oor die “alleged poisonous copper-coated mauser bullits” verslag gedoen is – kyk Lancet, 6 Junie 1900, 1:1741–2.

Bronnelys

Vaktydskrifartikels

A South African Campaigner (1899). The medical aspects of the boer war. British Medical Journal, 2, November 18, 1430.

A South African Campaigner (1899). The medical aspects of the boer war. British Medical Journal, 2, 25 November, 1485.

Correspondence (1899). Voluntary ambulances and nursing in South Africa. British Medical Journal, 2, 1 Oktober, 1136.

Editorial (1899). War in South Africa. The Lancet, 154, 3972, 1033–7.

Editorial (1899). War in South Africa. The Lancet, 154, 3973, 1115–6.

Editorial (1899). Higher medical education. Quarantine regulations. Protective inoculation against typhoid. Medical notes. Boston Medical Surgical Journal, 141, November 2, 453–7.

Minor Comments (1899). Surgeons appreciated. Journal of the American Medical Association, 21, 1298.

Reichman, C. (1901). Personal reminiscences from the campaign in the Orange Free State in March 1900. Journal of the Military Service Institution of the United States, 29, Julie–Desember, 56–73.

Simpson, WA. (1900). Influence of geographical conditions on military operations in South Africa. National Geographic, May, 186–92.

Special Correspondent in Cape Town. (1899). The war in South Africa. British Medical Journal, 2, 25 November, 1487.

Boeke

Grobler, JEH. (2008). The war reporter. The Anglo-boer war through the eyes of the burghers. Jonathan Ball, Johannesburg.

Pakenham, T. (2009). Die boere-oorlog. Jonathan Ball, Johannesburg.

Persoonlike kommunikasie

Pretorius, F. (2015). Mededelings oor die verwysing H.J Boon (1899,1900,1901) in Grobler (2008).

Wessels, E. (2015). Internasionale tydskrifte wat vroeë artikels oor die Anglo-Boereoorlog gepubliseer het.

Internetpublikasies

Almeida, P. (2013). The origins and purpose of scientific publications. Afgelaai op 6/9/2015 van http://blog.efpsa.org/2013/04/30/the-origins-of-scientific-publishing.

Voetnota

¹ Die plaas Farquhar is omtrent 6 km vanaf Ladysmith (Natal) geleë, en na alle waarskynlikheid na die Ierse dramaturg George Farquhar vernoem (http://archiver.rootsweb.ancestry.com/th/read/SOUTH-AFRICA/1997-10/0876556223).

Dankbetuigings

Vicky Heunis, versamelingsbestuurder, Anglo-Boereoorlogmuseum, wat kundige insette oor toepaslike bronne gelewer het.

Elria Wessels, voorheen senior navorser Anglo-Boereoorlog Museum, Bloemfontein, wat nuttige verwysings na vroeë joernaalartikels beskikbaar gestel het.

Opmerking

Die skrywer is weldeeglik bewus van die beperkings van hierdie studie uit ‘n metodologiese oogpunt, en maak geensins daarop aanspraak dat alle toepaslike bronne oor die onderwerp geraadpleeg is nie. Die studie was bloot verkennend van aard.

  • 1

Kommentaar

  • Baie dankie!

    Ek "verslind" hierdie tipe plasings.

    Ek is 'n geneeskundige praktisyn ("Med Dr") en stel as leek van vak-literatuur intens belang in die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog en veral die geneeskundige aspekte daarvan.

    Groetnis.

    Johan Truter

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top