A century of South African naval history: ’n onderhoud met André Wessels

  • 1

https://i0.wp.com/naledi.co.za/wp-content/uploads/2022/03/SA-Naval-History-NET-VOORBLAD_300dpi_RGB.jpg

A century of South African naval history
André Wessels
Naledi
SKU: 9781928530978

André Wessels praat met Naomi Meyer oor André se navorsing oor die vloot en sy boek A century of South African naval history.

André, jou boek A century of South African naval history: The South African Navy and its predecessors 1922–2022 het onlangs verskyn. In hierdie boek skryf jy oor die honderdjarige bestaan van die Suid-Afrikaanse Vloot. Laat ek met ’n persoonlike vraag begin: Waar het jy grootgeword en watter rol het dit in jou belangstelling ten opsigte van seevaart gespeel?

Ek is in 1956 in Durban gebore, het daar skoolgegaan, en ook daar gematrikuleer (in 1974). Dit was die jare voordat die internasionale boikotte Suid-Afrika grootliks geïsoleer het. In die 1960’s en 1970’s (tot ongeveer 1975) het ’n groot aantal buitelandse oorlogskepe (en soms ook duikbote) Suid-Afrikaanse hawens jaarliks besoek. ’n Hele aantal van hulle het ook by Durban aangedoen om brandstof en ander voorrade aan te vul. My oorlede ouers het my en my suster (nou ook reeds oorlede) na Maydon-kaai in Durban geneem wanneer buitelandse (maar ook Suid-Afrikaanse) oorlogskepe Durban besoek en meesal in dié deel van die hawe vasgemeer het. Soms kon ons aan boord die skepe gaan. My vroegste herinneringe in dié verband gaan onder meer terug na Desember 1964, toe die nuwe Tipe 12-fregatte van die Suid-Afrikaanse Vloot, naamlik SAS President Kruger en SAS President Steyn, die ou “Loch”-klas fregat, SAS Transvaal, en die mynveër, SAS Pietermaritzburg, tesame met die Britse Vloot se fregat, HMS Jaguar, Durban besoek het. Ek was agt jaar oud. Hierdie skepe het ’n groot indruk op my gemaak en dit, tesame met my leeswerk van kleins af oor ’n verskeidenheid onderwerpe, hoewel hoofsaaklik geskiedenis, het my belangstelling geprikkel en ’n lewenslange passie geword.

Foto van André Wessels: https://i0.wp.com/naledi.co.za/wp-content/uploads/2022/03/A-CENTURY-OF-SOUTH-AFRICAN-NAVAL-HISTORY.jpg?w=497&ssl=1

In die Suid-Afrikaanse geskiedenis is die see ’n kontroversiële onderwerp. Jy verwys na seevaarders soos die Portugese, die Nederlanders en die Britte. Ongeag hoe Suid-Afrikaners hulle rol in Suid-Afrika beskou, het hulle almal die Suid-Afrikaanse geskiedenis beïnvloed. En hulle het per see hier aangekom, meestal. Mens sou, as mens met vandag se bril na hierdie per-see-aankomste kyk, kon sê dat daar van die begin af ’n ideologiese en ’n magselement betrokke was – vir enige nasie wat ’n ander se grond betree. En die verrassing kon sekerlik soms onaangenaam gewees het vir die landgenote wat nou ’n nuwe skip op die horison gewaar! Wil jy dalk iets hieroor sê of hierop uitbrei?

Die land wat ons vandag as die Republiek van Suid-Afrika (RSA) ken, geleë aan die suidpunt van Afrika, met die Kaapse seeroete wat om ons kuste strek, is besonder strategies geleë. Nadat die Portugese ontdekkingsreisigers van die laat 15de eeu (Bartholomeu Diaz, en na hom Vasco da Gama) die handelsroete om die Kaap ontdek het, het daar met verloop van tyd winsgewende handel tussen Europa en Indië (en aanliggende gebiede) ontwikkel. Wie dus die Kaap beheer het, het die Kaapse seeroete beheer, en wie hierdie seeroete beheer het, het die winsgewende handelsroete na en van die Ooste beheer.

...........
Nadat die Portugese ontdekkingsreisigers van die laat 15de eeu (Bartholomeu Diaz, en na hom Vasco da Gama) die handelsroete om die Kaap ontdek het, het daar met verloop van tyd winsgewende handel tussen Europa en Indië (en aanliggende gebiede) ontwikkel. Wie dus die Kaap beheer het, het die Kaapse seeroete beheer, en wie hierdie seeroete beheer het, het die winsgewende handelsroete na en van die Ooste beheer.
............

Die ekonomiese (en politieke) magsmededinging tussen Europese moondhede het vanselfsprekend implikasies vir die inwoners van suidelike Afrika ingehou. Portugal het nedersettings in Angola en Mosambiek gevestig. Met die opkoms van Nederland as handelsmoondheid het dié klein landjie onder meer met Engeland en Frankryk op handelsgebied meegeding. In 1652 het die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) ’n verversingspos aan die Kaap gestig – wat met verloop van tyd tot ’n kolonie (en die invloei van meer setlaars) ontwikkel het. Gebeure in Europa het implikasies vir die Kaap (asook vir die inheemse kultuurgroepe, wat lank tevore reeds daar gewoon het) ingehou.

Suid-Afrika as politieke entiteit is inderdaad die produk van wedywering tussen seevarende Europese moondhede. Tydens die Napoleontiese Oorloë het Brittanje die Kaap by twee geleenthede (1795 en 1806) beset ten einde te voorkom dat die Franse beheer oor die suidpunt van Afrika – en die Kaapse seeroete – oorneem. Die wit, bruin en swart inwoners van die Kaap het dus van tyd tot tyd ervaar hoedat ’n nuwe magshebber beheer oor hul woongebied (en hul lewens) neem – met verreikende implikasies.

Die Vloot betrek natuurlik ’n militêre komponent en jy beskryf die ontstaan van die Vloot en die rol van die Britse invloed. In 1922 was Suid-Afrika ’n Unie, maar betreklik onlangs (op daardie stadium) nie meer ’n Britse kolonie nie. Tog is dit vir my interessant dat die Vloot in hierdie tyd ontstaan het, want op hierdie stadium was daar reeds militêre vliegtuie beskikbaar, of hoe? Wat was een van die hoofredes, en wat het alles die ontstaan van die Suid-Afrikaanse Vloot in 1922 veroorsaak/beïnvloed?

Korrek: Teen 1922 was Suid-Afrika nie meer ’n Britse kolonie nie, hoewel Uniewording op 31 Mei 1910 nie beteken het dat die land 100% onafhanklik van Brittanje was nie. Eers danksy die Balfour-verklaring (1926), die Statuut van Westminster (1931) en die aanvaarding van die Statuswet (1934) het die Unie van Suid-Afrika gelyke status met Brittanje (en ander voormalige Britse kolonies) binne die raamwerk van die Britse Statebond geniet.

Toe die Unieverdedigingsmagte in 1912 tot stand gekom het, was daar aanvanklik slegs landmagte – geen vloot nie. Die Britse Royal Navy (RN), met hul basis in Simonstad, was steeds verantwoordelik vir die beveiliging en verdediging van die Kaapse seeroete, en by implikasie ook verantwoordelik vir Suid-Afrikaanse seewaartse verdediging.

Tydens die Groot Oorlog (later die Eerste Wêreldoorlog genoem) het ’n hele aantal Suid-Afrikaners as deel van die RN teen Duitsland en haar bondgenote geveg. Tydens, maar ook na afloop van die oorlog, was daar persone wat hul ten gunste van die daarstel van ’n seemag vir Suid-Afrika uitgespreek het. Uiteindelik was die persoon wat vanaf 1919 tot 1924 die eerste minister van Suid-Afrika was, naamlik genl Jan Smuts, die groot dryfkrag agter die totstandkoming van die Suid-Afrikaanse Seediens (SASD) op 1 April 1922. Smuts was ook die persoon wat die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) tot stand gebring het (1920). Hoewel vliegtuie vir kuspatrolleringswerk gebruik kon word en steeds gebruik kan word, kan nie alle seewaartse verdediging deur vliegtuie behartig word nie, en dus was dit noodsaaklik om ’n eie vlootmag vir Suid-Afrika tot stand te bring.

.........
Suid-Afrika wou graag so ver as prakties moontlik sy eie verdediging behartig. Nasionale belang en aansien/prestige het dus ook ’n rol gespeel. Die vraag was ook: Wat sal gebeur indien die RN om welke rede ook al besluit om aan Simonstad te onttrek?
.........

Suid-Afrika wou graag so ver as prakties moontlik sy eie verdediging behartig. Nasionale belang en aansien/prestige het dus ook ’n rol gespeel. Die vraag was ook: Wat sal gebeur indien die RN om welke rede ook al besluit om aan Simonstad te onttrek? Aangesien die SASM net oor twee klein mynveërs en ’n klein hidrografiese-opmetingskip beskik het (en al drie hierdie skepe ook weens ekonomiese faktore teen 1934 aan diens onttrek is), was Suid-Afrika vir baie jare lank steeds van die RN vir seewaartse beskerming afhanklik.  

Hoe het die rol van die Vloot verander soos wat moderne vervoer verander het? Wat is die rol van die Vloot in hedendaagse Suid-Afrika?

Die ontwikkeling van moderne vervoermiddels het uiteraard vervoer in die algemeen, en dus ook handel in die besonder, beïnvloed. In hierdie verband moet veral op die ontwikkeling van groot en vinnige passasiers- en vragvliegtuie gelet word, want dit beteken dat die meeste reisigers vandag eerder per vliegtuig as per boot reis, en dat heelwat vrag ook toenemend deur vliegtuie vervoer word. Maar soos wat die wêreld se bevolking groei, neem handel tussen kontinente ook toe, en nie alles kan sinvol met vliegtuie vervoer word nie. Tans vaar jaarliks ongeveer 30 000 skepe steeds om die Kaap, en ongeveer 13 000 van hulle doen by Suid-Afrikaanse hawens aan. Meer as 90% van die RSA se in- en uitvoere word ook deur ons hawens hanteer. Juis daarom het die onluste van Julie 2021 en die vloede van April 2022, wat soveel skade aan onder meer die Durbanse hawe berokken het, soveel negatiewe gevolge vir die land in sy geheel gehad.

Wat die rol van die Vloot in die hedendaagse RSA betref: Die Vloot beskerm die Suid-Afrikaanse kus (en by implikasie ook die Kaapse seeroete); verleen hulp aan ander staatsdepartemente (soos wanneer weerboeie ter see gelê word); dra die beeld van die RSA uit wanneer die land se “grys diplomate” (oorlogskepe) vlagvertoonvaarte na ander lande onderneem (en dus ook by implikasie namens die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking aan diplomatieke uitreikaksies deelneem); doen hidrografiese opmetingswerk by hawe-ingange en langs die kus om dit vir skepe veilig te maak om daar te vaar; onderneem soek- en reddingsoperasies (vergelyk talle soektogte na vermiste seiljagte en vliegtuie, en ook die 1991 Oceanos-ramp); onderneem ander humanitêre hulpverleningswerk (deur byvoorbeeld voedsel, ens. na rampgeteisterde gebiede in Afrika en elders te neem); doen sedert 2011 teenseerowerpatrolleringswerk in die Mosambiekkanaal; en handhaaf ’n teenwoordigheid langs die kus van Mosambiek se Cabo Delgado-provinsie, terwyl grond- en lugmagte van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap op land teen insurgente optree. Boweal behoort die Vloot ’n bron en simbool van nasionale trots, en ’n saambindende faktor in ongeforseerde nasiebou te wees.

..........
Boweal behoort die Vloot ’n bron en simbool van nasionale trots, en ’n saambindende faktor in ongeforseerde nasiebou te wees.
..........

Jy gebruik interessante en relevante beeldspraak in jou boek – soos wanneer jy verwys na hoe die gety gedraai het (in Suid-Afrika, tydens die apartheidsjare byvoorbeeld) en watter waterskeidende dinge daar in die wêreld plaasgevind het (soos met die gebeure in die destydse USSR). Wat vir my soos ’n seestroom deur al jou navorsing rondom die Vloot vloei, is hoedat jy die wêreldgeskiedenis en -gebeure verbind met die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Vloot. Mens kan die een nie van die ander skei nie. Ek kan amper vra: Het jy in jou navorsing rondom die Vloot ten eerste navorsing oor die land en die wêreld se geskiedenis gedoen, of was dit andersom?

My navorsing vloei uit my belangstellings. En uit my nuuskierigheid! Ek het ’n baie wye belangstelling in geskiedenis – van Suid-Afrikaanse militêre geskiedenis (in besonder die Anglo-Boereoorlog, en die geskiedenis van die land se weermag, met spesiale verwysing na die Vloot) tot aspekte van kultuurgeskiedenis (insluitende standbeelde, monumente, ou geboue, en plekke van historiese belang) – en tussenin is daar die algemene landsgeskiedenis, insluitende politieke ontwikkelinge. En dan is daar nog die geskiedenis van die Afrika-kontinent, en van die res van die wêreld (militêr, kultuurhistories, polities, ens, ens). Uiteindelik hang alles met alles saam, en is die een faset van die geskiedenis nie los te dink van al die ander nie, net soos wat die geskiedenis van Suid-Afrika deel vorm van dié van Afrika, en van die res van die wêreld.

............
Uiteindelik hang alles met alles saam, en is die een faset van die geskiedenis nie los te dink van al die ander nie, net soos wat die geskiedenis van Suid-Afrika deel vorm van dié van Afrika, en van die res van die wêreld.
............

Ek het in ’n huis grootgeword waar daar baie boeke en tydskrifte was, en elke dag (behalwe Sondae) twee koerante om te lees: een Afrikaans en een Engels. Só is ek van kleins af blootgestel aan verskillende (politieke en ander) standpunte, en danksy National Geographic aan die wêreld se kulture en geskiedenis (en die natuur, ens). Ek het (gelukkig!) grootgeword in ’n wêreld sonder televisie en lank vóór die internet en al die skerms wat vandag sovele mense se leefwêreld domineer.

My uiteenlopende (maar uiteindelik ook konvergerende) belangstellings in verskeie temas het dus parallel aan mekaar ontwikkel. Wanneer ek oor die Vloot skryf, moet ek deurgaans die ontwikkelinge op vlootgebied spieël teen die agtergrond van sowel ons land se plaaslike politieke geskiedenis as die land se veranderende internasionale posisie in die loop van vele dekades. Dit is van die uiterste belang dat ’n mens deurgaans die breër konteks van sake verdiskonteer, die groter prentjie(s) in gedagte hou, en verbande moet kan lê tussen gebeure op verskillende vlakke en terreine.

Ek moet as tussenwerpsel vra of die navorsing oor die Vloot en die seegeskiedenis, waarmee jy oor baie dekades heen mee besig is, ’n direkte invloed gehad het daarop dat jy navorsing gedoen het oor ander sake wat nie op die oog af hiermee verband hou nie. Of dalk belanggestel het om boeke te lees deur skrywers soos Dan Sleigh of Karel Schoeman. Die see wat jou dus met ’n ander stroom vat en elders heen meesleur …

Soos reeds hier bo aangedui, het my belangstellings in ’n groot mate parallel met mekaar ontwikkel. Dit geld ook vir nóg ’n belangstelling, naamlik letterkunde in die algemeen (van Shakespeare tot Goethe en Schiller; nie dat ek ’n kenner is nie), maar in besonder die Afrikaanse letterkunde (weer eens: geen diepgaande kenner nie). Ek het groot waardering vir Dan Sleigh se werk, veral vir die ongelooflik goeie argivale en ander navorsing wat hy doen. Hy is ’n navolgenswaardige skrywer en rolmodel. Op sy beurt het Karel Schoeman, toe ek in standerd 8 was (dit is nou graad 10 vandag), danksy sy historiese roman By fakkellig, wat ’n voorgeskrewe boek was, my enersyds aan die fassinerende hoewel ook tragiese geskiedenis van Ierland bekendgestel, en my andersyds laat besef dat ’n Afrikaanse skrywer ook geskiedenis en letterkunde in een boek kan kombineer. Vandaar dan ook my belangstelling in historiese romans – weer eens sonder kennersinsig.

.............
Vir baie Suid-Afrikaners is die see (behalwe as vakansiehou- en swemplek) ongelukkig steeds ’n “ander land” (met apologie aan Karel Schoeman, wat ek hier uit konteks aanhaal), en deur middel van my publikasies poog ek om groter bewustheid te kweek ten opsigte van die waarde en betekenis van die see in ons geskiedenis; trouens, vir ons voortbestaan. En dus ook die belangrikheid van ons Vloot.
...............

Vir baie Suid-Afrikaners is die see (behalwe as vakansiehou- en swemplek) ongelukkig steeds ’n “ander land” (met apologie aan Karel Schoeman, wat ek hier uit konteks aanhaal), en deur middel van my publikasies poog ek om groter bewustheid te kweek ten opsigte van die waarde en betekenis van die see in ons geskiedenis; trouens, vir ons voortbestaan. En dus ook die belangrikheid van ons Vloot. Die RSA is immers veronderstel om ’n maritieme moondheid te wees.

In ’n onderhoud op RSG het ek jou name van skepe hoor noem en besef ’n skip is nie net ’n skip nie. Wil jy dalk ’n handvol skepe beskryf wat in die Suid-Afrikaanse Vloot in gebruik is, of was – en wat hulle funksies en rolle was?

In ’n klein vloot soos die SA Vloot (en die Vloot se voorgangers sedert 1922) was daar nooit plek vir groot oorlogskepe soos kruisers, slagskepe of vliegdekskepe nie, maar in die loop van 100 jaar is die volgende vaartuie van die tipes wat al in ons vlootmagte diens gedoen het:

  • Mynveërs. Soos reeds genoem, was twee van die SASM se vaartuie mynveërs gewees. Seemyne is dodelike wapens wat ’n land se ekonomie kan lamlê as hulle by hawe-ingange (of in die Kaapse seeroete, soos tydens twee Wêreldoorloë die geval was) gelê word en nie vinnig opgespoor en onskadelik gestel word nie. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Suid-Afrika met verloop van tyd oor 45 mynveërs beskik – almal omgeboude vistreilers of walvisjagters. Later het die Vloot tien Ton-klas-kusmynveërs bekom (1955–1959), en in 1981 ook vier mynjagters, wat deur middel van onbemande ondersese voertuie seemyne kan uitsnuffel.
  • Hidrografiese-opmetingskepe. In 1922 is ons eerste sodanige skip, die Protea, en sedertdien ook ’n tweede opmetingskip genaamd Protea (1950–1957), die Natal (1957–1972) en nóg ’n Protea Vyftig jaar nadat sy in 1972 in diens gestel is, help laasgenoemde Protea steeds om ons hawe-ingange en kuswaters op te meet en te beveilig.
  • Tydens die Tweede Wêreldoorlog het 20 gewese vistreilers en walvisjagters in hul nuwe hoedanigheid as duikbootjagters die Kaapse seeroete gepatrolleer; en sommige het selfs in die Middellandse See diens gedoen. In die 1950’s het die SA Vloot vyf Ford-klas-patrolliebote bekom, en in 1977 die missiel-era betree toe die eerste van nege aanvalsvaartuie in diens gestel is. Tydens die sogenaamde Grensoorlog is laasgenoemde vaartuie gebruik om Spesiale Magte (Recces) “agter vyandelike linies” in Angola en Mosambiek te ontplooi. Twee van hulle, SAS Isaac Dyobha en SAS Makhanda, is steeds in diens en word onder meer gebruik om teenseerowerpatrollies in die Mosambiekkanaal te onderneem.
  • Dis skepe wat vanaf die Tweede Wêreldoorlog veral vir duikbootjag aangewend word, maar met verloop van tyd ook vir talle ander take gebruik kan word. Suid-Afrika het drie Loch-klas-fregatte in 1944–1945 bekom. Later ’n Tipe 15-fregat (SAS Vrystaat), toe drie President-klas-/Tipe 12-fregatte (1962–1964) – waarvan een, SAS President Kruger, in 1982 in ’n botsing ter see gesink het. Vandag beskik die Vloot oor vier Valour-klas fregatte. Hulle het die RSA al op talle vlagvertoonvaarte verteenwoordig, en neem gereeld aan maneuvers ter see deel, asook aan patrolliewerk in die Mosambiekkanaal.
  • Torpedojaers, ook bekend as die “jaghonde of windhonde van die see”. Die SA Vloot het nog net twee sulke skepe in diens gehad, naamlik SAS Jan van Riebeeck (1950–1975) en SAS Simon van der Stel (1953–1972) – beide Britse Wager-klas-skepe. Hedendaagse torpedojaers is te groot en te duur om deur ons Vloot aangeskaf en in stand gehou te word.
  • SAS Tafelberg is in 1967 as ’n brandstofaanvullingskip in diens gestel en met verloop van tyd in ’n gevegsteunskip (met ’n beperkte amfibiese vermoë) omgebou. Dit is in 1993 deur SAS Outeniqua vervang, wat tot 2004 diens gedoen het. Intussen is SAS Drakensberg in 1987 in diens gestel – die grootste skip van enige tipe wat al ooit in die RSA ontwerp en (in Durban) gebou is. Dit doen steeds diens in die SA Vloot en kan in sekere opsigte as die mees vooraanstaande en bekendste skip tot dusver in die Vloot se geskiedenis beskou word.
  • Die SA Vloot se Duikbootdiens het in die laat 1960’s tot stand gekom. In 1970–1971 is drie Franse Daphné-klas-patrollieduikbote deur die Vloot in diens gestel. Hulle is in 2006–2008 deur drie Duitse Tipe 209-duikbote vervang. (Kyk hier onder vir meer inligting in verband met die rol van duikbote in die SA Vloot.)

In my boeke Suid-Afrika se vlootmagte 1922–2012 (Sun Press 2017) en A century of South African naval history 1922–2022 (Naledi 2022) verskaf ek uiteraard veel meer besonderhede omtrent al bogenoemde vaartuie, asook oor ander vaartuie wat al in die SA Vloot gedien het of steeds dien.

Duikbote is ’n ander onderwerp. As ’n skip op die horison landbewoners soms onverhoeds betrap, des te meer sekerlik ’n duikboot se deurbreek deur die oppervlak vir matrose op see! Wil jy iets sê oor die rol van duikbote in die Suid-Afrikaanse Vloot?

Sedert die SA Vloot se eerste duikboot in 1970 in diens gestel is, is die Vloot se duikbote onder meer aangewend om ons kuswaters te patrolleer, en ook tydens die sogenaamde Grensoorlog gebruik om Spesiale Magte na agter vyandelike linies in Angola en Mosambiek te ontplooi. Hulle neem ook aan maneuvers met skepe en duikbote van ander vlote deel.

Duikbote het ’n ongelooflik waardevolle afskrikkingspotensiaal. Duikbote is dus by uitnemendheid ook wapens van magsvertoon en magsprojeksie. Suid-Afrika is die enigste Afrika-staat suid van die Sahara wat oor duikbote beskik. Dit gee aan die land ’n bepaalde status. Duikbote vorm ’n noodsaaklike onderdeel van enige gebalanseerde vloot se arsenaal, en is inderdaad ’n onontbeerlike onderdeel van die RSA se seewaartse verdediging.

Indien Oekraïne tans (2022) oor duikbote beskik het, sou hulle kon verseker het dat geen Russiese oorlogskepe of duikbote met veiligheid in die Swart See of die See van Azof ontplooi kon word vir aanslae teen Oekraïne nie.

Die boekbekendstelling het in Simonstad plaasgevind. Baie simbolies! Hoe het jy, na al die navorsing wat jy gedoen het, hierdie omgewing konkreet beleef?

Hoewel die Suid-Afrikaanse Vlootmuseum in Simonstad klein is (in vergelyking met byvoorbeeld die RN se museum in Portsmouth, Engeland en die vlootmuseums te Fall River en Norfolk, Virginia, beide in die VSA), is dit ’n besonder leersame plek om te besoek. Dit word ook uitstekend in stand gehou. Verder beskik dit ook oor ’n biblioteek en argief, waar ek al baie van my navorsing oor die Vloot gedoen het. Ek het die museum al baie besoek, en hoop om dit in die toekoms weer (en weer en weer) te besoek. Dit was vir my ’n besondere voorreg om my jongste boek oor die Vloot op 31 Maart vanjaar daar bekend te stel.     

Jy vestig met die opening en die slot van jou boek die aandag daarop dat die Vloot vir enige kusstrookland van betekenis is. Lande wat omring is deur water, of aan water grens, is inderdaad lande wat nie die see en sy funksies vir die mens kan ignoreer nie. Wat bied die see steeds vandag vir ’n land soos Suid-Afrika? En die Vloot?

Suid-Afrika het ’n kuslyn van ongeveer 2 800 km, en die land se eksklusiewe ekonomiese sone strek 200 seemyl (1 seemyl = 1,852 km) die see in. Dit geld ook vir die RSA se Marion- en Prins Edward-eilande, sowat 1 750 km vanaf Gqeberha. Die RSA se eksklusiewe ekonomies sone beslaan dus meer as 1,5 miljoen vierkante kilometer, wat groter is as die RSA se landoppervlakte van ongeveer 1,2 miljoen vierkante kilometer, en hierdie seegebied kan as die land se tiende provinsie beskou word.

In 2014 het die Suid-Afrikaanse regering Operasie Phakisa van stapel gestuur om die land se seewaartse ekonomiese potensiaal beter te ontsluit, insluitende olie- en gas-eksplorasie; die uitbou en verbetering van die land se hawens; en om maritieme beveiliging te verbeter. Die see bied inderdaad groot potensiaal vir die RSA en al die mense van dié land.

...........
Die feit dat die RSA aan drie kante deur see omsoom word, beteken dat die land, geografies gesproke, ’n groot skiereiland is. Dit vra dus dat die land oor ’n goeie vloot sal beskik. Só ’n vloot kan die land se beeld deur middel van vlagvertoonvaarte na die uithoeke van die oseane uitdra, bande met ander lande smee of uitbou, en saam met ander vlote wêreldvrede probeer handhaaf.
.............

Die feit dat die RSA aan drie kante deur see omsoom word, beteken dat die land, geografies gesproke, ’n groot skiereiland is. Dit vra dus dat die land oor ’n goeie vloot sal beskik. Só ’n vloot kan die land se beeld deur middel van vlagvertoonvaarte na die uithoeke van die oseane uitdra, bande met ander lande smee of uitbou, en saam met ander vlote wêreldvrede probeer handhaaf. En wanneer die RSA bedreig sou word, sal die SA Vloot ’n onmisbare rol in die verdediging van die land speel.

...........
Te veel Suid-Afrikaners ly aan wat as ’n landrotmentaliteit beskou kan word. Te veel Suid-Afrikaners ly ook aan seeblindheid. Die ideaal is dat alle Suid-Afrikaners meer oor hul land se veelbewoë geskiedenis sal lees en op ’n onbevooroordeelde wyse daaroor sal debatteer. Dit sluit ons land se maritieme geskiedenis in, en as onderdeel daarvan ons vlootgeskiedenis.
............

Te veel Suid-Afrikaners ly aan wat as ’n landrotmentaliteit beskou kan word. Te veel Suid-Afrikaners ly ook aan seeblindheid. Die ideaal is dat alle Suid-Afrikaners meer oor hul land se veelbewoë geskiedenis sal lees en op ’n onbevooroordeelde wyse daaroor sal debatteer. Dit sluit ons land se maritieme geskiedenis in, en as onderdeel daarvan ons vlootgeskiedenis. Dit kan meehelp om van ons land waarlik ’n maritieme moondheid te maak, dus ’n land waar al die inwoners die see en die waarde wat die see vir die land en al die inwoners inhou, na waarde skat, die land se maritieme hulpbronne op ’n verantwoordelike wyse ontgin word, en die SA Vloot uitgebou en behoorlik in stand gehou sal word.

  • 1

Kommentaar

  • Wessel Vosloo

    Waar is die boek beskikbaar? Of watter boekwinkel? Ek stel belang in die interessante uitgawe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top