Sosiohidrologie: menslike interaksie en waterstelsels

  • 0

Foto: Pexels

“For all its hard knocks, then, Flint was not the kind of city where people rolled over or gave up. It was progressive, pugnacious, and – as would be remarked again and again during the water crisis – resilient. It had a fighting spirit.” (Pauli 2019:xi

“The Grootfontein aquifer case shows that groundwater underpins wider social-ecological-economic systems, and that more holistic management – taking the institutional context into account – is needed to underpin economic growth, employment and other public outcomes.” (Cobbing, JE en M de Wit 2018:1)   

Die besonder belangrike rol wat water in die samelewing speel, en die noodsaaklikheid van professionele waterbestuur deur die owerhede, kan nie oorbeklemtoon word nie.

Ward ea (2016) wys daarop dat die bestuur van waterhulpbronne ’n deurslaggewende rol in die geskiedenis van die mensdom gespeel het. Beskawings het oorleef en ontwikkel solank daar genoeg water beskikbaar was, maar het afgeneem toe toegang tot water moeilik geword het. Natuurlik was daar in hierdie tyd onvoldoende kennis van hidrologie, en beperkte kundige insig in die ontwikkeling van watervoorsieningstelsels het algemeen voorgekom.

Die voorkoms van soutneerlegging of verbrakking tydens landboubedrywighede in semidroë en droë streke van die wêreld, en die ontwikkeling van menslike nedersettings in die vloedvlaktes van groot rivierstelsels, is grootliks te wyte aan die gebrek aan basiese kennis van hidrologiese beginsels van waterbestuur.

Die beskikbaarheid van water speel ’n sentrale rol in die behoeftes van die samelewing. Alhoewel ’n groter mate van bewuswording en begrip in verband met die nadelige implikasies van nywerheidsontwikkeling en bevolkingsaanwas vir die beskikbare waterbronne geleidelik posgevat het, staan die verbruik van water in direkte verhouding tot die vooruitsigte vir menslike oorlewing. Die hoeveelheid en verspreiding van vars, onbesoedelde water is beperk en die hulpbron bly konstant, terwyl die wêreldbevolking met rasse skrede toeneem. Die gevolg is dat die verbruik van en behoefte aan water aanhoudend styg (Heymans 2018).

Namate die begrip vir en erkenning van die rol van hidrologie as wetenskap deur die algemene publiek met verloop van tyd toegeneem het, word toenemend meer aspekte van die hidrologiese siklus wetenskaplik-eksperimenteel ondersoek. ’n Voorbeeld in hierdie verband is inisiatiewe om te bepaal op watter wyse die hidrologiese siklus deur menslike aktiwiteit op ’n praktiese wyse gewysig kan word. Pogings is byvoorbeeld aangewend om die weerpatrone te beïnvloed en sodoende die reënval in spesifieke streke of gebiede te verhoog. Die sukses hiervan is egter wisselvallig en beperk. Navorsing oor wolkbestuiwing is byvoorbeeld reeds gedurende 2000 in Suid-Afrika gestaak (Versluis 2019).

Menslike interaksie met en die negatiewe impak op watersisteme staan dus in noue verband met mekaar. So is die konsep sosiohidrologie gebore. Die doel van hierdie artikel is om kortliks te verwys na wat presies met die term hidrologie bedoel word, asook om die ontwikkeling van sosiohidrologie as ’n onlangse en verdere vertakking van hidrologie te verduidelik.

Hidrologie

Die term hidrologiese siklus verwys na die opeenvolgende stadia wanneer reënwater die aarde se grondoppervlak tref. Die siklus is ’n natuurlike volgorde van prosesse sodra water in waterdampvorm in die atmosfeer na neerslag op die aarde omgeskakel word en daarna in verdamping, transpirasie en grondwatervorming verdeel en afloop na die oseane (Rosbjerg en Rodda 2019).

Hidrologie is die wetenskaplike bestudering van die prosesse wat die oorbenutting en aanvulling van die aarde se waterhulpbronne bepaal en sodoende die verskillende fases van die hidrologiese siklus impakteer. In algemene terme kan hidrologie beskryf word as die wetenskaplike studie van water bo en onder die landoppervlak van die aarde, die voorkoms, sirkulasie en verspreiding van water in beide tyd en ruimte, asook water se biologiese, chemiese en fisiese eienskappe. Die studieveld sluit ook die invloed van water op fisiese omgewings en die voortspruitende sielkundige effekte op die gemeenskap in (byvoorbeeld die fisiese en sielkundige effekte van droogtes en vloede).

........
In algemene terme kan hidrologie beskryf word as die wetenskaplike studie van water bo en onder die landoppervlak van die aarde, die voorkoms, sirkulasie en verspreiding van water in beide tyd en ruimte, asook water se biologiese, chemiese en fisiese eienskappe.
........

Indien die hidrologiese siklus as sodanig as die basiese vertrekpunt geneem word, word hidrologie primêr beskou as ’n vertakking van die geofisika, net soos oseanografie as ’n onderafdeling van meteorologie gesien word. In ’n wyer verband, met ’n klemverskuiwing na waterverbruik, word hidrologie beskou as ’n meer omvattende konsep van varswaterbronne, insluitend sosiale verhoudings, wateringenieurswese, en grondwaterbenutting. Dit lei gewoonlik tot verskille in standpunte of hidrologie ’n suiwer of toegepaste wetenskap is.

Die diverse vorme waarin water op die aarde voorkom, en die verskillende maniere waarop waterhulpbronne benut word, het aanleiding gegee tot die hedendaagse omskrywing van hidrologie deur die Internasionale Vereniging vir Hidrologiese Wetenskappe. Die vertakkinge van hidrologie wat tans deur die vereniging erken word, dek die bestudering van en navorsing oor die volgende: oppervlakwater, grondwater, waterverwante erosie en sedimentbewegings, sneeu en ys, watergehalte, ekohidrologie, land-atmosferiese interaksie, wateropvanggebiede, vloedvoorspellings en waterhulpbronbestuur. Selfs waterbronne op die maan, Mars en ander liggame in die sonnestelsel word ingesluit (Rosbjerg en Rodda 2019).

Sosiohidrologie

Die doeltreffende en professionele bestuur van water is onder meer van kritieke belang vir ekonomiese groei, openbare gesondheid en omgewingsvolhoubaarheid. Argumente en konflikte in verband met waterhulpbronne is ’n bekende verskynsel en kom op verskillende vlakke voor, byvoorbeeld binne boerderygemeenskappe, in oorgrens-waterskeidingskontekste en selfs tussen soewereine state. Die oplossing van konflikte oor waterverdeling is altyd inherent kompleks en behels politieke en institusionele uitdagings (Döring, Kim en Swain 2024).

Met inagneming van die komplekse interaksie tussen die bestuursliggame van waterstelsels aan die een kant en die behoeftes van die samelewing aan die ander kant, word multidissiplinêre benaderings en oplossings vereis, soos die integrasie van sosio-ekonomiese inligting en waternavorsingsresultate. Wilfong en Pavao-Zuckerman (2020:1273) stel dit soos volg: “This over-reliance on hydrologic-based, technocratic, command-and-control management and governance tends to discount and overlook the political, social, cultural, and economic factors that shape water-society relationships.”

Die hoofdoel van sosiohidrologie (as ’n onderafdeling van hidrologie) is om die komplekse verhouding tussen die samelewing (dws menslike faktore) en waterstelsels te ondersoek, en om die kwaliteit van waterhulpbronbestuur te bevorder deur die inagneming van sosio-ekonomiese en politieke faktore. Sosiohidrologie fokus op sosiale diversiteit, magsdinamika, onderlinge vertroue/wantroue, kulturele waardes en kognitiewe vooroordele wat bepaal hoe individue by veranderende hidrologiese stelsels aanpas. Verder het dit ten doel om gemeenskaplike metodologieë oor verskillende dissiplines heen te ontwikkel om sodoende die begrip van die interaksie tussen waterhulpbronne en die samelewing te bevorder (Döring ea 2024).

Madani en Shafiee-Jood (2020) spreek hulle besonder skerp uit teen die idee van sosiohidrologie as ’n (sogenaamde) nuwe dissipline. Alhoewel sosiohidrologie aanvanklik as ’n “nuwe wetenskap” voorgestel is, is dit tot nou toe in sekere kringe bloot as ’n belangstellingsgebied of ’n subveld van hidrologie gesien.

Wat verbasend is, is dat sosiohidrologiese publikasies geneig is om relevante sintaksis, terminologie en konsepte uit die literatuur van verwante navorsingsvelde oor te neem. ’n Konseptuele tekortkoming (met ander woorde ’n gebrek aan duidelikheid oor eiesoortige basiese konsepte of definisies) word dus hier uitgewys.

Dit blyk ook dat sosiohidroloë navorsing wat voorheen op die gebied van gekoppelde mens-water-stelsels uitgevoer is, stelselmatig oor die hoof sien, wat blote reproduksie van bestaande konsepte in nuwe terme tot gevolg het.

Hidrososiale navorsing

In aansluiting hierby doen Ross en Chang (2020) ’n literatuurstudie oor twee nou verwante studieterreine, naamlik sosiohidrologie en hidrososiale navorsing. Hulle wys daarop dat hidrososiale navorsing geleidelik oor dekades heen ontwikkel het, terwyl sosiohidrologie eers betreklik onlangs die lig gesien het, nadat ’n inleidende referaat in 2012 gepubliseer is. Daar is dus ’n verskil of gaping in die historiese verloop van die twee denkrigtings.

Terwyl sosiohidrologie op mag en skaal (power and scale) fokus as ’n basis vir die bestudering van waterstelsels, fokus hidrososiale navorsing hoofsaaklik op die praktiese reaksies van gemeenskappe op klimaatuiterstes. Hidrososiale navorsing gebruik oor die algemeen kwalitatiewe metodes, terwyl sosiohidrologiese navorsing op kwantitatiewe statistiese metodes staatmaak.

Die twee dissiplines doen beide navorsing oor waterverwante kwessies, maar fokus op verskillende geografiese streke. Dit skep ’n verdere gaping tussen die benaderings, omdat die veralgemening van navorsingsbevindings daardeur bemoeilik word.

Sosiohidrologie berus oor die algemeen op poststrukturalistiese teorie (maw dit bevraagteken gevestigde opvattings) as onderbou, terwyl hidrososiale navorsing meestal op positivistiese teoretiese beginsels gebaseer is.

Ross en Chang (2020) voer aan dat sosiohidrologie en hidrososiale navorsing in ’n komplekse epistemologiese verhouding tot mekaar staan, wat ’n vrugbare basis en goeie moontlikhede bied vir toekomstige samesprekings en samewerking waarby beide rigtings baat sal vind.

Flint-waterkrisis

Ongeveer ’n dekade gelede het die stad Flint in Michigan in die VSA internasionale media-aandag begin ontvang nadat gevaarlike konsentrasies lood geïdentifiseer is in die stad se openbare drinkwaterstelsel en in bloedmonsters van duisende inwoners wat dit gedrink het. Veral jong kinders is besonder vatbaar vir neurotoksien wat met loodvergiftiging gepaard gaan.

Volgens Jaffe (2024) bestaan daar nie so iets soos “veilige” konsentrasies lood in drinkwater nie. Blootstelling aan selfs baie lae hoeveelhede loodbesoedelde drinkwater kan bloedloodvlakke verhoog. Volgens die Amerikaanse Omgewingsbeskermingsagentskap (EPA) kan blootstelling aan lood by volwassenes bloeddruk verhoog, nierfunksie benadeel, en hart- en kankertoestande veroorsaak. By kinders sluit die gesondheidsgevare van loodblootstelling ernstig nadelige implikasies vir sielkundige en fisieke ontwikkeling, breinskade, asook neurologiese komplikasies in.

Die VSA het sedert 1986 die gebruik van loodpype om drinkwater te vervoer, verbied, maar baie wonings, skole en openbare fasiliteite wat voor daardie tyd gebou is, insluitend in die nywerheidstad Flint, gebruik steeds loodpype.

Gedurende 2014 het Flint op die rand van insolvensie gewankel en is dit onder administrasie geplaas en deur middel van ’n staatsbenoemde noodprojek bestuur. Op 25 April 2014 het amptenare die primêre drinkwatervoorsieningsbron van die stad na die Flintrivier oorgeskakel in plaas daarvan om verder die duurder, maar beter gesuiwerde water van Detroit wat uit die Huron-meer afkomstig was, te gebruik.

Die Flintrivierwater is nie vooraf behoorlik behandel met antikorrosiemiddels nie, wat veroorsaak het dat lood uit die stad se watertoevoerpype in drinkwater uitgeloog het. Na die verandering van die drinkwaterbron het die voorkoms van verhoogde loodvlakke in die bloedmonsters van kinders jonger as vyf jaar bykans verdubbel in vergelyking met 2013, volgens ’n 2016-studie wat in die American Journal of Public Health deur ’n navorsingspan onder leiding van Hanna-Attisha gepubliseer is. ’n Paar maande na die omskakeling het een van die fabrieke van General Motors opgehou om die stad se water te gebruik omdat dit motoronderdele tydens die vervaardigingsproses beskadig het. Tog het stad- en staatsamptenare volgehou dat die water veilig is om te drink, en het hulle die bevindings van Hanna-Attisha se navorsing geïgnoreer.

Teen die einde van 2015 het amptenare op grond van voortdurende druk deur die samelewing ’n ander deuntjie begin sing. Die inwoners is versoek om op te hou om die water te drink nadat staatsepidemioloë die navorsingspan se bevindinge bevestig het. Flint se watervoorsieningsbron is weer aan die Detroitstelsel gekoppel en voldoende teenkorrosiebeheermaatreëls is geïmplementeer. In Januarie 2016 het die Obama-administrasie ’n noodtoestand in Flint verklaar en $5 miljoen se staatshulp is verleen. Gedurende Desember 2016 het die Kongres $170 miljoen vir die Flint-waterkrisis gemagtig as deel van ’n groter waterprojekprogram.

........
Hidrologie is die studie van die beweging en verspreiding van water. Sosiohidrologie fokus op die komplekse verhouding tussen menslike interaksie en waterstelsels. Beide sosiohidrologie en hidrososiale teorie, wat albei uit hidrologie ontwikkel het, kry erkenning op grond van die klem wat geplaas word op die rol van sosiale faktore in fisiese prosesse.
........

Samevatting en gevolgtrekking

Hidrologie is die studie van die beweging en verspreiding van water. Sosiohidrologie fokus op die komplekse verhouding tussen menslike interaksie en waterstelsels. Beide sosiohidrologie en hidrososiale teorie, wat albei uit hidrologie ontwikkel het, kry erkenning op grond van die klem wat geplaas word op die rol van sosiale faktore in fisiese prosesse. Desnieteenstaande is spesifieke teoretiese tekortkominge in sosiohidrologie, as ’n redelik onlangse denkrigting, aangetoon wat beslis voortaan aangespreek behoort te word.

Die voorbeeld van die Flint-waterkrisis beklemtoon die dramatiese gevolge van die ignorering van hierdie interafhanklikheid, en toon dat die sielkunde van burgerlike vertroue wel geskaad kan word. In Flint het ’n kombinasie van sosio-ekonomiese ongelykheid, regeringsmislukkings en omgewingsongeregtigheid tot ’n openbare gesondheidsramp gelei. Loodbesoedeling in die stad se watertoevoer het die risiko verhoog dat duisende inwoners, veral kinders, aan ernstige gesondheidsrisiko's blootgestel is, en dit het wêreldwye verontwaardiging en afkeuring tot gevolg gehad.

In die proses om sinvolle oplossings te vind vir die kompleksiteit van huidige waterkwessies, verskaf ’n sosiohidrologiese perspektief ’n logiese raamwerk vir die assessering en effektiewe hantering van die komplekse dinamika tussen menslike samelewings en waterstelsels. Terwyl die onsekerhede van klimaatsverandering, migrasie, oorloë, bevolkingsgroei en hulpbronskaarste dringende bedreigings vir watervoorsiening inhou, is dit belangrik dat ’n sosiohidrologiese benadering gevolg word.

Bibliografie

Cobbing, JE and De Wit, M: An updated water balance for the Grootfontein aquifer near Mahikeng. Water SA Vol. 44 No. 1 January (2018): 1. https://www.watersa.net/article/view/6491

Döring, S, K Kim en A Swain. 2024. Integrating socio-hydrology, and peace and conflict research. Journal of Hydrology, 633:131000. https://doi.org/10.1016/j.jhydrol.2024.131000.

Heymans, C. 2018. Cities and water: some lessons from very water-scarce places. LitNet, 3 Mei. https://www.litnet.co.za/cities-water-lessons-water-scarce-places.

Jaffe, S. 2024. Ten years on: the legacy of the Flint water crisis. The Lancet, 403(10437):1619-20. https://doi.org/10.1016/S0140-6736(24)00860-2.

Madani, K en M Shafiee-Jood. 2020. Socio-hydrology: a new understanding to unite or a new science to divide? Water, 12(7):1941. https://doi.org/10.3390/w12071941.

Pauli, BJ. Flint Fights Back: Environmental Justice and Democracy in the Flint Water Crisis. The MIT Press, Pauli 2019:xi. https://direct.mit.edu/books/oa-monograph/4316/Flint-Fights-BackEnvironmental-Justice-and

Rosbjerg, D en J Rodda. 2019. IAHS: A brief history of hydrology. History of Geo- and Space Sciences, 10:109–18. https://doi.org/10.5194/hgss-10-109-2019.

Ross, A en H Chang. 2020. Socio-hydrology with hydrosocial theory: Two sides of the same coin? Hydrological Sciences Journal, 65(9):1443–57. https://doi.org/10.1080/02626667.2020.1761023.

Versluis, J-M. 2019. “Ja, SA het dit nagevors, maar bestuif nie nou nie.” Netwerk 24. https://www.netwerk24.com/Netwerk24/ja-sa-het-dit-nagevors-maar-bestuif-nie-nou-nie-20190105.

Ward, AD, SW Trimble,SR Burckhard en JG Lyon. 2016. Environmental Hydrology, 3rd Ed. New York: CRC Press.

Wilfong, M en M Pavao-Zuckerman.2020. Rethinking stormwater: Analysis using the hydrosocial cycle." Water, 12(5): 1273. Gale Academic OneFile. https://www.mdpi.com/2073-4441/12/5/1273

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top