Ken jy die see, meneer?

  • 2

Foto: verskaf deur skrywer

Daar is onlangs in die media berig oor ’n visserman van Peru wat gered is nadat hy 95 dae lank in die Stille Oseaan op sy boot rondgedryf het omdat die boot se buiteboordmotor onklaar geraak het. So ’n uiters dramatiese ervaring sou na alle waarskynlikheid ’n impak op die visserman se lewens- en wêreldbeskouing kon hê.

Die Switserse psigiater Carel Jung skryf oor die begrip Ergriffenheit, ’n kernbeginsel in die menslike psige wat oorspronklik aan die teologie ontleen is. Tydens ons alledaagse  lewens ervaar ons dikwels oomblikke van Ergriffenheit. Ons word betower deur ’n treffende film, geroer deur ’n kragtige toespraak of intens aangegryp deur ’n diep persoonlike ervaring. Hierdie oomblikke gaan gepaard met diepgaande emosionele belewenisse. Sodanige ervarings kan transformatief wees en tot persoonlikheidsgroei en beter selfinsig lei.

Moontlik kan die Peruaanse visserman van ’n Ergriffenheit-belewenis getuig.

Hoe sou die visserman die waterskilpaaie en voëls wat hy moes eet, gevang het? Waarom het hy nie sy hengelgerei gebruik om vis vir oorlewing te vang nie? Waarom was sy boot nie met noodfakkels of roeispane toegerus nie? Was hy ’n ervare visserman? Waarom waag hy dit alleen op see? Die presiese besonderhede sal ons waarskynlik nooit weet nie, behalwe indien die visserman sy verhaal te boek sou stel.

.........
’n Soortgelyke dramatiese verhaal is die ervarings van Skipper Nel en die kreefbakkie.
.........

’n Soortgelyke dramatiese verhaal is die ervarings van Skipper Nel en die kreefbakkie.

Ervare bootsmanne soos Skipper Nel maak ook soms foute. Die dreineringsprop van ’n boot moet reg ingesit en die ankertou goed vasgemaak word. ’n Bootsman moet die diepgang, die diepte tot waar die romp van ’n boot tot onder die wateroppervlak strek, ken en behoorlik in ag neem. Genoeg brandstof vir die buiteboordmotore moet saamgeneem word. Anders wag daar groot probleme op see.

Skipper vertel hy woon een aand ’n verjaarsdagpartytjie van ’n goeie vriend by. Op ’n stadium vra die gasheer dat hy weer daardie ongelooflike storie van die kreefvangery by Paternoster moet vertel. Skipper sê omdat hy ’n nederige en eerbare man is, wil hy eintlik nie by kampvure of feesvieringe voor mense stories vertel, veral stories wat nie na die waarheid klink nie. Dit is verder ook ’n soort skande vir ’n ervare diepseeskipper soos hy, wat al groot vangste sardyn en tjokka uit die diepsee nadergetrek en wal toe gebring het, om dan in die vlakwater van Paternoster in ’n lendelam Weskuskreefbakkie byna aan sy einde te kom  

Onder subtiele druk van vriende gee ’n mens egter soms onwillig toe, en Skipper sê hy vertel toe maar daardie aand weer sy storie:

“Roem en bekendheid werk natuurlik soos ’n klippie wat ’n mens in die water gooi. Die sirkels kring al wyer uit en die kringbeweging kan ’n mens nie self keer nie. Op dié wyse het my skipperervarings, veral langs die Weskus en omgewing, bekend geword en uitgekring. ’n Moeder van twee seuns vra my toe eendag ’n guns. Sy sê sy het van my vaardighede gehoor en of ek nie asseblief saam met die twee seuns en hul kreefbakkie by Paternoster wil gaan kreef vang nie. Hulle het ’n tweedehandse kreefbakkie en fuike met hul spaargeld gekoop en wil baie graag saam met ’n ervare en betroubare skipper die koue water van die Atlantiese Oseaan aandurf.

........
“Ja, ek weet wat om te doen as die boot se anker in die diepsee aan ’n rotsrif vassit; ek weet wat om te doen as ’n kabeljouhoek aan boord in iemand se kuitspier tot agter die weerhaak inhaak; ek weet wat om te doen wanneer ’n 200 kg-haai die aas optel en die boot saam met die anker begin rondsleep diepsee toe; ek weet hoe om ’n boot oor die Agulhasbank te laat dryf op soek na geelstert sonder om die anker te laat sak; ek weet hoe om seewater met ’n oopgesnyde paraffienblik vinnig uit ’n boot in die see te gooi nadat ’n onverwagse skeur net bo die waterlyn in die romp ontstaan het.” – Skipper Nel
.......

“Ek dink daaroor na, veral omdat die moeder na my as ’n ‘ervare skipper’ verwys het. Ja, ek weet wat om te doen as die boot se anker in die diepsee aan ’n rotsrif vassit; ek weet wat om te doen as ’n kabeljouhoek aan boord in iemand se kuitspier tot agter die weerhaak inhaak; ek weet wat om te doen wanneer ’n 200 kg-haai die aas optel en die boot saam met die anker begin rondsleep diepsee toe; ek weet hoe om ’n boot oor die Agulhasbank te laat dryf op soek na geelstert sonder om die anker te laat sak; ek weet hoe om seewater met ’n oopgesnyde paraffienblik vinnig uit ’n boot in die see te gooi nadat ’n onverwagse skeur net bo die waterlyn in die romp ontstaan het.

“Dit is natuurlik ook ’n geleentheid om die twee jongmanne aan gesonde aktiwiteit in die vars buitelug bloot te stel. Positiewe rolmodellering is ’n veilige en sinvolle onderneming en behoort slegs goeie gevolge in te hou.”

Deeglike struktuur en kreeftrek gaan altyd hand aan hand en is van die uiterste belang. Skipper stel dit toe duidelik aan die moeder dat daar veral twee vereistes is: Eerstens sal die weersomstandighede op die dag bepaal of die see wel bevaarbaar is. Tweedens dring hy daarop aan dat voor die groep see toe vertrek, die kreefbakkie, roeispane, buiteboordmotor, kreeffuike, toue en die ander toerusting (byvoorbeeld die vonkpropsleutel) deeglik getoets en gekontroleer word.

“Die weer het toe gelukkig die betrokke dag saamgespeel (alhoewel daar vroegoggend  ’n ligte suid-suidoostelike windjie vanaf die land se kant oor die see gestoot het), en nadat die inspeksie van die toerusting afgehandel is, is die boot en sleepwa aangehaak en het ons na Paternoster vertrek.

“Die kreefbakkie is te water gelaat by die bootlanseerplek naby die kreeffabriek in Paternoster. Die wind het nou net sterk genoeg gewaai dat geroei moes word om die boeg reg in die wind te hou sodat die eenperdekrag-Seahorse-buiteboordmasjientjie aangeskakel kon word. Ek merk toe op dat die roeispane inpas tussen twee vertikale ronde houtpennetjies elke kant in die middel van die romp van die kreefbakkie, of die dolpenne soos dit hier langs die Weskus genoem word. Metaalringe met ’n pen sou makliker gewerk het, maar ek besef skielik ek het hierdie tekortkoming nooit tydens die vooraf inspeksie raakgesien nie,” vertel Skipper.

“Nietemin, die Seahorse vat vinnig en daar gaan ons.”

Granietrotse

Hy vertel verder: “Die jongmanne wys nou na twee granietrotse wat daar doer in die see en op die horison net-net sigbaar is. Volgens die jongmanne is dit daar by die granietrotse waar ons die fuike gaan laat sak. Dis daar waar die groot krewe is. Ek dink toe aan die instruksies van die moeder, naamlik dat ek die skipper is. Ek sê toe: ‘Nee kêrels! Ons moet eers so 50 meter inwaarts direk langs die kuslyn af hou om te bepaal of alles aan boord goed werk. Kom ons laat sak eers die fuike hier by die bamboespolle naby aan die kant en as dinge goed werk, dan ry ons nader na die granietrotse toe.’

“Hulle was waarskynlik nie baie geneë met die instruksies nie, maar tog wel inskiklik. Die ankerman gooi die anker uit, en die twee fuike met snoekkoppe as lokaas gelaai, word laat sak. Terwyl gewag word dat die krewe in die fuike klim, hou die bemanning hulle besig met handlyne om terselfdertyd bankvis te probeer vang.”

Ankertou

Hy vervolg: “Ek maak my toe maar tuis voor in die boeg van die kreefbakkie direk langs die ankertou. Heel toevallig sit ek my hand op die ankertou. Die ankertou is so styf soos ’n kitaarsnaar gespan en die vibrasies op die tou verraai dat die boot aan die beweeg is. Die anker sleep dus saam. Die wind waai nou fris seewaarts en skielik besef ek ons het maklik 30 meter van die nette af weggedryf, dieper die see in. Ek sê toe: ‘Manne, watter soort anker het julle saamgebring, ’n sandanker of ’n klipanker, want die anker sleep saam?’ Die manne antwoord: ‘Het oom Skipper dan nie tydens die inspeksie die anker gesien nie? Ons gebruik sommer ’n klip wat aan die ankertou vasgeknoop is, pleks van ’n regte sand- of klipanker.’”

Skipper skreeu toe teen die wind in: “Manne laat vat die Seahorse sodat ons nader aan die fuike kan beweeg!”

Die masjien wil egter van aanskakel min weet. Die Seahorse gee net sulke ligte hoesies. “Dis asof die trektou sy keel toetrek,” sê Skipper. Die tou aan die klipanker staan steeds stokstyf, maar beperk geensins hulle dryfbeweging in die rigting van die diepsee in die minste nie.

“Die enigste uitweg was nou om nader aan die kus te roei. Die twee roeispane word blitssnel beide kante tussen die dolpenne ingepas, en met die eerste trekslag toe breek die stuurboordkant se roeispaan in twee en die kopkant val oorboord in die seewater. Gelukkig word die halwe roeispaan weer bereik en in die boot ingetel.”

Trektou

........
Nou dryf hulle tussen die seebamboespolle rond. Skipper sê: “Manne, as die Seahorse vat, wees asseblief versigtig dat die skroef nie in die seebamboes vashaak nie, want dán het ons groot probleme.”
.......

Nou dryf hulle tussen die seebamboespolle rond. Skipper sê: “Manne, as die Seahorse vat, wees asseblief versigtig dat die skroef nie in die seebamboes vashaak nie, want dán het ons groot probleme. Al twee jongmanne is nou in die agterkant van die kreefbakkie besig om die masjien weer aan die gang te probeer kry. Ek kyk na die granietrotse waaraan ons geleidelik nader beweeg. Miskien sal die wind ons by Stompneusbaai of St Helenabaai uitwaai. Die volgende oomblik vat die Seahorse, maar terselfdertyd skiet die trektou met ’n sierlike boog deur die lug en verdwyn in die koue seewater.”

Skipper vertel verder: “Ek is die skipper en moet tydens ’n noodtoestand vinnig en doelgerig reageer. ’n Visserman sonder ’n vismes is nie ’n ware visserman nie. Ek gryp my skerp Franse Opinel Carbone en sny uit ’n stuk ekstra kreeffuiktou, wat steeds aan boord was, ’n perfekte nuwe trektou en maak terselfdertyd ’n knoop aan die agterkant van die trektou wat netjies in die gleuf van die trektoukatrolletjie aan die bokant van die masjien inpas. Een trek van die trektou en daar vat die Seahorse. Ek skree: ‘Stadig manne, stuur die bakkie om die bamboespolle … Pasop!’ Die volgende oomblik gee die masjien net een snik en stol onmiddellik. Verstrengel in die seebamboes.”

Agterste dwarsbalk

Hulle is nou in die agterkant van die kreefbakkie, terwyl die wind heelwat sterker stoot. En hulle is verby die granietrotse.

“Tydens my skippersopleidingskursus het die instrukteurs gesê ek is ’n visuele leerder. Die probleem met visuele leerders is dat visuele beelde in hul gesigsveld opspring gedurende krisistye. Ek sien voor my oë in duidelike swart letters ’n koerantopskrif: Skipper en seuns verdrink by Paternoster. Sy vrou verwag eersteling.

........
Wat is ’n stuurman sonder ’n vonkpropsleutel?
........

“Met die derde trekslag kraak en breek die agterste dwarsbalk of plank (die transom) heeltemal stukkend, presies waar die Seahorse net bo die seewatermerk vasgeskroef is. Die kosbare masjien verdwyn onder die seewater. Die nuwe trektou was egter langer as wat nodig was. Die stuurman gryp die agterste punt van die trektou vas. Die knoop is gelukkig nog steeds in die katrolletjie se gleuf ingeskuif en die Seahorse word uit die dieptes gans verlore tot binne in die bakkie getrek. Die masjien word weer vasgeskroef, maar het natuurlik nou ’n laer diepgang as voorheen – met ander woorde, die skroef draai nader aan die seebodem as voor die breekslag. Die vonkprop moet uitgeskroef en drooggemaak word. Wat is ’n stuurman sonder ’n vonkpropsleutel? Die sleutel pas op die nommer RJ8C-vonkprop en dit word vinnig uitgedraai. Die vonkprop word goed drooggevryf, weer ingedraai, en met die eerste trekslag loop die Seahorse seepglad. Nou direk terug wal toe. Ek vermoed ons is nou reeds naby Stompneusbaai.”

Skipper sê hy merk toe saggies teenoor homself op: “Vorige ervaring van gevaarsituasies met bote en die see is wel belangrik, maar die toepassing daarvan op nuwe uitdagings soos wat vandag hier onverwags opduik, is werklik senutergend en hou ’n mens besonder nederig. Ervaring en reputasies kan feilbaar wees. Hier het ons te doen met die bekende versus die onbekende.”

Seebamboes

Hy gaan voort: “Ons ry stadig, maar doelgerig kant toe. Die polle seebamboes word baie meer in getal en is ook digter saamgepers. Daar is altyd die gevaar dat die bedrieglike Weskusmis ook kan opkom. Ons ry nou direk deur die bamboespolle. Die volgende oomblik staan ons doodstil. Ek skree: ‘Stuurman sit hom in reverse!’ Maar pleks van in trurat terugbeweeg, lig die hele stang of aandrywingsmeganisme uit die water uit, maar sonder die skroef. Die skroef is deur die digte seebamboesstingels heeltemal afgeslaan. Daar sit ons sonder enige aandrywing.

“Ons enigste uitweg op oorlewing was om die oorblywende een en ‘n halwe roeispane te gebruik om kant toe te roei. Een roeier aan die bakboordkant met die roeispaan tussen die dolpenne vasgeklem, en die ander roeier aan die stuurboordkant kajakstyl met ’n halwe roeispaan.”

........
Dit is op hierdie kritieke oomblik in die verhaal, sê Skipper, dat een van die gaste by die partytjie hom nie meer kon inhou nie en geaffronteerd uitroep: “Kom, my dierbare vrou, kom ons loop. Hierdie man lieg te veel en lieg te oortuigend!”
........

Dit is op hierdie kritieke oomblik in die verhaal, sê Skipper, dat een van die gaste by die partytjie hom nie meer kon inhou nie en geaffronteerd uitroep: “Kom, my dierbare vrou, kom ons loop. Hierdie man lieg te veel en lieg te oortuigend!” Onder uitbundige gelag van die groep loop die twee gaste by die voordeur uit en vertrek onmiddellik huiswaarts.

Skipper gaan egter (skynbaar) ongestoord voort: “’n Mens behoort na regte intens in jou eer gekrenk te voel wanneer ’n luisteraar só ongepoets op ’n ware verhaal reageer, omdat jou waardigheid as persoon aangetas word. Ons behoort egter in gedagte te hou dat persoonlike ervarings objektief deur ’n mens self beleef word, terwyl buitestanders subjektief betrokke is en nie die volle konteks van ’n gebeurtenis en gepaardgaande emosies ten volle kan verstaan en vertolk nie. Indien die gebeurtenisse in ’n verhaal só uitermate onwaarskynlik of uitsonderlik is, sou die luisteraar dit eenvoudig as blote oordrywing of denkbeeldige fabrikasie kon bestempel. Dit behoort ook in ag geneem te word dat bevooroordelingsbevestiging ’n rol kan speel om die geloofwaardigheid van ’n verhaal te kelder. Indien ’n luisteraar oor spesifieke kennis beskik, of waardes en houdings handhaaf wat teenstrydig is met die inhoud van die verhaal, kan dit eenvoudig as bog afgeskryf word. Nietemin, hierdie intense ervaring het vir my en die seuns diep aangegryp en het tot nuwe insigte oor die feilbaarheid van die menslike denke en besluitnemingsvermoë aanleiding gegee.”

Hy sluit af: “Ons drie het later die aand tussen Paternoster en Stomneusbaai druipnat en in ’n gehawende toestand die kuslyn bereik. Ons kon eers die volgende dag probeer red wat nog te redde was. Die kreeffuike met ons vangs het iemand anders verwyder en ons het die toerusting nooit weer gesien nie. Die kreefbakkie was so erg beskadig nadat die branders dit gedurende die nag tussen die rotse rondgeslaan het dat dit afgeskryf moes word. Die moeder was egter opreg dankbaar dat dié ‘ervare’ skipper die uiters gevaarlike situasie so besonder knap hanteer het.”

Soos Uys Krige egter sou vra: “Ken jy die see, meneer, ken jy (regtig) die see?”

Lees ook:

Hiporheïese sones: die lewer van riviere

Sosiohidrologie: menslike interaksie en waterstelsels

Die herkoms van ’n aantal Afrikaanse uitdrukkings wat verband hou met die see

A century of South African naval history: ’n onderhoud met André Wessels

Visserman

 

  • 2

Kommentaar

  • Jeanette de Klerk-Luttig

    Dankie vir die heerlike storie, Handre. Jy kan waarlik 'n storie laat lewe! Doet so voort.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top